2 KORINTIËRS 2:14-17
2 KORINTIËRS 2:14-17 Bybel vir almal (ABA)
Ons moet vir God dankie sê, Hy wys altyd vir almal dat ons aan Christus behoort en dat Christus die Koning is wat sy vyande oorwin het. God gebruik ons sodat mense oral vir Christus kan leer ken. Dit is soos wanneer 'n mens iets ruik. God red party mense en party mense gaan verlore. Wanneer ons die boodskap oor Christus preek, dan is dit soos wanneer die mense iets ruik. Die boodskap ruik baie sleg vir die mense wat verlore gaan, dit ruik soos iets wat dood is. Maar die boodskap ruik baie lekker vir die ander mense, want God red hulle, en die boodskap bring lewe. Ja, dit is baie moeilik vir 'n mens om God se boodskap te bring. Want ons is nie soos baie ander mense wat die boodskap van God bring om geld te kry nie. Nee, wanneer ons preek, dan is ons eerlik. Want God het ons gestuur, ons weet dat Hy ons altyd kan sien, en ons behoort aan Christus.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus en wat die reuk van sy kennis deur ons oral versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus tot eer van God onder die wat gered word en onder die wat verlore gaan; vir die laaste 'n reuk van die dood tot die dood, maar vir die eerste 'n reuk van die lewe tot die lewe. En wie is tot hierdie dinge bekwaam? Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as uit opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis van Christus oral soos 'n aangename geur. Ons is die wierook wat deur Christus vir God gebrand word, waarvan die geur dié bereik wat gered word, sowel as dié wat verlore gaan. Vir dié wat verlore gaan, is dit 'n doodsreuk wat dood bring; vir dié wat gered word, is dit 'n lewensgeur wat lewe wek. En wie is tot sulke dinge in staat? Ons, omdat ons nie is soos baie ander wat geld maak uit die woord van God nie. Ons verkondig die woord in opregtheid, in verbondenheid met Christus, in opdrag van God en in verantwoordelikheid aan God.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar dank aan God, wat ons altyd deur •Christus in sy triomftog meevoer, en die geur van sy kennis op elke plek deur ons versprei. Want ons is 'n aangename geur van Christus aan God, vir dié wat verlos word, én vir dié wat verlore gaan – vir laasgenoemde 'n reuk vanuit die dood tot die dood, vir eersgenoemde 'n geur vanuit die lewe tot die lewe. En wie is hiertoe bekwaam? Ons is nie soos so baie ander wat smous met die woord van God nie; maar ons praat in opregtheid, asof vanuit God, voor God, en dit in Christus.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar God sy dank, wat ons altyd laat triomfeer in Christus en die reuk van sy kennis deur ons op elke plek openbaar maak. Want ons is vir God 'n lieflike geur van Christus, in die wat gered word en in die wat verlore gaan. Vir hom is ons die reuk van die dood tot die dood; en vir die ander die reuk van die lewe tot die lewe. En wie is genoeg vir hierdie dinge? Want ons is nie soveel wat die woord van God verderf nie, maar as uit opregtheid, maar soos uit God, spreek ons voor God in Christus.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Die Boodskap (DB)
Ons moet vir God opreg dankie sê, want Hy vat ons oral met Hom saam in sy groot oorwinningstog deur die wêreld. Op elke plek waar ons kom, gebruik God ons. Ons is soos ’n aangename geur wat ander mense van Christus bewus maak. Ons versprei die wonderlike aroma van Christus tot eer van God. Almal wat met ons te doen het, weet daarvan: dié wat in Hom glo, en ook dié wat op pad is na die dood toe. Vir mense wat nie in Christus glo nie, gee ons ’n doodsreuk af. Maar vir mense wat die goeie nuus glo, gee ons die heerlike geur van lewe af. Natuurlik is dit ’n groot verantwoordelikheid om Christus se aroma in hierdie wêreld te wees. Ek weet dat ek sy aroma is. “Hoe?” vra julle. Want ek probeer nie geld maak uit die woord van God soos party ander mense nie. Ek is eerlik en opreg. Omdat ek deur God self aangestel is en aan Christus behoort, kom alles wat ek sê van God af. Niks wat ek doen, steek ek ooit vir God weg nie.
2 KORINTIËRS 2:14-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek is dankbaar teenoor God wat ons, omdat ons aan Christus verbind is, altyd saamneem in sy triomftog. Deur ons versprei Hy die aangename geur van sy kennis op elke plek. Ons is die welriekende geur wat deur Christus vir God opstyg, onder dié wat verlos word sowel as onder dié wat verlore gaan. Vir sommige is dit ’n doodsreuk tot die dood; vir ander is dit ’n lewensgeur wat lewe bring. Wie is tot hierdie taak in staat? Ons is wel, want ons is nie soos baie mense wat smous met die woord van God nie. Omdat ons aan Christus verbind is, preek ons die woord met suiwer bedoelings – ’n woord wat van God self af kom, en waaroor ons aan Hom rekenskap moet gee.