1 TESSALONISENSE 4:9-18
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Bybel vir almal (ABA)
Dit is nie nodig dat óns vir julle skryf dat julle lief moet wees vir mekaar nie, want God self het vir julle geleer dat julle lief moet wees vir mekaar. Ons weet julle is lief vir al die gelowiges in die hele provinsie Masedonië. Maar, vriende, ons vra weer baie mooi, julle moet dit nog beter doen. Julle moet ook probeer om stil en rustig te lewe. Julle moenie nuuskierig wees oor ander mense nie. En julle moet self hard werk, soos ons gesê het julle moet doen. Dan sal die mense buite die gemeente, die mense wat nie in Christus glo nie, julle respekteer. En julle sal ook alles kry wat julle nodig het. Vriende, ons wil graag hê dat julle moet weet wat sal gebeur met die gelowiges wat gesterf het. As julle dit weet, dan sal julle nie huil en treur soos die heidene wat niks het wat hulle kan hoop nie. Ons glo dat Jesus gesterf het en weer begin lewe het. Ons moet ook glo dat God die gelowiges wat gesterf het, na Jesus toe sal bring. Wat ons nou vir julle sê, het die Here Jesus vir ons gesê. Wanneer die Here Jesus weer kom, dan sal dit nie met ons wat nog lewe, beter gaan as met die mense wat klaar gesterf het nie. Wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hard roep en sê wat moet gebeur. 'n Groot engel sal hard roep, en die trompet van God sal blaas. Die Here Jesus self sal uit die hemel kom, en die mense wat gesterf het en wat in Christus glo, sal eerste weer lewe. Daarna sal God ons wegvat, ons wat nog lewe en wat oorgebly het op die aarde. Hy sal ons en die mense wat gesterf het en wat weer lewe, saam wegneem tot in die wolke. Dan sal ons die Here Jesus in die lug ontmoet, en so sal ons altyd by die Here Jesus wees. Julle moet hierdie dinge vir mekaar sê, sodat julle nie huil en treur nie.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Oor die broederliefde het julle nie nodig dat ons julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê; en julle doen dit ook aan al die broeders in die hele Macedónië; maar ons vermaan julle, broeders, om oorvloediger te wees en julle eer daarin te stel om rustig te lewe en julle eie sake te behartig en met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het, sodat julle welvoeglik kan wandel teenoor die wat buite is, en aan niks behoefte mag hê nie. MAAR, broeders, ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees met betrekking tot die ontslapenes nie, sodat julle nie treur soos die ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterwe en opgestaan het, dan sal God ook so die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Oor broederliefde hoef ons nie aan julle te skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En dit doen julle dan ook teenoor al die broers in die hele Masedonië. Ons versoek julle egter dringend, broers: Lê julle nog meer daarop toe. Laat dit vir julle 'n saak van eer wees om rustig te lewe, julle met julle eie sake besig te hou en self in julle lewensonderhoud te voorsien, soos ons dit aan julle voorgehou het. Dan sal julle eerbare leefwyse die agting van die mense buite die gemeente afdwing, en julle sal van niemand afhanklik wees nie. Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem. Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Oor die broederliefde is dit nie nodig dat ek vir julle skryf nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. Julle het inderdaad ook al die broers in die hele Macedonië lief. Maar ons moedig julle aan, broers, om dit nog meer te doen, en dit vir julle 'n saak van eer te maak om rustig te wees, julle met julle eie sake te bemoei, en met julle eie hande te werk, soos ons julle opdrag gegee het. Sodoende sal julle eerbaar kan leef in die oë van die buitestanders en van niemand afhanklik wees nie. Broers, ons wil nie hê dat julle onkundig moet wees oor diegene wat ontslaap het nie, sodat julle nie treur soos die ander mense wat nie hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf het en opgestaan het – God sal ook so diegene wat gesterf het, deur Jesus met Hom saamneem. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel, en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in •Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees. Bemoedig mekaar dan met hierdie woorde.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar wat die broederliefde betref, het julle nie nodig dat ek aan julle skrywe nie, want julle is self deur God geleer om mekaar lief te hê. En julle doen dit aan al die broeders wat in die hele Macedónië is; maar ons smeek julle, broeders, dat julle meer en meer moet vermeerder; En dat julle studeer om stil te bly en om julle eie sake te doen en om met julle eie hande te werk, soos ons julle beveel het; sodat julle eerlik kan wandel teenoor die wat buite is, en julle aan niks ontbreek nie. Maar ek wil nie hê dat julle onkundig moet wees nie, broeders, aangaande die ontslapenes, sodat julle nie treur soos ander wat geen hoop het nie. Want as ons glo dat Jesus gesterf en opgestaan het, so sal God ook die wat in Jesus ontslaap het, saam met Hom bring. Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot die wederkoms van die Here die ontslapenes nie sal keer nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Dan sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees. Troos mekaar daarom met hierdie woorde.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Die Boodskap (DB)
Ek het nie nodig om nog iets te sê oor hoe julle mekaar as gelowiges moet liefhê nie. God self het julle geleer hoe om mekaar lief te hê. Ek weet julle is regtig lief vir al die gelowiges daar in die provinsie Masedonië. Maar, my liewe broers en susters, ek vra julle baie ernstig, gee asseblief nog meer vir ander gelowiges om. Leef op so ’n manier dat ander mense vir julle respek sal hê. Leef rustig en sorg self vir julle gesin. Verdien julle geld deur self daarvoor te werk. Ek het hierdie dinge vir julle gesê toe ek by julle was. As julle dit doen, sal ander mense wat nie aan die kerk behoort nie, ook respek vir julle hê. Boonop sal julle dan ook genoeg hê om van te leef sodat julle niemand in die oë hoef te kyk nie. My broers en susters, ek wil nie hê julle moet vrae hê oor wat gaan gebeur met dié gelowiges wat reeds dood is op daardie dag wanneer Christus terugkom na die wêreld toe nie. Moenie so hartseer wees soos ongelowiges wat geen hoop het wanneer hulle geliefdes doodgaan nie. Ons glo mos dat Jesus aan die kruis dood is en dat Hy daarna uit die dood opgestaan het. Net so sal God almal wat voor hulle dood in Jesus geglo het, saam met Hom bring wanneer Hy weer na ons toe kom. Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie. Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly. Vertel hierdie goeie nuus vir ander gelowiges en moedig mekaar aan om dit te glo.
1 TESSALONISENSE 4:9-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek hoef nie vir julle te skryf oor die liefde wat ons vir mekaar moet hê nie, want julle is deur God self geleer om mekaar lief te hê. Julle tree inderdaad so teenoor alle medegelowiges in Masedonië op. Nogtans spoor ons julle aan, broers en susters: Lê julle nog meer daarop toe en laat dit vir julle ’n saak van eer wees om rustig te lewe, met julle eie sake besig te wees en met julle eie hande te werk. Hierdie riglyne het ons al vroeër aan julle gegee sodat die buitestanders agting vir julle leefstyl sal kry, en julle in geen opsig gebrek sal ly nie. Broers en susters, ons wil nie hê dat julle in onkunde sal verkeer oor die dooies nie. Dan sal julle nie soos die ander mense treur sonder ’n toekomsvooruitsig nie. Want aangesien ons glo dat Jesus gesterf én opgestaan het, moet ons ook glo dat God die dooies wat in Jesus geglo het, saam met Jesus sal terugbring. Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees. Troos mekaar dan met hierdie woorde.