1 TIMOTEUS 1:16-20
1 TIMOTEUS 1:16-20 Bybel vir almal (ABA)
Maar Christus Jesus was baie goed vir my. Ek was die grootste sondaar, maar Hy het vir my gewys dat Hy baie geduldig is. Daarom het ek 'n voorbeeld geword vir ander mense, mense wat ook in Hom kan glo en die ewige lewe kan kry. Ek bid dat die mense altyd vir God sal eer en prys, God wat altyd Koning is en wat altyd lewe. Ons sien nie vir God nie, net Hy is God. Amen. Timoteus, jy is vir my soos my eie kind. Profete het voorheen gesê wat met jou sal gebeur. Daarom sê ek ook nou vir jou wat jy moet doen sodat jy soos 'n goeie soldaat kan aanhou veg. Jy moet aanhou glo en jy moet onthou wat is reg en wat is verkeerd. Party mense wou dit nie onthou nie en hulle het opgehou glo, hulle geloof was soos wanneer 'n skip stukkend stamp op die rotse en sink. Twee van hierdie mense is Himeneus en Aleksander. Ek het hulle vir die Satan gegee sodat hulle kan leer om nie verkeerd te praat oor God nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar daarom is aan my barmhartigheid bewys, dat Jesus Christus in my as die vernaamste al sy lankmoedigheid sou betoon, om 'n voorbeeld te wees vir die wat in Hom sal glo tot die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen. Hierdie boodskap vertrou ek aan jou toe, my kind Timótheüs, ooreenkomstig die profesieë wat vroeër aangaande jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry en aan die geloof en 'n goeie gewete vashou. Sommige het dit van hulle weggestoot en aan die geloof skipbreuk gely, onder wie daar is Himenéüs en Alexander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar juis daarom was God my genadig sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy verdraagsaamheid sou betoon en ek 'n voorbeeld kon wees vir almal wat in die toekoms in Hom sou glo om die ewige lewe te verkry. Aan Hom wat vir ewig Koning is, die onverganklike, onsienlike, enigste God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen. Hierdie opdrag gee ek aan jou, Timoteus, my kind, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is. Met hierdie woorde in gedagte, moet jy die goeie stryd stry. Hou vas aan die geloof en behou 'n goeie gewete. Omdat sommige hulle gewete onderdruk het, het hulle geloof skipbreuk gely. Onder hulle is daar Himeneus en Aleksander, wat ek aan die Satan oorgegee het, sodat hulle daardeur kan leer om God nie te laster nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek is juis om hierdie rede begenadig, sodat Christus Jesus aan my, as die grootste sondaar, al sy geduld kon betoon, as voorbeeld vir hulle wat in Hom sou glo met die oog op die ewige lewe. Aan die Koning van die eeue, die onsterflike, onsienlike, enigste God kom toe eer en heerlikheid vir ewig en ewig. •Amen. Hierdie opdrag vertrou ek aan jou toe, my kind Timoteus, in ooreenstemming met die profesieë wat vroeër oor jou uitgespreek is, sodat jy daardeur die goeie stryd kan stry, met geloof en 'n goeie gewete – iets wat sommige mense versaak het, waardeur hulle geloof skipbreuk gely het. Onder hulle is Himeneus en Aleksander, wat ek aan Satan oorgegee het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar daarom het ek barmhartigheid verkry, dat Jesus Christus in my eerstens alle lankmoedigheid kon betoon, as 'n voorbeeld vir die wat hierna in Hom sou glo tot die ewige lewe. Nou aan die Koning, die ewige, onsterflike, onsigbare, die enigste wyse God, kom toe eer en heerlikheid tot in alle ewigheid. Amen. Hierdie opdrag dra ek aan jou toe, seun Timoteus, volgens die profesieë wat aan jou voorafgegaan het, sodat jy daardeur 'n goeie oorlog kan voer; Met geloof en 'n goeie gewete; wat sommige vanweë die geloof weggedoen het, skipbreuk gebring het. Van wie is Himeneus en Alexander; wat Ek aan die Satan oorgelewer het, sodat hulle kan leer om nie te laster nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Die Boodskap (DB)
Juis daarom was Jesus so goed vir my. Slegter as wat ek was, kan niemand wees nie, maar so het Jesus duidelik gewys dat Hy nie moed verloor met selfs die slegstes onder ons nie. Ons moet dit onthou as voorbeeld vir almal wat Jesus nog gaan teëkom en wat dan vir ewig saam met God gaan lewe omdat hulle op Jesus vertrou. Laat ons nooit ophou om die enigste God groot te maak en vir almal te vertel hoe wonderlik Hy is nie. Hy is ons Heerser vir altyd; niemand kan Hom sien nie en Hy gaan ook nie dood nie. So is dit en so sal dit bly. Timoteus, my seun, laat ek vir jou verduidelik wat ek wil hê jy moet doen. God het mos ’n profesie gegee oor wat jy aan party mense in die gemeente gaan doen. Hulle het dit vir die gemeente vertel. As jy dit doen, sal jy ’n wenner wees. Moenie iets doen waaroor jy sleg sal voel nie en vertrou Jesus Christus. Party mense wou niks weet van hierdie dinge nie en verkeerde dinge het hulle later nie meer gepla nie. Daarom is daar ook niks van hulle Christenskap oor nie en hulle vertrou ook nie meer op Jesus nie. Dis die pad wat mense soos Himeneus en Aleksander geloop het. Daarom het ek hulle verbied om in die gemeente te kom. Hulle moet uitvind hoe dit is om sonder die Here klaar te kom sodat hulle kan leer om nie lelike dinge oor God te sê nie.
1 TIMOTEUS 1:16-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar juis daartoe was God my genadig dat Christus Jesus aan my, die ergste sondaar van almal, God se groot geduld kon illustreer en my as voorbeeld kon gebruik vir hulle wat nog sal glo en só die ewige lewe sal ontvang. Aan die ewige Koning, die onsterflike, onsigbare, enigste God, die eer en die heerlikheid vir ewig en altyd. Amen. Timoteus, my kind, hiermee gee ek my opdrag aan jou, gegrond op die profetiese woorde wat voorheen oor jou uitgespreek is. Mag daardie woorde jou die selfvertroue gee om goed te veg in die Here se veldslae. Hou styf vas aan jou geloof, en hou altyd jou ge-wete skoon. Want sommige mense het opsetlik hulle gewete eenkant gestoot en as gevolg daarvan het hulle geloof skipbreuk gely. Himeneus en Aleksander is twee voorbeelde hiervan. Ek het hulle aan Satan oorgegee sodat hulle sal leer om God nie te belaster nie.