1 TESSALONISENSE 4:15-17
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Bybel vir almal (ABA)
Wat ons nou vir julle sê, het die Here Jesus vir ons gesê. Wanneer die Here Jesus weer kom, dan sal dit nie met ons wat nog lewe, beter gaan as met die mense wat klaar gesterf het nie. Wanneer die Here Jesus kom, dan sal Hy hard roep en sê wat moet gebeur. 'n Groot engel sal hard roep, en die trompet van God sal blaas. Die Here Jesus self sal uit die hemel kom, en die mense wat gesterf het en wat in Christus glo, sal eerste weer lewe. Daarna sal God ons wegvat, ons wat nog lewe en wat oorgebly het op die aarde. Hy sal ons en die mense wat gesterf het en wat weer lewe, saam wegneem tot in die wolke. Dan sal ons die Here Jesus in die lug ontmoet, en so sal ons altyd by die Here Jesus wees.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot by die wederkoms van die Here, die ontslapenes hoegenaamd nie sal vóór wees nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met geklank van die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die trompet van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here: Ons wat lewe, wat agtergebly het tot die koms van die Here, sal beslis nie diegene wat gesterf het, voor wees nie. Want die Here self sal met 'n luide bevel, met die stem van 'n aartsengel, en met 'n trompetgeskal van God, uit die hemel afkom, en diegene wat in •Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Daarna sal ons wat lewe en oorgebly het, saam met hulle in die wolke opgeneem word om die Here in die lug te ontmoet. En so sal ons altyd by die Here wees.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want dit sê ons vir julle deur die woord van die Here, dat ons wat in die lewe oorbly tot die wederkoms van die Here die ontslapenes nie sal keer nie. Want die Here self sal van die hemel neerdaal met 'n geroep, met die stem van 'n aartsengel en met die basuin van God; en die wat in Christus gesterf het, sal eerste opstaan. Dan sal ons wat in die lewe oorbly, saam met hulle in die wolke weggevoer word die Here tegemoet in die lug; en so sal ons altyd by die Here wees.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Die Boodskap (DB)
Die Here het gesê dat ons wat nog lewe op daardie dag wanneer die Here terugkom, glad nie belangriker of beter daaraan toe sal wees as die gelowiges wat reeds dood is nie. Wanneer God beveel dat die laaste dag aanbreek, sal die heel belangrikste engel in die hemel skielik kliphard uitroep. God se hemelse trompet sal ook begin blaas. Terwyl dit gebeur, sal die Here na die aarde toe kom. Al die Christene wat reeds dood is, sal lewendig word. Dan sal ons wat nog lewe saam met hierdie gelowiges weggeneem word op die wolke. Ons almal sal die Here in die lug ontmoet. Daarna sal ons almal vir altyd by die Here bly.
1 TESSALONISENSE 4:15-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wat ons nou vir julle gaan sê, is ’n uitspraak van die Here: Ons wat bly lewe tot wanneer die Here terugkeer, het glad nie ’n voorsprong bo dié wat dan al gesterf het nie. Wat eerste gaan gebeur, is dat die Here self uit die hemel sal neerdaal en dat die dooies wat aan Christus behoort, sal opstaan. Dit sal gebeur wanneer die hoofengel ’n bevel gee en God se trompet weerklink. Daarna sal ons wat bly lewe het, saam met hulle op wolke die lug in weggevoer word om die Here te ontmoet en vir altyd by Hom te wees.