1 TESSALONISENSE 1:1-10
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Die Boodskap (DB)
Van Paulus en Silvanus en Timoteus. Ons groet julle almal daar in die kerk in Tessalonika. Julle ken God as Vader en julle glo in die Here Jesus Christus. Mag julle elke dag God se goedheid beleef. En mag julle ook sy vrede in julle lewe ervaar. Elke keer wanneer ek met God oor julle elkeen praat, is daar net een woord op my lippe: Dankie! Ek vertel oor en oor vir God ons Vader hoe julle julle geloof uitleef in alles wat julle doen. Julle liefde vir ander mense vra baie groot opofferings van julle. En julle hou ook onverskrokke vas aan ons Here Jesus Christus se beloftes dat Hy terugkom. My broers en susters, julle doen al dié wonderlike dinge omdat God julle baie liefhet. Hy het julle uitgekies om sy kinders te wees. Die goeie nuus oor Christus wat ons daar by julle gepreek het, was nie maar net ’n klompie mooi woorde nie. Nee, die Heilige Gees het ons prediking kragtig in julle lewens gebruik. Hyself het julle oortuig om in Christus te glo. Julle onthou nog baie goed hoe ons daar by julle opgetree het. Julle weet mos dit het net oor julle redding gegaan, oor niks anders nie! Julle het gou-gou ons voorbeeld begin volg. Daarom is julle nou, net soos ons, volgelinge van die Here. Ek weet dit was glad nie vir julle maklik om Christene te word nie. Onder baie moeilike omstandighede het julle begin glo. Tog het julle die goeie nuus met groot blydskap aanvaar. Dit is net die Heilige Gees wat sulke blydskap in ’n mens se lewe kan bring. Julle is ’n voorbeeld vir al die ander Christene in die Romeinse provinsies Masedonië en Agaje, want van julle af is die woord van die Here oral in dié twee provinsies versprei. Ja, nie net daar nie, maar sommer op baie ander plekke het ander mense gehoor van julle geloof in God. Ek het nie genoeg woorde om vir julle te sê hoe bly ek hieroor is nie! Oral waar ek kom, praat die mense oor hoe hartlik julle ons ontvang het. Hulle vertel vir ons dat julle al julle dooie afgode laat staan het om die lewende en enigste ware God te dien. Die mense vertel ook dat julle baie uitsien na die dag dat Jesus uit die hemel na ons toe sal terugkeer. Jesus is God se eie Seun. God self het Hom uit die dood laat opstaan. Net Jesus kan ons red van die oordeel van God op die laaste dag.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Paulus, saam met Silvanus en Timoteus, skryf hierdie brief vir julle in Tessalonika, die gemeente wat behoort aan God die Vader en aan die Here Jesus Christus. Ons groet julle. Ons bid dat God genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle sy vrede sal gee. Wanneer ons bid, dan dink ons aan julle almal en dan sê ons vir God dankie. Ja, wanneer ons tot ons God en Vader bid, dan onthou ons altyd wat julle alles doen omdat julle in Christus glo. Ons onthou ook hoe hard julle werk omdat julle lief is vir Christus, en ons onthou hoe julle aanhou hoop en weet dat ons Here Jesus Christus weer sal kom. Ja, julle wag dat Hy sal kom. Vriende, God is lief vir julle, en ons weet dat God julle gekies het om aan Hom te behoort. Ons weet dit, want julle het die goeie boodskap by ons gehoor, en nog meer, julle het ook die wonderwerke gesien wat die Heilige Gees gedoen het. En julle het vas geglo dat alles wat ons doen en sê, die waarheid is. Julle weet ook hoe ons saam met julle gelewe het. Ons het dit gedoen sodat julle kon sien hoe gelowiges moet lewe. Julle het geleer om soos ons en die Here te lewe, want party mense het julle laat swaarkry toe julle die goeie boodskap begin glo het. Maar die Heilige Gees het aangehou om julle baie bly te maak. So het julle vir al die gelowiges in die provinsies Masedonië en Agaje gewys hoe hulle moet lewe. Julle het so gelewe, daarom het die boodskap van die Here verder gegaan na Masedonië, en ook na Agaje en al die plekke waar mense gehoor het dat julle in God glo. Ons het toe ook nie vir hulle baie vertel van die boodskap van die Here nie, dit was nie nodig nie. Hierdie mense vertel vir almal dat julle gesê het ons is welkom by julle. Hulle vertel ook dat julle die afgode gelos het en begin doen het wat God wil hê. So het julle begin om die God wat lewe, die ware God, te dien. Julle wag ook dat God se Seun moet terugkom uit die hemel, God het die Seun weer laat lewe. Die Seun is Jesus, Hy sal ons red wanneer God eendag die mense sal oordeel.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
PAULUS en Silvánus en Timótheüs aan die gemeente van die Thessalonicense wat in God die Vader en die Here Jesus Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus! ONS dank God altyd oor julle almal as ons aan julle dink in ons gebede en onophoudelik in gedagte hou die werk van julle geloof en die arbeid van julle liefde en die lydsaamheid van julle hoop op onse Here Jesus Christus, voor onse God en Vader, omdat ons weet van julle verkiesing, broeders wat deur God bemin word. Want ons evangelie het tot julle nie gekom in woord alleen nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in volle versekerdheid, soos julle weet hoedanig ons onder julle om julle ontwil gewees het. En julle het navolgers van ons geword en van die Here deurdat julle die woord in baie verdrukking ontvang het met die blydskap van die Heilige Gees, sodat julle voorbeelde geword het vir al die gelowiges in Macedónië en Acháje. Want van julle uit het die woord van die Here weerklink nie alleen in Macedónië en Acháje nie, maar ook op elke plek het julle geloof in God uitgegaan, sodat ons nie nodig het om daar iets van te sê nie. Want hulle vertel self aangaande ons watter ingang ons by julle gehad het en hoe julle jul van die afgode bekeer het tot God, om die lewende en waaragtige God te dien en sy Seun uit die hemele te verwag, wat Hy uit die dode opgewek het, Jesus wat ons van die toekomstige toorn verlos.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Van Paulus, Silvanus en Timoteus. Aan die gemeente van die Tessalonisense, wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle! Ons dank God altyd vir julle almal wanneer ons in ons gebede aan julle dink. Sonder ophou bring ons dan voor God ons Vader in herinnering die werk van julle geloof, die inspanning van julle liefde en die volharding van julle hoop op ons Here Jesus Christus. Broers, ons weet dat God julle wat Hy liefhet, uitverkies het, want die evangelie wat ons aan julle verkondig het, het nie bloot met woorde tot julle gekom nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en met volle oortuiging. Julle weet trouens hoe ons by julle opgetree het, en dít om julle ontwil. En julle het ons voorbeeld gevolg en volgelinge van die Here geword. In baie moeilike omstandighede het julle die woord aangeneem met 'n blydskap wat van die Heilige Gees kom. So het julle 'n voorbeeld geword vir al die gelowiges in Masedonië en in Agaje. Van julle af is die woord van die Here in Masedonië en in Agaje verkondig, en oral het die mense gehoor van julle geloof in God, sodat dit nie vir ons nodig is om nog iets daaroor te sê nie. Die mense vertel self hoe julle ons ontvang het en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het en nou die lewende en ware God dien en dat julle sy Seun wat Hy uit die dood opgewek het, uit die hemel verwag, Jesus deur wie ons gered word van die oordeel wat kom.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Paulus, Silvanus en Timoteus, aan die •gemeente van die Thessalonisense, in God die Vader en die Here Jesus •Christus: Genade vir julle en vrede. Ons dank God altyd oor julle almal wanneer ons aan julle dink in ons gebede. Voor God ons Vader onthou ons onophoudelik die uitwerking van julle geloof, die moeitevolle inspanning van julle liefde, en die standvastigheid van julle hoop op ons Here Jesus Christus. Broers, julle vir wie God liefhet, ons weet van julle verkiesing; want ons evangelie het nie alleen deur die woord nie, maar ook met krag en deur die Heilige Gees en in volle versekering na julle gekom. Net so weet julle hoe ons optrede by julle was: tot julle voordeel. En julle het ons voorbeeld gevolg en dié van die Here, nadat julle die woord, ten spyte van groot verdrukking, met blydskap van die Heilige Gees ontvang het, met die gevolg dat julle 'n voorbeeld vir al die gelowiges in Macedonië en Agaje geword het. Die woord van die Here het immers van julle af, nie net in Macedonië en Agaje weerklink nie – julle geloof in God het inderdaad na elke plek versprei. Gevolglik het ons nie nodig om meer iets daaroor te sê nie. Hulle self vertel oor ons van die besondere ontvangs wat ons by julle gekry het: Hoe julle omgedraai het na God, weg van die afgode, om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun wat Hy uit die dode opgewek het, uit die hemel te bly verwag – Jesus, wat ons red uit die oordeel wat kom.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Paulus en Silvanus en Timoteus aan die gemeente van die Tessalonisense wat in God die Vader en in die Here Jesus Christus is: Genade vir julle en vrede van God onse Vader en die Here Jesus Christus. Ons dank God altyd vir julle almal en maak van julle melding in ons gebede; Dink onophoudelik aan julle werk van geloof en arbeid van liefde en lydsaamheid van hoop op onse Here Jesus Christus, voor God en ons Vader; Omdat julle weet, geliefdes broeders, julle verkiesing van God. Want ons evangelie het tot julle gekom nie alleen in woord nie, maar ook in krag en in die Heilige Gees en in baie versekering; soos julle weet watter soort manne ons onder julle was om julle ontwil. En julle het navolgers van ons en van die Here geword, nadat julle die woord in baie verdrukking ontvang het, met blydskap van die Heilige Gees. Sodat julle voorbeelde was van almal wat in Masedonië en Achaje glo. Want uit julle het die woord van die Here geblaas, nie alleen in Masedonië en Achaje nie, maar ook oral is julle geloof in God uitgebrei; sodat ons niks hoef te praat nie. Want hulle het self aan ons te kenne gegee watter manier van ingaan ons by julle gehad het, en hoe julle julle van die afgode tot God bekeer het om die lewende en ware God te dien; En om te wag op sy Seun uit die hemel, wat Hy uit die dode opgewek het, naamlik Jesus, wat ons van die toekomstige toorn verlos het.
1 TESSALONISENSE 1:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hierdie brief kom van Paulus, Silvanus en Timoteus. Ons skryf aan die gemeente in Tessalonika wat aan God die Vader en die Here Jesus Christus behoort. Genade en vrede vir julle. Wanneer ons bid, dank ons God altyd vir almal van julle. Ons onthou voortdurend hoe julle geloof dade word, hoe hard julle liefde julle laat werk en hoe julle aanhou hoop op ons Here Jesus Christus. In ons gebede noem ons hierdie dinge voor God ons Vader. God het julle lief, broers en susters. Ons weet dat Hy julle uitgekies het, want die Goeie Nuus wat ons gebring het, het tot julle gekom, nie net met woorde nie, maar ook deur die krag van die Heilige Gees en met groot oortuiging. Julle weet mos hoe voorbeeldig ons optrede by julle was, en dít ter wille van julle. Julle het mense geword wat ons voorbeeld – en ook die Here s’n – volg, toe julle onder baie moeilike omstandighede die woord aangeneem het met ’n blydskap wat van die Heilige Gees kom. Hierdeur het julle op julle beurt ’n voorbeeld vir al die gelowiges in Masedonië en Agaje geword, want van julle af het die Here se boodskap nie net in Masedonië en Agaje weerklink nie, nee, óral het julle geloof in God bekend geword! Die gevolg is dat óns eintlik niks hoef te sê nie, want die mense praat self oor hoe positief julle ons ontvang het en hoe julle van die afgode af weggedraai het na God toe om die lewende en ware God te dien, en om sy Seun uit die hemel te verwag. Hierdie Seun is Jesus wat God uit die dood opgewek het. Dit is Hý wat ons verlos van die oordeel wat kom.