2 KORINTIËRS 3:1-13

2 KORINTIËRS 3:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Begin ons weer onsself aanprys? Of het ons miskien, soos party ander mense, aanbevelingsbriewe aan julle of van julle nodig? Julle is self ons aanbevelingsbrief, geskryf op ons harte, vir almal om te lees en te verstaan. Dit is tog duidelik dat julle 'n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense. Ons sê dit omdat ons deur Christus ten volle op God vertrou. Uit onsself is ons nie in staat om iets te bedink asof dit uit onsself kom nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om bedienaars van 'n nuwe verbond te wees, nie van die letter nie, maar van die Gees. Die letter maak dood, die Gees maak lewend. Die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom. Hierdie heerlikheid, wat tog gou sou verdwyn, het op die gesig van Moses so geskitter dat die Israeliete nie na hom kon bly kyk nie. As die bediening wat tot die dood lei, met soveel heerlikheid gekom het, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening wat deur die Gees geskied, dan nie wees nie? Die bediening waardeur die mense veroordeel word, het met heerlikheid gekom, maar die bediening waardeur die mense vrygespreek word, oortref dit verreweg in heerlikheid. Ons kan sê dat die heerlikheid van vroeër nie te vergelyk is met die alles oortreffende heerlikheid van nou nie. As wat aan die verbygaan was, van heerlikheid gestraal het, veel meer nog sal die blywende van heerlikheid skitter. Omdat ons hoop hierop gevestig is, tree ons met groot vrymoedigheid op. Ons is nie soos Moses wat sy gesig met 'n sluier toegemaak het nie. Dit moes hy doen om te verhinder dat die volk van Israel sou sien dat die ligglans aan die verdwyn was.

2 KORINTIËRS 3:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Moet ons weer begin en sê wie ons is en hoekom julle ons kan glo? Nee, ons vra nie soos ander mense dat julle of ander mense briewe moet skryf om te sê dat ons vir julle mag preek en dat ons dit goed doen nie. Júlle is ons brief. Christus het hierdie brief op ons harte geskryf, en al die mense ken hierdie brief en hulle lees dit. Julle wys duidelik dat julle 'n brief van Christus is. En Christus het vir ons gebruik om hierdie brief te skryf. Ons het nie die brief met ink geskryf nie. Nee, die Gees van God, God wat lewe, het dit geskryf. Hy het dit nie op plat klippe geskryf nie, maar op mense se harte. Dit is seker. Ons kan dit eerlik sê omdat ons aan Christus behoort, God kan hoor wat ons sê. Ons sê dit nie omdat ons dink dat ons self baie goed is nie, ons sê dit omdat God ons goed genoeg gemaak het om sy werk te doen. God het ons goed genoeg gemaak om die werk te kan doen, ons moet vir mense vertel van 'n nuwe verbond. 'n Mens skryf hierdie verbond nie met letters op papier nie, nee, die Heilige Gees skryf dit. Letters op papier bring die dood, maar die Gees laat mense lewe. Die werk wat Moses moes doen, het mense laat sterf. God het die letters van daardie werk op plat klippe geskryf. Moses se werk was om die wette van God die Koning na die volk toe te neem. Daarom kon die Israeliete nie na Moses se gesig kyk nie, sy gesig het te veel geblink. Moses se werk het 'n wonderlike ding laat gebeur, maar dit gebeur nou nie meer nie. Die werk van die Gees kan baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Die werk wat vir mense straf gebring het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk wat vir mense vryspreek, sal nog baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Dit sal die beste van alles wees. Ja, die werk wat Moses gedoen het, het wonderlike dinge laat gebeur, maar nou is dit nie meer so nie. Dit is omdat die werk van die Gees baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Die werk van Moses wat nou verby is, het wonderlike dinge laat gebeur, maar die werk van die Gees wat nou gekom het en wat altyd sal bly, sal baie meer wonderlike dinge laat gebeur. Ons is baie seker dat daar nou 'n nuwe verbond is. Daarom is ons nie bang om te preek nie. Moses het 'n sluier oor sy gesig gesit, maar ons doen nie dieselfde nie. Moses het dit gedoen sodat die Israeliete nie kon sien dat die tyd van die verbond amper verby is nie.

2 KORINTIËRS 3:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

BEGIN ons weer om onsself aan te beveel? Of het ons miskien, soos sommige, aanbevelingsbriewe nodig aan julle of van julle? Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense; omdat julle duidelik 'n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. So 'n vertroue het ons deur Christus by God. Nie dat ons uit onsself bekwaam is om iets as uit onsself te bedink nie, maar ons bekwaamheid is uit God, wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van 'n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid. Terwyl ons dan sodanige hoop het, gebruik ons baie vrymoedigheid; nie soos Moses nie, wat 'n bedekking oor sy aangesig gesit het, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die einde van wat moes vergaan nie.

2 KORINTIËRS 3:1-13 Die Boodskap (DB)

Klink dit of ek nou besig is om oor myself te spog? Nee! Ek probeer julle glad nie beïndruk nie. Julle self is immers my getuigskrif. Ek het nie die een of ander getuigskrif van julle kant af nodig om my goeie kwaliteite te besing soos party ander mense doen nie. Julle self is die bewys dat die Here my geroep het om die goeie nuus uit te dra. Julle is soos ’n brief wat in my hart neergeskryf is en wat ek elke dag lees. Natuurlik lees al die ander mense wat elke dag met julle te doen het, julle ook. Hulle kan sien dat julle lewende briewe van Christus is. Toe ek daar by julle gepreek het, het Hy in julle lewe begin skryf. Onthou: Christus het nie gewone ink gebruik nie. Nee, Hy het die Gees van die lewende God gebruik. Hy het ook nie op kliptafels geskryf nie, maar op die tafels van julle hart. Hy het julle splinternuut gemaak. Deur sy goedheid help Christus my om al my vertroue in God te stel. Daarom probeer ek nooit om iets uit eie krag te doen nie. Uit my eie kan ek in elk geval niks regkry nie. God self het my toegerus om sy werk te doen. Hy het my aangestel as sy dienaar. Ek moet vir mense gaan vertel van die nuwe ooreenkoms wat God tussen Hom en ons almal tot stand gebring het. Hierdie ooreenkoms is nie met pen en papier geskryf nie. Nee, luister mooi: dit is deur die Gees in ons lewe oorgeskryf. ’n Ooreenkoms op papier bring in elk geval niks anders as die dood nie. Maar die Gees gee vir altyd lewe. Kom ek verduidelik met ’n voorbeeld wat ek bedoel. Julle weet mos dat al Moses se wette op klip uitgekap is. Toe hy dit daar op die berg ontvang het, het sy gesig so helder geblink dat die Israeliete hom nie in die oë kon kyk nie. Na ’n rukkie het die glans egter van sy gesig verdwyn. Hierdie wonderlike tydperk van die wet het nie daarin geslaag om mense by die ware lewe uit te bring nie. Maar dit was nogtans ’n ongelooflike tyd. Dink dan net hoe groot hierdie nuwe era van die Heilige Gees is. Daardie vorige era waarin die wet mense oor hulle sondes veroordeel het, was regtig ryk aan glorie. Wat sal ons dan sê oor die nuwe era waarin ons nou leef? Ons het nie genoeg woorde om dit mee te beskryf nie. Dit skitter absoluut met God se heerlikheid. Ons leef nou in die tyd waarin God mense uit sy goedheid van hulle sondes vryspreek omdat hulle in Hom glo. Die glans van die ou era is niks in vergelyking met hierdie nuwe tyd nie. Ek kan dit nie genoeg sê nie: as die era van die wet, wat natuurlik nou agter die rug is, met soveel glans gepaardgegaan het, hoeveel te meer sal hierdie nuwe era, wat vir altyd aanhou, met heerlikheid skitter! Omdat ek weet dat ek ook deel is van die splinternuwe era van die Heilige Gees, die era wat vir altyd sal aanhou, kry niks my onder nie. Gelukkig hoef ek nie soos Moses ’n sluier oor my gesig te trek nie. Julle onthou mos dat hy ’n sluier oor sy gesig gesit het sodat die Israeliete nie kon sien hoe die glans op sy gesig verdwyn nadat hy die wet ontvang het nie.

2 KORINTIËRS 3:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Begin ons nou al weer om onsself aan te beveel? Of benodig ons dalk, soos sommige mense, getuigskrifte aan julle of van julle? Julle is tog self ons brief, geskryf op ons harte, bekend aan en gelees deur alle mense. Julle toon duidelik dat julle ’n brief van Christus is, deur ons diens voorberei en geskryf, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op kliptafels nie, maar op die tafels van menseharte. Dít is die vertroue wat ons op God stel, deur die bemiddeling van Christus. Nie dat ons op eie houtjie iets kan bedink asof dit ons eie breinkind is nie. Ons bekwaamheid kom van God, wat ons bekwaam gemaak het om as bedienaars van die nuwe verbond op te tree, nie met die wet as inhoud nie, maar met die Gees as inhoud. Want die letter maak dood, maar die Gees maak lewend. As die bediening wat tot die dood lei, en wat met letters in klip gegraveer is, soveel heerlikheid gehad het – al sou dit gou weer verdwyn – dat die kinders van Israel as gevolg van die glans op Moses se gesig nie daarna kon bly kyk nie, hoeveel groter sal die heerlikheid van die bediening deur die Gees dan nie wees nie? As die bediening wat oordeel meebring, dan met heerlikheid gepaardgaan, soveel te meer oortref die bediening van die vryspraak dit in heerlikheid. Want wat vroeër verheerlik was, verdof totaal wanneer dit vergelyk word met die allesoortreffende huidige heerlikheid. As die bediening van die ou verbond wat eintlik net tydelik was, gestraal het van heerlikheid, hoeveel meer sal die altyd blywende bediening van die nuwe verbond nie skitter van heerlikheid nie! Terwyl ons só ’n verwagting koester, doen ons ons werk met groot vrymoedigheid. Ons is ook nie soos Moses wat sy gesig versluier het om te verhinder dat die volk Israel sou sien dat die ligglans net tydelik was nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid