1 SAMUEL 7:2-17

1 SAMUEL 7:2-17 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN van die dag af dat die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, het daar geruime tyd verloop — dit was twintig jaar — en die hele huis van Israel het agter die HERE aan geweeklaag. Maar Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle met jul hele hart julle tot die HERE bekeer, verwyder dan die vreemde gode en die Astártes onder julle uit, en rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen; dan sal Hy julle red uit die hand van die Filistyne. Daarop het die kinders van Israel die Baäls en die Astártes verwyder en die HERE alleen gedien. Verder het Samuel gesê: Versamel die hele Israel by Mispa, dan sal ek tot die HERE vir julle bid. Hulle kom toe bymekaar by Mispa, en hulle het water geskep en dit voor die aangesig van die HERE uitgegiet, en dié dag het hulle gevas en daar gesê: Ons het gesondig teen die HERE. En Samuel het die kinders van Israel in Mispa gerig. Toe die Filistyne hoor dat die kinders van Israel by Mispa saamgekom het, het die vorste van die Filistyne teen Israel opgetrek. En die kinders van Israel het dit gehoor en bevrees geword vir die Filistyne. En die kinders van Israel sê aan Samuel: Laat nie ná om die HERE onse God vir ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne verlos. Toe het Samuel 'n suiglam geneem en dit as 'n brandoffer in sy geheel aan die HERE geoffer, en Samuel het die HERE aangeroep vir Israel; en die HERE het hom verhoor. Want onderwyl Samuel die brandoffer bring en die Filistyne nader kom om teen Israel te veg, het die HERE dit dié dag met 'n groot geluid laat donder oor die Filistyne, en Hy het hulle in verwarring gebring, sodat hulle verslaan is voor Israel. En die manskappe van Israel het uit Mispa uitgetrek en die Filistyne agtervolg en hulle verslaan tot onderkant Bet-Kar. Toe het Samuel 'n klip geneem en dit opgerig tussen Mispa en Sen, en dit Ebenhaéser genoem en gesê: Tot hiertoe het die HERE ons gehelp. En die Filistyne is verneder, sodat hulle verder nie meer die gebied van Israel binnegekom het nie, en die hand van die HERE was teen die Filistyne al die dae van Samuel. Ook die stede wat die Filistyne van Israel geneem het, het na Israel teruggekom, van Ekron af tot by Gat; en die gebied daarvan het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. En daar was vrede tussen Israel en die Amoriete. En Samuel was rigter oor Israel al die dae van sy lewe. Hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig. Dan gaan hy na Rama terug, want daar was sy huis; en daar het hy Israel gerig en daar vir die HERE 'n altaar gebou.

1 SAMUEL 7:2-17 Afrikaans 1983 (AFR83)

Vandat die ark in Kirjat-Jearim 'n staanplek gekry het, het daar 'n lang tyd verloop, twintig jaar. Toe het al die Israeliete by die Here gekla oor hulle verdrukking, en Samuel het vir hulle gesê: “As julle met julle hele hart na die Here terugkom, moet julle alle vreemde gode tussen julle uit verwyder, ook die Astartes. Rig julle harte op die Here en dien Hom alleen. Dan sal Hy julle red uit die mag van die Filistyne.” Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die Here gedien. Toe sê Samuel: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle tot die Here bid.” Hulle het by Mispa bymekaargekom, water geskep en dit voor die Here uitgegiet. Op daardie dag het hulle gevas en daar het hulle bely: “Ons het teen die Here gesondig.” Samuel het die Israeliete in Mispa onderrig oor wat reg en verkeerd is. Die Filistyne het verneem dat die Israeliete by Mispa bymekaargekom het, en die Filistynse regeerders het teen hulle opgetrek. Toe die Israeliete dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moenie ophou om die Here ons God vir ons om hulp te smeek nie, sodat Hy ons uit die mag van die Filistyne kan red.” Samuel het 'n suiplam gevat en dit in sy geheel aan die Here as brandoffer geoffer. Hy het ook die Here om hulp gesmeek vir Israel, en die Here het sy gebed verhoor. Samuel was nog besig om te offer, toe kom die Filistyne nader om teen Israel te veg. Op daardie dag het die Here 'n groot donderweer oor die Filistyne laat losbars. Die Here het hulle verwar, en hulle is deur die Israeliete verslaan. Die Israeliete het van Mispa af die Filistyne agtervolg en hulle verdryf tot onderkant Bet-Kar. Samuel het toe 'n klip gevat en dit regop gesit tussen Mispa en Sen. Hy het die plek Eben-Haeser genoem, “want,” het hy gesê, “tot nou toe het die Here ons gehelp.” Die Filistyne is verslaan en het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die Here was teen die Filistyne so lank as Samuel geleef het. Die stede wat die Filistyne van Israel afgevat het, is deur Israel herower, van Ekron af tot by Gat. Israel het sy gebied uit die mag van die Filistyne bevry. Verder was daar vrede tussen Israel en die Amoriete. Samuel was sy lewe lank 'n leier in Israel. Hy het van tyd tot tyd rondgegaan, by Bet-El, Gilgal en Mispa. By al hierdie plekke het hy Israel se hofsake verhoor. Daarna het hy weer na Rama toe teruggegaan waar sy huis was, en ook dáár het hy Israel se hofsake verhoor. Daar het hy ook 'n altaar vir die Here gebou.

1 SAMUEL 7:2-17 Die Boodskap (DB)

Die ark het ’n lang tyd, seker twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Al die Israeliete het gedurig by die Here gaan kla. Samuel sê toe vir hulle: “As julle regtig ernstig is om na die Here toe terug te kom, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en godinne wat julle het. Wees getrou aan die Here en dien Hom alleen, dan sal Hy julle vrymaak uit die mag van die Filistyne.” Die Israeliete het toe ontslae geraak van die Baälgode en die Astartegodinne en net die Here gedien. Samuel sê toe: “Laat al die Israeliete by Mispa bymekaarkom, dan sal ek vir julle by die Here pleit.” Hulle het toe by Mispa bymekaargekom. Hulle het water geskep en dit by die altaar uitgegooi. Hulle het daardie dag niks geëet nie en het bely: “Ons het teen die Here gesondig!” Samuel het daar in Mispa vir die Israeliete gesê wat die wil van die Here is. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete in Mispa saamgekom het, het die regeerders van die stadstate besluit om teen die Israeliete te gaan oorlog maak. Die Israeliete het dit gehoor en was bang vir die Filistyne. Hulle het vir Samuel gesê: “Moet asseblief nie ophou om vir ons by die Here te pleit dat Hy ons teen die Filistyne help nie.” Samuel het ’n lam wat nog aan sy ma drink, gevat en die hele lam vir die Here op die altaar verbrand. Hy het die Here se hulp vir die Israeliete gevra, en die Here het sy gebed verhoor. Samuel was nog besig om die lam te verbrand, toe begin die Filistyne al met die geveg. Op daardie oomblik het die Here harde donderslae bokant die Filistyne laat slaan. Dit het hulle só deurmekaar gemaak dat hulle die geveg teen die Israeliete verloor het. Die manskappe van die Israeliete het die Filistyne van Mispa af tot onderkant Bet-Kar gejaag en hulle afgemaai. Samuel het tussen Mispa en Sen ’n groot klip regop gesit as ’n monumentjie. Hy het die klip Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot so ver het die Here ons gehelp.” Die Filistyne is op hulle plek gesit en het nie weer op Israel se grond gekom nie, want solank Samuel geleef het, het die Here hulle laat swaarkry. Die Israeliete het die dorpe wat die Filistyne van hulle afgevat het, weer teruggekry, van Ekron af tot by Gat. Die Filistyne was ook nie meer baas oor die gebiede langsaan nie. Daar was ook vrede tussen die Israeliete en die Amoriete. Sy hele lewe lank het Samuel vir die Israeliete gesê wat die Here wil hê. Hy het elke jaar Bet-El, Gilgal en Mispa toe gegaan en by al die altare na die Israeliete se regsake geluister en vir hulle gesê wat die Here se uitspraak is. Nadat hy by al die plekke was, het hy teruggegaan Rama toe, waar hy gebly het. Daar het hy ’n altaar vir die Here gebou en die Israeliete kon ook dáár hoor wat die wil van die Here is.

1 SAMUEL 7:2-17 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die ark het vir ’n lang tyd, vir twintig jaar, in Kirjat-Jearim gebly. Die hele Israel het by die HERE begin kla oor hulle lot. Toe sê Samuel vir die hele volk Israel: “As julle regtig ernstig is om na die HERE terug te keer, moet julle ontslae raak van die vreemde gode en die beelde van Astarte. As julle besluit om net die HERE te dien, sal Hy julle red van die Filistynse onderdrukking.” Die Israeliete het toe die beelde van Baäl en Astarte verwyder en net die HERE gedien. Toe sê Samuel vir hulle: “Die hele Israel moet by Mispa bymekaarkom. Dan sal ek vir julle tot die HERE bid.” Hulle het toe daar bymekaargekom. Hulle het water uit ’n put opgetrek en dit voor die HERE uitgegooi. Hulle het ook vir ’n dag lank gevas. “Ons het teen die HERE gesondig,” het hulle bely. By Mispa het Samuel as rigter in Israel begin optree. Toe die Filistynse heersers hoor dat die hele Israel by Mispa bymekaargekom het, het hulle teen Israel opgetrek. Die Israeliete was baie bang vir die Filistyne. “Bid tog ernstig by die HERE ons God om ons van die Filistyne te verlos!” smeek hulle vir Samuel. Samuel neem toe ’n lam, offer dit as ’n brandoffer vir die HERE en pleit dat die HERE Israel teen die Filistyne sal help. En die HERE het sy gebed verhoor. Terwyl Samuel nog besig was om te offer, kom die Filistyne daar aan om teen Israel te veg. Maar die HERE het ’n groot donderstorm laat losbars. Dit het die Filistyne verwar sodat Israel hulle verslaan het. Die Israeliete het hulle agtervolg van Mispa af en hulle tot by Bet-Kar afgemaai. Samuel neem toe ’n groot klip en sit dit regop tussen Mispa en Sen. Hy noem dit toe Eben-Haeser, want het hy gesê: “Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” Die Filistyne is verslaan en het Israel vir ’n lang tyd nie weer binnegeval nie. Solank Samuel gelewe het, het die HERE Israel teen hulle beskerm. Israel het die dorpe wat die Filistyne voorheen beset het vanaf Ekron tot by Gat herower. Israel het ook die grensgebiede bevry van die Filistynse oorheersing. In daardie tyd was daar vrede tussen Israel en die Amoriete. Samuel was rigter in Israel vir die res van sy lewe. Hy het elke jaar rondgegaan, eers by Bet-El, dan by Gilgal en daarna by Mispa, waar hy geskille aangehoor het. Daarna het hy teruggekeer na Rama toe waar hy gewoon het en daar ook as regter opgetree. Samuel het in Rama ’n altaar vir die HERE gebou.

1 SAMUEL 7:2-17 Bybel vir almal (ABA)

Die kis van die Here het lank in Kirjat-Jearim gebly, dit was 20 jaar daar. Al die Israeliete het gehuil en getreur en hulle het gevra dat die Here hulle moet help teen die Filistyne. Samuel het vir al die Israeliete gesê: “As julle met julle hele hart terugkom na die Here toe, en julle gooi die gode van ander volke weg en ook die Astartes, en as julle net vir die Here lief is en julle dien net vir Hom, dan sal Hy julle red van die Filistyne.” Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes weggegooi en hulle het net vir die Here gedien. Samuel het gesê: “Julle moet al die Israeliete by die stad Mispa laat bymekaarkom, dan sal ek tot die Here bid vir julle.” Hulle het toe by Mispa bymekaargekom en water geskep en vir die Here drank-offers uitgegooi. Hulle het daardie dag gevas en gesê: “Ons het sonde gedoen teen die Here.” Samuel was die leier van die Israeliete in Mispa. Die Filistyne het gehoor dat die Israeliete in Mispa bymekaargekom het, en die leiers van die Filistyne het na die Israeliete toe gekom. Toe die Israeliete dit sien, het hulle bang geword vir die Filistyne en hulle het vir Samuel gesê: “Jy moenie ophou om vir ons te bid tot die Here ons God nie. Jy moet vir Hom vra om ons te help en om ons te red van die Filistyne.” Samuel het 'n lam geneem wat nog aan sy ma gedrink het en hy het die lam ge-offer. Dit was 'n brand-offer vir die Here. Samuel het gebid en gevra dat die Here hulle moet help, en die Here het geluister na sy gebed. Samuel was besig om die brand-offer vir die Here te bring, toe kom die Filistyne nader om oorlog te maak teen die Israeliete. Die Here het daardie dag 'n harde donderslag oor die Filistyne laat slaan, en Hy het hulle baie bang laat word. Die Israeliete het gewen teen die Filistyne. Die manne van Israel het uit Mispa gegaan en hulle het die Filistyne gevolg en gejaag tot anderkant die stad Bet-Kar. Samuel het 'n klip geneem en hy het dit regop laat staan tussen Mispa en Sen. Hy het die klip genoem Eben-Haeser, en gesê: “Die Here het ons tot hier gehelp.” Die Filistyne het die oorlog verloor en hulle het nie weer in die Israeliete se land gekom nie. Die Here het die Filistyne laat swaarkry al die jare wat Samuel gelewe het. Die Israeliete het die stede tussen Ekron en Gat teruggekry wat die Filistyne van hulle gevat het. Daar was ook vrede tussen die Israeliete en die Amoriete. Samuel was die leier van die Israeliete al die jare wat hy gelewe het. Hy het elke jaar by die stede Bet-El en Gilgal en Mispa gekom en hy was by al hierdie plekke die regter van die Israeliete. Daarna het hy dan teruggegaan na Rama, want sy huis was daar en hy was daar ook die regter. Hy het daar in Rama 'n altaar gebou vir die Here.

1 SAMUEL 7:2-17 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vanaf die dag dat die ark in Kirjat-Jearim 'n tuiste gevind het, het daar 'n lang tyd verloop – twintig jaar. Die hele huis van Israel wou toe weer die HERE volg. Samuel het toe vir die hele huis van Israel gesê: “As julle met julle hele hart na die HERE wil terugkeer, verwyder dan die vreemde gode uit julle midde, en ook die Astartes. Rig julle hart op die HERE en dien Hom alleen, sodat Hy julle kan red uit die hand van die Filistyne.” Die Israeliete het toe die Baäls en die Astartes verwyder en net die HERE gedien. Samuel sê toe: “Bring die hele Israel by Mispa byeen, dan sal ek vir julle tot die HERE bid.” Hulle het by Mispa byeengekom, water geskep en dit voor die HERE uitgegiet. Hulle het daardie dag gevas en daar bely: “Ons het teen die HERE gesondig.” Samuel het die Israeliete by Mispa gerig. Toe die Filistyne hoor dat die Israeliete by Mispa byeengekom het, het die heersers van die Filistyne teen Israel opgetrek. Die Israeliete het dit gehoor en bang geword vir die Filistyne. Die Israeliete sê toe vir Samuel: “Moet tog nie oor ons stilbly en ophou om tot die HERE om hulp te roep nie, sodat Hy ons uit die hand van die Filistyne kan verlos.” Samuel het toe 'n suiplam geneem en dit as 'n volledige •brandoffer aan die HERE gebring. Samuel het tot die HERE om hulp geroep ter wille van Israel, en die HERE het hom verhoor. Terwyl Samuel nog die brandoffer bring, het die Filistyne nader beweeg vir die geveg teen Israel. Maar die HERE het op daardie dag harde donderslae laat dreun oor die Filistyne en hulle verwar. Hulle is toe voor Israel uit verslaan. Die manskappe van Israel het uit Mispa getrek en die Filistyne agtervolg en bly neervel, tot onderkant Bet-Kar. Toe het Samuel 'n klip geneem en dit tussen Mispa en Sen opgerig. Hy het dit Eben-Haeser genoem en gesê: “Tot hiertoe het die HERE ons gehelp.” Die Filistyne is op hulle knieë gedwing en hulle het nie weer in die gebied van Israel gekom nie. Die hand van die HERE was teen die Filistyne so lank as wat Samuel geleef het. Die stede wat die Filistyne van Israel afgeneem het, van Ekron af tot by Gat, het weer teruggeval na Israel. Ook die omliggende gebiede het Israel uit die hand van die Filistyne geruk. Daar was toe vrede tussen Israel en die Amoriete. Samuel het Israel gerig so lank as wat hy geleef het. Hy het van jaar tot jaar rondgegaan by Bet-El, Gilgal en Mispa, en Israel op al hierdie plekke gerig voordat hy teruggekeer het na Rama; want sy huis was daar. Daar het hy Israel gerig en daar het hy vir die HERE 'n altaar gebou.

1 SAMUEL 7:2-17 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En terwyl die ark in Kirjat-Jeárim gebly het, was die tyd lank; want dit was twintig jaar, en die hele huis van Israel het agter die HERE aan geweeklaag. En Samuel het met die hele huis van Israel gespreek en gesê: As julle julle tot die HERE bekeer met julle hele hart, verwyder dan die vreemde gode en Astartes onder julle uit, en berei julle harte tot die HERE voor en dien Hom alleen. Hy sal jou red uit die hand van die Filistyne. Toe het die kinders van Israel die Baäls en Astartes verstoot en die HERE alleen gedien. Toe sê Samuel: Versamel die hele Israel in Mispa, en ek sal vir julle tot die HERE bid. En hulle het in Mispa bymekaargekom en water geskep en dit voor die aangesig van die HERE uitgegooi en op dié dag gevas en daar gesê: Ons het teen die HERE gesondig. En Samuel het die kinders van Israel in Mispa gerig. Toe die Filistyne hoor dat die kinders van Israel in Mispa bymekaar was, het die vorste van die Filistyne teen Israel opgetrek. En toe die kinders van Israel dit hoor, was hulle bang vir die Filistyne. Toe sê die kinders van Israel vir Samuel: Moenie ophou om die HERE onse God oor ons aan te roep nie, dat Hy ons uit die hand van die Filistyne sal verlos. En Samuel het 'n suiglam geneem en dit as 'n brandoffer geheel en al aan die HERE geoffer, en Samuel het die HERE aangeroep vir Israel; en die HERE het hom verhoor. En terwyl Samuel besig was om die brandoffer te bring, het die Filistyne nader gekom om teen Israel te veg; en hulle is voor Israel verslaan. En die manne van Israel het uit Mispa uitgetrek en die Filistyne agtervolg en hulle verslaan totdat hulle onder Bet-kar gekom het. Toe neem Samuel 'n klip en sit dit tussen Mispa en Sen en noem dit Ebenéser en sê: Tot nou toe het die HERE ons gehelp. En die Filistyne is onderwerp, en hulle het nie meer in die gebied van Israel gekom nie; en die hand van die HERE was teen die Filistyne al die dae van Samuel. En die stede wat die Filistyne van Israel ingeneem het, is aan Israel teruggebring, van Ekron af tot by Gat; en sy grondgebied het Israel uit die hand van die Filistyne gered. En daar was vrede tussen Israel en die Amoriete. En Samuel het Israel gerig al die dae van sy lewe. En hy het van jaar tot jaar rondgetrek na Bet-el en Gilgal en Mispa en Israel op al daardie plekke gerig. En sy terugkeer was na Rama; want daar was sy huis; en daar het hy Israel gerig; en hy het daar 'n altaar vir die HERE gebou.