1 TIMOTEUS 2:1-15
1 TIMOTEUS 2:1-15 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê dit is belangrik dat julle vir al die mense moet bid. Sê vir God wat hulle nodig het, vra vir God om hulle te help en sê ook vir God dankie vir hulle. Julle moet bid vir konings en vir almal wat oor julle regeer. Julle moet dit doen sodat ons stil en rustig kan lewe terwyl ons vir God dien en lewe soos Hy wil hê. Wanneer julle só bid, dan is dit reg. God, ons Redder, wil dit so hê. God wil graag al die mense red en Hy wil hê dat hulle moet weet wat die waarheid is. Die waarheid is: Daar is net één God en daar is net één Persoon wat God en die mense bymekaar kan bring, dit is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee en Hy het gesterf om al die mense vry te maak. So het Hy gewys dat die regte tyd gekom het. Daarom het Christus Jesus my gekies en aangestel om die goeie boodskap te bring vir die mense wat nie Jode is nie, en om 'n apostel te wees. Ek lieg nie as ek dit sê nie, ek praat die waarheid. Ek moet ook vir húlle die waarheid leer en ek moet vir hulle leer wat dit beteken om in Christus te glo. Ek wil hê die mans wat hulleself aan die Here wy, moet tot die Here bid. Hulle moet hulle hande ophou na die hemel en hulle moet bid op elke plek waar hulle bymekaarkom. Hulle moenie vir mekaar kwaad word en stry nie. Ek wil ook hê dat vroue mooi moet wees omdat hulle die regte klere dra, klere wat wys dat hulle nie slegte vroue is nie en dat hulle mooi maniere het. Hulle moenie hulle hare so mooi vleg dat almal altyd daarna wil kyk nie, en hulle moenie goue juwele of pêrels of baie duur klere dra nie. Nee, vroue wat sê dat hulle vir God dien, moet goeie dinge vir ander mense doen, en só moet hulle mooi wees. Wanneer die gemeente bymekaar is, dan moet 'n vrou stil en gehoorsaam wees, sy moet altyd luister na wat die leiers in die gemeente sê. Ek wil nie hê dat 'n vrou vir ander mense moet leer nie en sy moenie vir 'n man sê wat hy moet doen nie. Nee, sy moet stil wees. Want God het eerste vir Adam gemaak, daarna het Hy vir Eva gemaak. Die slang het nie vir Adam verlei nie, die slang het die vrou verlei. En toe het sy verkeerd gedoen. Maar die Here sal vroue beskerm wanneer hulle kinders kry, vroue wat aanhou glo en lief is vir mense, vroue wat hulleself aan die Here wy en wat nederig is.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
IN die eerste plek vermaan ek dan dat smekinge, gebede, voorbedes, danksegginge gedoen moet word vir alle mense; vir konings en almal wat hooggeplaas is, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid. Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus, wat Homself gegee het as 'n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd, waartoe ek aangestel is as 'n prediker en apostel — ek sê die waarheid in Christus, ek lieg nie — 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid. Ek wil dan hê dat die manne op elke plek moet bid en heilige hande ophef sonder toorn en twis. SO ook moet die vroue hulle versier met behoorlike kleding, gepaard met beskeidenheid en ingetoënheid, nie met vlegsels of goud of pêrels of kosbare klere nie, maar, soos dit vroue betaam wat die godsvrug bely, met goeie werke. Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom. Maar sy sal gered word deur kinders te baar, as hulle bly in geloof en liefde en heiligmaking, met ingetoënheid.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek dring daarop aan dat daar in die eerste plek met smeking, voorbidding en danksegging gebid moet word vir alle mense, vir dié wat regeer en vir almal wat gesag uitoefen, sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in volkome toewyding aan God en in alle eerbaarheid. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het. Dit was op die bestemde tyd die bewys van die bedoeling van God. Met die oog hierop is ek aangestel as prediker en apostel, as 'n leraar om die heidennasies te onderrig in die boodskap van die geloof en die waarheid. Ek praat die waarheid, ek lieg nie. Ek wil dus hê dat die mans by elke plek van samekoms met 'n skoon gewete hande in gebed tot God moet ophef, vry van onmin en twis. Van die vroue wil ek hê dat hulle ook in hulle kleredrag waardig, beskeie en ingetoë moet wees. Hulle versiering moenie haarkapsels en goud of pêrels of duur klere wees nie, maar goeie werke, soos dit vroue betaam wat openlik bely dat hulle God dien. 'n Vrou moet in die erediens stil en onderdanig wees en haar laat leer. Ek laat haar nie toe om daar onderrig te gee of oor die man gesag uit te oefen nie; sy moet stil wees. Adam is immers eerste gemaak, Eva daarna. Dit is ook nie Adam wat verlei is nie, dit is die vrou wat haar laat verlei het en die gebod oortree het. Maar sy sal haar redding vind in moederskap, as sy maar volhard in geloof, liefde en 'n heilige lewe, en daarby beskeie bly.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Heel eerste versoek ek dat smekinge, gebede, voorbidding en dankgebede vir alle mense gedoen word, vir konings en vir almal wat gesagsposisies beklee, sodat ons 'n rustige en stil lewe, in alle godvresendheid en waardigheid, kan lei. Dit is goed en reg in die oë van God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense verlos word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God, en een Middelaar tussen God en die mense: die mens •Christus Jesus, wat Homself as losprys vir almal gegee het, tot getuienis op die bestemde tyd. Hiervoor is ek aangestel as prediker en •apostel – ek praat die waarheid, ek lieg nie – as leermeester om die heidene in geloof en waarheid te onderrig. Ek verwag van die mans dat hulle op elke plek sal bid, met heilige hande omhoog, sonder woede en rusie. So ook moet die vroue hulleself versier met behoorlike kleredrag, beskeie en sober, nie met haarvlegsels en goud of pêrels of duur klere nie, maar – soos dit vroue pas wat bely dat hulle God aanbid – met goeie werke. 'n Vrou moet haar stilweg laat onderrig, in volle gehoorsaamheid. Ek laat nie toe dat 'n vrou onderrig gee, of oor 'n man gesag uitoefen nie; sy moet haar stil gedra. Adam is immers eerste geskep, daarna Eva. En Adam is nie mislei nie, maar die vrou het haar laat mislei, en het 'n oortreder geword. Maar sy sal verlos word te midde van kindergeboorte, mits hulle volhou om gelowig, liefdevol, heilig en ingetoë te leef.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek vermaan dan dat in die eerste plek smekinge, gebede, voorbedes en danksegging gedoen moet word vir alle mense; Vir konings en vir almal wat gesag het; sodat ons 'n rustige en rustige lewe kan lei in alle godsvrug en eerlikheid. Want dit is goed en welgevallig in die oë van God, ons Verlosser; wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom. Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus; wat Homself as 'n losprys vir almal gegee het om op die regte tyd getuig te word. Waartoe ek aangestel is as 'n prediker en 'n apostel (ek spreek die waarheid in Christus en lieg nie;) 'n leraar van die heidene in geloof en waarheid. Ek wil dus dat die mense oral moet bid en heilige hande ophef, sonder toorn en twyfel. So ook, dat vroue hulleself versier in beskeie klere, met skaamte en nugterheid; nie met gebreide hare, of goud of pêrels, of duur kleed nie; Maar (wat vroue word wat die godsaligheid bely) deur goeie werke. Laat die vrou in stilte met alle onderdanigheid leer. Maar ek laat 'n vrou nie toe om te onderrig of die gesag oor die man toe te neem nie, maar om in stilte te wees. Want Adam is eers gevorm, toe Eva. En Adam is nie mislei nie, maar die vrou wat verlei is, was in die oortreding. Nietemin sal sy gered word in die geboorte, as hulle in geloof en liefde en heiligheid met nugterheid bly.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Die Boodskap (DB)
Die eerste ding wat ek vra, is dat julle vir almal moet bid. Vra dat God almal moet help met wat hulle nodig het en sê vir God dankie daarvoor. Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ’n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap. Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef. So hoort dit en so hou God, wat ons gered het, daarvan. God wil hê alle mense moet na Hom toe kom en by Hom leer wat waar is. Daar is mos net een God en daar is net een Mens wat ons kan help om by God uit te kom, en dit is Christus Jesus. Hy het die prys betaal wat nodig was sodat ons saak met God weer reg kon wees; ja, Hy het Homself daarvoor gegee. Op die regte tyd het Hy gewys dat God mense graag by Hom wil hê. Juis daarom het God my aangestel om vir al die mense wat nog nie van Hom gehoor het nie, die waarheid te gaan vertel oor sy Seun Jesus sodat hulle ook in Hom kan glo. Julle kan dit gerus maar glo, want ek sal nie vir julle lieg nie. As julle saambid, wil ek hê dat julle met oorgawe moet bid. Verwag ook dat die Here julle gebede sal beantwoord, mits julle nie kwaad is vir mekaar of oor alles stry en baklei nie. Vroue moet ook ordentlik aantrek sodat hulle nie die verkeerde boodskap vir ander mans gee en so hulle eie man in die verleentheid bring nie. Hulle moet so aantrek dat God en hulle man tevrede sal wees. Vroue wat geen geheim daarvan maak dat hulle die Here dien nie, moet hulle lewe eerder versier met al die goeie dinge wat hulle vir ander mense doen. Dit maak hulle baie mooier as wat duur klere of mooi juwele dit ooit kan doen. ’n Vrou moet ook nie voor op die wa wees en iets anders wil wees as wat sy is nie. Sy moet in stilte gewillig wees om te leer. Ek wil nie hê dat vroue die mans se werk moet doen terwyl hulle besig is om die gemeente te leer nie. Hulle moenie probeer baasspeel oor die mans nie, maar eerder stil sit en luister. God het Adam eerste gemaak en daarna vir Eva. Satan het ook nie vir Adam in die strik ingelok nie, maar vir Eva. Hy het haar uitgevang en sy het toe iets gedoen waarvan God niks gehou het nie. Gelukkig vir haar vergoed sy weer daarvoor deur kinders te hê, mits sy natuurlik op God bly vertrou. Sy moet God ook liefhê en net vir Hom lewe.
1 TIMOTEUS 2:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Eerstens spoor ek jou aan om vir alle mense te bid met smeking, voorbidding en danksegging. Bid só vir konings en alle ander in gesagsposisies sodat ons in vrede en rustigheid, toewyding en eerbaarheid kan lewe. So is dit goed en aanneemlik vir God, ons Verlosser, want Hy wil dat almal verlos word en die waarheid verstaan. Want daar is net een God en een Middelaar wat God en mens kan versoen. Hy is die mens Christus Jesus. Hy het sy lewe gegee om vryheid vir elkeen te koop. Dit is die boodskap wat God aan die wêreld gegee het op die bestemde tyd. En ek is gekies – dit is die absolute waarheid – as ’n prediker en apostel om die nie-Joodse nasies te onderrig in geloof en waarheid. Waar julle ook al vergader, wil ek hê mans moet bid met hulle hande opgehef na God, vry van woede en twis. En ek wil hê vroue moet beskeie wees in hulle voorkoms. Hulle behoort ordentlike en paslike klere te dra en nie die aandag op hulleself te vestig deur die manier waarop hulle hulle hare tooi of goud of pêrels of duur klere dra nie. Want vroue wat aanspraak daarop maak om toegewy aan God te lewe behoort hulleself aantreklik te maak deur die goeie dinge wat hulle doen. Vroue behoort te luister en moet stil en onderdanig leer. Ek laat vroue nie toe om mans te onderrig of oor hulle gesag uit te oefen nie. Laat hulle eerder stilweg luister. Want God het Adam eerste gemaak en daarna Eva. En dit was die vrou, nie Adam nie, wat deur Satan verlei is, en sonde was die gevolg. Maar vroue sal gered word deur hulle rol as moeders te aanvaar en deur volhardend te leef in geloof, liefde, toewyding aan God en beskeidenheid.