1 TESSALONISENSE 2:1-8

1 TESSALONISENSE 2:1-8 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, julle weet baie goed dat ons werk by julle nie misluk het nie. Julle weet ook dat ons eers in die stad Filippi baie swaar gekry het voordat ons na julle toe gekom het. Die mense daar het slegte dinge gedoen aan ons. Ook in die stad Tessalonika was daar mense wat ons probeer keer het, maar God het ons gehelp om aan te hou om die goeie boodskap van God vir julle te bring. Ons het vir julle geleer wat julle moet doen en ons het dit gedoen soos mense wat weet wat die waarheid is. Ons wou ook nie vir onsself iets kry of vir julle bedrieg nie. Nee, God het ons eers baie goed getoets voordat Hy die goeie boodskap vir ons gegee het om dit vir julle te bring. Daarom, wanneer ons met julle praat, dan probeer ons nie om dinge te sê wat mense wil hê nie. Nee, ons probeer net sê wat God wil hê, want dit is God wat ons harte toets. Julle weet baie goed: Ons het nooit probeer om vir julle mooi dinge te sê net sodat julle gelukkig moet voel nie. Ons het ook nie gemaak of ons baie goed is sodat julle vir ons geld moet gee nie. God weet ek praat die waarheid. Ons wou ook nie hê mense moet ons prys nie. Julle moet ons nie prys nie, en ander mense moet ons ook nie prys nie. Ons is apostels van Christus en daarom mag ons gesê het dat julle vir ons moet sorg. Maar ons het dit nie gesê nie. Ons was soos kindertjies toe ons by julle was, ons het niks gevra nie. Nee, dit was óns wat vir júlle gesorg het, soos 'n vrou vir haar baba sorg. Ons het baie verlang om by julle te wees, daarom het ons besluit om God se goeie boodskap vir julle te bring. En nie net dit nie, ons wou ook onsself vir julle gee, want ons het baie lief geword vir julle.

1 TESSALONISENSE 2:1-8 Die Boodskap (DB)

My liewe broers en susters, julle weet self dat my besoek daar by julle goed afgeloop het. Baie mense het tot bekering gekom toe hulle die goeie nuus gehoor het. Net voor ek en my helpers daar na julle toe gekom het, was ons eers in die stad Filippi. Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef. Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie. Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is. Ons sal nooit dinge sê om by mense gewild te probeer wees nie. Julle weet dit al teen dié tyd. Ons probeer ook nie op skelm maniere geld maak uit die evangelie nie. God is ons getuie. Hy ken ons harte. Ook soek ons nie na die erkenning van mense nie, nie julle s’n nie en ook nie ander mense s’n nie. Natuurlik kon ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou. Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel. Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe. Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ’n liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed. Ek gee ontsettend baie om vir julle almal. Daarom was dit vir my ’n groot voorreg om die goeie nuus wat direk van God af kom, met julle elkeen te deel. Weet julle, ek sou selfs my eie lewe vir julle opgeoffer het omdat ek julle met my hele hart liefhet.