2 KRONIEKE 35:1-19

2 KRONIEKE 35:1-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Josia het in Jerusalem die Pasga vir die HERE gevier. Hulle het die pasgalammers op die veertiende van die eerste maand geslag. Hy het die priesters vir hulle pligte laat aantree en hulle bemoedig vir die dienswerk in die huis van die HERE. Hy het vir die Leviete wat die hele Israel onderrig het en aan die HERE gewy was, gesê: “Plaas die heilige ark in die •tempel wat Salomo, seun van Dawid, koning van Israel, gebou het. Dit moet nie meer vir julle 'n las op julle skouers wees nie. Dien nou die HERE julle God en sy volk Israel. Hou julle in julle families en afdelings gereed, soos Dawid, koning van Israel, dit beskryf het en volgens die geskrewe opdragte van sy seun Salomo. Staan julle nou, elke groep van die Levitiese families, volgens die indeling in families, in die heiligdom gereed vir julle volksgenote, die gewone mense. Slag dan die pasgalammers. Heilig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote deur dit te doen in ooreenstemming met die woord van die HERE by monde van Moses.” Josia het aan die gewone mense skaap- en boklammers afgestaan, alles as •Pasgaoffer vir almal wat daar teenwoordig was, 'n getal van dertigduisend, en dan ook nog drieduisend beeste. Dit was uit die private besit van die koning. Sy •hoë amptenare het vrywillig aan die volk, die priesters en die Leviete offerdiere afgestaan. Gilkija, Sagaria en Jegiël, leiers in die huis van God, het vir die priesters as Pasgaoffer tweeduisend seshonderd gegee; en dan ook nog driehonderd beeste. Kenanja en Semaja en Netanel, sy broers, en Gasabja, Jeïel en Josabad, leiers van die Leviete, het aan die Leviete vyfduisend as Pasgaoffer afgestaan, en dan ook nog vyfhonderd beeste. Die dienswerk is toe gereël: Die priesters het op hulle plekke gaan staan. Die Leviete was in hulle afdelings, volgens die opdrag van die koning, en hulle het die pasgalammers geslag. Terwyl die Leviete slag, het die priesters die bloed wat hulle aangee, gesprinkel. Hulle het dit wat as brandoffer moes dien, eenkant gesit om dit aan kleiner groepe in die families van die gewone mense te gee, sodat dit vir die HERE aangebied kon word, soos geskryf staan in die •boekrol van Moses. Met die beeste het hulle net so gemaak. Hulle het die pasgalammers volgens voorskrif oor die vuur gaargemaak, maar die •heilige gawes het hulle in potte, kastrolle en skottels gaargemaak. Hulle het dit vinnig vir die gewone mense geneem. Daarna het die Leviete vir hulleself en vir die priesters die Pasga gereedgemaak. Omdat die priesters, die nageslag van Aäron, tot in die nag betrokke was by die verbranding van die brandoffers en vetstukke, het die Leviete vir hulleself en vir die priesters, die nageslag van Aäron, die Pasga gereedgemaak. Die sangers, die nageslag van Asaf, was op hulle plek, ooreenkomstig die opdrag van Dawid, Asaf, Heman en Jedoetoen, die siener van die koning. En wat die poortwagte by elke poort betref, dit was nie vir hulle nodig om van diens af te gaan nie, want hulle stamgenote, die Leviete, het vir hulle die Pasga gereedgemaak. So is die hele dienswerk van die HERE op daardie dag gereël om die Pasga te vier en die brandoffers op die altaar van die HERE te verbrand ooreenkomstig die opdrag van die koning, Josia. Die Israeliete wat gedurende daardie tyd teenwoordig was, het die Pasga gevier en sewe dae lank die Fees van die Ongesuurde Brood. So 'n Pasga is nie in Israel gevier sedert die tyd van Samuel, die profeet, nie. Van al die konings van Israel het nie een dit gevier soos die Pasga wat Josia, die priesters, die Leviete, die hele Juda en Israel wat daar teenwoordig was, en die inwoners van Jerusalem, gevier het nie. Hierdie Pasga is in die agttiende jaar van Josia se koningskap gevier.

2 KRONIEKE 35:1-19 Die Boodskap (DB)

Josia het daarna die paasfees tot die eer van die Here in Jerusalem gevier. Die paaslammers is op die veertiende dag van die eerste maand geslag. Hy het die priesters se take aan hulle toegewys en hulle aangemoedig om hulle plig by die tempel van die Here te doen. Hy het vir die Leviete, wat afgesonder was vir die Here en wat Israel geleer het hoe om die Here te dien, gesê: “Die ark met die ooreenkoms tussen die Here en sy volk is nou in die tempel wat Salomo gebou het. Terwyl julle dit nou nie meer heen en weer hoef te dra nie, moet julle die Here julle God en sy volk, Israel, steeds dien. Meld aan vir diens volgens julle diensgroepe soos koning Dawid dit laat opskryf het en volgens Salomo se voorskrifte. Gaan staan op die plekke in die heiligdom wat aan julle toegewys is. Help die mense vir wie julle verantwoordelik is, wanneer hulle hulle offers na die tempel bring. Slag die paaslammers, maak julleself dan skoon en berei die offer soos dit voorgeskryf word in die Here se wet wat Hy deur Moses gegee het.” Josia het vir die gewone mense wat die paasfees kom vier het skaap- en boklammers gegee om as offers te gebruik. Hy het uit sy eie kuddes 30 000 stuks kleinvee en 3 000 beeste aan die mense voorsien. Sy hoë amptenare het ook vrywillig bygedra, sodat die gewone mense, die priesters en die Leviete paasfees kon vier. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het 2 600 stuks kleinvee en 300 beeste as paasoffers vir die priesters gegee. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het 5 000 lammers en 500 beeste as paasoffers vir die Leviete geskenk. Alles was gereed vir die viering van die paasfees. Die priesters het op hulle plekke gestaan en die Leviete het in hulle afdelings aangetree soos die koning beveel het. Die Leviete het die paaslammers geslag. Hulle het die bloed vir die priesters gegee, wat dit teen die altaar uitgegooi het, terwyl die Leviete die lammers afgeslag en voorberei het. Hulle het die deel wat verbrand moes word, eenkant gesit om dit vir die gewone mense volgens hulle familiegroepe te gee. Hulle kon dit dan weer op die voorgeskrewe manier offer, soos die Here deur Moses beveel het. Hulle het dieselfde met die beeste gedoen. Hulle het die paaslammers oor die kole gebraai soos dit voorgeskryf is en die ander gawes is in potte, ketels en panne gekook. Alles is so vinnig moontlik onder die gewone mense versprei, sodat hulle kon eet. Toe dit klaar was, het die Leviete ook vir hulleself en vir die priesters kos gemaak. Dit was nodig omdat die priesters uit die Aäronfamilie tot laat in die nag nog besig was om die brandoffers en die vetstukke wat geoffer moes word, te verbrand. Dit is hoekom die Leviete vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters die paasete voorberei het. Die sangers van die Asaffamilie was op hulle pos volgens die voorskrifte van Dawid, en Asaf, Heman en Jedutun (hy is die koning se siener) was ook daar. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hulle moes wees. Dit was nie vir hulle nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg. Al die brandoffers is op die Here se altaar verbrand, volgens die opdrag van koning Josia. Die fees van die ongesuurde brood is ook saam met die paasfees sewe dae lank gevier. ’n Paasfees soos dié is daar nie sedert die dae van die profeet Samuel in Israel gehou nie. Geen koning van Israel het die paasfees nog ooit so gevier soos dié een waarin Josia die priesters, die Leviete, almal van Juda en Israel én die inwoners van Jerusalem betrek het nie. Dié paasfees is in Josia se agtiende regeringsjaar gehou.

2 KRONIEKE 35:1-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Josia het die Paasfees van die HERE in Jerusalem gevier. Die paaslam is op die veertiende dag van die eerste maand geslag. Josia het die priesters se pligte aan hulle toegewys en hulle bemoedig in hulle werk in die tempel van die HERE. Hy het die Leviete wat aan die HERE gewy was, en wat die hele Israel onderrig het, beveel: “Sit die heilige ark nou in die tempel wat Salomo seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het, dan is dit nie nodig om dit op julle skouers te dra nie. Dien nou die HERE julle God en sy volk Israel. Meld aan vir diens volgens die familiegroepe van julle voorouers. Volg die geskrewe voorskrifte van koning Dawid van Israel en die voorskrifte van sy seun Salomo. Gaan staan dan in julle aangewese plekke in die heiligdom. Daar moet vir elke familiegroep van julle volksgenote ’n familie-afdeling Leviete wees. Slag die paaslam, reinig julleself en berei dit voor vir julle volksgenote. Volg al die voorskrifte wat die HERE deur Moses gegee het.” Josia self het 30 000 skaaplammers en boklammers vir die volk se Paasfees gegee en ook nog 3 000 beeste uit die koninklike kudde. Die koning se amptenare het ook vrywillig voorsien vir die volk, die priesters en Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel van God, het vir die priesters 2 600 skaaplammers en boklammers, asook 300 beeste as paasoffers gegee. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het vir die Leviete 5 000 paasoffers en 500 beeste gegee. Toe alles gereed was vir die Paasfees, het die priesters en Leviete hulle plekke ingeneem. Hulle is ingedeel volgens hulle afdelings soos die koning beveel het. Die Leviete het toe die paaslammers geslag, die bloed aan die priesters gegee, en hulle het die bloed op die altaar gesprinkel terwyl die Leviete die diere voorberei het. Hulle het die brandoffers eenkant gehou om aan die familiegroepe uit te deel sodat hulle dit aan die HERE kon offer volgens die voorskrifte in die Boek van Moses. So het hulle ook met die beeste gedoen. Daarna het hulle die paaslammers volgens die voorskrif oor vure gebraai. Die gewyde offers is in potte, kastrolle en skottels gekook en vir die lede van die volk gegee. Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die geslag van Aäron moes die hele dag tot die nag toe brandoffers en die vetdele as offerande verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak. Die musikante, afstammelinge van Asaf, was op die plekke wat vir hulle toegewys is volgens die voorskrifte van Dawid, Asaf, Heman en Jedutun, die koning se siener. Die poortwagters het die ingange bewaak. Dit was vir hulle nie nodig om hulle poste te verlaat nie, want hulle mede-Leviete het vir hulle kos gebring. Die viering van die Paasfees van die HERE is op dié manier daardie dag voltooi. Al die brandoffers is op die altaar van die HERE gebring soos koning Josia beveel het. Al die Israeliete teenwoordig het toe die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood sewe dae lank gevier. Sedert die tyd van Samuel die profeet was daar nie weer so ’n groot Paasfees in Israel nie. Nie een van die konings van Israel het ooit so ’n Paasfees gevier soos Josia nie. Al die priesters en Leviete, die hele Juda en Israel en al die inwoners van Jerusalem het daaraan deelgeneem. Hierdie Paasfees is in die agtiende jaar van Josia se regering gevier.

2 KRONIEKE 35:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Josia het die Paasfees vir die Here in Jerusalem gevier. Hulle het die paas-lammers geslag op die veertiende dag van die eerste maand. Josia het die priesters gekies en aangestel en elkeen het sy werk gekry wat hy moes doen. Josia het gesê hulle moet die werk in die tempel goed doen. Toe het hy gepraat met die Leviete. Hulle was die leermeesters van die hele Israel, hulle was die gewydes van die Here. Josia het vir hulle gesê: “Julle moet die gewyde kis laat bly in die tempel wat Salomo seun van Dawid, koning van Israel, laat bou het. Julle moenie die kis nou weer op julle skouers dra nie. Julle moet nou ander werk doen vir die Here en sy volk. Julle families moet gereedmaak, julle moet saam in julle groepe werk, soos koning Dawid van Israel en sy seun Salomo geskryf het. Julle moet by die tempel gaan staan. Daar moet 'n groep Leviete wees by elke groep van die families van die volk. Dan moet julle die paas-lammers slag. Julle moet julleself wy en julle moet die ander Israeliete help sodat hulle alles kan doen wat die Here vir Moses gesê het.” Josia het self die paas-lammers vir die Israeliete gegee, vir almal wat daar was. Dit was 30 000 skaap-lammers en bok-lammers. Hy het ook 3 000 beeste gegee. Dit was alles van die koning se eie skape en bokke en beeste. Sy amptenare het self besluit om diere vir die volk en vir die priesters en die Leviete te gee. Die hoofde van die tempel was Gilkija, Sagaria en Jegiël. Hulle het 2 600 paas-lammers en 300 beeste vir die priesters gegee. Konanja en sy broers Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, was die leiers van die Leviete. Hulle het 5 000 paas-lammers en 500 beeste vir die Leviete gegee. Toe hulle gereed was om die werk te doen, het die priesters op hulle plekke gaan staan, en die Leviete het in hulle groepe gaan staan. Hulle het gedoen soos die koning gesê het. Toe het hulle die paas-lammers begin slag. Die Leviete het die diere se velle afgeslag en hulle het die bloed vir die priesters gegee. Die priesters het die bloed gesprinkel. Hulle het die dele van die skape wat hulle moes verbrand, apart gesit om dit uit te deel vir die familie-groepe van die volk. Die familie-groepe kon dit dan vir die Here offer soos geskryf is in die Boek van Moses. Hulle het dieselfde gedoen met die beeste. Hulle het die paas-lammers op kole gebraai soos hulle dit moes doen, en hulle het die vleis wat gewyde presente was, gekook in potte, in bakke en panne, en hulle het dit dadelik na die mense toe geneem. Daarna het die Leviete vir hulleself en vir die priesters vleis gaargemaak, want die priesters was tot laat in die nag besig om die brand-offers en die vet van die ander offers te offer. Daarom moes die Leviete vleis gaarmaak vir hulleself en vir die priesters. Die mense van die Asaf-familie wat moes sing, het op hulle plekke gestaan soos Dawid gesê het, ook Asaf en Heman en Jedutun, die siener van die koning. Elke poortwag was by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie weggegaan van die plek waar hulle werk nie, hulle kon daar bly, want die ander Leviete het vir hulle vleis gaargemaak. Almal het daardie dag die werk van die Here gedoen. Hulle het die Paasfees gevier en die offers gebring wat hulle op die altaar van die Here moes verbrand, soos koning Josia gesê het. Die Israeliete wat in Jerusalem was, het die Paasfees en die Fees van die Ongesuurde Brood daardie tyd sewe dae lank gevier. Dit was 'n groot fees. Van die tyd toe die profeet Samuel gelewe het, het hulle die Paasfees nie só in die land Israel gevier nie! Nie een van die konings van Israel het die Paasfees gevier soos Josia dit gedoen het nie, Josia saam met die priesters en die Leviete en al die mense van Juda en die mense van Israel wat daar was en die mense van Jerusalem. Hulle het hierdie Paasfees gevier in die agtiende jaar nadat Josia koning geword het.

2 KRONIEKE 35:1-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Josía in Jerusalem die pasga tot eer van die HERE gehou; en hulle het die pasga geslag op die veertiende van die eerste maand. En hy het die priesters hulle dienspligte laat waarneem en hulle versterk vir die diens in die huis van die HERE. Ook het hy aan die Leviete, die onderwysers van die hele Israel, wat heilig was aan die HERE, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; julle hoef niks meer op die skouers te dra nie: dien nou die HERE julle God en sy volk Israel; en hou julle gereed volgens julle families, volgens julle afdelings, ooreenkomstig die voorskrif van Dawid, die koning van Israel, en die verordening van sy seun Salomo: gaan staan in die heiligdom volgens die afdelings van die families van julle broers, die volksgenote, naamlik vir elkeen daarvan 'n afdeling van 'n Levitiese familie; en slag die pasga en heilig julle en berei dit vir julle broers, om te doen volgens die woord van die HERE deur die diens van Moses. En Josía het aan die mense uit die volk afgegee kleinvee, skaaplammers en boklammers, dit alles as paasoffers, aan almal wat daar aanwesig was, dertigduisend in getal, en drieduisend beeste; dit was uit die besitting van die koning. Ook sy vorste het aan die volk, aan die priesters en die Leviete vrywillig afgegee. Hilkía en Sagaría en Jéhiël, die vorste oor die huis van God, het aan die priesters as paasoffers tweeduisend-seshonderd stuks kleinvee en driehonderd beeste gegee. En Konánja en sy broers Semája en Netáneël, en Hasábja en Jeï-el en Jósabad, die owerstes van die Leviete, het aan die Leviete as paasoffers vyfduisend stuks kleinvee en vyfhonderd beeste afgegee. Die diens is toe gereël: die priesters het op hul plek gaan staan, en die Leviete volgens hulle afdelings, volgens die bevel van die koning. Daarna het hulle die pasga geslag, en die priesters het die bloed uit die Leviete se hand geneem en dit uitgegooi, onderwyl die Leviete besig was om af te slag. En hulle het wat vir die brandoffer bestem was, afgesonder om dit aan die familie-afdelings van die mense van die volk te gee om aan die HERE te offer, soos geskrywe is in die boek van Moses; en net so met die beeste. En hulle het die pasga op die vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die heilige gawes in potte en in kanne en in skottels gekook en gou aan al die mense van die volk gebring. Daarna het hulle dit ook vir hulleself berei en vir die priesters; want die priesters, die seuns van Aäron, was tot in die nag besig met die offer van die brandoffer en die vetstukke; daarom het die Leviete dit vir hulleself en vir die priesters, die seuns van Aäron, berei. En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek volgens die bevel van Dawid en van Asaf en Heman en Jedútun, die siener van die koning, en die poortwagters by elke poort; hulle het nie nodig gehad om van hulle diens af weg te gaan nie, want hulle broers, die Leviete, het dit vir hulle berei. Die hele diens van die HERE is toe op dié dag gereël — om die pasga te hou en brandoffers te bring op die altaar van die HERE volgens die gebod van koning Josía. En die kinders van Israel wat aanwesig was, het die pasga gehou in dié tyd, en ook die fees van die ongesuurde brode, sewe dae lank. So 'n pasga soos dié is in Israel nie gehou van die dae van die profeet Samuel af nie, en al die konings van Israel het nie so 'n pasga gehou as wat Josía en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem gehou het nie. In die agttiende jaar van die regering van Josía is hierdie pasga gehou.

2 KRONIEKE 35:1-19 Afrikaans 1983 (AFR83)

Josia het die paasfees van die Here in Jerusalem gevier. Hulle het die paaslam geslag op die veertiende van die eerste maand. Die koning het aan die priesters hulle diensbeurte toegewys en hulle moed ingepraat vir die tempeldiens. Daarna het hy die Leviete wat vir die onderrig van die hele Israel verantwoordelik was en aan die Here gewy was, beveel: “Sit die heilige ark in die tempel wat koning Salomo van Israel, seun van Dawid, gebou het. Julle hoef dit nie meer op die skouers te dra nie. Doen nou julle werk vir die Here julle God en vir sy volk Israel. Orden julleself familiegewys volgens afdelings soos dit bepaal is in die handleidings van koning Dawid van Israel en sy seun Salomo. Neem dan julle plek in die heiligdom in: vir elke familiegroep van julle volksgenote moet daar 'n familieafdeling Leviete wees. Slag die paaslam, reinig julle, en berei julle volksgenote voor om uitvoering te gee aan die opdrag van die Here wat deur bemiddeling van Moses aan Israel gegee is.” Josia het self die kleinvee, die skaaplammers en boklammers, dertig duisend stuks, vir die lede van die volk voorsien, die paasoffers vir almal wat daar was, en ook nog drie duisend beeste. Dit het gekom uit die persoonlike besit van die koning. Sy amptenare het vrywillig voorsiening help maak vir die volk, die priesters en die Leviete. Gilkija, Sagaria en Jegiël, die hoofde van die tempel, het as paasoffers vir die priesters twee duisend ses honderd lammers en drie honderd beeste geskenk. Kenanja en sy ampsgenote Semaja en Netanel, en Gasabja, Jeïel en Josabad, die leiers van die Leviete, het as paasoffers vir die Leviete vyf duisend lammers en vyf honderd beeste geskenk. Toe die diens gereël is, die priesters op hulle plekke staan en die Leviete in hulle afdelings soos die koning beveel het, is die paaslam geslag. Die priesters het die bloed gesprinkel wat vir hulle gegee is, en die Leviete het geslag. Die brandoffers is eenkant gehou om aan die familiegroepe uit die volk te gee sodat hulle dit kon offer aan die Here soos die boek van Moses dit voorskryf. Dit is ook met die beeste gedoen. Die paaslammers is volgens voorskrif oor die vuur gebraai, maar die gewyde offergawes is in potte, kastrolle en skottels gekook en vinnig vir die lede van die volk geneem. Daarna het die Leviete vir hulleself en die priesters vleis gaargemaak, want die priesters uit die nageslag van Aäron was tot die nag toe besig om die brandoffers en die vetgedeeltes as offers te verbrand. Die Leviete moes dus vir hulleself en vir die Aäronitiese priesters vleis gaarmaak. Die sangers van die Asafgroep was op hulle pos volgens die voorskrif van Dawid, en ook Asaf self, Heman en Jedutun, die siener van die koning. Die poortwagte was elkeen by die poort waar hy moes wees. Hulle het nie nodig gehad om hulle poste te verlaat nie, want hulle ampsgenote, die Leviete, het vir hulle gesorg. So het die diens van die Here daardie dag verloop. Die paasfees is gevier en die brandoffers op die altaar van die Here gebring soos koning Josia beveel het. Die Israeliete wat daar was, het destyds die paasfees gevier en die sewedaagse fees van die ongesuurde brood. Van die tyd van die profeet Samuel af is daar nie so 'n groot paasfees in Israel gevier nie. Nie een van die konings van Israel het so paasfees gevier soos Josia, die priesters en die Leviete, die hele Juda, die Israeliete wat daar was, en die inwoners van Jerusalem dit gevier het nie. Dié paasfees is gevier in die agtiende regeringsjaar van koning Josia.

2 KRONIEKE 35:1-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En Josia het 'n pasga vir die HERE in Jerusalem gehou, en hulle het die pasga geslag op die veertiende dag van die eerste maand. En hy het die priesters in hulle diens aangestel en hulle aangemoedig tot die diens van die huis van die HERE, En hy het aan die Leviete wat die hele Israel geleer het, wat aan die HERE heilig was, gesê: Sit die heilige ark in die huis wat Salomo, die seun van Dawid, die koning van Israel, gebou het; dit sal geen las op jou skouers wees nie; dien nou die HERE jou God en sy volk Israel, En maak julle gereed volgens die huise van julle vaders, volgens julle afdelings, volgens die geskrif van Dawid, die koning van Israel, en volgens die geskrif van sy seun Salomo. En staan in die heiligdom volgens die afdelings van die families van die vaders van julle broers, die volk, en volgens die afdelings van die families van die Leviete. Slaan dan die pasga dood en heilig julle en berei julle broers voor, dat hulle kan handel volgens die woord van die HERE deur die diens van Moses. En Josía het aan die volk, van die kleinvee, lammers en bokkies gegee, alles vir die paasoffers, vir almal wat teenwoordig was, vir die getal van dertigduisend en drieduisend bulle; dit was van die besitting van die koning. En sy vorste het gewillig aan die volk, aan die priesters en aan die Leviete gegee: Hilkía en Sagaria en Jehiël, owerstes van die huis van God, het aan die priesters vir die paasoffers twee duisend seshonderd kleinvee en driehonderd gegee asook osse. Ook Konánja en Semája en Netáneël, sy broers, en Hasabja en Jeïel en Josabad, die owerstes van die Leviete, het aan die Leviete as paasoffers vyf duisend kleinvee en vyf honderd beeste gegee. En die diens is voorberei, en die priesters het op hulle plek gaan staan, en die Leviete in hulle afdelings, volgens die bevel van die koning. En hulle het die pasga geslag, en die priesters het die bloed uit hulle hande gesprinkel, en die Leviete het hulle afgesmeer. En hulle het die brandoffers verwyder om te gee volgens die afdelings van die geslagte van die volk, om aan die HERE te offer, soos geskrywe is in die boek van Moses. En so het hulle met die osse gedoen. En hulle het die pasga met vuur gebraai volgens die voorskrif, maar die ander heilige gawes het hulle in potte en in panne en in panne gesmeer en dit gou onder die hele volk verdeel. En daarna het hulle vir hulleself en vir die priesters gereedgemaak, omdat die priesters, die seuns van Aäron, tot die nag besig was om brandoffers en vet te bring; daarom het die Leviete vir hulleself gereedgemaak en vir die priesters, die seuns van Aäron. En die sangers, die seuns van Asaf, was op hulle plek, volgens die bevel van Dawid en Asaf en Heman en Jedutun, die siener van die koning; en die poortwagters het by elke poort gewag; hulle mag nie van hulle diens afwyk nie; vir hulle broers wat die Leviete vir hulle berei het. Daarom is die hele diens van die HERE op dieselfde dag voorberei om die pasga te vier en om brandoffers op die altaar van die HERE te bring, volgens die bevel van koning Josia. En die kinders van Israel wat aanwesig was, het in dié tyd die pasga en die fees van die ongesuurde brode sewe dae lank gehou. En daar was geen pasga soos dié wat in Israel gehou is van die dae van die profeet Samuel af nie; en al die konings van Israel het nie so 'n pasga gehou soos Josía gehou het nie, en die priesters en die Leviete en die hele Juda en Israel wat aanwesig was, en die inwoners van Jerusalem. In die agtiende jaar van die regering van Josia is hierdie pasga gehou.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid