2 KRONIEKE 5:12-14
2 KRONIEKE 5:12-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
ook die Levitiese sangers, hulle almal, Asaf, Heman en Jedoetoen, hulle nakomelinge en stamgenote, wat in linneklere gereed gestaan het aan die oostekant van die altaar met simbale, harpe en liere, en saam met hulle honderd-en-twintig priesters wat trompette blaas – het die trompetblasers en die sangers soos een man ingeval om die HERE met een stem te loof en te dank. Net toe hulle, onder begeleiding van trompette, simbale en ander musiekinstrumente, hulle stemme verhef en die HERE begin loof met “Want Hy is goed, ja, vir ewig duur sy troue liefde,” is die tempel, die huis van die HERE, gevul met 'n wolk. Die priesters kon vanweë die wolk nie bly staan om hulle dienswerk te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God gevul.
2 KRONIEKE 5:12-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Leviete wat musikante was, Asaf, Heman, Jedutun, saam met hulle seuns en broers, het oos van die altaar gestaan. Hulle het fyn linneklere aangehad en op simbale, harpe en liere gespeel. By hulle was daar 120 priesters wat op trompette geblaas het. Die trompetspelers en sangers het saam as eenheid opgetree met lofsang en dank aan die HERE. Met begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle gesing en met hierdie woorde die HERE geprys: “Hy is goed! Sy troue liefde duur vir altyd!” Op daardie oomblik het ’n wolk die tempel van die HERE gevul. Die priesters kon nie hulle verpligtings nakom vanweë die wolk nie, want die heerlike teenwoordigheid van die HERE het die tempel van God gevul.
2 KRONIEKE 5:12-14 Bybel vir almal (ABA)
was die Leviete wat moes sing, gereed. Hulle was: Asaf, Heman en Jedutun, hulle seuns en hulle broers. Hulle het wit linne-klere aangehad en hulle het simbale, harpe en liere gehad. Hulle het oos van die altaar gestaan. Daar was ook 120 priesters wat trompette geblaas het. Die priesters wat trompette geblaas het en die mense wat gesing het, het saam begin om die Here te prys en vir Hom dankie te sê. Die priesters het die trompette geblaas en die simbale en die ander musiek-instrumente gespeel. Hulle het die Here geprys en hulle het gesing “Want Hy is goed, ja, Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Toe het 'n wolk die tempel toegemaak. Die priesters kon nie hulle werk doen nie omdat die wolk daar was. Die lig wat om die Koning, die Here, is, het in die hele tempel geskyn.
2 KRONIEKE 5:12-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
terwyl die Levitiese sangers almal saam, Asaf, Heman, Jedútun met hulle seuns en hulle broers, in linne gekleed, met simbale en harpe en siters oostelik van die altaar staan, en saam met hulle omtrent honderd-en-twintig priesters wat op die trompette blaas; en toe die trompetblasers en die sangers almal saam eenstemmig begin om die HERE te prys en te loof, en net toe hulle die stem verhef met die trompette en met die simbale en met die musiekinstrumente, en met: Loof die HERE, want Hy is goed, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! — is die huis, die huis van die HERE, vervul met 'n wolk. En die priesters kon vanweë die wolk nie staan om diens te doen nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.
2 KRONIEKE 5:12-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
het die Levitiese sangers oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere. Hulle was almal daar: Asaf, Heman en Jedutun met hulle volgelinge en ampsgenote. Hulle het hulle linneklere aangehad, en by hulle was omtrent honderd en twintig priesters, trompetblasers. Presies gelyk, soos een man, het die trompetblasers en die sangers die lof en dank aan die Here laat weerklink. Die klank van trompette, simbale, allerhande instrumente en die loflied ter ere van die Here het opgeklink: “Want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Op daardie oomblik het 'n wolk die huis van die Here gevul. Daarom kon die priesters nie vir diens aantree nie. Dit was die magtige teenwoordigheid van die Here wat die tempel van God gevul het.
2 KRONIEKE 5:12-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ook die Leviete wat die sangers was, almal van Asaf, van Heman, van Jedutun, met hulle seuns en hulle broers, bekleed met wit linne, met simbale en harpe en siters, het aan die oostekant van die altaar gestaan en saam met hulle honderd en twintig priesters wat op trompette blaas: En toe die trompetspelers en die sangers een was, het hulle een geluid gemaak om die HERE te loof en te loof; en toe hulle hul stem verhef het met die trompette en simbale en die musiekinstrumente, en die HERE geprys en gesê het: Want Hy is goed; want sy goedertierenheid is tot in ewigheid, dat toe die huis gevul is met 'n wolk, die huis van die HERE; Sodat die priesters vanweë die wolk nie kon staan om te dien nie, want die heerlikheid van die HERE het die huis van God vervul.
2 KRONIEKE 5:12-14 Die Boodskap (DB)
Al die Levitiese sangers, dit is al die groepe van Asaf, Heman en Jedutun, het hulle linneklere aangehad. Hulle het oos van die altaar reggestaan met simbale, harpe en liere, en daar was omtrent 120 priesters met trompette by hulle. Die trompetspelers en sangers het saam die Here geprys en gedank. Met die begeleiding van trompette, simbale en ander instrumente, het hulle hard begin sing en die Here met die volgende woorde geloof: “Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Net toe het ’n wolk die tempel van die Here heeltemal volgemaak. Die priesters kon nie met hulle werk aangaan nie, want die Here se heerlikheid was binne-in die tempel.