1 TIMOTEUS 3:11-16
1 TIMOTEUS 3:11-16 Die Boodskap (DB)
Vroue wat in die gemeente help, moet ook respek afdwing by ander. Hulle moenie skinder en uitspattig lewe nie. ’n Mens moet ook op hulle kan peil trek. ’n Diaken moet getrou bly aan sy vrou en moet ’n goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders wees. As hy sy werk in die gemeente goed doen, sal die mense hom respekteer. Hy sal sonder om bang of onseker te wees sy werk doen omdat hy in Christus Jesus glo. Ek hoop om gou weer na julle toe te kom. Ek skryf hierdie dinge vir jou sodat as ek miskien nie so gou kan kom nie, jy sal weet hoe mense hulle in God se huisgesin moet gedra. Die gemeente van die lewende God is hierdie huisgesin. Die gemeente het nie alleen die waarheid nie, maar moet ook sorg dat die waarheid nie verdraai word nie. Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: “Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.”
1 TIMOTEUS 3:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Vroue wat in die gemeente wil werk, moet ook mense wees wat reg lewe. Hulle moenie oor ander gelowiges skinder nie. Hulle moet reg kan besluit en almal moet weet dat hulle altyd sal doen wat hulle belowe het. 'n Diaken moet net een vrou hê. Diakens moet goeie pa's wees vir hulle kinders, hulle moet goed regeer oor almal in hulle eie huisgesinne. Die gemeente respekteer 'n diaken wat sy werk goed doen. 'n Diaken wat sy werk goed doen, sal ook nie bang wees om vir ander mense te vertel wat hy alles glo oor Christus Jesus nie. Timoteus, ek hoop om gou na jou toe te kom. Maar miskien kan ek nie dadelik kom nie, daarom skryf ek hierdie dinge vir jou, sodat jy kan weet hoe 'n mens moet lewe in die huisgesin van God, dit is die kerk van die God wat lewe. Die kerk is soos 'n pilaar of 'n fondament, die waarheid staan vas daarop. Ek wil reguit sê: Ons het nie geweet hoe om God te dien nie, maar God het vir ons kom sê hoe om dit te doen, en dit is wonderlik.
1 TIMOTEUS 3:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles. Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid. En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.
1 TIMOTEUS 3:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar. 'n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself 'n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is
1 TIMOTEUS 3:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles. Diakens moet net een vrou hê, en hulle kinders en hulle eie huishoudings goed bestuur. Want wie hulle dienswerk as diakens goed doen, verwerf groot aansien vir hulleself, en verkry groot vrymoedigheid deur die geloof in •Christus Jesus. Hierdie dinge skryf ek vir jou, in die hoop om binnekort na jou toe te kom. Maar as ek vertraag word, moet jy weet hoe jy jou moet gedra in die huishouding van God: dit is die •kerk van die lewende God, 'n pilaar en 'n fondament van die waarheid. En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot: Hy is geopenbaar in 'n menslike liggaam, regverdig bewys deur die Gees, gesien deur die engele, verkondig onder die nasies, geglo in die wêreld, opgeneem in heerlikheid.
1 TIMOTEUS 3:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Net so moet hulle vroue ernstig wees, nie lasteraars nie, nugter, in alles getrou. Laat die diakens die mans van een vrou wees en hulle kinders en hulle eie huise goed regeer. Want die wat die amp van diaken gebruik het, koop vir hulleself 'n goeie graad en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Hierdie dinge skryf ek aan jou in die hoop om binnekort na jou te kom: Maar as ek lank vertoef, dat jy kan weet hoe jy jou moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, die pilaar en grondslag van die waarheid. En sonder omstredenheid is die verborgenheid van die godsaligheid groot: God is geopenbaar in die vlees, geregverdig in die Gees, gesien deur engele, aan die heidene verkondig, in die wêreld geglo, opgeneem in heerlikheid.
1 TIMOTEUS 3:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Net so moet hulle vroue gerespekteer word en nie kwaad praat van ander nie. Hulle moet selfbeheersing openbaar en getrou wees in alles wat hulle doen. ’n Diaken moet getrou wees aan sy vrou, en hy moet sy kinders en huishouding goed beheer. Dié wat goeie diens lewer as diakens, sal beloon word met respek van ander en sal groter vrymoedigheid ontwikkel in hulle geloof in Christus Jesus. Ek skryf dié dinge nou aan jou alhoewel ek hoop om binnekort by jou te wees. Ingeval ek vir ’n tydjie nog nie kan kom nie, sal jy weet hoe mense hulle moet gedra in die huishouding van God – dit is die kerk van die lewende God wat die pilaar en stut van die waarheid is. Sonder enige twyfel is dít die geopenbaarde waarheid van ons geloof: Christus het as mens verskyn en is deur die Gees as regverdig bewys. Hy het aan engele verskyn en is aan die nasies verkondig. Hy is in die wêreld geglo en is opgeneem in heerlikheid.