1 TESSALONISENSE 2:1-20
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle weet tog self, broers, dat ons koms na julle toe nie op 'n mislukking uitgeloop het nie. Inteendeel, al is ons kort tevore in Filippi beledig en mishandel, soos julle weet, het ons God ons die moed gegee om sy evangelie aan julle te verkondig ondanks felle teenkanting. Ons prediking berus immers nie op dwaling nie, kom ook nie voort uit onsuiwer beweegredes nie en is sonder enige bybedoelings. Nee, God het ons gekeur en die evangelie aan ons toevertrou, en so verkondig ons dit dan ook. Ons wil nie die guns van mense probeer wen nie, maar doen wat God verwag, Hy wat ons diepste gedagtes toets. Met vleitaal het ons ons nooit opgehou nie, soos julle trouens weet. Hebsug was nooit ons verborge motief nie; daarvan is God ons getuie. Ons het nooit daarna gestreef dat mense ons sou eer nie, of dit nou julle is of ander al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het. Ons was liefdevol en sag teenoor julle soos 'n ma wat haar kinders vertroetel. So geheg is ons aan julle dat ons nie net die evangelie van God aan julle gegee het nie, maar ook ons lewe vir julle sou wou gee, want ons het julle lief gekry. Julle onthou immers nog, broers, hoe ons geswoeg en gesweet het. Dag en nag het ons gewerk om nie vir enigeen van julle 'n las te wees terwyl ons die evangelie van God aan julle verkondig het nie. Julle, en ook God, is getuie van hoe suiwer, reg en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo. Net so weet julle ook hoe ons elkeen van julle behandel het: soos 'n pa sy kinders het ons julle elkeen bemoedig en aangespoor en dit op die hart gedruk om tot eer van God te lewe, Hy wat julle roep om in sy koninkryk in te gaan en so aan sy heerlikheid deel te hê. Ons dank God dan ook gedurig daarvoor dat julle die boodskap van God wat julle van ons gehoor het, ontvang en aangeneem het in die oortuiging dat dit nie mensewoorde is nie, maar die woord van God. En dit is ook inderdaad die woord van God, soos die uitwerking daarvan op julle wat glo, bewys. Broers, dit het met julle gegaan soos met die gemeentes van God in Judea, hulle wat aan Christus Jesus behoort: julle moes van julle volksgenote dieselfde behandeling verduur as wat die gelowiges in Judea onder die Jode moes ly. Dit is die Jode deur wie die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg is. Wat God wil, doen hulle nie, en hulle is vyandig teenoor alle mense; hulle probeer verhoed dat ons aan die heidene die boodskap bring waardeur hulle gered kan word. Die Jode het nog altyd gesondig, maar nou het hulle die maat van hulle sondes vol gemaak. Nou is dit klaar: die oordeel van God het hulle begin tref. Wat ons betref, broers, toe ons nog maar 'n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons so baie na julle verlang dat ons alles in ons vermoë gedoen het om julle weer te sien. Daarom wou ons weer na julle toe kom; ek, Paulus, het keer op keer probeer kom, maar die Satan het ons verhinder. Wie anders tog as julle is ons hoop en ons blydskap, die kroon op ons werk waarop ons trots sal wees wanneer ons met sy wederkoms voor die Here Jesus sal verskyn? Júlle is immers ons trots en ons blydskap!
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle weet tog, broers, dat ons besoek aan julle nie vergeefs was nie; maar alhoewel ons, soos julle weet, vroeër in Filippi gely het en beledig is, het ons vrymoedigheid in ons God gehad om julle van God se evangelie te vertel, al was dit te midde van baie teenstand. Want ons pleidooi is nie uit dwaling, nie uit onsuiwerheid en nie met bedrog nie; maar, soos ons deur God goedgekeur is, sodat die evangelie aan ons toevertrou kon word, so praat ons ook nie om mense tevrede te stel nie, maar God, Hy wat ons harte toets. Want, soos julle weet, het ons ons nog nooit met vleiery opgehou nie, en ook nie met valse motiewe van inhaligheid nie – God is ons getuie! Ook het ons nie die eer van mense gesoek nie, nóg van julle, nóg van ander, alhoewel ons as •apostels van •Christus eise kon stel. Maar ons het klein kindertjies in julle midde geword. Soos wanneer 'n moeder haar eie kinders voed en koester, en omdat ons op hierdie wyse na julle verlang, so het ons dit goedgedink om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar selfs ook ons eie lewens – omdat julle vir ons geliefd geword het. Julle onthou tog ons moeite en harde werk, broers; terwyl ons bedags en snags gewerk het, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en ook God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons geword het vir julle wat glo. Net so weet julle ook hoe ons vir elkeen van julle soos 'n vader vir sy eie kinders was, terwyl ons julle vermaan en bemoedig, en aanspoor om 'n lewe te lei wat dié God waardig is wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het. En daarom dank ons God onophoudelik dat julle, nadat julle die woord van God van ons ontvang het, dit nie as 'n woord van mense aanvaar het nie, maar waarlik as die Woord van God – dié Woord wat werksaam is in julle wat glo. Want julle, broers, het die voorbeeld gevolg van die •gemeentes van God in Christus Jesus wat in Judea is, omdat julle dieselfde dinge onder julle eie mense gely het as hulle onder die Judeërs, hulle wat die Here Jesus en die profete doodgemaak, en ons ernstig vervolg het, wat God nie tevrede stel nie, en vyandig teenoor alle mense is, en wat ons verhinder om met die heidene te praat, sodat hulle verlos kan word. So het die Jode se sondes in elke opsig hulle volle maat bereik, en die oordeel het uiteindelik oor hulle gekom! Maar, broers, aangesien ons vir 'n kort tydjie van julle geskei is – in persoon, maar nie in ons harte nie – het ons werklik met groot verlange alles in ons vermoë gedoen om julle van aangesig tot aangesig te sien. Daarom wou ons na julle kom – ek, Paulus, weer en weer – maar Satan het ons verhinder. Want watter hoop of vreugde of kroon van roem, behalwe juis julle, sal daar vir ons by die Here Jesus wees wanneer Hy kom? Want julle is ons eer en vreugde!
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle weet self, broers en susters, dat ons besoek aan julle nie tevergeefs was nie. Ondanks die mishandeling en beledigings wat ons, soos julle weet, vroeër in Filippi moes verduur, het ons vertroue op ons God ons moed gegee om te midde van sterk teenkanting sy Goeie Nuus aan julle te verkondig. Ons prediking destyds het immers nie uit misleiding, onsuiwer motiewe of bedrog voortgevloei nie. Nee, ons praat omdat God ons gekeur het. Hy het die Goeie Nuus aan ons toevertrou. Ons doel is nie om mense tevrede te stel nie, maar God. Hy ondersoek die motiewe van ons harte. Julle weet dat ons nie destyds besig was met ’n gevleiery of ’n skelm geldmakery nie. God is ons getuie! Ons het ook nie by mense eer gesoek nie; nie by julle nie en ook nie by ander mense nie. Al kon ons as apostels van Christus allerhande eise aan julle gestel het, was ons soos babatjies teenoor julle. Of soos ’n ma wat haar eie kinders aan haar laat drink, só het ons oor julle gevoel. Ons was heeltemal bereid om nie net God se Goeie Nuus met julle te deel nie, maar ook ons eie lewe, want ons het julle liefgekry. Broers en susters, julle onthou mos nog hoe hard ons gewerk en geswoeg het. Terwyl ons dag en nag gewerk het om nie vir enigeen van julle ’n las te wees nie, het ons God se Goeie Nuus aan julle verkondig. Julle én God is getuies van hoe toegewyd, opreg en onberispelik ons in ons optrede was teenoor julle wat glo. Julle weet ook hoe ons – soos ’n pa met sy eie kinders maak – julle elkeen aangespoor en aangemoedig het om tot eer van God te lewe. Hy roep julle om deel te hê aan sy koningsheerskappy en heerlikheid. Verder sal ons God aanhou dank dat julle sy woord, wat julle by ons gehoor het, aangeneem het nie as mensewoorde nie, maar soos dit werklik is, as Gód se woord. Dié woord is aan die werk in julle wat glo. Broers en susters, julle het navolgers geword van God se gemeentes in Judea – dit wil sê die Christene daar. Julle het net so swaar onder julle volksgenote gely as wat hulle onder die Jode gely het. Die Jode het die Here Jesus en die profete doodgemaak en ons vervolg. Verder stel hulle God nie tevrede nie, ja, hulle is gekant teen alle mense deur te probeer keer dat ons aan die nie-Joodse nasies vertel hoe om verlos te word. Deur dit te doen, is hulle gedurig besig om hulle sondes meer te maak. God se oordeel het egter nou uiteindelik oor hulle gekom. Broers en susters, nadat ons ’n kort rukkie van julle geskei was – wel uit die oog, maar nie uit die hart nie – het ons hard probeer om julle persoonlik weer te sien omdat ons baie na julle verlang. Ons wóú dus na julle toe kom – ek, Paulus, meer as een keer – maar Satan het ons gekeer. Immers, as ons met Jesus ons Here se terugkeer voor Hom moet staan, wie sal ons vooruitsig of blydskap of erekrans wees, as dit nie julle is nie? Júlle is mos ons eer en ons blydskap!
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, julle weet baie goed dat ons werk by julle nie misluk het nie. Julle weet ook dat ons eers in die stad Filippi baie swaar gekry het voordat ons na julle toe gekom het. Die mense daar het slegte dinge gedoen aan ons. Ook in die stad Tessalonika was daar mense wat ons probeer keer het, maar God het ons gehelp om aan te hou om die goeie boodskap van God vir julle te bring. Ons het vir julle geleer wat julle moet doen en ons het dit gedoen soos mense wat weet wat die waarheid is. Ons wou ook nie vir onsself iets kry of vir julle bedrieg nie. Nee, God het ons eers baie goed getoets voordat Hy die goeie boodskap vir ons gegee het om dit vir julle te bring. Daarom, wanneer ons met julle praat, dan probeer ons nie om dinge te sê wat mense wil hê nie. Nee, ons probeer net sê wat God wil hê, want dit is God wat ons harte toets. Julle weet baie goed: Ons het nooit probeer om vir julle mooi dinge te sê net sodat julle gelukkig moet voel nie. Ons het ook nie gemaak of ons baie goed is sodat julle vir ons geld moet gee nie. God weet ek praat die waarheid. Ons wou ook nie hê mense moet ons prys nie. Julle moet ons nie prys nie, en ander mense moet ons ook nie prys nie. Ons is apostels van Christus en daarom mag ons gesê het dat julle vir ons moet sorg. Maar ons het dit nie gesê nie. Ons was soos kindertjies toe ons by julle was, ons het niks gevra nie. Nee, dit was óns wat vir júlle gesorg het, soos 'n vrou vir haar baba sorg. Ons het baie verlang om by julle te wees, daarom het ons besluit om God se goeie boodskap vir julle te bring. En nie net dit nie, ons wou ook onsself vir julle gee, want ons het baie lief geword vir julle. Vriende, onthou julle hoe hard ons gewerk en gesweet het toe ons by julle was? Ons het elke dag en nag gewerk om self te betaal vir ons kos en slaapplek, ons wou vir niemand van julle vra om vir ons te sorg nie. So het ons God se goeie boodskap vir julle gebring. Julle weet en God weet ook dat ons baie hard gewerk het vir julle wat glo. Ons het net aan julle gedink. Niemand kan ons beskuldig nie. Julle weet goed dat ons vir elkeen van julle lief was soos 'n pa lief is vir sy kinders. Ons het met julle gepraat soos 'n pa met sy kinders praat. Ons het gesê julle moenie moedeloos word nie, julle moet aanhou probeer. Ons het gesoebat dat julle so moet lewe dat God tevrede sal wees met julle. Want dit is Hý wat vir julle gekies het, Hy wil julle Koning wees en oor julle regeer. Daarom sê ons ook vir God altyd dankie dat julle geglo het wat ons vir julle gesê het. Julle het geglo dat God dit gesê het, nie mense nie. En die dinge wat God gesê het, werk nou ook in julle wat glo. Vriende, dieselfde dinge gebeur met julle soos wat gebeur het met die gemeentes van God in die provinsie Judea, hulle is mense wat ook in Christus Jesus glo. Julle het ook swaargekry soos hulle. Julle eie mense het julle laat swaarkry, soos die Jode die gemeentes in Judea laat swaarkry het. Dit is die Jóde wat die Here Jesus doodgemaak het. Hulle het die profete laat swaarkry en ook vir ons. Die Jode doen nie wat God wil hê nie, en hulle is téén al die mense. Hulle keer ons wanneer ons vir die heidene die boodskap wil bring sodat God die heidene kan red. So het die Jode se sondes meer en meer geword, hulle het baie baie skuldig geword. En nou het God hulle begin straf. Vriende, ons is nou 'n kort tydjie nie by julle nie. Ons voel soos kinders wat nie ouers het nie. Julle kan ons nie sien nie, maar in ons harte dink ons aan julle. Ons het regtig baie hard probeer om by julle te kom, ons het baie verlang om julle weer te sien. Ja, ons wou regtig na julle toe kom. Ek, Paulus, het self meer as een maal probeer om te kom, maar die Satan het ons gekeer. Julle moenie luister na wat ander mense sê nie. Dit is net julle en die ander gelowiges wat ons laat hoop, ons kan bly wees oor julle. Wat sal ons kry vir die werk wat ons gedoen het? Wat sal ons vir die Here Jesus kan wys wanneer Hy weer kom? Ons sal net julle en die ander gelowiges vir Hom kan wys. Júlle is die mense op wie ons trots sal wees, ons sal bly wees oor julle.
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
JULLE weet tog self, broeders, dat ons ingang by julle nie tevergeefs was nie; maar alhoewel ons vantevore, soos julle weet, in Filíppi gely het en mishandel is, het ons in onse God vrymoedigheid gehad om aan julle die evangelie van God te verkondig onder veel stryd. Want ons vermaning was nie uit dwaling of uit onsuiwerheid of uit bedrog nie; maar soos ons deur God waardig geag is dat die evangelie aan ons toevertrou sou word, so spreek ons, nie om mense te behaag nie, maar God wat ons harte beproef. Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie, al kon ons as apostels van Christus met gesag optree. Maar ons was vriendelik onder julle soos 'n pleegmoeder haar kinders koester. Terwyl ons so na julle verlang het, was dit ons aangenaam om aan julle nie alleen die evangelie van God mee te deel nie, maar ook ons eie lewe, omdat julle vir ons dierbaar geword het. Julle onthou tog, broeders, ons arbeid en inspanning; want terwyl ons nag en dag gewerk het om niemand van julle te beswaar nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het teenoor julle wat glo, hoe ons, soos julle weet, net soos 'n vader sy kinders, elkeen van julle vermaan en bemoedig het en betuig het dat julle waardiglik moet wandel voor God wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid roep. Daarom dank ons God ook sonder ophou dat, toe julle die woord van God ontvang het wat deur ons verkondig is, julle dit aangeneem het nie as die woord van mense nie, maar, soos dit waarlik is, as die woord van God wat ook werk in julle wat glo. Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Christus Jesus is in Judéa, omdat julle ook dieselfde dinge gely het van julle eie stamgenote net soos hulle van die Jode, wat ook die Here Jesus en hulle eie profete gedood en ons vervolg het en God nie behaag nie en teen alle mense gekant is, deurdat hulle ons verhinder om tot die heidene te spreek dat hulle gered kan word, sodat hulle die maat van hulle sondes gedurig vol kan maak. Maar die toorn het oor hulle gekom tot die einde toe. MAAR nadat ons, broeders, 'n kort tydjie van julle geskeie was — in persoon, nie met die hart nie — het ons met groot verlange ons des te meer beywer om julle aangesig te sien. Daarom wou ons na julle toe kom, ek Paulus, meer as een maal; maar die Satan het ons verhinder. Want wie anders as julle is ons hoop of blydskap of kroon van roem in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy wederkoms? Want julle is ons eer en blydskap.
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Broeders, julle weet self da tons ingang tot julle nie tevergeefs was nie. Maar ook daarna het ons in Filippi gely en skandelik gesmeek, soos julle weet, ons het in onse God vrymoedigheid gehad om met groot twis tot julle die evangelie van God te verkondig. Want ons vermaning was nie uit bedrog of onreinheid of uit bedrog nie; Maar soos ons deur God toegelaat is om met die evangelie vertrou te word, so spreek ons; nie as behaaglike mense nie, maar God wat ons harte beproef. Want ons het ook nooit vleiende woorde gebruik, soos julle weet nie, of 'n dekmantel van hebsug nie; God is getuie: Ook nie van mense het ons eer gesoek nie, nie van julle of nog van ander nie, terwyl ons as apostels van Christus swaar kon gewees het. Maar ons was sag onder julle, soos 'n verpleegster haar kinders koester. Omdat ons dus liefdevol na julle verlang het, was ons gewillig om nie net die evangelie van God aan julle mee te deel nie, maar ook ons eie siele, omdat julle vir ons dierbaar was. Want julle dink, broeders, aan ons arbeid en ons moeitevolle arbeid: omdat ons dag en nag gewerk het, omdat ons niemand van julle verskuldig sou wees nie, het ons die evangelie van God aan julle verkondig. Julle is getuies, en ook God, hoe heilig en regverdig en onberispelik ons ons gedra het onder julle wat glo: Soos julle weet hoe ons elkeen van julle vermaan en vertroos en besweer het, soos 'n vader sy kinders doen, dat julle sou wandel waardig God, wat julle tot sy koninkryk en heerlikheid geroep het. Daarom dank ons God ook sonder ophou, want toe julle die woord van God ontvang het wat julle van ons gehoor het, het julle dit nie as die woord van mense ontvang nie, maar soos dit in waarheid is, die woord van God wat kragtig werk. Ook in julle wat glo. Want julle, broeders, het navolgers geword van die gemeentes van God wat in Judéa in Christus Jesus is; wat die Here Jesus sowel as hulle eie profete doodgemaak en ons vervolg het; en hulle behaag God nie en is in stryd met alle mense. Wat ons verbied om met die heidene te spreek dat hulle gered kan word, om altyd hulle sondes vol te maak, want die toorn het tot die uiterste oor hulle gekom. Maar ons, broeders, wat vir 'n kort tydjie van julle weggeneem is in die teenwoordigheid, nie in die hart nie, het des te meer probeer om julle aangesig met groot begeerte te sien. Daarom sou ons na julle toe gekom het, ek Paulus, keer op keer; maar Satan het ons verhinder. Want wat is ons hoop of vreugde of kroon van blydskap? Is julle ook nie in die teenwoordigheid van onse Here Jesus Christus by sy koms nie? Want julle is ons heerlikheid en blydskap.
1 TESSALONISENSE 2:1-20 Die Boodskap (DB)
My liewe broers en susters, julle weet self dat my besoek daar by julle goed afgeloop het. Baie mense het tot bekering gekom toe hulle die goeie nuus gehoor het. Net voor ek en my helpers daar na julle toe gekom het, was ons eers in die stad Filippi. Ongelowige mense het ons daar verskriklik sleggesê en mishandel, maar dit het ons glad nie ondergekry nie. God het ons geloof sterk gemaak. Daarom was ons nie bang om na julle toe te gaan nie. Tog was dit nie so maklik om die goeie nuus in julle stad te preek nie. Die mense het ons baie swaar laat leef. Ons het aanhou preek en vir die mense gesê om te glo. Ons het nie ons prediking skielik afgewater of verdraai om onsself te pas nie. Ons het nie geheime agendas nie. Nee, God self het ons uitgesoek vir hierdie wonderlike roeping. Hy het die evangelie in ons hande toevertrou. Ons sê daarom net wat Hy vir ons sê. Ons probeer nie om in mense se goeie boekies te wees nie. Ons doen net wat God van ons verwag. Hy weet wat die diepste motiewe van ons hart is. Ons sal nooit dinge sê om by mense gewild te probeer wees nie. Julle weet dit al teen dié tyd. Ons probeer ook nie op skelm maniere geld maak uit die evangelie nie. God is ons getuie. Hy ken ons harte. Ook soek ons nie na die erkenning van mense nie, nie julle s’n nie en ook nie ander mense s’n nie. Natuurlik kon ek my gesag daar by julle misbruik het as ek regtig wou. Ek is immers deur Christus self as sy apostel aangestel. Maar ek was glad nie kwaai met julle nie. Allesbehalwe. Ek het julle vertroetel en mooi versorg, net soos ’n liefdevolle mamma wat haar kindertjies borsvoed. Ek gee ontsettend baie om vir julle almal. Daarom was dit vir my ’n groot voorreg om die goeie nuus wat direk van God af kom, met julle elkeen te deel. Weet julle, ek sou selfs my eie lewe vir julle opgeoffer het omdat ek julle met my hele hart liefhet. Julle onthou seker nog hoe hard ek daar by julle geswoeg en gesweet het. Tussen al my preke deur het ek my eie inkomste verdien. Ek het dit gedoen omdat ek nie ’n finansiële las op julle skouers wou laai terwyl ek die goeie nuus oor God aan julle bekendmaak nie. Julle weet dat nie ek of een van my helpers ’n voet verkeerd gesit het daar by julle nie. God weet dit ook. Ons het alles gedoen wat Hy van ons verwag. Ons het nie een van julle sleg behandel nie. Soos ’n pa wat mooi met sy kinders praat en hulle aanmoedig om die regte dinge te doen, het ons mooi met julle almal gepraat. Ons het by julle gepleit om God te verheerlik deur alles wat julle doen en sê. Hy self het julle uitgesoek om deel te wees van sy hemelse koninkryk en om te deel in sy heerlikheid. Ek kan nie ophou om vir God dankie te sê oor julle nie. Toe julle begin glo het wat ons vir julle oor God vertel het, het julle nie slegs ’n paar menslike opinies oor God aanvaar nie. Nee, julle het die lewende God se woord aangeneem. En julle is reg, want dit is regtig die woord van God. Hy self werk nou in julle almal wat glo. My broers en susters, julle weet teen hierdie tyd ook van die gemeentes van God daar in Judea. Net soos julle behoort hulle ook aan Jesus Christus. En, net soos hulle daar in Judea onder die Jode moes ly as gevolg van hulle geloof, ly julle nou ook onder julle eie volksgenote. Daardie Jode wat die kerk nou so vervolg, het ons Here Jesus en God se boodskappers doodgemaak. Hulle tree teen God se wil op. Ja, hulle is niks minder nie as vyande van die mensdom. Hulle het hulle bes gedoen om my te probeer keer om die goeie nuus aan mense uit ander volke te preek sodat hulle ook gered kon word. Daardeur het hulle hulle eie graf gegrawe. Hulle beker loop oor van sonde! Daarom het God se oordeel hulle reeds begin tref. My liewe broers en susters, ons was skaars weg daar by julle, toe begin ek al na julle verlang. Julle was die hele tyd in my gedagtes. Later het ek so baie aan julle gedink dat ek besluit het ek moet julle eenvoudig weer sien. Ek het toe begin planne maak om weer in Tessalonika uit te kom. Weet julle, ek het hard probeer om na julle toe te kom, maar Satan het elke keer ’n stokkie voor my planne gesteek. Ek is verskriklik trots op julle, want ek weet julle is op pad na God se nuwe wêreld. Op daardie dag wanneer ons Here Jesus terugkeer, sal my hart oorloop van blydskap as ons voor Hom staan. Julle sal die bewys wees dat ek my werk vir die Here goed gedoen het. Dan sal ek nie my kop in skaamte hoef te laat sak nie. Ek sal trots vir Christus kan sê dat julle voluit vir Hom geleef het. Ek kan nie genoeg vir julle sê hoe bly ek oor julle almal is nie.