1 TIMOTEUS 3:1-16

1 TIMOTEUS 3:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is 'n betroubare woord: as iemand na 'n opsienersamp verlang, begeer hy 'n voortreflike werk. 'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra? Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie. Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie. Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie, manne wat die verborgenheid van die geloof in 'n rein gewete hou. En hulle moet ook eers 'n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien. Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles. Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid. En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

1 TIMOTEUS 3:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Wat ek nou wil sê, is waar: Wanneer iemand baie graag 'n ouderling in die gemeente wil wees, dan wil hy 'n goeie werk doen. Daarom moet 'n ouderling heeltemal reg lewe. Hy moet net een vrou hê. Hy moet reg kan besluit, hy moet weet hoe om reg te lewe, hy moet mooi maniere hê, hy moet goed wees vir vreemdelinge, hy moet vir mense kan leer. 'n Ouderling moenie te veel drink en dan dronk word nie, en hy moenie gou kwaad word nie. Nee, hy moet vriendelik en geduldig wees en hy moenie daarvan hou om te baklei nie. Hy moet ook nie lief wees vir geld nie. Hy moet 'n goeie pa wees vir sy huisgesin en hy moet só lewe dat sy kinders hom respekteer en altyd gehoorsaam kan wees aan hom. Want as iemand nie weet hoe om 'n goeie pa te wees vir sy eie huisgesin nie, dan sal hy ook nie kan sorg vir God se gemeente nie. 'n Ouderling moenie iemand wees wat kort gelede 'n gelowige geword het nie. As hy nog nie lank 'n gelowige is nie, dan sal hy miskien hoogmoedig word, en dan sal God hom straf soos God die duiwel straf. 'n Ouderling moet reg lewe, sodat die mense wat nie gelowiges is nie, hom ook sal respekteer. Hulle moet weet dat hy nie slegte dinge doen nie, dan sal die duiwel hom nie in sy vangnet kan vang nie. Die diakens moet ook mense wees wat reg lewe, soos die ouderlinge. Hulle moenie skynheilig wees nie, hulle moenie te veel wyn drink nie, en hulle moenie altyd meer goed wil hê nie. Hulle moet ook vas glo in die dinge wat God vir ons gewys het toe Hy vir Christus gestuur het. En hulle moet weet wat is reg en wat is verkeerd. Die ander gelowiges moet eers goed kyk hoe die mense lewe wat diakens wil word. As niemand oor hulle kan praat en sê dat hulle verkeerde dinge doen nie, dan mag hulle diakens word. Vroue wat in die gemeente wil werk, moet ook mense wees wat reg lewe. Hulle moenie oor ander gelowiges skinder nie. Hulle moet reg kan besluit en almal moet weet dat hulle altyd sal doen wat hulle belowe het. 'n Diaken moet net een vrou hê. Diakens moet goeie pa's wees vir hulle kinders, hulle moet goed regeer oor almal in hulle eie huisgesinne. Die gemeente respekteer 'n diaken wat sy werk goed doen. 'n Diaken wat sy werk goed doen, sal ook nie bang wees om vir ander mense te vertel wat hy alles glo oor Christus Jesus nie. Timoteus, ek hoop om gou na jou toe te kom. Maar miskien kan ek nie dadelik kom nie, daarom skryf ek hierdie dinge vir jou, sodat jy kan weet hoe 'n mens moet lewe in die huisgesin van God, dit is die kerk van die God wat lewe. Die kerk is soos 'n pilaar of 'n fondament, die waarheid staan vas daarop. Ek wil reguit sê: Ons het nie geweet hoe om God te dien nie, maar God het vir ons kom sê hoe om dit te doen, en dit is wonderlik.

1 TIMOTEUS 3:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DIT is 'n betroubare woord: as iemand na 'n opsienersamp verlang, begeer hy 'n voortreflike werk. 'n Opsiener dan moet onberispelik wees, die man van een vrou, nugter, ingetoë, fatsoenlik, gasvry, bekwaam om te onderrig; geen drinker, geen vegter, geen vuilgewinsoeker nie, maar vriendelik; geen strydlustige, geen geldgierige nie; een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle waardigheid in onderdanigheid hou. Maar as iemand nie weet om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg dra? Hy moet nie 'n nuweling wees nie, sodat hy nie verwaand word en in dieselfde oordeel as die duiwel val nie. Maar hy moet ook goeie getuienis hê van die buitestaanders, sodat hy nie in veragting en in die strik van die duiwel val nie. Net so moet die diakens waardig wees, nie uit twee monde spreek nie, nie verslaaf aan wyn nie, geen vuilgewinsoekers nie, manne wat die verborgenheid van die geloof in 'n rein gewete hou. En hulle moet ook eers 'n proeftyd deurmaak; daarna, as hulle onberispelik is, kan hulle dien. Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles. Die diakens moet manne van een vrou wees en hulle kinders en eie huis goed regeer. Want die wat goed gedien het, verkry vir hulle 'n eervolle plek en veel vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, 'n pilaar en grondslag van die waarheid. En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.

1 TIMOTEUS 3:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is 'n waar woord: as iemand graag ouderling wil wees, begeer hy 'n voortreflike werk. 'n Ouderling moet onberispelik wees, getrou aan sy vrou, nugter, verstandig, beskaaf, gasvry en bekwaam om te onderrig; hy moenie aan drank verslaaf of 'n rusiemaker wees nie, maar inskiklik, vredeliewend en nie geldgierig nie. Hy moet sy eie huisgesin goed kan beheer en in alle opsigte op waardige wyse gesag oor sy kinders kan uitoefen. Immers, as iemand nie weet om sy eie huisgesin te beheer nie, hoe kan hy dan die sorg vir die gemeente van God op hom neem? Hy moet ook nie iemand wees wat maar onlangs tot geloof gekom het nie. So iemand kan verwaand word, en in die oordeel kom waarin die duiwel hom laat beland. Ook by die mense buite die gemeente moet hy as 'n goeie man bekend staan, sodat daar nie praatjies oor hom ontstaan en hy in 'n strik van die duiwel val nie. Net so moet diakens ook manne van goeie karakter wees. Hulle moenie uit twee monde praat nie en nie aan drank verslaaf of op oneerlike winsbejag uit wees nie. Hulle moet in alle opregtheid aan die geopenbaarde waarheid van die geloof vashou. Vooraf moet ondersoek ingestel word na hulle geskiktheid, en as niemand beswaar teen hulle inbring nie, kan hulle as diakens dien. Net so moet vroue ook van goeie karakter wees, nie skinder nie, nugter en in alles betroubaar. 'n Diaken moet aan sy vrou getrou wees en sy kinders en sy eie huisgesin goed beheer. Dié wat as diaken goed gedien het, verwerf vir hulleself 'n eervolle plek in die gemeente en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Ek skryf hierdie dinge aan jou hoewel ek hoop om gou na jou toe te kom. Ingeval my koms vertraag word, sal jy dus weet hoe iemand hom moet gedra in die huisgesin van God, dit is die gemeente van die lewende God. Die gemeente is die draer en beskermer van die waarheid. En dit staan bo alle teenspraak dat die geopenbaarde waarheid van ons godsdiens groot is

1 TIMOTEUS 3:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dié uitspraak is betroubaar. As iemand na 'n amp as opsiener streef, begeer hy 'n goeie taak. 'n Opsiener moet onberispelik wees: 'n man met net een vrou, beheersd, verstandig, goed gemanierd, gasvry, en in staat om onderrig te gee. Hy moet nie 'n dronkaard of veglustig wees nie, maar inskiklik, vredeliewend, en nie geldgierig nie. Hy moet met volkome waardigheid sy eie huishouding goed bestuur en sy kinders onderdanig hou. Maar as iemand sy eie huishouding nie behoorlik kan bestuur nie, hoe sal hy na die •gemeente van God kan omsien? Hy moet nie 'n pasbekeerde wees nie, sodat hy nie verwaand word, en in dieselfde oordeel as die Duiwel beland nie. Boonop moet hy 'n goeie reputasie onder die mense buite die gemeente hê, sodat hy nie in die skande en in die Duiwel se strik beland nie. Net so moet diakens hulle waardig gedra, nie uit twee monde praat nie, hulle nie oorgee aan baie wyn nie, nie inhalig wees nie, terwyl hulle met 'n skoon gewete aan die geheimenis van die geloof vashou. Maar laat hulle eers getoets word, en as hulle onberispelik bevind word, laat hulle dan as diakens optree. Net so moet vroue waardig wees, nie skindertonge nie, sober, betroubaar in alles. Diakens moet net een vrou hê, en hulle kinders en hulle eie huishoudings goed bestuur. Want wie hulle dienswerk as diakens goed doen, verwerf groot aansien vir hulleself, en verkry groot vrymoedigheid deur die geloof in •Christus Jesus. Hierdie dinge skryf ek vir jou, in die hoop om binnekort na jou toe te kom. Maar as ek vertraag word, moet jy weet hoe jy jou moet gedra in die huishouding van God: dit is die •kerk van die lewende God, 'n pilaar en 'n fondament van die waarheid. En die geheimenis van die ware godvresendheid is sonder twyfel groot: Hy is geopenbaar in 'n menslike liggaam, regverdig bewys deur die Gees, gesien deur die engele, verkondig onder die nasies, geglo in die wêreld, opgeneem in heerlikheid.

1 TIMOTEUS 3:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dit is 'n ware gesegde: As 'n man die amp van 'n biskop begeer, begeer hy 'n goeie werk. 'n Biskop moet dan onberispelik wees, die man van een vrou, waaksaam, nugter, van goeie gedrag, gasvry, bekwaam om te onderrig; nie aan wyn gegee nie, geen slager nie, nie gierig na vuil wins nie; maar geduldig, nie 'n bakleier nie, nie begeerlik nie; Een wat sy eie huis goed regeer en sy kinders met alle erns onderdanig het; (Want as iemand nie weet hoe om sy eie huis te regeer nie, hoe sal hy vir die gemeente van God sorg?) Nie 'n beginner nie, sodat hy nie in hoogmoed verhef word in die oordeel van die duiwel nie. Verder moet hy 'n goeie verslag hê van die wat buite is; dat hy nie in smaad en in die strik van die duiwel val nie. Net so moet die diakens ernstig wees, nie dubbeltong nie, nie aan baie wyn gegee nie, nie gierig van vuil wins nie; Hou die verborgenheid van die geloof in 'n rein gewete. En laat ook hierdie eers beproef word; laat hulle dan die amp van 'n diaken gebruik, terwyl hulle onberispelik bevind word. Net so moet hulle vroue ernstig wees, nie lasteraars nie, nugter, in alles getrou. Laat die diakens die mans van een vrou wees en hulle kinders en hulle eie huise goed regeer. Want die wat die amp van diaken gebruik het, koop vir hulleself 'n goeie graad en groot vrymoedigheid in die geloof in Christus Jesus. Hierdie dinge skryf ek aan jou in die hoop om binnekort na jou te kom: Maar as ek lank vertoef, dat jy kan weet hoe jy jou moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, die pilaar en grondslag van die waarheid. En sonder omstredenheid is die verborgenheid van die godsaligheid groot: God is geopenbaar in die vlees, geregverdig in die Gees, gesien deur engele, aan die heidene verkondig, in die wêreld geglo, opgeneem in heerlikheid.

1 TIMOTEUS 3:1-16 Die Boodskap (DB)

Wat ek nou sê, staan soos ’n paal bo water: as iemand baie graag ’n leier in die gemeente wil wees, wil hy ’n belangrike en goeie werk in die gemeente doen. Daarom kan nie enigiemand ’n leier wees nie. Daar moet niks slegs oor so ’n persoon gesê kan word nie. Hy moet getrou wees aan sy vrou en nie uitspattig lewe nie. Hy moet nie ongeërg wees en niks omgee vir wat hy doen nie. Hy moet ordentlik lewe en ander Christene help waar hy kan, selfs al vra hulle hom vir blyplek. Verder moet hy ’n goeie onderwyser wees, want hy sal ander van God moet leer. Hy moet ook nie ’n drinker of ’n bakleier wees nie. In plaas daarvan dat hy die hele tyd skoorsoek, moet hy eerder vriendelik wees. Geld moet ook nie sy baas wees nie. Hy moet ook mooi na sy gesin kyk en sorg dat sy kinders respek vir hom het en na hom luister. (As iemand nie eens sy eie gesin goed kan hanteer nie, hoe op aarde sal hy dan na die gemeente kan kyk?) Dit moet ook liefs iemand wees wat darem al ’n rukkie ’n Christen is. Die gevaar is dat iemand wat onlangs ’n Christen geword het, dalk te veel van homself sal begin dink as hy so gou ’n leier word. Dit sal sy verhouding met die Here natuurlik baie sleg doen. Die duiwel het ook mos te veel van homself begin dink. Nie-Christene moet niks slegs kan sê van die leier van die gemeente nie, want anders sal die duiwel alles in die wiele ry wat die leier doen. Net so moet diakens mense wees wat by ander respek afdwing en op wie ’n mens kan peil trek. Hulle moet nie aan alkohol verslaaf wees of in besigheid oneerlike wins probeer maak nie. Verder moet die diep waarhede van God waarin hulle glo, hulle hele lewe vol maak. Hulle moet opreg wees en niks moet hulle gewete pla nie. Voordat hulle diakens word, moet die gemeente eers seker maak of hulle dit kan word. Die gemeente moet moeite doen om te kyk of daar nie slegte gerugte die rondte doen oor die moontlike diakens nie. As daar nie klagtes is nie, kan die persone as diakens aangestel word. Vroue wat in die gemeente help, moet ook respek afdwing by ander. Hulle moenie skinder en uitspattig lewe nie. ’n Mens moet ook op hulle kan peil trek. ’n Diaken moet getrou bly aan sy vrou en moet ’n goeie man vir sy vrou en pa vir sy kinders wees. As hy sy werk in die gemeente goed doen, sal die mense hom respekteer. Hy sal sonder om bang of onseker te wees sy werk doen omdat hy in Christus Jesus glo. Ek hoop om gou weer na julle toe te kom. Ek skryf hierdie dinge vir jou sodat as ek miskien nie so gou kan kom nie, jy sal weet hoe mense hulle in God se huisgesin moet gedra. Die gemeente van die lewende God is hierdie huisgesin. Die gemeente het nie alleen die waarheid nie, maar moet ook sorg dat die waarheid nie verdraai word nie. Oor een ding hoef ’n mens nie te twyfel nie, naamlik dat ons godsdiens nie iets is wat ons kon uitgedink het nie. Dit was God se geheim en gaan oor Jesus: “Jesus het mens geword en die Gees het dubbel en dwars beklemtoon dat Jesus aan die regte kant staan. Die hemelse wesens het Hom gesien, sy boodskappers het al die nasies van Hom vertel en deur die hele wêreld het mense in Hom begin glo. Hy is na God toe in die hemel waar almal kan sien hoe belangrik Hy is.”

1 TIMOTEUS 3:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is ’n betroubare woord dat as iemand ’n ouderling wil wees, hy ’n eerbare verantwoordelikheid begeer. Want ’n ouderling moet ’n man wees teen wie se lewe niks ingebring kan word nie. Hy moet aan sy vrou getrou wees. Hy moet selfbeheersing aan die dag lê, met wysheid lewe en ’n goeie reputasie hê. Hy moet gasvry wees en onderrig kan gee. Hy moet hom nie aan drank vergryp of gewelddadig wees nie. Hy moet sagmoedig en vredeliewend wees; hy moet ook nie geldgierig wees nie. Hy moet sy eie huisgesin goed kan bestuur en op waardige wyse oor sy kinders gesag uitoefen. Want as ’n man nie sy eie huisgesin kan bestuur nie, hoe kan hy vir God se gemeente sorg? ’n Ouderling moet nie ’n onlangse bekeerling wees nie, want as hy so gou gekies word, kan hy dalk verwaand raak, en die duiwel sal dié verwaandheid gebruik om hom tot ’n val te bring. Die buitestanders moet ook goed van hom praat sodat hy nie in die duiwel se strik trap en tot skande kom nie. Op dieselfde manier moet diakens mense wees wat gerespekteer word. Hulle moenie dubbelpraters wees, hulle aan drank vergryp of geldgierig wees nie. Hulle moet verbind wees aan die geopenbaarde waarheid van die Christelike geloof, en hulle moet met ’n skoon gewete leef. Voordat hulle as diakens aangestel word, moet hulle eers getoets word. As dit blyk dat hulle onbesproke is, kan hulle as diakens dien. Net so moet hulle vroue gerespekteer word en nie kwaad praat van ander nie. Hulle moet selfbeheersing openbaar en getrou wees in alles wat hulle doen. ’n Diaken moet getrou wees aan sy vrou, en hy moet sy kinders en huishouding goed beheer. Dié wat goeie diens lewer as diakens, sal beloon word met respek van ander en sal groter vrymoedigheid ontwikkel in hulle geloof in Christus Jesus. Ek skryf dié dinge nou aan jou alhoewel ek hoop om binnekort by jou te wees. Ingeval ek vir ’n tydjie nog nie kan kom nie, sal jy weet hoe mense hulle moet gedra in die huishouding van God – dit is die kerk van die lewende God wat die pilaar en stut van die waarheid is. Sonder enige twyfel is dít die geopenbaarde waarheid van ons geloof: Christus het as mens verskyn en is deur die Gees as regverdig bewys. Hy het aan engele verskyn en is aan die nasies verkondig. Hy is in die wêreld geglo en is opgeneem in heerlikheid.