2 KRONIEKE 15:1-2
2 KRONIEKE 15:1-2 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n profeet Asarja, hy was die seun van Oded. Die Gees van God het op hom gekom, en hy het na koning Asa toe gegaan en vir hom gesê: “Asa en al die mense van Juda en Benjamin, julle moet luister. Die Here sal by julle wees as julle Hom dien. As julle Hom wil dien, dan sal Hy tevrede wees, maar as julle Hom los, dan sal Hy júlle los.
2 KRONIEKE 15:1-2 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het die Gees van God op Asárja, die seun van Oded, gekom; en hy het uitgegaan om Asa te ontmoet en vir hom gesê: Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
2 KRONIEKE 15:1-2 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Gees van God het oor Asarja seun van Oded gekom. Hy het Asa tegemoet gegaan en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en alle manne van Juda en Benjamin: As julle by die Here is, sal Hy by julle wees; as julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
2 KRONIEKE 15:1-2 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat Asarja, seun van Oded betref – die Gees van God het oor hom gekom, en hy het uitgegaan na Asa toe en vir hom gesê: “Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle wanneer julle met Hom is. As julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind, maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
2 KRONIEKE 15:1-2 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die Gees van God het oor Asarja, die seun van Oded, gekom. En hy het uitgegaan Asa tegemoet en vir hom gesê: Luister na my, Asa en die hele Juda en Benjamin! Die HERE is met julle terwyl julle by Hom is; en as julle Hom soek, sal Hy deur julle gevind word; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.
2 KRONIEKE 15:1-2 Die Boodskap (DB)
God se Gees het Asarja, Oded se seun, beetgepak. Hy het uitgegaan om vir koning Asa te ontmoet toe hulle van die geveg af terugkom. Hy het gesê: “Luister na my, Asa! Luister, julle mense van Juda en Benjamin! Die Here sal by julle wees, solank julle by Hom bly. Wanneer julle Hom soek, sal Hy toelaat dat julle Hom vind. Maar as julle van Hom af weggaan, sal Hy van julle af weggaan.
2 KRONIEKE 15:1-2 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe het die Gees van God op Asarja seun van Oded gekom. Hy het koning Asa tegemoetgegaan. “Luister na my, Asa!” het hy geroep. “Luister, al die manne van Juda en Benjamin! Die HERE sal by julle bly so lank as wat julle by Hom bly; wanneer julle na Hom vra, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat.