2 KRONIEKE 16:1-14

2 KRONIEKE 16:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die ses-en-dertigste jaar van Asa se regering het Baesa, koning van Israel, teen Juda opgetrek en Rama versterk om verkeer van en na Asa, koning van Juda, te verhinder. Asa neem toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die HERE en die koninklike paleis, en stuur dit na Ben-Hadad, koning van Aram, wat sy setel in Damaskus gehad het, met dié woorde: “Daar is 'n verdrag tussen my en u, tussen my vader en u vader. Kyk, ek stuur vir u silwer en goud. Verbreek dan u verdrag met Baesa, koning van Israel, sodat hy van my af wegtrek.” Ben-Hadad het gehoor gegee aan koning Asa en die •aanvoerders van sy krygsmag na die dorpe van Israel gestuur. Hulle het Ijon, Dan en Abel-Majim aangeval, en ook al die voorraadstede van Naftali. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik opgehou om Rama te versterk en sy werk daar gestaak. Koning Asa, daarenteen, het die hele Juda saamgeneem, en hulle het die klippe van Rama waarmee Baesa gebou het, asook die hout, weggedra. Daarmee het Asa toe Geba en Mispa versterk. In daardie tyd het die siener Ganani na Asa, koning van Juda, gekom en vir hom gesê: “Omdat jy op die koning van Aram en nie op die HERE jou God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit jou hand vrygekom. Was die Kussiete en die Libiërs nie 'n groot leërmag met 'n baie groot getal strydwaens en strydwabemanning nie? Maar omdat jy op die HERE gesteun het, het Hy hulle in jou hand gegee. Want die HERE, sy oë deurkruis die hele aarde, om hulle wie se harte volkome by Hom is, kragtig by te staan. Hierin het jy dwaas opgetree, want van nou af sal daar oorloë teen jou wees.” Asa het hom vir die siener vererg en hom in die blok gesit; want hy was onbeheersd kwaad vir hom daaroor. Asa het in dieselfde tyd sommige van die volk mishandel. Kyk, die vroeëre en latere geskiedenis van Asa, is dit nie opgeteken in die boekrol van die konings van Juda en Israel nie? In die nege-en-dertigste jaar van sy regering het Asa 'n voetkwaal ontwikkel. Sy siekte het later ernstig geword. Selfs in sy siekte het hy nie die HERE geraadpleeg nie, maar by genesers raad gesoek. Asa het by sy voorouers gaan rus. Hy het in die een-en-veertigste jaar van sy regering gesterf. Hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom uitgekap het in die •Stad van Dawid. Hulle het hom neergelê op 'n baar, vol allerhande speserye, gemeng met die kundigheid van 'n salfmenger. Hulle het vir hom 'n besonder groot dodevuur laat brand.

2 KRONIEKE 16:1-14 Bybel vir almal (ABA)

In die ses-en-dertigste jaar nadat Asa koning geword het in Juda, het koning Baesa van Israel besluit om Juda aan te val. Baesa het die stad Rama se mure sterker gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie. Asa het toe goud en silwer geneem uit die stoorkamers van die tempel en die paleis en hy het vir koning Ben-Hadad van Aram 'n boodskap gestuur. Koning Ben-Hadad het in Damaskus gewoon. Asa het vir Ben-Hadad gesê: “Daar is 'n ooreenkoms tussen ons en daar was 'n ooreenkoms tussen my pa en jou pa. Ek stuur silwer en goud vir jou. Jy moet jou ooreenkoms met Baesa van Israel breek, dan sal hy moet weggaan uit my land.” Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het. Hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan en Abel-Majim oorwin, en ook al die stede in die land Naftali waar daar stoorkamers was. Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou, hy het al die werk gelos. Koning Asa het toe al die mense van Juda saamgeneem, en hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om te bou. Asa het die stede Geba en Mispa gebou met daardie klippe en hout. In daardie tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het vir die koning van Aram gevra om jou te help, jy het nie vir jou God die Here gevra nie. Nou sal jy nie die leër van die koning van Aram kan oorwin nie. Die Kussiete en die Libiërs het 'n groot leër gehad met baie oorlogkarre en manne op perde, maar jy het vir die Here gevra om jou te help, en Hy het jou laat wen teen hulle. Want die Here sien alles wat op die aarde gebeur en Hy maak die mense sterk wat in Hom glo. Maar jy het 'n dom ding gedoen, en van nou af sal jy altyd oorlog moet maak.” Asa was kwaad vir die siener. Hy was so kwaad dat hy die siener in die tronk laat sit het. Asa het in daardie tyd ook begin om slegte dinge te doen aan party van sy mense. Die dinge wat Asa gedoen het, voorheen en later, is geskryf in die Boek van die Konings van Juda en Israel. In die nege-en-dertigste jaar nadat hy koning geword het, het Asa baie siek geword, sy voete was baie seer. Dit het baie sleg gegaan met hom, maar hy het nie vir die Here gevra om hom te help nie, hy het vir dokters gevra om hom gesond te maak. Asa het gesterf in die een-en-veertigste jaar nadat hy koning geword het. Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir homself laat uitkap het in die Dawidstad. Hulle het sy liggaam neergesit op die plek wat vol kruie en lekkerruik-olies was. Daarna het hulle 'n baie groot vuur aangesteek vir hom om hom te eer.

2 KRONIEKE 16:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

IN die ses-en-dertigste jaar van die regering van Asa het Baésa, die koning van Israel, opgetrek teen Juda en Rama gebou om niemand van Asa, die koning van Juda, te laat uit- of ingaan nie. Toe bring Asa silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die HERE en van die huis van die koning en stuur dit na Bénhadad, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, om te sê: Daar is 'n verbond tussen my en u, en tussen my vader en u vader; kyk, ek stuur u silwer en goud; gaan verbreek u verbond met Baésa, die koning van Israel, dat hy kan optrek weg van my af. En Bénhadad het geluister na koning Asa en die owerstes van sy leërmagte gestuur teen die stede van Israel, en hulle het Ijon en Dan en Abel-Máim en al die voorraadstede van Náftali verwoes. En sodra Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk gestaak. Toe neem koning Asa die hele Juda, en hulle het die klippe en balke van Rama, waarmee Baésa gebou het, weggedra; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou. En in dié tyd het die siener Hanáni na Asa, die koning van Juda, gekom en aan hom gesê: Omdat u op die koning van Aram gesteun en nie op die HERE u God gesteun het nie, daarom het die leër van die koning van Aram uit u hand vrygeraak. Was die Kusiete en die Líbiërs nie 'n groot leërmag met buitengewoon baie strydwaens en perderuiters nie? En tog het Hy hulle in u hand gegee; omdat u op die HERE gesteun het; want die HERE — sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is; hierin het u dwaas gehandel, want van nou af sal daar oorloë teen u wees. Maar Asa het hom vererg vir die siener en hom in die gevangenis gesit, want hy was hieroor woedend op hom; ook het Asa in dieselfde tyd sommige uit die volk verdruk. En kyk, die geskiedenis van Asa die vroeëre en die latere, dit is beskrywe in die boek van die konings van Juda en Israel. En in die negen-en-dertigste jaar van sy regering het Asa gely aan sy voete; sy siekte was baie ernstig; maar selfs in sy siekte het hy die HERE nie geraadpleeg nie, maar die geneeshere. En Asa het ontslaap met sy vaders en gesterwe in die een-en-veertigste jaar van sy regering. En hulle het hom begrawe in sy graf wat hy vir hom in die stad van Dawid gegrawe het, en hom op die bed neergelê wat vol speserye was, en dit van allerhande soorte, volgens die kuns van 'n salfmenger klaargemaak; en hulle het vir hom 'n buitengewoon groot wierookbrand aangesteek.

2 KRONIEKE 16:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

In die ses en dertigste regeringsjaar van Asa het koning Baesa van Israel met 'n veldtog teen Juda begin. Hy het die stad Rama in 'n vesting omskep om te verhoed dat mense heen en weer beweeg na en van koning Asa van Juda. Asa het toe silwer en goud uit die skatkamers van die huis van die Here en die paleis gevat en dit vir koning Ben-Hadad van die Arameërs in Damaskus gestuur met die boodskap: “Daar is 'n verdrag tussen u en my en daar was al een tussen ons vaders. Ek stuur vir u silwer en goud. Breek u verdrag met koning Baesa van Israel dat hy uit my land kan terugtrek.” Ben-Hadad het voldoen aan die versoek van koning Asa. Hy het sy leëraanvoerders gestuur om die stede van Israel aan te val, en hulle het Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower. Toe Baesa dit hoor, het hy die bouwerk by Rama gestaak en die hele onderneming laat vaar. Koning Asa het die hele Juda saam gevat en hulle die klip en hout wat Baesa vir die bouwerk by Rama gebruik het, laat wegdra. Hulle het dié gebruik vir bouwerk by Geba en Mispa. In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda toe gekom en vir hom gesê: “Jy het gesteun op die koning van Aram, jy het nie op die Here jou God gesteun nie. Daarom het die leër van die koning van Aram jou ontglip. Die Kussiete en die Libiërs was 'n groot leërmag met 'n magtige getal strydwaens en ruiters, maar jy het gesteun op die Here, en Hy het hulle aan jou oorgegee. Die Here het sy oë oral op die aarde sodat Hy dié kan help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Maar nou het jy dwaas opgetree en daarom sal jy van nou af oorlog hê.” Asa was so kwaad vir die siener dat hy hom in die tronk laat sit het. Hy was woedend oor wat die siener gesê het. In dié tyd het Asa ook begin om sommige mense sleg te behandel. Die verhale oor Asa, dié van vroeër sowel as dié van later, is opgeteken in die annale van die konings van Juda en Israel. In sy nege en dertigste regeringsjaar het Asa 'n uiters ernstige siekte aan sy voete opgedoen, maar selfs in dié siekte het hy nie die Here geraadpleeg nie, wel die dokters. Hy is oorlede in die een en veertigste jaar van sy regering. Hulle het hom begrawe in die graf wat hy vir hom in die Dawidstad laat uitkap het, en hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat hy met balsem en allerlei speserymengsels laat bedek het. Hulle het ook ter ere van hom 'n groot vuur aangesteek.

2 KRONIEKE 16:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

In die ses en dertigste jaar van die regering van Asa het Baésa, die koning van Israel, teen Juda opgetrek en Rama gebou met die doel dat hy niemand by Asa, die koning van Juda, sou laat uit- of ingaan nie. Toe het Asa silwer en goud uit die skatte van die huis van die HERE en van die huis van die koning te voorskyn gebring en aan Benhadad, die koning van Aram, wat in Damaskus gewoon het, gestuur om te sê: Daar is 'n verbond tussen my en jou, soos daar tussen my vader en jou vader was; kyk, ek stuur vir jou silwer en goud; gaan, verbreek jou verbond met Baesa, die koning van Israel, dat hy van my kan weggaan. En Benhadad het na koning Asa geluister en die owerstes van sy leërs gestuur teen die stede van Israel; en hulle het Ijon en Dan en Abelmaim en al die voorraadstede van Náftali verslaan. En toe Baésa dit hoor, het hy opgehou om Rama te bou en sy werk laat ophou. Toe het koning Asa die hele Juda geneem; en hulle het die klippe van Rama en sy hout waarmee Baésa gebou het, weggevoer; en hy het daarmee Geba en Mispa gebou. En in dié tyd het die siener Hanani by Asa, die koning van Juda gekom, en vir hom gesê: Omdat jy op die koning van Aram gesteun het en nie op die HERE jou God vertrou het nie, daarom het die leër van die koning van Aram ontvlug uit jou hand. Was die Kusiete en die Lubiete nie 'n groot leër, met baie strydwaens en ruiters nie? maar omdat jy op die HERE gesteun het, het Hy hulle in jou hand gegee. Want die oë van die HERE loop deur die hele aarde om sterk te wees ten behoewe van die wie se hart volkome teenoor Hom is. Hierin het jy dwaas gehandel; daarom sal jy van nou af oorloë hê. Toe was Asa kwaad op die siener en het hom in 'n gevangenis gesit; want hy was woedend vir hom oor hierdie saak. En Asa het in dieselfde tyd sommige van die volk verdruk. En kyk, die geskiedenis van Asa, die eerste en die laaste, kyk, dit is beskrywe in die boek van die konings van Juda en Israel. En Asa was in die nege-en-dertigste jaar van sy regering siek aan sy voete, totdat sy siekte uitermate groot was; maar in sy siekte het hy nie die HERE gesoek nie, maar die geneesHERE. En Asa het ontslaap met sy vaders en gesterwe in die een en veertigste jaar van sy regering. En hulle het hom begrawe in sy eie grafte wat hy vir hom gemaak het in die stad van Dawid, en hom neergelê op die bed wat gevul was met lieflike geure en allerhande soorte speserye wat deur die kuns van die aptekers voorberei is; en hulle het 'n baie groot brand vir hom.

2 KRONIEKE 16:1-14 Die Boodskap (DB)

In die 36ste jaar dat Asa regeer het, het Israel se koning, Baesa, teen Juda begin oorlog maak. Baesa het Rama tot ’n baie sterk en veilige stad opgebou om te keer dat Asa se mense Juda kon verlaat of inkom. Asa het toe silwer en goud uit die tempel en sy paleis se skatkamers laat haal en dit vir Ben-Hadad gestuur. Ben-Hadad het in Damaskus gewoon en was die koning van Aram. Asa se boodskap aan Ben-Hadad was: “Hiermee hernu ek die ooreenkoms wat reeds tussen my pa en u pa bestaan het. Hier is ’n geskenk van silwer en goud vir u. Nou wil ek vra dat u u ooreenkoms met koning Baesa van Israel moet verbreek. Val hom aan, sodat hy my kan uitlos.” Ben-Hadad het besluit om te doen wat Asa gevra het. Hy het die bevelvoerders van sy leërs gestuur om Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan en Abel-Maim verwoes en die voorraadstede van Naftali geplunder. Toe Baesa dit hoor, het hy dadelik met sy bouwerk in Rama opgehou. Asa het toe vinnig ingespring. Hy het al die mense van Juda opgeroep om die bouklip en hout wat Baesa in Rama gebruik het, weg te dra. Hulle het dit toe gebruik om die dorpe Geba en Mispa op te bou. In dié tyd het Hanani, die siener, met koning Asa gaan praat en vir hom gesê: “U het nou op die koning van Aram vertrou om u te help, in plaas daarvan om op die Here, u God, te vertrou. Daarom het u ’n kans om die leër van Aram te verslaan deur u vingers laat glip. Onthou u met hoe ’n groot leër die mense van Kus en Libië u aangeval het? Daar was verskriklik baie strydwaens en perderuiters. Maar toe het u op die Here vertrou om te help en Hy het u laat wen. Onthou net, die Here soek na mense wat Hom volkome vertrou; dan help Hy hulle. Hierdie keer was u dom! Van nou af sal u die hele tyd oorlog maak.” Asa het só kwaad geword vir die siener oor wat hy gesê het dat hy hom in die tronk gegooi het. Dit was juis ook in daardie tyd dat Asa van sy mense begin onderdruk het. Asa se hele geskiedenis is in Die Geskiedenis van die Konings van Juda en Israel opgeskryf. In sy 39ste regeringsjaar het Asa ’n ernstige voetsiekte gekry. Selfs toe dit later sy lewe in gevaar gestel het, het hy steeds nie die Here nie, maar sy dokters vertrou om hom gesond te maak. Hy is dood in die 41ste jaar dat hy regeer het. Hy is toe in die graf begrawe wat hy vir homself in die Dawidstad laat uitkap het. Die bed waarop sy liggaam uitgelê is, was gegeur met speserye en geurige olies. By die begrafnis het hulle ’n baie groot vuur aangesteek om die laaste eer aan hom te bewys.

2 KRONIEKE 16:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die 36ste jaar van Asa se bewind het koning Baesa van Israel Juda binnegeval. Hy het die stad Rama versterk om te verhoed dat enigiemand die koninkryk van Asa kon binnegaan of verlaat. Asa het gereageer deur silwer en goud uit die skatkamers van die tempel van die HERE en die koninklike paleis te vat. Dit het hy na koning Ben-Hadad van Aram in Damaskus gestuur met die volgende boodskap: “Kom ons hernu die verdrag tussen jou pa en my pa. Kyk, ek stuur vir jou ’n geskenk van silwer en goud. Breek jou verdrag met koning Baesa van Israel sodat hy my met rus kan laat.” Ben-Hadad het ingestem tot koning Asa se versoek en Israel aangeval. Hulle het die dorpe Ijon, Dan, Abel-Majim en al die voorraadstede in Naftali verower. Toe Baesa van Israel hoor wat aangaan, het hy afgesien van sy planne om Rama te versterk. Koning Asa het die hele Juda aangesê om die boustene en timmerhout wat Baesa gebruik het om Rama te versterk, weg te dra. Asa het dit gebruik om die dorpe Geba en Mispa te bou. In dié tyd het die siener Ganani na koning Asa van Juda gegaan en gesê: “Omdat jy op die koning van Aram vertrou het in plaas van op die HERE jou God, het jy die kans verloor om die leër van die koning van Aram te verwoes. Onthou jy dan nie wat gebeur het met die Kussiete en Libiërs en hulle groot leërmag met baie strydwaens en ruiters nie? Toe het jy op die HERE vertrou en Hy het hulle aan jou oorgegee. Die HERE kyk oor die hele aarde om hulle te help wat met hulle hele hart op Hom vertrou. Wat ’n dwaas was jy nie! Daarom sal jy van nou af gedurig oorloë hê.” Asa het kwaad geword vir die siener Ganani. Hy was so woedend dat hy hom in die tronk gegooi het. In hierdie tyd het Asa begin om sommige van sy onderdane te verdruk. Die ander gebeurtenisse tydens sy bewind, van begin tot einde, is opgeteken in Die boek van die konings van Juda en Israel. In die 39ste jaar van sy regering het Asa ’n ernstige siekte aan sy voete opgedoen. Maar selfs in sy siekte het hy nie hulp by die HERE gesoek nie, maar by sy dokters. In die 41ste jaar van sy regering het hy gesterf. Hy is begrawe in die grafkelder wat hy in die Dawidstad laat uitkap het. Hulle het sy liggaam neergelê op die plek wat met balsem en allerlei geurige kruie bedek was. Tydens sy begrafnis het hulle tot sy eer ’n groot vuur aangesteek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid