1 TIMOTEUS 1:6-15

1 TIMOTEUS 1:6-15 Bybel vir almal (ABA)

Party mense het opgehou om dit te doen en nou hou hulle aan om dinge te praat wat niks beteken nie. Hulle wil vir ander mense leer wat die Wette van Moses sê. Hulle dink hulle weet alles, maar hulle verstaan self nie wat hulle sê nie en hulle verstaan ook nie die dinge waaroor hulle praat nie. Ons weet dat die Wette van Moses goed is as 'n mens dit reg gebruik soos 'n mens dit moet gebruik. Ons weet dat God nie die wette gegee het vir mense wat self doen wat die wette sê nie. Vir wie het God die wette gegee? Hy het dit gegee vir mense wat nie wil luister na die wette nie en wat opstandig is teen die wette. Hy het die wette gegee vir mense wat nie dink aan God nie en wat sondaars is, vir mense wat nie vir God aanbid of dien nie en wat wêreldse mense is, vir mense wat hulle ouers vermoor en vir ander moordenaars. God het die wette gegee vir mense wat onsedelik lewe, vir mans wat met mans onsedelike dinge doen, vir mense wat ander mense vang en hulle verkoop om slawe te wees, vir mense wat lieg en in die hof leuens vertel. Die wette is vir mense wat dinge doen wat verkeerd is, hulle doen niks wat 'n mens móét doen nie, hulle doen niks van die goeie dinge wat ons geleer het nie. Ons het dinge geleer wat pas by die goeie boodskap van God wat Koning is. Ons moet altyd vir God prys. God het die goeie boodskap vir my gegee om vir julle te bring. Ek sê dankie vir Christus Jesus, ons Here, want Hy het vir my die krag gegee om my werk te doen. Ek sê ook vir Hom dankie dat Hy gedink het ek sal doen wat Hy wil hê, dankie dat Hy vir my die werk gegee het om die goeie boodskap te bring. Voordat ek 'n gelowige geword het, het ek slegte dinge gesê van Christus, ek het die mense van sy kerk verdruk en beledig. Maar Christus was genadig vir my, omdat ek daardie dinge gedoen het toe ek nog nie in Hom geglo het nie, ek het nie geweet dat ek verkeerd doen nie. Ons Here was baie goed vir my. Hy het my laat glo in Hom, en Hy het my lief gemaak vir mense. Dit gebeur wanneer 'n mens aan Christus Jesus behoort. Wat ek nou wil sê, is waar, julle kan dit glo: Christus Jesus het na die wêreld gekom om sondaars te red. Ek is die grootste sondaar.

1 TIMOTEUS 1:6-15 Die Boodskap (DB)

Party mense vertrou nie meer op God nie, maar hou hulle eerder besig met ’n klomp gepraat wat eintlik g’n sin maak nie. Hulle wil so graag hê mense moet sê dat hulle kenners van die godsdienstige sake en wet is. Maar ongelukkig weet hulle glad nie waarvan hulle praat nie. Hulle praat asof hulle so baie weet, maar eintlik weet hulle niks. God se wet is goed, dit weet ons. ’n Mens moet dit net reg gebruik. Die wet is eintlik nie bedoel vir mense wat leef soos God dit van hulle verwag nie. Dit is vir die ander mense bedoel. Ek praat van mense wat niks omgee vir God se wet of enige reëls nie; hulle steur hulle nie aan God nie en lê in die sonde rond; hulle maak die dinge van God belaglik; hulle het so min respek vir hulle ouers dat hulle niks daarvan dink om hulle dood te maak nie, wat nog te sê van ander mense. Die wet is daar vir mense wat hulle nie aan die reëls van die huwelik steur nie en allerhande perverse seksuele dinge doen. Dit geld ook vir mense wat nie respek vir ander mense het nie en hulle ontvoer of verkoop vir geld. Die wet is ook bedoel vir leuenaars wie se woord nie hulle eer is nie of vir mense wat nie meer doen wat hulle as Christene geleer is om te doen nie. Wat het hulle geleer? Hulle het die wonderlike boodskap geleer wat ek vir ander moes vertel. Dit gaan oor hoe groot en goed God is. Ek is Christus Jesus baie dankbaar dat Hy my vertrou en my gevra het om hierdie werk vir Hom te doen. Hy gee my ook die krag om dit te kan doen. Hy het my die werk gegee om te doen al het ek vroeër lelike dinge oor Hom gesê, sy volgelinge in die moeilikheid probeer bring en hulle selfs met geweld seergemaak. Maar God het my jammer gekry omdat ek nie geweet het wat ek doen nie, want ek het nog nie in God geglo nie. Die Here het my toe eenvoudig oorweldig met sy goedheid. By Hom het ek geleer om op Hom te vertrou en om ander lief te hê soos Hy my liefhet. Luister hierna, want niemand kan hieroor stry nie: Jesus Christus het na die wêreld toe gekom om mense wat verkeerd lewe, te help om weer God se vriende te word; ek weet, want as dit by ’n slegte lewe kom, het ek voor in die ry gestaan.

1 TIMOTEUS 1:6-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar sommige leermeesters het hiervan afgewyk en bestee hulle tyd aan argumente en verval in dwase praatjies. Hulle wil bekend wees as leermeesters van die wet van Moses, maar hulle verstaan nie wat hulle sê nie. Ons weet dat die wet goed is as ’n mens dit gebruik soos God dit bedoel het en besef die wet is nie soseer gemaak vir mense wat reg optree nie, maar eerder vir mense wat ongehoorsaam en opstandig is, wat teen God is en sondig, wat niks as heilig beskou nie en dit wat heilig is, besoedel; wat hulle vader of moeder of ander mense doodmaak. Die wet is vir mense wat seksueel immoreel is, vir seksuele perverte, vir slawehandelaars, vir leuenaars, eedbrekers en vir hulle wat enigiets anders doen wat die gesonde leer weerspreek – dié leer wat ooreenstem met die heerlike Goeie Nuus wat aan my toevertrou is deur ons goeie God. Hoe dankbaar is ek teenoor Christus Jesus ons Here. Hy het my krag gegee en betroubaar geag om my in sy diens te stel, selfs al het ek voorheen die Naam van Christus belaster. Ek het sy mense vervolg en hulle mishandel. Maar God het sy genade aan my bewys omdat ek dit uit onkunde en ongeloof gedoen het. Hoe oorvloedig was die onverdiende goedheid van ons Here nie en hoe het Hy my nie oorlaai met geloof en met die liefde wat ons deel word wanneer ons aan Christus Jesus verbind word nie. Dit is ’n betroubare boodskap, een wat verdien om ten volle aanvaar te word: Christus Jesus het in die wêreld gekom om sondaars te red, en ek was die ergste van hulle almal.