2 KORINTIËRS 1:1-11

2 KORINTIËRS 1:1-11 Bybel vir almal (ABA)

God het besluit om vir my, Paulus, 'n apostel van Christus Jesus te maak. Ek en Timoteus, wat ook 'n gelowige is, skryf nou hierdie brief vir julle, die gemeente van God daar in die stad Korinte. Ons skryf ook vir almal wat aan God behoort, oral in die provinsie Agaje. Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee. Almal moet vir God, die Vader van ons Here Jesus Christus, prys. God is die Vader wat baie goed is vir ons en Hy is die God wat altyd vir ons bemoedig. Hy bemoedig ons wanneer ons swaarkry, dit maak nie saak wat die swaarkry is nie. Dan kan ons ook ander mense bemoedig wat swaarkry, dit maak nie saak wat hulle swaarkry is nie. Ons kan dit doen omdat God vir ons bemoedig. Ja, ons kry baie maal swaar omdat ons aan Christus behoort. Maar so bemoedig God ook baie maal vir ons omdat ons aan Christus behoort. Wanneer ons swaarkry, dan kry ons swaar sodat ons vir julle kan bemoedig en sodat julle geestelik kan lewe. Wanneer God vir ons bemoedig, dan doen Hy dit sodat ons vir julle kan bemoedig. Wanneer julle swaarkry, dan voel julle hoe ons swaarkry en dan voel julle ook hoe God vir julle bemoedig. Ons hoop dat daar goeie dinge met julle sal gebeur, en dit is seker dat dit sal gebeur. Julle kry ook swaar soos ons, daarom weet ons dat God vir julle ook sal bemoedig soos Hy vir ons bemoedig het. Vriende, ons wil hê dat julle moet weet hoe swaar ons gekry het in Asië. Ons het baie swaar gekry, dit was vir ons te veel, ons het gedink ons sal doodgaan. Ons het gevoel soos mense wanneer die regter besluit het dat hulle moet sterf. Ons kon onsself nie meer help nie. Ons kon net vertrou op God omdat Hý die Een is wat mense weer laat lewe nadat hulle gesterf het. God het ons gered uit hierdie groot gevaar, uit die dood. Hy sal ons weer red. Ons hoop en ons is seker dat Hy ons altyd sal red. Julle help ons ook baie wanneer julle vir ons bid. As God ons red, dan is daar baie mense in die gemeente wat vir God dankie sê omdat Hy ons gered het.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

PAULUS, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timótheüs, die broeder, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges wat in die hele Acháje is: Genade vir julle en vrede van God, onse Vader, en die Here Jesus Christus. GESEËND is die God en Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting, wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in allerhande verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ons troos ook oorvloedig deur Christus. Maar of ons verdruk word, dit is julle tot troos en redding; en dit laat sy werking blyk deurdat julle dieselfde lyding verduur wat ons ook ondergaan; en of ons getroos word, dit is julle tot troos en redding. En ons hoop vir julle is vas, omdat ons weet dat net soos julle deelgenote is aan die lyding, so ook aan die troos. Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onbekend moet wees met ons verdrukking wat oor ons in Asië gekom het nie, dat ons dit bo ons krag uitermate swaar gehad het, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Ja, ons het al self by onsself die doodvonnis oor ons gehad, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dode opwek; wat ons verlos het uit so 'n groot doodsgevaar en nog verlos; op wie ons hoop dat Hy ook nog sal verlos, terwyl julle ook vir ons saamwerk deur die gebed, sodat daar vir die genadegawe aan ons deur baie persone op baie maniere vir ons gedank mag word.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Paulus, 'n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus. Aan die gemeente van God in Korinte en aan almal wat aan die Here behoort in die hele Agaje. Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee. In elke moeilikheid bemoedig Hy ons. Daarom kan ons ook ander bemoedig wat in allerlei moeilikhede verkeer. Ons kan hulle bemoedig met dieselfde bemoediging waarmee God ons bemoedig, want net soos daar vir ons 'n oorvloed van lyding is ter wille van Christus, is daar ook vir ons 'n oorvloed van bemoediging deur Christus. As ons dus in beproewing kom, is dit dat julle bemoedig en gered kan word. As ons bemoedig word, is dit om julle te bemoedig en te versterk, sodat julle met geduld dieselfde lyding kan verduur wat ons ook verduur. En wat julle betref, het ons 'n vaste verwagting: ons weet dat net soos julle saam met ons deel het aan die lyding, julle ook aan die bemoediging deel het. Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe. Dit is Hy wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Op Hom is ons hoop gevestig: Hy sal ons ook verder red. Daartoe werk julle mee deur vir ons te bid. So sal die gebede van baie 'n seën van God vir ons bring, en dan sal baie Hom vir ons dank.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Paulus, 'n •apostel van •Christus Jesus deur die wil van God, en die broer Timoteus, aan die •gemeente van God wat in Korinthe is, saam met al die heiliges in die hele Agaje: Genade en vrede vir julle van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Lofwaardig is die God en Vader van ons Here Jesus Christus, die Vader van barmhartigheid en God van alle bemoediging! Hy bemoedig ons in al ons verdrukkings, sodat ons hulle wat in allerhande verdrukkings verkeer, kan bemoedig met die bemoediging waarmee ons self deur God bemoedig word; want net soos Christus se lyding oorvloedig oor ons kom, so is ook ons bemoediging oorvloedig deur Christus. As ons dan verdruk word, is dit ter wille van julle bemoediging en redding; as ons bemoedig word, is dit ter wille van julle bemoediging, wat tot uitdrukking kom deurdat julle met volharding dieselfde lyding verduur as wat ons deurmaak. Ons hoop vir julle is seker, omdat ons weet dat, soos julle deel het aan die lyding, julle ook so deel het aan die bemoediging. Want, broers, ons wil nie hê julle moet onkundig wees oor die verdrukking wat ons in Asië beleef het nie, dat die swaarkry wat ons verduur het, ver bo ons kragte was, sodat ons selfs aan ons lewe gewanhoop het. Trouens, wat onsself betref, het ons al as't ware die doodsvonnis oor ons ontvang; maar dit was sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God, wat die dooies opwek. Op Hom wat ons uit so 'n groot doodsgevaar gered het, en sal red, is ons hoop gevestig dat Hy ons weer sal uitred. Hiertoe dra julle ook by deur julle gebede vir ons, sodat deur bemiddeling van baie mense, namens ons dank betuig kan word vir die genadegawe aan ons.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Paulus, 'n apostel van Jesus Christus deur die wil van God, en Timoteus, ons broeder, aan die gemeente van God wat in Korinthe is, met al die heiliges wat in die hele Achaje is. Genade vir julle en vrede van God ons Vader en van die Here Jesus Christus. Geseënd is God, die Vader van onse Here Jesus Christus, die Vader van ontferminge en die God van alle vertroosting; wat ons troos in al ons verdrukking, sodat ons die wat in enige verdrukking is, kan troos deur die vertroosting waarmee ons self deur God getroos word. Want soos die lyde van Christus oorvloedig is in ons, so is ook ons troos oorvloedig deur Christus. En of ons nou verdruk word, dit is tot julle vertroosting en redding, wat werksaam is om dieselfde lyding te verduur wat ons ook ly; of ons vertroos word, dit is tot julle vertroosting en redding. En ons hoop op julle is standvastig, omdat ons weet dat soos julle deel het aan die lyding, so sal julle ook van die vertroosting wees. Want ons wil nie hê, broeders, dat julle onkundig moet wees van ons benoudheid wat in Asië oor ons gekom het nie, dat ons verdruk was, bo krag, sodat ons selfs aan die lewe wanhopig was. Maar ons het die doodsvonnis in onsself gehad, dat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek. Wat ons verlos het uit so 'n groot dood en verlos; op wie ons vertrou dat Hy ons nog sal verlos; Julle help ook saam deur vir ons te bid, sodat vir die gawe wat deur baie persone aan ons geskenk is, deur baie mense namens ons gedank kan word.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Die Boodskap (DB)

Van Paulus. Ek is deur Christus Jesus as ’n apostel aangestel. My aanstelling dra ook God se goedkeuring weg. Timoteus, een van my helpers en ons broer in die Here, stuur groete vir julle. Ek skryf aan almal van julle in die kerk in Korinte. Ja, en ook aan almal wat deel van God se kerk is in die res van die Romeinse provinsie Agaje. God ons Vader en die Here Jesus Christus gee aan julle almal genade en vrede. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die eer toe. As ons Vader oorstroom Hy ons met sy goedheid. As ons God troos Hy ons. Hy staan by ons en help ons in al ons krisisse. Daarom kan ons ander mense help en troos wanneer hulle swaarkry. Ons kan presies dieselfde troos met hulle deel as wat God met ons gedeel het. Net soos Christus vroeër gely het, ly ons nou ook. Ons kry regtig baie swaar omdat ons sy volgelinge is. Maar gelukkig oorlaai Christus ons elke dag met sy goedheid en met sy troos. Ek het al dikwels swaargekry omdat ek in Christus glo, maar Hy het my nog elke keer daardeur gehelp. Daarom kan ek julle nou troos wanneer julle swaarkry. Ek kan julle help om aan te hou glo. Wanneer ek God se troos ervaar, deel ek dit ook met julle terwyl julle dapper dieselfde soort lyding as ek ervaar. Natuurlik twyfel ek nie vir ’n enkele oomblik dat julle sal aanhou glo nie. Ek weet dat julle dieselfde lyding as ek ervaar. Maar ek weet ook dat julle dieselfde troos as ek van God ontvang. Weet julle, ek het onlangs in Asië baie gely ter wille van my geloof. Dit was verskriklik. Ek is so erg mishandel dat ek dit later nie meer kon uithou nie. Dit het gevoel of ’n doodsvonnis oor my uitgespreek is. Maar ek het toe ’n baie belangrike les geleer. Ek het geleer om te bly vashou aan God wat selfs die dooies lewendig kan maak. Uiteindelik het Hy my uit daardie lewensgevaarlike situasie gered. Daarom weet ek met alles in my dat God my vorentoe weer sal red wanneer ek in gevaar verkeer. Hy sal my elke keer help wanneer ek in die nood is. Bid asseblief vir ons. Daarsonder kan ons glad nie ons werk vir die Here doen nie. Julle gebede maak dat baie ander mense ook begin bid. Hulle sal vir God dankie sê omdat Hy ons met sy hemelse gawes toegerus het sodat ons die goeie nuus aan hulle kan bekendmaak. Op hierdie manier werk al julle gebede mee aan die uitdra van die evangelie.

2 KORINTIËRS 1:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hierdie brief kom van Paulus. Deur die wil van God is ek ’n apostel van Christus Jesus. Ons broer Timoteus skryf hierdie brief saam met my. Ons skryf aan die gemeente van God in Korinte en aan al God se mense wat in die hele Agaje woon. Mag die genade en vrede van God ons Vader en die Here Jesus Christus met julle wees. God, die Vader van ons Here Jesus Christus, word geprys! Hy is die Vader van barmhartigheid en die God wat in elke opsig bemoedig. In al ons swaarkry bemoedig Hy ons. Hy doen dit sodat ons ook in staat sal wees om mense in al hulle swaarkry by te staan met dieselfde bemoediging waarmee God ons versterk het. Net soos ons ’n oorvloed ontberings ter wille van Christus deurmaak, só beleef ons ook oorvloedige bemoediging deur Christus se bemiddeling. As ons dus swaarkry, is dit ter wille van julle bemoediging en verlossing. Want as ons God se bystand beleef, is dit sodat ons julle weer kan bemoedig. So kan julle met volharding die ontberings trotseer wat ons ook moet deurstaan. En ons verwagting wat julle betref, staan op stewige bene: Ons weet dat net soos julle deel het aan die ontberings, julle ook só deel het aan die bemoediging. Ons wil nie hê dat julle, broers en susters, oningelig moet wees oor ons swaarkry in die provinsie Asië nie. Om die waarheid te sê, ons is ver bo ons kragte belas, met die gevolg dat ons selfs moed verloor het om te bly lewe. Dit het eintlik vir ons gevoel of ons die doodsvonnis ontvang het sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op dié God wat die dooies opwek. Dit is Hy wat ons van só ’n groot doodsgevaar gered het en ons weer sal red. Hý is ons verwagting; Hy sal ons altyd weer red. Daaraan werk julle saam deur ook vir ons te bid. Die gevolg is dat die gebede van baie mense ’n genadegawe vir ons bring en dat daar ook baie mense is wat Hom vir ons dank.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid