2 KORINTIËRS 2:1-11

2 KORINTIËRS 2:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Ja, ek het vas besluit dat ek nie weer na julle toe sal kom as dit julle sleg sal laat voel nie. Want as ek julle sleg laat voel, wie sal dan vir mý bly maak? Dit is net julle wat vir my bly kan maak, maar nou laat ek julle sleg voel. Ek het vir julle geskryf oor dinge wat verkeerd is by julle. Ek het dit gedoen sodat ek nie sleg sal voel wanneer ek weer by julle kom nie. Julle moet onthou dat júlle die mense is wat vir mý bly moet maak. En ek is seker dat julle almal ook bly wil wees soos ek bly is. Toe ek vir julle geskryf het, was ek baie bekommerd en ek was baie hartseer. Ek het baie gehuil toe ek daardie brief geskryf het. Maar ek het dit nie geskryf om julle sleg te laat voel nie. Nee, ek wou hê julle moet weet dat ek baie lief is vir julle. Die persoon in julle gemeente wat probleme gemaak het, het nie regtig vir my hartseer gemaak nie. Daardie persoon het vir júlle almal hartseer gemaak. Nee, ek praat verkeerd, hy het amper vir almal hartseer gemaak. Die meeste mense in die gemeente was kwaad vir daardie persoon, daarom het hy nou genoeg straf gekry. Dit sal beter wees as julle hom nou vergewe en hom bemoedig, sodat die straf en die hartseer nie te veel word vir hom nie. Daarom vra ek mooi vir julle om lief te wees vir hom. Dit is ook hoekom ek vir julle geskryf het. Ek wou weet of julle goeie gelowiges is, of julle luister na alles wat ek vir julle geleer het. As julle iemand vergewe wat iets verkeerd gedoen het, dan vergewe ek hom ook. Dit was nie so belangrik dat ék daardie persoon moes vergewe nie, maar toe ek hom vergewe het, het ek dit gedoen om vir julle te leer hoe julle saam met ander mense moet lewe. Ek het dit ook gedoen omdat ek vir Christus werk. Julle moet onthou, die Satan mag ons nie verkeerd laat besluit met sy skelm planne nie. Ons weet watter planne hy altyd het. Hy wil ons keer sodat ons nie reg lewe nie.

2 KORINTIËRS 2:1-11 Die Boodskap (DB)

Wat sou my besoek julle help as dit net hartseer en trane sou veroorsaak in plaas van vreugde? As my besoek julle net sou omkrap, wie sou my dan kon opbeur? Net julle! En dit sou nooit as te nimmer werk nie. Om van mense wat kwaad is te verwag om die een wat hulle omgekrap het te troos, is onmoontlik. Daarom het ek besluit om maar liewer ’n brief aan julle te skryf. Dit was die veiligste keuse. Op dié manier kon ek ten minste sorg dat ek nie deurloop onder julle klomp wie se plig dit eintlik is om my op te beur nie. In elk geval: ek is seker dat julle almal ook gelukkig is wanneer ek gelukkig is. En my keuse om aan julle te skryf eerder as om julle te kom besoek, maak my gelukkig. Moenie vir ’n enkele oomblik dink dat dit vir my maklik was om my vorige brief aan julle te skryf nie. My hart was regtig baie seer toe ek dit gedoen het. Onder baie pyn en trane het ek daardie brief na julle toe gestuur. Natuurlik wou ek julle nie omkrap nie. Julle moes juis in my brief agterkom hoe lief ek julle almal het. Ek moet ook met julle praat oor daardie man wat al die ongelukkigheid in julle kerk veroorsaak het. Hy het my voor almal beledig toe ek laas by julle was. Gelukkig het dit my nie omgekrap nie. Ek weet egter dat dit julle almal ontstel het - wel, ten minste die meeste van julle. Maar moenie julle verder bekommer nie. Dié man het al klaar sy straf ontvang. Julle het hom mos kwaai oor sy optrede aangespreek. Nou moet julle ophou om vir hom kwaad te wees. Vergewe hom en wys vir hom dat julle vir hom omgee. Die arme man voel al sleg genoeg oor sy sonde. Hou op om hom nog verder te ontstel, anders gee hy later heeltemal moed op. Ek het my vorige brief aan julle geskryf om te sien of julle hierdie toets kan slaag. Ek wou sien of julle regtig sal doen wat God van julle verwag. As julle bereid is om op God se pad te stap deur hierdie man te vergewe, sal ek dit ook doen. Eintlik het ek dit al klaar om julle onthalwe gedoen. Regtig. Ek jok nie. Christus weet dit. As ons hierdie man nie vergewe nie, speel ons so reg in Satan se hand. ’n Bakleiery onder gelowiges pas hom baie goed. Hy probeer sy bes om dit reg te kry, soos ons almal weet.