2 KORINTIËRS 12:8-10
2 KORINTIËRS 12:8-10 Bybel vir almal (ABA)
Ek het baie maal vir die Here gevra dat Hy hierdie ding moet wegneem. Maar Hy het vir my gesê: “Ek is genadig vir jou, en dit is genoeg, want wanneer iemand weet dat hy swak is, dan word my krag in sy lewe meer.” Daarom sal ek graag spog dat ek swak is, want dan is die krag van Christus in my. Daarom is ek tevrede wanneer ek swak is, wanneer mense my beledig, wanneer ek swaarkry, wanneer mense slegte dinge doen aan my, en wanneer ek probleme het. Want ek weet dat alles gebeur omdat ek aan Christus behoort. Ja, ek is tevrede, want wanneer ek swak is, dan is ek sterk.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hieroor het ek die Here drie maal gebid, dat hy van my sou wyk. En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon. Daarom het ek behae in swakhede, in mishandelinge, in node, in vervolginge, in benoudhede, om Christus wil. Want as ek swak is, dan is ek sterk.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Drie maal het ek die Here gebid dat dit van my af weggeneem moet word. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees. Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hieroor het ek die Here drie maal gesmeek dat dit van my moet wyk. Maar Hy het vir my gesê: “My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring.” Daarom sal ek my baie liewer op my swakhede beroem, sodat Christus se krag my kan beskut. Ter wille van Christus verheug ek my in swakhede, beledigings, ontberings, vervolgings en benoudhede; want wanneer ek swak is, juis dan is ek sterk.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Om hierdie saak het ek die Here drie maal gesmeek, dat dit van my mag wyk. En hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Daarom sal ek liewer in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan rus. Daarom het ek behae in swakhede, in smaad, in nood, in vervolging, in benoudhede ter wille van Christus; want as ek swak is, dan is ek sterk.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Die Boodskap (DB)
Nie minder nie as drie keer het ek die Here gevra om hierdie struikelblok uit my lewe weg te vat. “Laat al my swaarkry en lyding asseblief tog net ophou!” het ek Hom gesmeek. Toe sê die Here uiteindelik vir my: “My goedheid is vir jou genoeg. Dit is al wat jy nodig het. My groot krag word sigbaar in jou lewe wanneer jy swak en hulpeloos is.” Na hierdie antwoord van die Here het hierdie doring in my vel skielik die krag in my lewe geword. Ek het ontdek dat swaarkry en swakhede deel van die Here se plan met my lewe is. Van toe af kon ek selfs spog oor hoe swaar dit met my gaan sodat Christus die enigste kragbron van my lewe kan wees. Weet julle, ek is glad nie meer omgekrap oor my swakhede en probleme nie. Wanneer mense my slegsê, wanneer ek mishandel word, wanneer ongelowiges my vervolg, of wanneer ek bang en benoud is omdat ek vir Christus werk, is ek doodtevrede. Want wanneer ek swak is, is ek juis sterk. My eie swakheid leer my om net op Christus se groot krag staat te maak.
2 KORINTIËRS 12:8-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Drie maal het ek die Here gesmeek dat dit my moet verlaat. Hy het egter vir my gesê: “My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede spog sodat die krag van Christus voortdurend deur my kan werk. Ek is dus tevrede met my swakhede, beledigings, ontbe-rings, vervolgings en benoudhede ter wille van Christus, want wanneer ek swak is, juis dán is ek sterk.