2 KRONIEKE 20:15-22

2 KRONIEKE 20:15-22 Bybel vir almal (ABA)

en hy het gesê: “Luister, al julle mense van Juda, en julle wat in Jerusalem woon, en koning Josafat. Die Here sê vir julle: Julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees vir hierdie klomp vyande nie, want dit is nie julle oorlog nie, dit is God se oorlog. Julle moet môre afgaan na hulle toe. Hulle kom nou op in die Bloeisel-pas. Julle sal hulle kry by die punt van die vallei langs die kant van die Jeruel-woestyn. Julle sal nie self oorlog maak nie, julle kan net staan en kyk hoe die Here julle red. Mense van Juda en Jerusalem, julle moenie bekommerd wees nie, julle moenie bang wees nie. Gaan môre na hulle toe. Die Here sal by julle wees.” Toe het Josafat gekniel met sy gesig na die grond, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here op hulle knieë gestaan en hulle het voor Hom gebuig met hulle gesigte teen die grond. Toe het die Leviete van die Kehat-familie en die Korag-familie opgestaan om die Here, die God van Israel, te prys. Hulle het baie hard gesing. Die mense het vroeg die oggend opgestaan en na die Tekoa-woestyn gegaan. Toe hulle begin loop, het Josafat daar gaan staan en gesê: “Mense van Juda en Jerusalem, julle moet glo in julle God die Here, dan sal julle aanhou lewe. Julle moet glo wat sy profete sê, dan sal julle oorwin.” Nadat Josafat vir die mense gevra het wat hulle dink, het hy mense gekies en aangestel wat moes sing. Hulle moes voor die soldate loop en hulle moes die Here, die Koning, prys. Hulle moes sing “Prys die Here, want Hy doen altyd wat Hy belowe het.” Die mense van die Seïr-berge wou vir Juda kom aanval. En presies dieselfde tyd toe Josafat se mense begin het om te sing en om die Here te prys, het die Here die Ammoniete en die Moabiete en die mense van die Seïr-berge laat dink dat daar vyande voor hulle en agter hulle is, hulle het gedink hulle sal die oorlog verloor.

2 KRONIEKE 20:15-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

en hy het gesê: Luister, almal wat uit Juda is en inwoners van Jerusalem en u, koning Jósafat! So sê die HERE aan julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie, want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God. Trek môre af teen hulle: kyk, hulle kom op met die hoogte Hassis, en julle sal hulle aantref aan die kant van die dal voor die woestyn Jerúel. Julle hoef daarby nie te veg nie; staan gereed, bly staan en aanskou die redding van die HERE by julle, Juda en Jerusalem! Vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees. Toe buig Jósafat hom met die aangesig na die aarde toe, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE neergeval om die HERE te aanbid. En die Leviete uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Koragiete het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met 'n baie groot stem te prys. Daarop maak hulle die môre vroeg klaar en trek na die woestyn van Tekóa uit; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees. En hy het met die volk beraadslaag en tot eer van die HERE sangers opgestel wat, in heilige sieraad, moes lofsing en by die uittrek op die voorpunt van die gewapendes moes sê: Loof die HERE, want sy goedertierenheid is tot in ewigheid! En op die oomblik toe hulle die gejubel en die lofsang aanhef, het die HERE 'n hinderlaag opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die mense van die gebergte Seïr wat teen Juda gekom het, sodat hulle verslaan is.

2 KRONIEKE 20:15-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

en sê: “Luister, mense van Juda, inwoners van Jerusalem en koning Josafat! So sê die Here vir julle: Moenie vrees nie, moenie bang wees vir hierdie groot menigte nie, want hierdie oorlog is nie 'n saak vir julle nie, maar vir God. Trek hulle môre tegemoet wanneer hulle in die Bloeiselpas opkom. Julle sal hulle aantref by die punt van die vallei wat in die Jeruelwoestyn uitloop. Julle hoef nie te veg nie, neem net posisie in en staan en kyk na die oorwinning van die Here vir julle. Moenie vrees nie, Juda en Jerusalem, moenie bang wees nie. Trek hulle môre tegemoet. Die Here sal by julle wees.” Toe kniel Josafat, en al die mense van Juda en Jerusalem het voor die Here gebuig en Hom eer betoon. Daarna het die Leviete van die Kehat- en die Koraggroepe opgestaan en die Here die God van Israel uit volle bors geprys. Josafat-hulle is die volgende môre vroeg uit na die Tekoawoestyn toe. Terwyl die manne vertrek, het Josafat daar gestaan en hulle toegespreek: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Stel julle vertroue in die Here julle God, en julle sal vas staan. Stel julle vertroue in sy profete, en dit sal goed gaan met julle.” Josafat het met die volk oorleg gepleeg en toe sangers laat plek neem voor die gewapende manne. Hulle het vooruit geloop in hulle gewyde klere en die Here geloof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie.” Juis toe, toe die sangers met die lofprysing en gebed begin, het die Here onverwagte aanvalle bewerk op die Ammoniete, die Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle het die een neerlaag na die ander gely.

2 KRONIEKE 20:15-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

en hy het gesê: “Luister mooi, die hele Juda, inwoners van Jerusalem en u, koning Josafat! So sê die HERE vir julle, ‘Julle moenie bang wees of julle laat afskrik deur hierdie groot menigte nie, want dit is nie julle geveg nie, maar God s'n. Trek môre af, teen hulle uit. Kyk, hulle gaan met die opdraande van Hassis opkom, en julle sal hulle by die eindpunt van die dal voor die Jeruelwoestyn aantref. Julle hoef nie in hierdie geval te veg nie. Neem stelling in, Juda en Jerusalem, staan en aanskou dan die verlossing deur die HERE wat met julle is! Moenie bang wees nie en moet julle nie laat afskrik nie. Trek môre teen hulle uit, en die HERE sal met julle wees. ’ ” Toe kniel Josafat met sy gesig na die grond. Die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die HERE neergeval om voor die HERE in aanbidding te buig. Die Leviete uit die nageslag van Kehat en die nageslag van Korag het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met baie harde stemme te loof. Hulle het vroeg die oggend opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Terwyl hulle uittrek, het Josafat gaan staan en gesê: “Luister na my, Juda en inwoners van Jerusalem! Vertrou op die HERE julle God, dan bly julle behoue; vertrou op sy profete, dan behaal julle sukses.” Nadat hy met die manskappe beraadslaag het, het hy sangers vir die HERE aangestel wat sy glansryke heiligheid moes loof terwyl hulle voor die gewapende manne uitgaan. Hulle moes sê: “Prys die HERE, want vir ewig duur sy troue liefde!” Die oomblik toe hulle met 'n jubelkreet 'n loflied begin sing, het die HERE 'n hinderlaag beskik teen die Ammoniete, Moabiete en die mense van die Seïrberge wat teen Juda opgetrek het, en hulle is verslaan.

2 KRONIEKE 20:15-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hy sê: Luister, o hele Juda, en julle inwoners van Jerusalem, en koning Jósafat: So sê die HERE vir julle: Wees nie bevrees of verskrik vanweë hierdie groot menigte nie; want die stryd is nie joune nie, maar God s'n. Trek môre af teen hulle; kyk, hulle kom op by die krans van Sis; en julle sal hulle vind aan die einde van die spruit, voor die woestyn van Jeruel. Julle hoef nie in hierdie geveg te veg nie; staan op, staan stil en aanskou die verlossing van die HERE by julle, Juda en Jerusalem; vrees nie en wees nie verskrik nie; trek môre teen hulle uit, want die HERE sal met julle wees. En Jósafat het sy hoof met sy aangesig na die aarde gebuig, en die hele Juda en die inwoners van Jerusalem het voor die aangesig van die HERE geval en die HERE aanbid. En die Leviete, uit die kinders van die Kehatiete en uit die kinders van die Korhiete, het opgestaan om die HERE, die God van Israel, met 'n groot stem in die hoogte te loof. En hulle het die môre vroeg opgestaan en uitgetrek na die woestyn van Tekoa; en terwyl hulle uittrek, het Jósafat gaan staan en gesê: Luister na my, Juda, en julle inwoners van Jerusalem! Glo in die HERE julle God, dan sal julle bevestig word; glo sy profete, so sal julle voorspoedig wees. En nadat hy met die volk beraadslaag het, het hy sangers tot eer van die HERE aangestel om die heerlikheid van heiligheid te loof terwyl hulle voor die leër uitgetrek het, en om te sê: Prys die HERE! want sy goedertierenheid is tot in ewigheid. En toe hulle begin sing en prys, het die HERE hinderlae opgestel teen die kinders van Ammon, Moab en die gebergte Seïr wat teen Juda aangekom het; en hulle is geslaan.

2 KRONIEKE 20:15-22 Die Boodskap (DB)

Jagasiël het vir die vergadering gesê: “Luister na my, al julle Judeërs en inwoners van Jerusalem! U ook, koning Josafat, luister wat ek te sê het, want die boodskap kom van die Here af. Hy sê: ‘Moenie bang wees of vir die groot leër terugdeins nie. Hierdie geveg is nie júlle probleem nie. Dit is ’n saak wat God self sal uitstryk. Maak reg en trek môre teen hulle uit. Hulle sal met die opdraande van Sis se kant af kom en julle sal hulle kry net daar waar die kloof oopmaak na die Jeruëlwoestyn se kant toe. Julle sal nie eens hoef te veg nie! Neem net julle posisies in, dan sal julle kan sien hoe die Here die geveg vir julle wen. Inwoners van Juda en Jerusalem, die Here is aan julle kant. Moenie bang of skrikkerig wees nie. Gaan môre uit en gaan kyk self hoe die Here julle help.’” Koning Josafat het met sy gesig na die grond toe neergekniel. Al die mense van Juda en Jerusalem het sy voorbeeld gevolg en die Here begin aanbid. Die Leviete uit die Kehat- en die Koraggroep het toe opgestaan en die Here, Israel se God, baie hard begin prys. Die volgende oggend het hulle alles reggekry en na die woestyn in die omgewing van Tekoa vertrek. Terwyl hulle op pad was, het Josafat hulle gestop en gesê: “Luister na my, mense van Juda en Jerusalem. As julle in die Here julle God glo, sal julle sterk kan staan. As julle in sy boodskappers glo, sal julle sukses behaal!” Daarna het hy met die leiers gesels en hulle het besluit om sangers voor die leër te laat uitloop. Die sangers moes die Here loof met die woorde: “Loof die Here, aan sy liefde is daar geen einde nie!” Net toe hulle so begin juig en sing, het die Here gesorg dat die leërs van Ammon, Moab en die mense van die Seïrberge af, wat eintlik teen Juda wou kom oorlog maak, teen mekaar begin veg.

2 KRONIEKE 20:15-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Hy het gesê: “Luister, alle inwoners van Juda en Jerusalem! Luister, koning Josafat! Dit is wat die HERE vir julle sê: Moenie bang wees nie! Moenie moedeloos wees oor hierdie magtige leër nie, want die oorlog is nie julle s’n nie, maar God s’n. Môre moet julle teen hulle uittrek. Julle sal hulle teëkom wanneer hulle opkom teen die pas van Sis, by die einde van die vallei wat uitmond op die Jeruelwoestyn. Dit sal nie vir julle nodig wees om te veg nie. Neem julle posisies in, en staan dan en kyk na die oorwinning van die HERE. Hy is met julle, inwoners van Juda en Jerusalem. Moenie bang of moedeloos wees nie. Gaan môre soontoe, want die HERE is met julle!” Koning Josafat het toe met sy gesig na die grond toe gekniel. Al die inwoners van Juda en Jerusalem het ook so gemaak en die HERE aanbid. Die Leviete van Kehat en die Koragiete het opgestaan om die HERE die God van Israel met oorgawe te prys. Vroeg die volgende môre het die leër van Juda uitgetrek na die woestyn van Tekoa. Op pad sê Josafat: “Luister na my, almal van Juda en Jerusalem! Glo in die HERE julle God, en julle sal vas staan. Glo in sy profete, en julle sal suksesvol wees.” Nadat hy die leiers van die volk geraadpleeg het, het die koning sangers aangestel om voor die leër uit te stap. Hulle het tot eer van die HERE gesing en Hom geprys vir sy heerlike heiligheid: “Loof die HERE, want sy troue liefde duur vir altyd.” Die oomblik toe hulle begin sing en die HERE prys, het Hy veroorsaak dat die leërs van Ammon, Moab en die Seïrberge onder mekaar begin veg.