1 SAMUEL 4:1-22

1 SAMUEL 4:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)

Samuel se woorde was aan die hele Israel gerig. Op 'n keer het Israel teen die Filistyne gaan oorlog maak. Die Israeliete het by Eben-Haeser kamp opgeslaan, en die Filistyne by Afek. Hulle het hulle leër teenoor Israel laat stelling inneem, en toe die geveg ontplooi, is Israel deur die Filistyne verslaan. Hulle het omtrent vier duisend man op die slagveld afgemaai. Toe die manskappe van Israel in die laer kom, het die leiers gesê: “Waarom het die Here ons vandag voor die Filistyne laat vlug? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here uit Silo na ons toe dat dit by ons kan wees om ons te red uit die greep van ons vyande.” Die manskappe het na Silo toe gestuur, en die verbondsark van die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon, van Silo af laat bring. Eli se seuns Hofni en Pinehas was ook by die verbondsark van God. Toe die verbondsark van die Here in die laer kom, het die hele Israel so hard geskreeu dat die aarde weergalm het. Die Filistyne het die geskreeu gehoor en gevra: “Wat vir 'n geskreeu is dit daar in die laer van die Hebreërs?” Die Filistyne het toe uitgevind dat die ark van die Here in die kamp aangekom het. Hulle het bang geword, want hulle het gesê: “God het in die kamp gekom.” Verder het hulle gesê: “Dis klaar met ons, want so iets het nog nooit gebeur nie. Dis klaar met ons! Wie sal ons red uit die mag van hierdie geweldige God? Dit is dié God deur wie die Egiptenaars in die woestyn getref is met allerhande plae. Nou sal julle moet dapper wees! Gedra julle soos manne, Filistyne, sodat julle nie miskien slawe word van die Hebreërs soos hulle júlle slawe was nie. Gedra julle soos manne en veg!” Hierna het die Filistyne gaan veg, en die Israeliete is weer verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy woonplek toe. Daar was 'n baie groot slagting, dertig duisend voetsoldate van Israel het geval. Die ark van God is ook gevat, en Eli se twee seuns Hofni en Pinehas het omgekom. 'n Benjaminiet het van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur, en daar was grond op sy kop. Terwyl hy aankom, het Eli juis langs die pad op sy stoel gesit en wag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Die man het gekom en die tyding aan die dorp bekend gemaak. Die hele dorp het begin kerm en kla. Eli het die gekerm gehoor en gesê: “Wat skreeu die mense so?” Die man het gou vir Eli kom vertel. Eli was toe ag en negentig jaar. Sy oë was star, en hy kon nie meer goed sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die slagveld af. Ja, ek het vandag van die slagveld af gevlug.” En Eli vra: “My seun, wat het gebeur?” Die boodskapper antwoord toe: “Israel het gevlug voor die Filistyne, die volk het swaar verliese gely, selfs u twee seuns Hofni en Pinehas is dood; en die ark van God is ook gevat.” Toe hy praat van die ark van God, het Eli daar by die poort van sy stoel af agteroor geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was oud en swaar. Hy was veertig jaar 'n leier in Israel. Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en sy was op haar laaste. Toe sy die tyding kry dat die ark gevat is en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy vooroor inmekaargetrek en 'n kind in die wêreld gebring, want die geboortepyne het haar oorval. Toe sy wou sterf, het die vroue wat by haar gestaan het, gesê: “Moet jou nie bekommer nie, want jy het 'n seuntjie.” Sy het egter nie geantwoord of op hulle ag geslaan nie, maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is weggevat uit Israel.” Dit het geslaan op die wegvat van die ark van God en op haar skoonpa en haar man. “Ja,” het sy gesê, “die eer is weggevat uit Israel, want die ark van God is gevat.”

1 SAMUEL 4:1-22 Bybel vir almal (ABA)

Die Israeliete het gaan oorlog maak teen die Filistyne. Hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Eben-Haeser, en die Filistyne het hulle tente opgeslaan by die stad Afek. Die Filistyne het begin veg teen die Israeliete, en die Israeliete het verloor. Die Filistyne het omtrent 4 000 Israeliete doodgemaak. Toe die Israeliete terugkom in hulle kamp, het hulle leiers gevra: “Hoekom het die Here ons vandag laat verloor teen die Filistyne? Ons moet die verbondskis van die Here na ons toe bring. Dan kan dit by ons wees en dan sal dit ons red van ons vyande.” Die manne het mense na die stad Silo gestuur om die verbondskis van die Here daar te gaan haal, die Here wat oor alles regeer en wat sy troon bokant die gerubs het. Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, was by die verbondskis van God. Toe die verbondskis van die Here by die kamp van die Israeliete kom, het hulle almal hard geskree, want hulle wou begin oorlog maak. Die aarde het geskud. Die Filistyne het gehoor die Israeliete skree en hulle wil weer begin veg. Hulle het gevra: “Hoekom skree die Hebreërs so?” Toe die Filistyne hoor dat die kis van die Here in die kamp van die Israeliete gekom het, het hulle bang geword en gesê: “God het na die kamp van die Israeliete gekom. Dit sal sleg gaan met ons. So iets het nog nooit gebeur nie. Dit sal nou sleg gaan met ons, wie sal ons red van hierdie sterk God? Dit is dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn siek gemaak het en hulle laat sterf het. Filistyne, julle moet sterk wees, julle moet dapper wees! Anders sal julle verloor teen die Hebreërs en dan sal julle moet werk vir hulle, soos hulle vir julle gewerk het. Julle moet dapper wees, julle moet hard veg.” Die Filistyne het geveg, en hulle het die Israeliete weer oorwin. Die Israeliete het huis toe gevlug. Baie Israeliete het gesterf, 30 000 is dood. Die Filistyne het ook die kis van God gevat, en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesterf. 'n Man van die Benjamin-stam het gehardloop van die plek waar hulle geveg het en hy het dieselfde dag in Silo aangekom. Hy het sy klere geskeur en hy het grond op sy kop gegooi. Toe hy in Silo kom, het Eli op 'n stoel gesit en hy het gewag dat iemand moet kom, want hy was bekommerd oor die kis van God. Toe die man in die stad kom en vertel wat gebeur het, het al die mense in die stad geskree. Eli het gehoor hulle skree, en hy het gevra: “Hoekom skree die mense?” Toe kom die man vinnig na Eli toe om vir hom te vertel wat gebeur het. Eli was 98 jaar oud, en hy kon nie meer sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek kom van die plek waar hulle geveg het, ek het vandag daar weggevlug.” Eli het gevra: “My seun, wat het gebeur?” Toe sê die boodskapper: “Die Israeliete het gevlug vir die Filistyne. Baie manne het gesterf. Jou twee seuns Hofni en Pinehas is ook dood. En die Filistyne het die kis van God gevat.” Dadelik toe Eli hoor wat die man sê oor die kis van God, het hy agteroor van sy stoel afgeval daar by die poort. Hy het sy nek gebreek en hy het gesterf. Hy was oud en swaar. Eli was 40 jaar lank die leier van Israel. Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger, en die tyd was naby dat sy haar baba moes kry. Toe sy hoor dat die Filistyne die kis van God gevat het en dat haar skoonpa en haar man dood is, het sy pyn begin kry en krom gebuig, en haar kind is gebore. Sy kon dit nie keer nie. Sy het begin sterf, en die vroue by haar het gesê: “Jy moenie bekommerd wees nie, jy het 'n seun gekry.” Sy het nie geantwoord nie, en dit het gelyk of sy hulle nie hoor nie. Sy het gesê die seun se naam moet Ikabod wees, want die Here is weg uit die land Israel. Sy het dit gesê omdat die Filistyne die kis van God gevat het en omdat haar skoonpa en haar man dood is. Sy het gesê: “Ja, die Here is weg uit die land Israel, want die Filistyne het die kis van God gevat.”

1 SAMUEL 4:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom. En Israel het uitgetrek vir die geveg, die Filistyne tegemoet, en hulle het laer opgeslaan by Ebenhaéser; maar die Filistyne het laer opgeslaan by Afek. Toe die Filistyne hulle opstel om Israel te ontmoet, en die geveg ontwikkel, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het op die vegterrein in die veld omtrent vierduisend man doodgeslaan. Terwyl die manskappe die laer inkom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die HERE uit Silo na ons toe bring, dat dit onder ons inkom en ons verlos uit die hand van ons vyande. Daarop het die manskappe na Silo gestuur, en hulle het die verbondsark van die HERE van die leërskare wat op die gérubs troon, daarvandaan gaan haal; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, was daar by die verbondsark van God. En net toe die verbondsark van die HERE in die laer inkom, hef die hele Israel 'n groot krygsgeskreeu aan, sodat die aarde gedreun het. En die Filistyne het die geluid van die gejuig gehoor en gesê: Watter geluid van 'n groot krygsgeskreeu is dit in die laer van die Hebreërs? Toe verneem hulle dat die ark van die HERE in die laer gekom het. En die Filistyne het bang geword, want hulle het gesê: God het in die laer gekom! En hulle het gesê: Wee ons, want so iets het gister en eergister nie gebeur nie. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie geweldige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenaars met allerhande plae getref het in die woestyn. Wees dapper en gedra julle soos manne, Filistyne, dat julle nie miskien die Hebreërs dien soos hulle julle gedien het nie; gedra julle dan soos manne, en veg. Toe het die Filistyne geveg, en Israel is verslaan, sodat hulle gevlug het, elkeen na sy tente toe. En die slagting was baie groot: van Israel het daar dertigduisend voetgangers geval. Die ark van God is ook geneem, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pínehas, het gesterwe. Toe het 'n Benjaminiet van die slagveld af gehardloop en dieselfde dag in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy hoof. Terwyl hy aankom, sit Eli juis en uitkyk op 'n stoel aan die kant van die pad, want hy was besorg oor die ark van God. En die man het gekom om dit in die stad mee te deel, en die hele stad het geskreeu. Toe Eli dan die geluid van die geskreeu hoor, sê hy: Wat is dit vir 'n rumoerige geluid? En die man het gou gekom en dit aan Eli meegedeel. (Eli was agt-en-negentig jaar oud, en sy oë het styf gestaan, sodat hy nie kon sien nie.) En die man het vir Eli gesê: Dit is ek wat van die slagveld gekom het; ja, ek het vandag van die slagveld gevlug. En hy vra: Wat het daar gebeur, my seun? En die boodskapper antwoord en sê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook 'n groot neerlaag onder die manskappe, en u twee seuns, Hofni en Pínehas, het ook gesterwe, en die ark van God is geneem. Net toe hy melding maak van die ark van God, val hy agteroor van die stoel af aan die kant van die poort, sodat hy sy nek gebreek en gesterf het; want die man was oud en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig. En sy skoondogter, die vrou van Pínehas, was vér heen in haar swangerskap. Toe sy dan die tyding hoor dat die ark van God geneem is, en dat haar skoonvader en haar man gesterf het, het sy haar krom gebuig en gebaar, want haar barensweë het haar oorval. En terwyl sy op sterwe lê, sê die vroue wat by haar staan: Wees nie bevrees nie, want jy het 'n seun gebaar; maar sy het nie geantwoord en dit nie ter harte geneem nie, maar die seuntjie Íkabod genoem en gesê: Weggevoer is die eer uit Israel — met die oog op die wegneming van die ark van God en met die oog op haar skoonvader en haar man. En sy het gesê: Weggevoer is die eer uit Israel, omdat die ark van God geneem is.

1 SAMUEL 4:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

En Samuel se boodskap was tot die hele Israel gerig. Israel het die Filistyne tegemoetgetrek vir die oorlog, en hulle het kamp opgeslaan by Eben-Haeser. Die Filistyne weer het kamp opgeslaan by Afek. Die Filistyne het hulle gevegslinies teen Israel opgestel, en toe die geveg uitbrei, is Israel voor die Filistyne uit verslaan. Hulle het op die gevegsterrein ongeveer vierduisend man neergevel. Toe die manskappe by die kamp aankom, vra die oudstes van Israel: “Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne uit verslaan? Ons moet die •verbondsark van die HERE uit Silo na ons toe bring, sodat Hy tussen ons kan inkom en ons verlos uit die greep van ons vyande. ” Die manskappe stuur toe mense na Silo, en hulle het die verbondsark van die HERE, Heerser oor alle magte, wat op die gerubs troon, van daar af gebring. Die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, was daar by die verbondsark van God. Die oomblik toe die verbondsark van die HERE by die kamp aankom, het die hele Israel so 'n harde strydkreet aangehef dat die aarde gedreun het. Die Filistyne het die geluid van die strydkreet gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie harde strydkreet in die kamp van die Hebreërs? ” Toe besef hulle dat die ark van die HERE by die kamp aangekom het. Die Filistyne was bang, “want,” het hulle gesê, “'n god het by die kamp aangekom”. Hulle sê toe ook: “Wee ons, want so iets het nog nooit voorheen gebeur nie. Wee ons! Wie sal ons red uit die hand van hierdie magtige gode? Dit is dieselfde gode wat die Egiptenare in die woestyn met allerhande plae getref het. Skep moed, gedra julle soos manne, Filistyne! Anders gaan julle die Hebreërs dien, soos hulle julle gedien het. Gedra julle soos manne en veg!” Die Filistyne het gaan veg en Israel is verslaan. Hulle het gevlug, elkeen na sy tente toe. Dit was 'n baie groot slagting: Dertigduisend voetsoldate van Israel het geval. Die ark van God is weggevoer, en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, het gesterf. 'n Man van Benjamin het van die gevegslinies af gehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom met geskeurde klere en grond op sy kop. Toe hy daar aankom, sit Eli juis op 'n stoel langs die pad, in afwagting op nuus, want sy hart was aan die bewe oor die ark van God. Toe die man die stad binnegaan om die nuus bekend te maak, het die hele stad om hulp geroep. Eli het die uitroepe gehoor en gevra: “Wat beteken hierdie geraas?” Die man het toe gou die nuus vir Eli gaan vertel. Eli was agt-en-negentig jaar oud en sy oë was al star, sodat hy nie meer kon sien nie. Die man het vir Eli gesê: “Ek is die een wat van die gevegslinies af gekom het. Ek het pas van die gevegslinies af gevlug.” Eli vra toe: “Wat het dan gebeur, my seun?” Die boodskapper het geantwoord en gesê: “Israel het voor die Filistyne gevlug. Daar was nie net 'n groot slagting onder die manskappe nie, maar ook u twee seuns, Hofni en Pinehas, het gesneuwel, en die ark van God is weggevoer.” Die oomblik toe hy die ark van God noem, val Eli reg agteroor van sy stoel af langs die stadspoort. Sy nek het gebreek en hy het gesterf, want hy was 'n ou man en hy was swaar. Hy het Israel veertig jaar lank gerig. Sy skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op die punt om geboorte te gee. Toe sy die tyding kry oor die ark van God wat weggevoer is, en haar skoonvader en man wat dood is, het sy ineengekrimp en geboorte gegee, want haar geboortepyne het haar oorweldig. Toe sy besig was om te sterf, het die vroue wat haar bystaan, gesê: “Moenie bang wees nie, want jy het 'n seun in die wêreld gebring!” Sy het egter nie daarop geantwoord of dit ter harte geneem nie. Sy het die seuntjie Ikabod genoem en, met verwysing na die wegvoering van die ark van God, en na haar skoonvader en man, gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel.” Sy het gesê: “Die eer is weggevoer uit Israel,” omdat die ark van God weggevoer is.

1 SAMUEL 4:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die woord van Samuel het tot die hele Israel gekom. En Israel het teen die Filistyne uitgetrek om te veg en laer opgeslaan by Ebenéser; en die Filistyne het laer opgeslaan in Afek. En die Filistyne het hulle teen Israel opgestel, en toe hulle in die geveg aangesluit het, is Israel voor die Filistyne verslaan; en hulle het van die leër in die veld omtrent vier duisend man verslaan. Toe die manskappe in die laer kom, sê die oudstes van Israel: Waarom het die HERE ons vandag voor die Filistyne verslaan? Laat ons die verbondsark van die HERE vir ons uit Silo gaan haal, dat dit ons kan red uit die hand van ons vyande as dit onder ons kom. Die volk het toe na Silo gestuur om die verbondsark van die HERE van die leërskare wat tussen die gérubs woon, daarvandaan te bring; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, was daar saam met die verbondsark van God. En toe die verbondsark van die HERE in die laer kom, het die hele Israel met 'n groot geskreeu uitgeroep, sodat die aarde weer gedreun het. En toe die Filistyne die geluid van die geskreeu hoor, sê hulle: Wat beteken die geluid van hierdie groot geskreeu in die laer van die Hebreërs? En hulle het verstaan dat die ark van die HERE in die laer ingekom het. En die Filistyne was bang, want hulle het gesê: God het in die laer ingekom. En hulle sê: Wee ons! want so iets was nie voorheen nie. Wee ons! wie sal ons verlos uit die hand van hierdie magtige gode? dit is die gode wat die Egiptenaars getref het met al die plae in die woestyn. Wees sterk en staan op soos mense, o Filistyne, dat julle nie die Hebreërs dien soos hulle vir julle was nie; En die Filistyne het geveg, en Israel is verslaan, en hulle het gevlug, elkeen in sy tent; en daar was 'n baie groot slagting; want daar het van Israel dertigduisend voetgangers geval. En die ark van God is geneem; en die twee seuns van Eli, Hofni en Pinehas, is gedood. En daar het 'n man van Benjamin uit die leër gehardloop en dieselfde dag in Silo gekom met geskeurde klere en met grond op sy hoof. En toe hy kom, kyk, het Eli op 'n stoel langs die pad gesit en kyk, want sy hart het gebewe vir die ark van God. En toe die man in die stad kom en dit meedeel, het die hele stad geskreeu. En toe Eli die geraas van die geskreeu hoor, sê hy: Wat beteken die geraas van hierdie rumoer? Toe kom die man haastig in en vertel dit aan Eli. En Eli was agt en negentig jaar oud; en sy oë was dof, dat hy nie kon sien nie. En die man sê vir Eli: Ek is die een wat uit die leër gekom het, en ek het vandag uit die leër gevlug. En hy sê: Wat is daar gedoen, my seun? En die boodskapper het geantwoord en gesê: Israel het voor die Filistyne gevlug, en daar was ook 'n groot slagting onder die volk, en ook jou twee seuns, Hofni en Pinehas, is dood, en die ark van God is geneem. En toe hy van die ark van God melding maak, val hy agteroor van die stoel af langs die poort, en sy nek het gebreek, en hy het gesterwe, want hy was 'n ou man en swaar. En hy het Israel veertig jaar lank gerig. En sy skoondogter, Pinehas se vrou, was swanger, naby om gebaar te word; en toe sy die tyding hoor dat die ark van God geneem is en dat haar skoonvader en haar man dood was, het sy haarself gebuig en baar; want haar pyne het oor haar gekom. En omtrent die tyd van haar dood het die vroue wat by haar gestaan het, vir haar gesê: Moenie vrees nie; want jy het 'n seun gebore. Maar sy het nie geantwoord nie, en sy het dit nie oorweeg nie. En sy het die seuntjie Ikabod genoem en gesê: Die heerlikheid het van Israel gewyk, omdat die ark van God geneem is en ter wille van haar skoonvader en haar man. Toe sê sy: Die heerlikheid het van Israel gewyk, want die ark van God is geneem.

1 SAMUEL 4:1-22 Die Boodskap (DB)

Samuel was ’n profeet vir die hele Israel. Die Israeliete het uitgetrek om teen die Filistyne te gaan veg. Hulle kamp was by Eben-Haeser en die Filistyne s’n by Afek. Die Filistyne het hulle manskappe reggekry vir die geveg teen die Israeliete. Toe die geveg ’n ruk aan die gang was, het die Israeliete begin verloor. Daar is omtrent 4 000 van die Israeliete in die geveg in die oop veld dood. Toe die volk by die kamp terugkom, het die leiers van Israel gesê: “Hoekom het die Here ons vandag só ver teen die Filistyne laat verloor? Kom ons gaan haal die verbondsark van die Here in Silo. As Hy by ons is, sal Hy ons teen ons vyande help.” Die volk het toe die verbondsark van die magtige Here wat op die gerubs sit, in Silo laat haal. Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, het saam met die ark van God gekom. Toe die ark van die Here in die kamp kom, het al die Israeliete geskreeu dat die aarde bewe. Die Filistyne het die harde geskree gehoor en gevra: “Watse vreeslike geskree is dit daar in die Hebreërs se kamp?” Toe hulle hoor dat die ark van die Here in die kamp aangekom het, het hulle bang geword en vir mekaar gesê: “Hulle God het in die kamp aangekom! Ons is in die moeilikheid! So iets het nog nooit gebeur nie! Ons is in die moeilikheid! Wie sal ons help teen hierdie magtige God? Dis dieselfde God wat die Egiptenaars in die woestyn so laat swaarkry het met al die plae. Vandag moet julle sterk staan, Filistyne! Wys julle is manne! As julle dit nie doen nie, word julle die Hebreërs se slawe soos hulle júlle slawe is. Wys julle is manne en veg!” Die Filistyne het aangeval en die Israeliete het die geveg verloor. Al die Israeliete het weggehardloop huis toe. Dit was ’n groot slagting: 30 000 voetsoldate van Israel is dood. Die ark van God het in die slag gebly en Eli se twee seuns, Hofni en Pinehas, is ook dood. ’n Man van die Benjaminstam het van die geveg af weggehardloop en dieselfde dag nog in Silo aangekom. Sy klere was geskeur en daar was grond op sy kop. Eli het op ’n stoel langs die pad gesit en wag vir nuus, want hy was baie bekommerd oor die ark van God. Toe die man met die nuus in die dorp aankom, het al die mense so geskrik dat hulle sommer hard geskree het. Eli het die geskree gehoor en gevra: “Watse geraas is dit?” Die boodskapper het gou na Eli toe gehardloop om vir hom te vertel wat gebeur het. Eli was al 98 jaar oud en hy was stokblind. Die man sê toe vir hom: “Ek kom nou net van die oorlog af. Ek het vandag daar weggehardloop.” Daarop vra Eli vir hom: “Wat het gebeur, my kind?” “Die Israeliete het vir die Filistyne gevlug,” sê die boodskapper. “Daar is baie van ons mense dood; u twee seuns Hofni en Pinehas ook, en die Filistyne het die ark van God gevat.” Toe hy sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die dorp se ingang reg agteroor van die stoel afgeval. Hy het sy nek gebreek en is dood, want hy was oud en swaar. Eli het Israel 40 jaar lank gelei. Eli se skoondogter, Pinehas se vrou, het ’n baba verwag en die tyd van die geboorte was naby. Toe sy hoor dat die Filistyne die ark van God gevat het, en dat haar skoonpa en haar man dood is, het die geboortepyne skielik begin. Sy het haar knieë opgetrek en gekraam. Die vroue wat haar gehelp het, het gesê: “Moenie moed verloor nie; jy het ’n seuntjie!” Maar sy was besig om dood te gaan; sy het nie geantwoord of met die vroue gepraat nie. Net voor sy dood is, het sy die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Israel se eer is weg.” Sy het bedoel die ark van God wat weg was en die dood van haar skoonpa en haar man. Sy het weer gesê: “Israel se eer is weg, want die ark van God is weggevat.”

1 SAMUEL 4:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Israel het opgetrek om teen die Filistyne oorlog te maak. Hulle het by Eben-Haeser kamp opgeslaan en die Filistyne by Afek. Hulle het stelling ingeneem teenoor Israel. In die geveg het die Filistyne Israel verslaan en 4 000 soldate doodgemaak. Ná die geveg het die Israeliete teruggegaan na hulle kamp toe. Die leiers het gevra: “Hoekom het die HERE toegelaat dat die Filistyne ons verslaan? Kom ons kry die verbondsark van die HERE wat in Silo is en neem dit saam na die slagveld toe. Dit sal ons red van ons vyande.” Hulle stuur toe mense na Silo en gaan haal die verbondsark van die HERE, die Almagtige, Hy wat oor die gerubs troon. Hofni en Pinehas, die seuns van Eli, was by die verbondsark. Toe die Israeliete sien dat die verbondsark van die HERE die kamp ingebring word, het hulle gejuig van blydskap. Die gejuig was so hard dat die grond gebewe het. “Wat gaan aan?” het die Filistyne gevra. “Waaroor gaan al die geskreeu in die kamp van die Hebreërs?” Toe hulle hoor dat die verbondsark van die HERE daar aangekom het, was hulle paniekbevange. “Hulle God het in hulle kamp aangekom!” het hulle uitgeroep. “Dit is ’n ramp! So iets het nog nooit gebeur nie! Wie kan ons red van hierdie magtige God van Israel? Dit is dieselfde God wat Egipte in die woestyn met allerlei plae geteister het. Filistyne, julle sal met mag en mening moet veg! As julle dit nie doen nie, sal ons die slawe van die Hebreërs word soos hulle ons slawe was!” Die Filistyne het toe desperaat geveg en Israel weereens verslaan. Dit was ’n groot slagting: 30 000 Israeliete het daardie dag gesterf. Dié wat dit oorleef het, het na hulle tente toe gevlug. Die ark van God is ook afgeneem en Hofni en Pinehas, die twee seuns van Eli, is doodgemaak. Iemand uit die stam van Benjamin het dié dag van die slagveld af na Silo toe gehardloop. Hy het sy klere geskeur en daar was as op sy kop as teken van rou. Eli het langs die pad gesit en wag op nuus van die veldslag, want hy was bekommerd oor die ark van God. Toe die boodskapper daar aankom en vertel wat gebeur het, het die mense in die dorp hulle ontsteltenis uitgeskreeu. “Waaroor is al die geraas en oproer?” het Eli gevra. Die boodskapper het na Eli toe gehardloop. Eli was 98 jaar oud en byna blind. Hy sê vir Eli: “Ek kom so pas van die oorlogsfront af.” “Wat het gebeur?” vra Eli. “Israel is verslaan,” antwoord die boodskapper, “en baie Israeliete het gesneuwel. U twee seuns, Hofni en Pinehas, het ook gesneuwel en die ark van God is buitgemaak.” Toe die boodskapper sê wat met die ark gebeur het, het Eli daar by die poort agteroor van sy stoel af geval. Hy het sy nek gebreek en gesterf, want hy was baie oud en oorgewig. Hy het Israel 40 jaar lank gelei. Eli se skoondogter, die vrou van Pinehas, was swanger en op haar laaste. Toe sy hoor dat die ark van God geneem is en dat haar man en skoonpa dood is, het geboortepyne haar oorval. Terwyl sy geboorte gee, het sy gesterf. Voordat sy dood is, het die vroedvroue haar probeer opbeur: “Moenie bang wees nie,” sê hulle. “Jy het ’n seuntjie!” Sy het haar egter nie aan hulle gesteur nie, maar die seuntjie Ikabod genoem en gesê: “Die eer is uit Israel weggeneem.” Daarmee het sy verwys na die ark van God wat gebuit is en omdat haar man en skoonpa dood was. Sy het gesê: “Die eer is weggeneem uit Israel, want die ark van God is buitgemaak.”