1 SAMUEL 9:1-24

1 SAMUEL 9:1-24 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, en hy was 'n seun van Abiël seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet en 'n ryk man. Hy het 'n seun gehad met die naam Saul en dié was sterk en mooi; onder die Israeliete was daar niemand mooier as hy nie. Hy was 'n kop langer as enige van sy volksgenote. Toe daar op 'n keer donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak het, het hy vir sy seun Saul gesê: “Vat een van die slawe saam, maak klaar en gaan soek die donkies.” Hulle het die Efraimsberge deurkruis; hulle het die Salisastreek ook deurkruis, maar niks gekry nie. Hulle het die Saälimgebied deurkruis, maar daar was niks. Hulle het toe die Jeministreek deurkruis en ook niks gekry nie. Toe hulle in die Sufgebied kom, het Saul vir die slaaf by hom gesê: “Kom ons gaan terug, anders vergeet my pa van die donkies en raak bekommerd oor ons.” Die slaaf sê toe vir Saul: “Nee, wag! In hierdie stad is 'n man van God. Dié man geniet hoë aansien. Alles wat hy sê, gebeur net so. Kom ons gaan soontoe. Dalk kan hy vir ons sê waar om te soek.” Saul sê toe vir sy slaaf: “Nou goed, kom ons gaan, maar wat sal ons vir die man saamvat? Die brood in ons sakke is al op. Ons het ook nie 'n geskenk om vir die man van God te gee nie. Wat het ons?” Die slaaf het vir Saul geantwoord: “Wag! Ek het 'n drie gram silwer by my. Ek sal dit aan die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waar om te soek.” Vroeër, wanneer iemand gegaan het om God te raadpleeg, is daar in Israel gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Die profeet van vandag is vroeër siener genoem. Saul het vir sy slaaf gesê: “Dis 'n goeie plan. Kom ons gaan.” Hulle het na die stad toe gegaan waar die man van God was. Terwyl hulle die opdraand na die stad toe opgaan, het hulle meisies teëgekom wat gaan water skep het, en vir hulle gevra: “Is die siener hier?” Hulle het geantwoord: “Hy is daar in die stad voor u. Maak gou! Hy het vandag na hierdie stad toe gekom, want die volk bring vandag 'n offer op die hoogte. Wanneer julle die stad binnegaan, sal julle hom kry net voor hy na die hoogte toe opgaan om te eet. Die mense eet nie voor hy gekom het nie, want hy moet die offer seën. Daarna eet die genooides. Gaan dadelik, want julle sal hom nou daar kry.” Hulle is na die stad toe en toe hulle die stad ingaan, kom Samuel juis in hulle rigting om na die hoogte toe op te gaan. 'n Dag voor die koms van Saul het die Here vertroulik aan Samuel geopenbaar: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die gebied van Benjamin na jou toe stuur. Jy moet hom tot regeerder oor my volk Israel salf. Hy sal my volk red uit die mag van die Filistyne, want Ek het op my volk ag geslaan. Ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Net toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir hom gesê: “Dit is die man van wie Ek jou gesê het hy sal oor my volk regeer.” Saul het vir Samuel in die poort teëgekom en vir hom gesê: “Sê my asseblief waar is die huis van die siener.” Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Gaan saam met my na die hoogte toe. Julle moet vandag saam met my gaan eet. Môreoggend sal ek jou laat gaan. Oor alles wat jou kwel, sal ek jou inlig. Jou donkies is vandag al drie dae weg. Jy moet jou egter nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gekry. Maar aan wie behoort die kosbaarste goed in die hele Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie?” En Saul antwoord: “Ek is maar net 'n Benjaminiet, uit die swakste stam van Israel. Boonop is my familie die kleinste in die stam Benjamin! Waarom praat u so met my?” Samuel het Saul en sy slaaf saamgevat en hulle na die eetplek toe gebring. Hy het hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was omtrent dertig man. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die deel wat ek aan jou gegee het en waarvan ek gesê het: Sit dit eenkant.” Die kok het die boud vleis gevat en voor Saul neergesit, en Samuel het vir hom gesê: “Dit is wat uitgehou is. Eet wat voor jou neergesit is, want vir hierdie geleentheid is dit vir jou gebêre toe ek die mense genooi het.” So het Saul dan daardie dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Die Boodskap (DB)

In die Benjaminstreek was daar ’n man met die naam Kis. Sy pa, Abiël, en dié se voorouers, Seror, Bekorat en Afiag, het aan die Benjaminstam behoort. Kis was ’n ryk man. Hy het ’n seun gehad met die naam Saul. Saul was ’n puik jong man. Daar was niemand soos hy onder al die Israeliete nie. Hy was ’n hele kop langer as die ander Israeliete. Toe Kis se donkiemerries op ’n keer wegraak, sê hy vir Saul: “Vat een van die werkers en gaan soek die donkies.” Saul en die werker het oral gesoek: in die bergland van Efraim en in die omgewing van Salisa, Saälim en Jemina. Hulle kon die donkies nêrens kry nie. Toe hulle tot in die omgewing van Suf gesoek het, sê Saul vir die werker wat by hom is: “Kom ons gaan maar terug huis toe, anders is my pa naderhand meer bekommerd oor ons as oor die donkies.” Maar die werker sê vir hom: “Weet u, ek hoor in hierdie dorp is daar ’n Godsman. Die mense het respek vir hom, want al sy woorde word waar. Kom ons gaan soontoe, miskien kan hy vir ons sê waar om te soek.” Saul sê vir die werker: “Ja, ons kan gaan, maar waarmee betaal ons die man? Die brood in ons sakke is gedaan. Ons het nie ’n geskenk by ons om vir die Godsman te gee nie. Wat anders het ons?” “Ek het hier nog ’n stukkie silwer,” antwoord die werker. “Ek sal dít vir die Godsman gee, dan kan hy vir ons sê waar om te soek.” (Vroeër het ’n mens in Israel, wanneer jy by God raad wou vra, gesê: “Kom ons gaan na die siener toe,” want vroeër is profete sieners genoem.) “Dis reg so,” sê Saul, “kom ons gaan.” So gaan hulle toe na die dorp toe waar die Godsman was. Terwyl hulle teen die bult opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat gaan water skep. Hulle vra hulle toe: “Is die siener hier?” “Ja,” antwoord die meisies. “Hy is net voor julle. Maar julle moet gou maak; hy het net vandag na ons dorp toe gekom, want die mense offer vandag by die offerplek. Nes julle die dorp ingaan, sal julle hom kry voor hy na die offerplek toe opgaan om saam met die mense die offervleis te eet. Die mense eet nie voor hy kom nie, want hy moet die offer seën. Eers dan eet die gaste. As julle nou dadelik gaan, sal julle hom kry.” Hulle gaan toe na die dorp toe, en net toe hulle op die dorpsplein kom, loop hulle vir Samuel, wat op pad is na die offerplek toe, raak. Die vorige dag al het die Here dit vir Samuel in die oor gefluister: “Môre, omtrent hierdie tyd, sal Ek ’n man na jou stuur uit die stamgebied van Benjamin. Salf hom as ’n leier vir my volk Israel. Hy sal my volk vrymaak van die mag van die Filistyne. Hulle het My gesmeek om hulle te help en Ek weet goed in watter moeilikheid hulle is.” Toe Samuel Saul sien, sê die Here vir hom: “Die man van wie Ek gesê het, ‘hy sal my volk regeer,’ dis hý daardie.” Daar op die dorpsplein vra Saul toe vir Samuel: “Kan u my dalk sê waar die siener tuis is?” “Ek is die siener,” antwoord Samuel. “Kom saam met my op na die offerplek en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend afsien, dan sal ek jou ’n geheim vertel. Oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het, hoef jy jou nie te bekommer nie, hulle is gekry. Maar wie is die belangrikste in Israel? Is dit nie jy en jou hele familie nie?” “Waarom sê u so iets vir my?” vra Saul. “Ek is maar net iemand van die Benjaminstam, die kleinste van die stamme van Israel, en my familie is die onbelangrikste van al die families van Benjamin.” Samuel vat toe vir Saul en sy werker saam na die saal toe en gee vir hulle die belangrikste plek tussen die sowat 30 gaste. Daarop sê Samuel vir die kok: “Bring vir my dié deel van die offervleis wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te hou.” Die kok bring toe die skenkel en sit dit voor Saul neer. “Dit het oorgebly,” sê Samuel. “Eet gerus, want dit is toe ek die mense genooi het, al spesiaal vir jou gebêre.” Saul het daardie dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Bybel vir almal (ABA)

Daar was 'n man van die Benjamin-stam. Sy naam was Kis, en hy was die seun van Abiël seun van Serur seun van Bekorat seun van Afiag. Hy was 'n belangrike man in die Benjamin-stam. Kis het 'n seun gehad, die seun se naam was Saul. Saul was 'n mooi jongman, niemand van die Israeliete was mooier as hy nie, en hy was 'n kop langer as al die ander Israeliete. Kis se donkies het weggeraak, en hy het vir sy seun Saul gesê: “Jy moet asseblief een van die slawe saam met jou neem en julle moet die donkies gaan soek.” Saul en die slaaf het by die Efraim-berge verbygegaan en toe verby die Salisa-distrik, maar hulle het nie die donkies gekry nie. Toe het hulle verby die Saälim-distrik en verby die Jemini-distrik gegaan, maar hulle het die donkies ook nie daar gekry nie. Toe hulle in die Suf-distrik kom, sê Saul vir die slaaf by hom: “Kom ons gaan terug, my pa sal vergeet van die donkies en hy sal bekommerd word oor ons.” Die slaaf het vir Saul gesê: “Nee wag, daar is 'n man van God in hierdie stad. Die mense respekteer hom baie, want alles wat hy sê, gebeur soos hy gesê het. Kom ons gaan na hom toe, miskien kan hy vir ons sê waar ons moet soek.” Toe sê Saul vir die slaaf: “Maar as ons gaan, wat kan ons vir die man saamneem? Want die brood in ons sakke is op. Wat het ons wat ons vir die man van God kan gee?” Die slaaf het geantwoord: “Ek het nog 'n kwart-sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man gee sodat hy vir ons kan sê waar ons moet soek.” Wanneer die mense in die volk Israel vir God iets wou vra, dan het hulle altyd gesê: “Kom ons gaan na die siener toe.” Hulle het die profete daardie tyd “sieners” genoem. Saul het vir die slaaf gesê: “Dit is goed, kom ons gaan.” Hulle het toe na die stad gegaan waar die man van God was. Terwyl hulle teen die heuwel opgaan na die stad, kry hulle meisies wat uitgaan om water te skep. Hulle het vir die meisies gevra: “Is die siener hier?” Die meisies het geantwoord: “Ja, hy is hier voor. Hy het vandag na die stad gekom, want die mense moet vandag 'n offer bring op die offer-plek. Julle moet gou maak. Wanneer julle by die stad kom, dan sal julle hom kry voordat hy na die offer-plek gaan om saam met die mense te gaan eet. Die mense eet nie voordat hy gekom het nie, want hý moet eers vir die Here dankie sê vir die offer-ete, en daarna eet die gaste. Maar julle moet nou gaan, dan sal julle hom daar kry.” Saul en die slaaf het toe na die stad gegaan, en toe hulle in die stad kom en begin rondkyk, kom Samuel daar aan om op te gaan na die offer-plek. Die dag voordat Saul gekom het, het die Here met Samuel gepraat en vir hom gesê: “Ek sal môre omtrent hierdie tyd 'n man na jou toe stuur uit die land Benjamin. Jy moet hom salf om koning te wees oor my volk Israel, sodat hy my volk kan red van die Filistyne. Want Ek het gesien hoe dit met my volk gaan, en Ek het gehoor toe hulle geskree het en gevra het dat Ek hulle moet help.” Toe Samuel vir Saul sien, het die Here vir Samuel gesê: “Hier is die man oor wie Ek met jou gepraat het. Dit is hý wat oor my volk sal regeer.” Samuel was in die poort en Saul het na hom toe gegaan. Saul het gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis.” Samuel sê toe vir Saul: “Ek is die siener. Jy moet voor my loop na die offer-plek. Julle moet vandag saam met my eet. Ek sal jou môre-oggend laat gaan, en ek sal dan alles vir jou sê wat jy wil weet. Jy moenie bekommerd wees oor die donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie. Die mense het hulle gekry. Maar al die Israeliete wag dat jy en jou familie hulle moet help.” Saul het vir Samuel gesê: “Ek is van die Benjamin-stam, die kleinste van die stamme van Israel, en my familie is minder belangrik as al die ander families in die Benjamin-stam. Hoekom sê jy hierdie dinge vir my?” Samuel het Saul en sy slaaf saamgeneem en hy het hulle in die eetplek gebring. Daar was omtrent 30 gaste, en Samuel het vir Saul en sy slaaf laat sit op die belangrikste plekke. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die vleis wat ek gesê het jy moet apart hou.” Die kok het die boud vleis gebring en hy het dit voor Samuel neergesit. Samuel het vir Saul gesê: “Kyk, ons het hierdie vleis apart gehou, ek sit dit voor jou neer. Jy moet dit eet, want ons het dit vir jou gebêre sodat jy dit vandag saam met die gaste kan eet.” Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN daar was 'n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abíël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afíag, 'n Benjaminiet, 'n vermoënde man. En hy het 'n seun gehad met die naam van Saul, 'n jongman en mooi gebou, ja, daar was onder die kinders van Israel geeneen mooier as hy nie: van sy skouers af boontoe was hy hoër as die hele volk. En toe die eselinne van Kis, die vader van Saul, weggeraak het, sê Kis aan sy seun Saul: Neem tog een van die dienaars met jou saam en maak jou klaar, gaan soek die esels. Hy het toe die gebergte van Efraim deurgegaan en die land Salísa deurgegaan, maar hulle nie gekry nie; en hulle het die land Sáälim deurgegaan, maar daar was niks nie; en hy het die land Benjamin deurgegaan, maar hulle het niks gekry nie. Toe hulle in die land Suf kom, sê Saul aan die dienaar wat by hom was: Kom, laat ons teruggaan; anders sien my vader van die esels af en word oor ons besorg. En hy antwoord hom: Maar kyk, in hierdie stad is 'n man van God, en die man is geëerd: alles wat hy spreek, kom sekerlik uit; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons inlig oor die tog wat ons onderneem het. Toe vra Saul vir sy dienaar: Sê nou ons gaan — wat sal ons die man aanbied? Want die brood in ons sakke is op, en 'n geskenk is hier nie om die man van God aan te bied nie; wat het ons? En die dienaar het Saul weer geantwoord en gesê: Kyk, ek het nog 'n kwart sikkel silwer by my; dit sal ek aan die man van God gee, dat hy ons kan inlig oor ons tog. Vroeër het die mense in Israel só gesê as hulle gaan om God te raadpleeg: Kom, laat ons na die siener gaan. Want die profeet van teenswoordig het hulle vroeër siener genoem. En Saul sê aan sy dienaar: Jou woord is goed; kom, laat ons gaan. Daarop gaan hulle na die stad waar die man van God was. Terwyl hulle die opdraand na die stad opgaan, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te put, en vra vir hulle: Is die siener hier? En dié antwoord hulle en sê: Daar is hy voor jou; maak nou gou, want vandag het hy in die stad gekom, omdat die volk vandag 'n offer op die hoogte het. As julle die stad ingaan, sal julle hom net aantref voordat hy opgaan na die hoogte om te eet; want die volk eet nie voordat hy kom nie, want hy seën die offer; daarna eet die genooides; gaan dan nou op, want julle sal hom nou juis aantref. En hulle het opgegaan na die stad. Toe hulle op die punt was om binne-in die stad te gaan, kom Samuel meteens uit hulle tegemoet om op te gaan na die hoogte. Want die HERE het dit een dag voor die koms van Saul aan Samuel geopenbaar en gesê: Môre sulke tyd sal Ek 'n man uit die land Benjamin na jou stuur wat jy moet salf as 'n vors oor my volk Israel; en hy sal my volk verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk aangesien, omdat sy geroep na My gekom het. Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom geantwoord: Hier is die man van wie Ek jou gesê het: Hy sal oor my volk heers. En Saul het nader gekom na Samuel binne-in die poort en gevra: Wys my tog waar die huis van die siener is? Daarop het Samuel Saul geantwoord en gesê: Ek is die siener! Gaan voor my uit op na die hoogte, dan kan julle vandag saam met my eet; en ek sal jou môre vroeg laat gaan; en alles wat in jou hart is, sal ek jou te kenne gee. En wat die esels betref wat jy vandag al drie dae gelede vermis het — bekommer jou daar nie oor nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al wat begeerlik is in Israel? Is dit nie aan jou en jou hele familie nie? En Saul antwoord en sê: Is ek nie 'n Benjaminiet, uit een van die kleinste van die stamme van Israel, en my geslag die geringste uit al die geslagte van die stam van Benjamin nie? Waarom spreek u dan so met my? Verder het Samuel Saul en sy dienaar geneem en hulle in die kamer gebring en hulle 'n plek gegee aan die hoof van die genooides, wat omtrent dertig man was. En Samuel het aan die kok gesê: Gee die stuk wat ek aan jou gegee het, waarvan ek vir jou gesê het: Sit dit by jou weg. Die kok dra toe die boud op met wat daaraan was, en sit dit voor Saul neer. En Samuel sê: Kyk, wat oorgebly het, is voor jou gesit; eet, want teen die bestemde tyd is dit vir jou bewaar toe ek gesê het: Ek nooi die volk. So het Saul dan dié dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daar was 'n man uit Benjamin. Sy naam was Kis, 'n seun van Abiël, seun van Seror, seun van Bekorat, seun van Afiag. Hy was 'n Benjaminiet, 'n vermoënde man. Hy het 'n seun gehad met die naam Saul, 'n mooi jong man. Onder die Israeliete was daar niemand aantrekliker as hy nie. Hy het kop en skouers uitgestaan bo die hele volk. Donkiemerries van Kis, Saul se vader, het soek geraak. Kis het vir sy seun Saul gesê: “Neem een van die handlangers saam met jou, maak self gereed en gaan soek die donkiemerries.” Hulle het oor die heuwelland van Efraim gegaan, ook deur die Salisastreek, maar niks gekry nie. Toe het hulle deur die Saälimstreek gegaan, maar ook daar was niks. Hulle het deur die landstreek van Benjamin gegaan, maar niks gekry nie. Toe hulle in die Sufstreek kom, het Saul vir die handlanger wat by hom was, gesê: “Kom ons gaan terug, anders bekommer my pa hom nie meer oor die donkies nie, maar raak besorg oor ons.” Die handlanger antwoord hom toe: “Kyk, in hierdie dorp is daar 'n man van God, en dié man word hoog geag. Alles wat hy sê, gebeur werklik. Kom ons gaan nou daarheen. Miskien kan hy vir ons die pad aandui waarop ons moet gaan.” Saul sê toe vir sy handlanger: “Kyk, as ons gaan, wat bied ons vir die man aan? Want die brood in ons sakke is gedaan. Hier is ook geen geskenk om vir die man van God aan te bied nie. Wat het ons?” Die handlanger het Saul weer geantwoord en gesê: “Kyk, ek het nog 'n kwart sikkel silwer by my. Ek sal dit vir die man van God gee, sodat hy vir ons die pad kan aandui.” Vroeër het die mense in Israel so gesê wanneer hulle gaan om God te raadpleeg: “Kom, laat ons na die siener gaan.” Want die profeet van vandag is vroeër “siener” genoem. Saul sê toe vir sy handlanger: “Jou voorstel is goed. Kom ons gaan.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was. Terwyl hulle oploop na die dorp, teen die opdraand uit, kom hulle meisies teë wat uitgaan om water te skep. Hulle vra toe vir hulle: “Is die siener hier?” Die meisies het hulle geantwoord en gesê: “Hy is. Kyk, daar voor u! Maak nou gou! Want hy het juis vandag na die dorp gekom, omdat daar vandag vir die volk 'n •maaltydoffer op die •offerhoogte is. Sodra u die dorp binnegaan, sal u hom teëkom voordat hy na die offerhoogte opgaan om te eet; want die mense eet nie voordat hy kom nie, omdat hy die een is wat die offer moet seën. Eers daarna eet die genooides. Gaan dan op, want u sal hom nou daar aantref.” Hulle het toe na die dorp opgegaan. Terwyl hulle die dorp binnegaan, kom Samuel juis in hulle rigting uit om na die offerhoogte op te gaan. Die HERE het dit 'n dag voor die koms van Saul aan Samuel bekend gemaak en gesê: “Môre teen hierdie tyd sal Ek 'n man uit die landstreek van Benjamin na jou stuur. Jy moet hom salf as 'n leier oor my volk Israel, sodat hy my volk kan verlos uit die hand van die Filistyne. Want Ek het my volk raakgesien, ja, hulle hulpgeroep het My bereik.” Toe Samuel vir Saul sien, het die HERE hom verseker: “Hier is die man van wie Ek vir jou gesê het, ‘Dit is hy wat oor my volk beheer sal uitoefen.’ ” Saul het Samuel in die dorpspoort genader en gevra: “Sê asseblief vir my waar is die siener se huis?” Daarop antwoord Samuel toe vir Saul en sê: “Ek is die siener. Gaan voor my op na die offerhoogte en eet vandag saam met my. Ek sal jou môreoggend wegsien en oor alles wat op jou hart druk, vir jou duidelikheid gee. Wat die donkiemerries betref waarna jy vandag drie dae lank al op soek is: Moet jou nie oor hulle bekommer nie, want hulle is gevind. Maar aan wie behoort al die kosbaarhede van Israel? Is dit nie aan jou en jou familie nie?” Saul het egter daarop gereageer en gesê: “Is ek nie maar net 'n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel, en is my familiegroep nie die kleinste van al die familiegroepe van die stam van Benjamin nie? Waarom sê u so iets vir my?” Samuel het toe Saul en sy handlanger geneem en hulle in die eetvertrek ingebring. Hy het aan hulle 'n ereplek onder die genooides gegee. Daar was ongeveer dertig man. Samuel het vir die kok gesê: “Bring die porsie vleis wat ek vir jou gegee het, en waarvan ek vir jou gesê het, ‘Hou dit by jou.’ ” Die kok het die skenkel en die vleis daaraan opgetel en dit voor Saul neergesit. Toe sê Samuel: “Kyk, wat uitgehou is, is voor jou neergesit. Eet dit, want dit is vir hierdie geleentheid vir jou gebêre, al vandat ek gesê het, ‘Ek nooi die volk uit.’ ” Saul het toe daardie dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En daar was 'n man van Benjamin met die naam van Kis, die seun van Abiël, die seun van Seror, die seun van Begorat, die seun van Afia, 'n Benjaminiet, 'n magtige man. En hy het 'n seun gehad met die naam van Saul, 'n uitgesoekte jongman en 'n mooi man; en daar was nie 'n mooier mens onder die kinders van Israel as hy nie; van sy skouers af en boontoe was hy hoër as al die mense. En die esels van Kis, die vader van Saul, het verlore gegaan. En Kis sê vir sy seun Saul: Neem tog een van die dienaars saam met jou en maak jou klaar, gaan soek die esels. En hy het deur die gebergte van Efraim getrek en deur die land Salisa getrek, maar hulle het hulle nie gevind nie; en hulle het deur die land Salim getrek, en daar was hulle nie; en hy het deur die land van die Benjaminiete getrek, maar hulle het hulle gekry nie. En toe hulle in die land Suf aankom, sê Saul aan sy dienaar wat by hom was: Kom, laat ons teruggaan; dat my vader nie ophou om die esels te versorg en vir ons nadink nie. En hy sê vir hom: Kyk tog, daar is in hierdie stad 'n man van God, en hy is 'n eerbare man; alles wat hy sê, gebeur sekerlik; laat ons nou daarheen gaan; miskien kan hy ons die pad wys wat ons moet gaan. Toe sê Saul vir sy dienaar: Maar kyk, as ons gaan, wat moet ons vir die man bring? want die brood is in ons voorwerpe op, en daar is geen geskenk om vir die man van God te bring nie. Wat het ons? En die dienaar het Saul weer geantwoord en gesê: Kyk, ek het hier byderhand die vierde deel van 'n sikkel silwer; dit sal ek aan die man van God gee om ons ons weg te vertel. (Voorheen in Israel, toe 'n man gegaan het om God te raadpleeg, so het hy gesê: Kom, laat ons na die siener gaan; want hy wat nou 'n profeet genoem word, is vroeër 'n Siener genoem.) Toe sê Saul vir sy dienaar: Goed gesê; kom, laat ons gaan. Hulle het toe na die stad gegaan waar die man van God was. En terwyl hulle teen die heuwel opgaan na die stad, kry hulle jongmeisies wat uitgaan om water te skep, en hulle sê vir hulle: Is die siener hier? En hulle het hulle geantwoord en gesê: Hy is; kyk, Hy is voor julle; maak gou, want Hy het vandag in die stad gekom; want daar is vandag 'n offer van die volk op die hoogte. Sodra julle in die stad ingaan, sal julle hom dadelik vind voordat hy na die hoogte opgaan om te eet; want die volk sal nie eet voordat hy kom nie, omdat hy die offer seën; en daarna eet hulle die genooides. Staan dan nou op; want omtrent hierdie tyd sal julle hom vind. En hulle het in die stad opgetrek, en toe hulle in die stad inkom, kom Samuel tegee hulle uit om na die hoogte op te gaan. En die HERE het Samuel in sy oor vertel, 'n dag voordat Saul gekom het, en gesê: Môre omtrent hierdie tyd sal Ek vir jou 'n man uit die land Benjamin stuur, en jy moet hom salf as owerste oor my volk Israel, dat hy my volk uit die hand van die Filistyne kan red; want Ek het dit gesien. En toe Samuel Saul sien, sê die HERE vir hom: Hier is die man van wie Ek met jou gespreek het! Hy sal oor my volk heers. Toe kom Saul na Samuel in die poort en sê: Vertel my tog waar die huis van die siener is. En Samuel het Saul geantwoord en gesê: Ek is die siener; trek voor my uit na die hoogte; want julle sal vandag saam met My eet, en môre sal Ek jou laat gaan en jou alles vertel wat in jou hart is. En wat jou esels betref wat drie dae gelede verlore gegaan het, moenie daarop let nie; want hulle is gevind. En op wie is al die begeerte van Israel? Is dit nie op jou en oor jou hele huis nie? En Saul het geantwoord en gesê: Is ek nie 'n Benjaminiet, uit die kleinste van die stamme van Israel nie? en my geslag die geringste van al die geslagte van die stam van Benjamin? waarom spreek jy dan so met my? En Samuel het Saul en sy dienaar geneem en hulle in die sitkamer gebring en hulle laat sit op die hoogste plek onder die genooides, omtrent dertig mense. Toe sê Samuel vir die kok: Bring die deel wat ek jou gegee het, waarvan ek vir jou gesê het: Sit dit by jou. En die kok het die skouer opgeneem en wat daarop was, en dit voor Saul neergesit. En Samuel sê: Kyk wat oor is! Sit dit voor jou neer en eet, want tot nou toe is dit vir jou bewaar vandat Ek gesê het: Ek het die volk genooi. So het Saul daardie dag saam met Samuel geëet.

1 SAMUEL 9:1-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daar was ’n welvarende man uit die stam van Benjamin. Sy naam was Kis. Hy was die seun van Abiël en kleinseun van Seror, uit die familie van Bekorat en die familiegroep van Afiag. Sy seun Saul was baie aantreklik, meer as enigiemand anders in Israel. Hy was van sy skouers af ’n kop langer as enigeen van sy volksgenote. Eendag het die donkies van Kis, Saul se pa, weggeraak. Hy sê toe vir Saul: “Vat een van die jong manne saam met jou en gaan soek na die donkies.” Hulle het oral in die Efraimsberge gesoek, in die Salisa-omgewing, die Saälimgebied en die hele Jeministreek. Hulle kon die donkies egter nêrens kry nie. Toe hulle die gebied van Suf binnegaan, sê Saul vir die jong man: “Kom ons gaan terug huis toe. Teen hierdie tyd sal my pa meer bekommerd wees oor ons as oor die donkies!” Maar die jong man sê: “Wag ’n bietjie, daar is ’n man van God in hierdie dorp. Hy word deur almal hoog geag omdat alles wat hy sê waar word. Laat ons eers na hom toe gaan. Dalk kan hy vir ons sê waar die donkies is.” “Ons kan gaan, maar hoe kan ons hom vergoed?” antwoord Saul. “Selfs ons kos is al op. Ons het niks om vir hom as geskenk te gee nie.” “Kyk,” sê die jong man. “Ek het nog hierdie drie gram silwer in my sak! Ek sal dit vir die man van God gee sodat hy vir ons kan sê waarheen om te gaan.” Destyds, wanneer mense ’n boodskap van God wou kry, is in Israel gesê: “Laat ons na die siener toe gaan.” Vandag se profete is toe sieners genoem. “Dis goed so,” stem Saul in, “kom ons probeer.” Hulle gaan toe na die dorp waar die man van God was. Terwyl hulle teen die steilte opgaan na die dorp toe, kom hulle meisies teë wat op pad was om water te gaan haal. Hulle vra vir die meisies: “Is die siener hier?” “Ja,” antwoord hulle. “Kyk, hy is net daar voor julle in die dorp. Maar maak gou, want hy het vandag hierheen gekom om deel te neem aan die volk se offer op die hoogte. Wanneer julle die dorp binnegaan, sal julle hom kry net voor hy teen die hoogte opgaan om daar te eet. Die mense sal nie eet voordat hy opgedaag het om die offer te seën nie. Daarna sal die genooides eet. Gaan dadelik op daarheen, want hy sal nou daar wees.” Hulle het teen die steilte opgegaan. Toe hulle die dorp binnekom, kom Samuel hulle tegemoet terwyl hy op pad was om op te gaan na die hoogte toe. Die HERE het al die vorige dag vertroulik aan Samuel bekendgemaak dat Saul sou kom. Hy het gesê: “Môre omtrent hierdie tyd sal Ek ’n man uit Benjamin na jou toe stuur. Salf hom tot leier van my volk Israel. Hy sal hulle red van die mag van die Filistyne, want Ek het die nood van my volk raakgesien en hulle hulpgeroep gehoor.” Toe Samuel vir Saul sien, sê die HERE vir hom: “Dit is die man waarvan Ek jou vertel het. Hy sal oor my volk regeer.” Op daardie oomblik gaan Saul na Samuel toe en vra: “Kan u asseblief vir my sê waar die huis van die siener is?” “Ek is die siener!” antwoord Samuel. “Gaan solank voor my teen die hoogte uit na die offerplek toe. Daar sal ons saam eet. Môre-oggend sal ek vir jou sê wat jy wil weet en jou dan laat gaan. En moet jou nie meer bekommer oor jou pa se donkies wat drie dae gelede weggeraak het nie, want hulle is alreeds gevind. Die hoop van die hele Israel is egter op jou en jou familie gerig.” Saul antwoord hom: “Ek is maar net ’n Benjaminiet, die kleinste stam in Israel. My familie is boonop die geringste van al die families van ons stam! Hoekom praat u so met my?” Samuel neem toe vir Saul en die jong man na die eetvertrek en laat hulle op ’n ereplek sit saam met die ongeveer 30 genooides. Daarna sê Samuel vir die kok: “Bring dit wat ek vir jou gegee het en gevra het om eenkant te sit.” Die kok bring toe die boud vleis en sit dit neer voor Saul. Samuel sê toe: “Eet wat aan jou voorgesit is. Ek het dit vir jou gebêre voordat ek die ander genooi het!” So het Samuel en Saul op dié dag saamgeëet.