1 TESSALONISENSE 4:2-8
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Bybel vir almal (ABA)
Julle weet wat ons alles vir julle gesê het om te doen. Dit is dinge wat die Here Jesus vir ons gesê het. God wil hê julle moet lewe soos mense wat aan Hom behoort. Julle moenie julle liggame gebruik om onsedelik te lewe nie. God wil hê elke man moet weet dat hy saam met sy vrou moet lewe soos God wil hê, en elke man moet sy vrou respekteer. Julle moenie doen soos die heidene wat nie vir God ken nie. Daardie mans gebruik hulle vroue net vir seks. God wil ook hê gelowiges moenie sonde doen teen mekaar nie. Die een man moenie 'n ander man se vrou wil hê en haar vir homself vat nie. Die Here sal hierdie soort sonde straf. Ons het dit voorheen vir julle gesê en ons het julle ernstig gewaarsku. God het ons gekies om aan Hom te behoort, daarom moet ons lewe soos Hy wil hê, ons moenie onsedelik lewe nie. Daarom, iemand wat nie luister na wat ons vir julle leer nie, is ongehoorsaam aan God wat sy Heilige Gees vir julle gee, hy is nie ongehoorsaam aan mense nie.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want julle weet watter bevele ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God: julle heiligmaking; dat julle jul moet onthou van die hoerery; dat elkeen van julle moet weet om sy eie vrou te verkry in heiligheid en eer, nie in hartstogtelike begeerlikheid soos die heidene wat God nie ken nie; dat niemand sy broeder in hierdie saak moet bedrieg en benadeel nie, omdat die Here 'n wreker is oor al hierdie dinge, soos ons aan julle ook vantevore gesê en betuig het. Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Daarom, hy wat dit verwerp, verwerp nie 'n mens nie, maar God wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle ken die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle oorgedra het. Dit is die wil van God dat julle heilig moet lewe. Weerhou julle van onsedelikheid. Elkeen van julle moet weet dat hy met sy vrou heilig en eerbaar moet saamlewe; julle moenie deur hartstog en begeerte gedrywe word soos die heidene wat vir God nie ken nie. Ook mag niemand hom in hierdie verband te buite gaan en sy broer bedrieg nie, want die Here straf al sulke dinge. So het ons julle trouens al vroeër gewaarsku; ons het julle nadruklik hierop gewys. God het ons nie geroep om onsedelik te lewe nie, maar om heilig te lewe. Wie hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie maar net 'n mens nie, hy verwerp God wat ook sy Heilige Gees aan julle gegee het.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle weet tog watter voorskrifte ons vir julle gegee het deur die Here Jesus. Want dit is God se wil dat julle heilig moet leef: dat julle julle sal weerhou van onsedelikheid, dat elkeen sal weet hoe om sy eie vrou op 'n heilige en eerbare wyse te verkry, nie uit wellustige begeerte soos die heidene wat God nie ken nie, en dat hy nie sal oortree, en sy broer in dié saak bedrieg nie. Want, soos ons tevore vir julle gesê en nadruklik bevestig het: die Here vergeld al hierdie dinge. God het ons tog nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligheid. Daarom dan: die een wat dit verontagsaam, verontagsaam nie 'n mens nie, maar God, wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want julle weet watter gebooie ons julle deur die Here Jesus gegee het. Want dit is die wil van God, ja, julle heiligmaking, dat julle jul moet onthou van hoerery: dat elkeen van julle moet weet hoe om sy voorwerp in heiligmaking en eer te besit; Nie in die begeerlikheid van begeerlikheid nie, net soos die heidene wat God nie ken nie. Dat niemand verder gaan en sy broer in enige saak bedrieg nie, want die Here is die wraak van al hierdie dinge, soos ons julle ook vooraf gewaarsku en getuig het. Want God het ons nie tot onreinheid geroep nie, maar tot heiligmaking. Wie dus verag, verag nie die mens nie, maar God, wat ook sy Heilige Gees aan ons gegee het.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Die Boodskap (DB)
Julle onthou wat ek alles vir julle geleer het. Dit kom direk van die Here Jesus af. Daarom moet julle dit asseblief ook doen. God wil hê julle moet julle lewe voltyds aan Hom wy. Moenie deel hê aan enige seksuele sondes wat teen God se wil indruis nie. Julle en julle huweliksmaats is eksklusief aan mekaar gegee. Behandel mekaar met groot respek. Julle huwelik moet so kosbaar wees dat daar geen tyd of plek vir verkeerde seksuele begeertes in julle lewe is nie. Ongelowiges wat hulle nie aan God steur nie, vang al daardie vieslike dinge aan. Ek waarsku julle, moenie julle aan verkeerde seksuele gedrag skuldig maak nie. Onder geen omstandighede mag julle ’n skelm verhouding met ’n ander gelowige se huweliksmaat hê nie. Onthou, die Here sien dit raak. Hy straf sulke sondes. God gee glad nie aan ons die reg om seksueel losbandig te leef nie. Inteendeel, ons hele lewe moet wys dat ons nou aan Hom behoort. Mense wat hulle nie steur aan wat ek sê nie, maak ’n bespotting van God wat sy Heilige Gees aan julle gegee het.
1 TESSALONISENSE 4:2-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle onthou mos nog die voorskrifte wat ons op gesag van die Here Jesus aan julle gegee het. Dis God se wil dat julle aan Hom toegewy moet lewe. Weerhou julle van seksuele sondes. Elkeen van julle moet weet hoe om op te tree wanneer julle ’n vrou soek. Tree op soos mense wat aan God behoort en wat sy eer soek. Moenie uit seksuele drange ’n vrou soek soos die ongelowiges wat God nie ken nie. Niemand moet in hierdie opsig sy medegelowige benadeel of misbruik nie, want die Here wreek al sulke dinge. So het ons ook vroeër vir julle gesê en julle ernstig gewaarsku. God het ons mos nie geroep tot ’n onrein lewe nie. Hy het ons geroep om onsself al hoe meer aan Hom toe te wy. Iemand wat hierdie voorskrifte verwerp, verwerp dus nie ’n mens nie, maar God wat sy Heilige Gees aan julle gee!