1 TIMOTEUS 6:1-9

1 TIMOTEUS 6:1-9 Bybel vir almal (ABA)

Almal wat slawe is en wat 'n juk moet dra, moet hulle eienaars respekteer. Die slawe moet dit doen sodat ander mense nie sleg praat van die Naam van God en van die dinge wat ons vir die mense geleer het nie. Maar party slawe se eienaars glo in Christus, en daardie slawe moenie dink dat hulle eienaars onbelangrik is omdat die eienaars ook gelowiges is soos die slawe nie. Nee, daardie slawe moet nóg harder werk, want hulle werk vir mense wat ook in Christus glo, en God is lief vir daardie mense. Jy moet aanhou om hierdie dinge vir die mense te leer. Jy moet sê dat hulle dit moet doen. Daar is vals profete wat vir die gelowiges ander dinge wil leer. Die vals profete glo nie die woorde van ons Here Jesus Christus nie. Hy het vir ons die regte dinge geleer. Die vals profete glo ook nie die mense wat vir ons leer hoe om vir God te dien nie. Die mense wat vir die gelowiges ander dinge wil leer, is hoogmoedig, maar hulle weet niks. Hulle is soos mense wie se gees siek is. Hulle wil altyd met ander mense twis en oor woorde stry. Dan word mense jaloers, hulle stry met mekaar, hulle sê slegte dinge van ander mense en hulle dink slegte dinge van ander mense. Hierdie vals profete hou aan om te stry. Hulle kan nie meer reg dink nie, hulle weet nie meer wat die waarheid is nie. Hulle dink dat hulle ryk sal word as hulle vir God dien. Maar wanneer 'n mens vir God dien en jy is ook tevrede met wat jy het, dan het jy baie. Want ons het niks ingebring in die wêreld nie, en ons kan ook niks uitneem uit die wêreld nie. Daarom moet ons tevrede wees wanneer ons kos en klere het. Wanneer mense baie graag ryk wil word, dan doen hulle maklik sonde. Hulle sit soos 'n voël vas in 'n vangstrik. Hulle is dwase wat dinge wil hê wat nie goed is vir hulle nie. Hulle sterf en is soos 'n skip wat in die water sink, daar bly niks oor van hulle nie.

1 TIMOTEUS 6:1-9 Die Boodskap (DB)

Christene wat slawe is, moet hulle baas met respek behandel. Hulle moenie enigiemand rede gee om iets slegs te sê van God of van al die dinge wat ons oor Christus leer nie. As die baas ook ’n Christen is, moet die slaaf nie dink dat hy die baas met minder respek hoef te behandel omdat hulle saam aan God se geestelike familie behoort nie. Christenslawe moet eerder nog beter werk, want hulle werk vir mede-Christene vir wie hulle lief is. Wat hulle doen, is mos tot ’n ander Christen se voordeel. Al hierdie dinge moet jy vir mense leer en hulle motiveer om dit te doen. Sê nou iemand wil julle meer oor die godsdiens leer, maar hy vertel net ’n klomp stories wat nie waar is nie. Dit is glad nie wat die Here Jesus Christus vir ons vertel en geleer het nie. Na so iemand moet jy nie eens luister nie. Hy self dink natuurlik hy weet baie, maar eintlik weet hy niks. Hy sal gewoonlik oor alles wil stry en ’n yslike argument begin oor wat ’n spesifieke woord nou juis beteken. Hierdie ongesonde houding van hom sal maak dat mense later vies raak vir mekaar. Hulle sal jaloers op mekaar word, lelike dinge van mekaar sê en mekaar so verdag maak. Hulle sal aanmekaar stry en baklei omdat hulle deurmekaar is. Hulle sal nie meer mooi kan dink nie en dan nie meer weet wat waar is nie. Hulle dink dat godsdiens eintlik daar is om geld mee te maak. Eintlik kán godsdiens ’n mens baie ryk maak. Aardse rykdom is nie so baie werd nie, want ons het sonder ’n sent in die wêreld gekom en eendag wanneer ons doodgaan, sal ons ook niks van die wêreldse rykdom kan saamvat nie. As ons genoeg het om te eet en darem klere het om aan te trek, moet ons meer as tevrede wees. Mense vir wie dit baie belangrik word om ryk te wees, kom gou in die moeilikheid. Hulle gierigheid maak dat hulle in die hande van Satan instap omdat hulle gedurig op allerhande maniere uitgelok word om verkeerde dinge te doen. Uiteindelik bly daar van hulle en al hulle begeertes niks oor nie en hulle beland in die hel.

1 TIMOTEUS 6:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Gelowiges wat slawe is, moet aan hulle eienaars volle respek betoon sodat die Naam van God en sy leringe nie beskaam word nie. As jou eienaar ’n mede-Christen is, is die feit dat julle geloofsbroers is, geen verskoning om oneerbiedig op te tree nie. Julle behoort dan selfs harder te werk, want dan is dit gelowiges en geliefdes wat uit julle kwaliteitwerk voordeel trek. Onderrig hierdie waarhede, Timoteus, en moedig almal aan om dit te gehoorsaam. Sommige vals leraars ontken dalk hierdie dinge, maar dit is die gesonde, heilsame leer van die Here Jesus Christus en dit is die fondament vir ’n godvresende lewe. Enigiemand wat enigiets anders leer, is nie net verwaand nie, maar ook dom. Só ’n mens het ’n ongesonde begeerte om oor die betekenis van woorde te kibbel. Dit veroorsaak argumente wat eindig in jaloesie, stryd, beledigings en bose agterdog. Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid. Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie. Vir hulle is godsdiens net ’n manier om ryk te word. Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort.