2 KRONIEKE 15:3-6
2 KRONIEKE 15:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Israel het 'n lang tyd nie die ware God gedien nie. Hulle het nie 'n priester gehad wat vir hulle kon leer nie en hulle het nie die wette van God geken nie. Maar wanneer dit sleg gegaan het met hulle, dan het hulle teruggekom na die God van Israel en dan wou hulle Hom dien, en Hy was tevrede. In daardie tyd kon 'n mens nie veilig rondgaan in die land nie, want in al die lande was daar probleme. Volke en stede het mekaar aangeval, want God het hulle bang gemaak en Hy het hulle laat swaarkry.
2 KRONIEKE 15:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar was baie dae dat Israel sonder die ware God was en sonder 'n lerende priester en sonder wet. Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. En in dié tye was daar geen vrede vir wie uit- of ingegaan het nie, maar groot beroering oor al die inwoners van die lande; en nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle deur allerhande nood in verwarring gebring het.
2 KRONIEKE 15:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Israel was lank sonder die ware God, sonder 'n priester wat die wil van God bekend kon maak, en sonder die woord van God. Toe Israel hom in sy nood tot die Here sy God bekeer het en na Hom gevra het, het die Here Hom deur hulle laat vind. In daardie tyd kon niemand veilig kom of gaan nie, want daar was groot onrus in al die lande. Volk het teen volk gebots, stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.
2 KRONIEKE 15:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Lang tyd het vir Israel verloop sonder die ware God, sonder 'n priester wat onderrig gee en sonder die wet. Maar wanneer Israel in sy nood na die HERE, die God van Israel, teruggekeer en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. In daardie tye was dit nie veilig vir iemand om uit te gaan of in te kom nie, want daar was groot paniek by al die bewoners van die lande. Nasie het teen nasie en stad teen stad gebots, omdat God hulle verward laat raak het deur elke moontlike teenspoed.
2 KRONIEKE 15:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Nou was Israel vir 'n lang tyd sonder die ware God en sonder 'n leerpriester en sonder wet. Maar toe hulle in hul benoudheid hulle tot die HERE, die God van Israel, bekeer en Hom gesoek het, is Hy by hulle gevind. En in dié tye was daar geen vrede vir hom wat uitgegaan het nie, ook nie vir hom wat ingekom het nie, maar groot kwellings was oor al die inwoners van die lande. En nasie is vernietig van nasie en stad van stad, want God het hulle met alle teëspoed geplaag.
2 KRONIEKE 15:3-6 Die Boodskap (DB)
Israel was vir ’n lang ruk sonder God en ook sonder ’n priester om hulle van God te leer én sonder sy wet. Maar in moeilike tye, as julle by Israel se God, die Here, hulp gaan soek het, het Hy elke keer gehelp. In sulke tye was niemand veilig nie. Daar was groot onrus in al die lande: die een nasie het teen die ander geveg en stede teen mekaar, want God het hulle met verwarring geteister.
2 KRONIEKE 15:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vir ’n lang tyd was Israel sonder die ware God, sonder ’n priester om hulle te onderrig, en sonder die gebooie van God. Wanneer hulle in nood was en hulle teruggedraai het na die HERE die God van Israel en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind. In daardie tye was dit nie veilig om te reis nie, want oral was daar groot onrus vir die inwoners van die land. Volk het teen volk geveg, en stad teen stad, want God het onrus en nood oor hulle gebring.