2 KORINTIËRS 3:1-18

2 KORINTIËRS 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Moet ons weer begin en sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo? Nee, ons vra nie soos ander mense dat julle of ander mense briewe moet skryf om te sê dat ons vir julle mag preek en dat ons dit goed doen nie. Júlle is ons brief. Christus het hierdie brief op ons harte geskryf, en al die mense ken hierdie brief en hulle lees dit. Julle wys duidelik dat julle 'n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte. Dit is seker. Ons kan dit eerlik sê omdat ons aan Christus behoort, God kan hoor wat ons sê. Ons sê dit nie omdat ons dink dat ons self baie goed is nie, ons sê dit omdat God ons goed genoeg gemaak het om sy werk te doen. God het ons goed genoeg gemaak om die werk te kan doen, ons moet vir mense vertel van 'n nuwe verbond. 'n Mens skryf hierdie verbond nie met letters op papier nie, nee, die Heilige Gees skryf dit. Letters op papier bring die dood, maar die Gees laat mense lewe. Die werk wat Moses moes doen, het mense laat sterf. God het die letters van daardie werk op plat klippe geskryf. Moses se werk was om die wette van God die Koning na die volk toe te neem. Daarom kon die Israeliete nie na Moses se gesig kyk nie, sy gesig het te veel geblink. Moses se werk het 'n wonderlike ding laat gebeur, maar dit gebeur nou nie meer nie. Die werk van die Gees kan baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Die werk wat vir mense straf gebring het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk wat vir mense vryspreek, sal nog baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Dit sal die beste van alles wees. Ja, die werk wat Moses gedoen het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar nou is dit nie meer so nie. Dit is omdat die werk van die Gees baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Die werk van Moses wat nou verby is, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk van die Gees wat nou gekom het en wat altyd sal bly, sal baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Ons is baie seker dat daar nou 'n nuwe verbond is. Daarom is ons nie bang om te preek nie. Moses het 'n sluier oor sy gesig gesit, maar ons doen nie dieselfde nie. Moses het dit gedoen sodat die Israeliete nie kon sien dat die tyd van die verbond amper verby is nie. God het die Israeliete hardkoppig gemaak. Wanneer hulle vandag die woorde van die ou verbond lees, dan kan hulle nie die waarheid sien nie, dieselfde sluier is nog daar. Die sluier bly daar omdat God dit net wegneem wanneer iemand in Christus glo. Ja, tot vandag toe hang daar 'n sluier oor die Israeliete se hart wanneer hulle die Wette van Moses lees. Elke maal wanneer iemand na die Here toe gaan, dan haal die Here die sluier af. “Die Here” beteken hier “die Gees.” Waar die Gees van die Here werk, daar is 'n mens vry. Daar is nie meer 'n sluier oor ons gesig nie, ons kan sien dat die Here Jesus die Koning is, en dit is wonderlik. Die Here, die Gees, laat wonderlike dinge ook met ons gebeur, sodat ons meer en meer soos konings word, en soos die Here Jesus kan wees.

2 KORINTIËRS 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

BEGIN ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik 'n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. So 'n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid. Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; nie soos Moses nie, wat 'n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie. Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar 'n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En terwyl ons almal met onbedekte gesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid, as deur die Here wat die Gees is.

2 KORINTIËRS 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense. Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend. Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie? Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid. Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter. Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. Ons is nie soos Moses wat sy gesig met 'n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was. Hulle verstand was ook toe, en vandag nog bly hulle verstand met dieselfde sluier toegemaak as hulle die Ou Testament lees, maar die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo. Maar vandag nog, elke keer as die wet van Moses voorgelees word, is daar 'n sluier oor hulle verstand. Van Moses sê die Skrif egter: “Elke keer as hy hom na die Here wend, word die sluier weggeneem.” “Die Here” beteken hier “die Gees”, en waar die Gees van die Here is, is daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word. Die heerlikheid wat van ons uitstraal, neem steeds toe. Dit doen die Here wat die Gees is.

2 KORINTIËRS 3:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Begin ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is ons brief, geskryf in ons harte, gelees en verstaan deur alle mense. Julle is duidelik 'n brief van •Christus wat deur ons diens opgestel is, geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. So 'n vertroue op God het ons deur Christus. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om te reken dat iets uit onsself kom nie – nee, ons bekwaamheid kom van God. Hy het ons bekwaam gemaak om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees – nie van die letter nie, maar van die Gees. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. As die bediening van die dood, wat met letters op klippe gegraveer is, met soveel heerlikheid tot stand gekom het dat die kinders van Israel nie stip na die aangesig van Moses kon kyk nie, weens die glans op sy gesig, wat tog aan die verbygaan was – hoeveel te meer sal die bediening van die Gees nie in heerlikheid wees nie? Want as daar heerlikheid was in die bediening wat lei tot veroordeling, soveel oorvloediger in heerlikheid is die bediening wat lei tot regverdiging! Trouens, wat verheerlik was, is eintlik in hierdie opsig geen verheerliking nie, weens dié allesoortreffende heerlikheid. Want as dit wat vergaan, met heerlikheid beklee was, het die blywende veel groter heerlikheid. Terwyl ons dan so 'n hoop het, tree ons op met groot vrymoedigheid – nie soos Moses, wat 'n sluier oor sy gesig getrek het, sodat die kinders van Israel nie die einde van dit wat aan die vergaan was, kon aanskou nie. Maar hulle denke was verhard. Want tot vandag toe lê dieselfde sluier oor die Ou Testament wanneer dit gelees word; en dit word nie weggeneem nie, want dit word slegs in Christus verwyder. Maar tot vandag toe, elke keer wanneer Moses gelees word, lê daar 'n sluier oor hulle harte. Telkens egter, wanneer iemand hom tot die Here wend, word die sluier afgehaal. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. En ons almal, terwyl ons met ontsluierde gesig die heerlikheid van die Here aanskou, soos in 'n spieël, word na dieselfde beeld verander, van heerlikheid tot heerlikheid, soos afkomstig van die Here, die Gees.

2 KORINTIËRS 3:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Begin ons weer om onsself te prys? of het ons, soos sommige ander, briewe van lof aan julle nodig, of briewe van lof van julle? Julle is ons brief geskrywe in ons harte, bekend en gelees deur alle mense: Aangesien julle duidelik verklaar is as die brief van Christus wat deur ons bedien is, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op vlesige tafels van die hart. En so 'n vertroue het ons deur Christus op God: Nie dat ons uit onsself genoeg is om enigiets uit onsself te dink nie; maar ons genoegsaamheid is uit God; wat ons ook bekwame bedienaars van die nuwe testament gemaak het; nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. Maar as die bediening van die dood, geskrywe en in klippe gegraveer, heerlik was, sodat die kinders van Israel die aangesig van Moses nie vas kon aanskou ter wille van die heerlikheid van sy aangesig nie; watter heerlikheid tot niet gemaak moes word: Hoe sal die bediening van die gees nie eerder heerlik wees nie? Want as die bediening van die veroordeling heerlikheid is, veel meer oortref die bediening van die geregtigheid in heerlikheid. Want selfs dit wat heerlik gemaak is, het in hierdie opsig geen eer gehad nie, vanweë die heerlikheid wat voortreflik is. Want as dit wat tot niet gemaak is, heerlik was, veel meer is dit wat oorbly, heerlik. Aangesien ons dan so 'n hoop het, gebruik ons 'n groot duidelike spraak: En nie soos Moses wat 'n sluier oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie vas kon kyk na die einde van wat afgeskaf is nie. Maar hulle verstand was verblind, want tot vandag toe bly dieselfde sluier by die voorlesing van die ou testament nie weggeneem nie; watter sluier in Christus weggeneem is. Maar tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, is die sluier oor hulle hart. Maar wanneer dit na die Here bekeer, sal die sluier weggeneem word. Nou is die Here daardie Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid. Maar ons almal, terwyl ons met oop aangesig soos in 'n spieël die heerlikheid van die Here aanskou, word verander na dieselfde beeld van heerlikheid tot heerlikheid, soos deur die Gees van die Here.

2 KORINTIËRS 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Begin ons nou al weer om onsself aan te beveel? Of benodig ons dalk, soos sommige mense, getuigskrifte aan julle of van julle? Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte, bekend aan en gelees deur alle mense. Julle toon duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus. Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. As die bediening wat tot die dood lei, en wat met letters in klip gegraveer is, soveel heerlikheid gehad het – al sou dit gou weer verdwyn – dat die kinders van Israel as gevolg van die glans op Moses se gesig nie daarna kon bly kyk nie, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening deur die Gees dan nie wees nie? As die bediening wat oordeel meebring, dan met heerlikheid gepaardgaan, soveel te meer oortref die bediening van die vryspraak dit in heerlikheid. Want wat vroeër verheerlik was, verdof totaal wanneer dit vergelyk word met die allesoortreffende huidige heerlikheid. As die bediening van die ou verbond wat eintlik net tydelik was, gestraal het van heerlikheid, hoeveel meer sal die altyd blywende bediening van die nuwe verbond nie skitter van heerlikheid nie! Terwyl ons só ’n verwagting koester, doen ons ons werk met groot vrymoedigheid. Ons is ook nie soos Moses wat sy gesig versluier het om te verhinder dat die volk Israel sou sien dat die ligglans net tydelik was nie. Hulle denke het verhard geraak. Tot vandag toe is hulle gedagtes versluier as hulle die Ou Testament lees. Daardie sluier word net eenvoudig nie verwyder nie omdat dit net Christus is wat dit geheel en al vernietig. Tot vandag toe nog, elke keer as Moses voorgelees word, lê daar ’n sluier oor hulle harte. Elke keer as iemand hom na die Here toe draai, verwyder Hy die sluier. Die “Here” dui hier op “die Gees” en waar die Gees van die Here is, heers daar vryheid. Ons almal weerspieël die heerlikheid van die Here, want die sluier is van ons gesig af weggeneem. Ons word al hoe meer verander om soos die Here te lyk, met ’n heerlikheid wat steeds toeneem namate die Here, dit is die Gees, dit aan ons gee.