1 SAMUEL 31:1-13

1 SAMUEL 31:1-13 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Filistyne het vir Israel aangeval. Die Israeliete het vir hulle gevlug, en van die manskappe het op Gilboaberg gesneuwel. Toe het die Filistyne op Saul en sy seuns toegesak. Hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malkisua neergevel en toe die aanval op Saul toegespits. Die boogskutters het hom in die oog gekry, en hy het baie bang vir hulle geword, en vir sy wapendraer gesê: “Trek jou swaard en steek my daarmee dood dat daardie heidene nie kom en my doodsteek en in oneer laat sterf nie.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was baie bang. Saul vat toe self die swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien Saul is dood, val hy ook in sy swaard en sterf saam met hom. So is Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al die manskappe by hom op daardie dag saam dood. Die Israeliete wat oorkant die laagte en oorkant die Jordaan gewoon het, het gesien dat die manskappe gevlug het en dat Saul en sy seuns dood is. Hulle het toe die stede verlaat en ook gevlug, en die Filistyne het die stede beset en daar gaan woon. Toe die Filistyne die dag na die geveg die lyke kom stroop, kry hulle Saul en sy drie seuns daar waar hulle op Gilboaberg geval het. Hulle het sy kop afgesny en sy wapens afgeruk en dié in die land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus in hulle tempels en aan hulle mense bekend te maak. Daarna het hulle sy wapenrusting in die tempel van Astarte gesit en sy lyk het hulle teen die muur van Bet-San vasgespyker. Toe die mense van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne met Saul gedoen het, het al die weerbare manne klaargemaak en hulle het die hele nag deur getrek en die lyk van Saul en dié van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en daar verbrand. Hulle het toe die bene gevat en onder die tamarisk in Jabes begrawe en daarna het hulle sewe dae lank gevas.

1 SAMUEL 31:1-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Intussen het die Filistyne teen Israel geveg en die manne van Israel het voor die Filistyne uit gevlug; die gesneuweldes het op die berg van Gilboa gelê. Die Filistyne het op Saul en sy seuns se hakke gebly en hulle het Jonatan, Abinadab en Malkisua, Saul se seuns, neergevel. Die geveg het verhewig teen Saul, en toe die skutters, die manne met die boog, op hom afkom, het hy onbedaarlik gebewe vir die boogskutters. Saul sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes, en deurboor my en martel my.” Maar sy wapendraer wou nie, want hy was angsbevange. Toe vat Saul sy swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val ook hy in sy swaard en sterf saam met hom. So het Saul, sy drie seuns en sy wapendraer, asook al sy manne, op daardie dag saam gesterf. Toe die manne van Israel wat oorkant die vallei was, en dié wat oorkant die Jordaan was, sien dat die manne van Israel gevlug het, en dat Saul en sy seuns dood is, het hulle die dorpe verlaat en gevlug. Die Filistyne het toe gekom en daar gaan woon. Die volgende dag, toe die Filistyne kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns waar hulle op die berg van Gilboa lê. Hulle het sy kop afgekap en hom van sy wapens gestroop. Hulle het boodskappers in die land van die Filistyne rondgestuur om in die tempels van hulle afgode en aan die volk die goeie nuus te bring. Hulle het sy wapens in die tempel van die Astartes neergesit, maar sy lyk het hulle teen die muur van Bet-San vasgeslaan. Toe die inwoners van Jabes in Gilead dit hoor – wat die Filistyne Saul aangedoen het – het al die bekwame manne gereedgemaak en die hele nag lank geloop. Hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San verwyder, na Jabes gegaan en hulle daar verbrand. Toe het hulle hulle beendere geneem en dit onder die tamarisk by Jabes begrawe. Hulle het sewe dae lank gevas.

1 SAMUEL 31:1-13 Die Boodskap (DB)

Die Filistyne het die Israeliete aangeval. Die manskappe van Israel het vir die Filistyne begin vlug en baie is op Gilboaberg dood. Die Filistyne het Saul en sy seuns ingehaal, en al drie sy seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak. Toe keer hulle Saul vas. Die manne wat met pyl en boog skiet, het hom onder skoot gekry en hom ernstig gewond. Hy sê toe vir sy wapendraer: “Trek jou swaard uit en steek my dood. Anders kom hierdie klomp heidene en steek my met hulle swaarde en laat my ly.” Maar die wapendraer was te bang om dit te doen. Saul vat toe sy eie swaard en pleeg selfmoord. Toe die wapendraer sien Saul is dood, het hý ook sy swaard gevat en soos Saul selfmoord gepleeg. So is Saul, sy drie seuns, sy wapendraer en al sy manskappe op dieselfde dag saam dood. Die Israeliete wat in die Jisreëlvlakte en in die Jordaanvallei gebly het, het gesien die manskappe van Israel vlug en hulle het agtergekom dat Saul en sy seuns dood is. Daarom het hulle uit hulle dorpe gevlug. Die Filistyne het later daar gaan woon. Die dag na die geveg het die Filistyne die klere en wapens wat aan die lyke was, gaan afhaal. Hulle kry toe vir Saul en sy drie seuns waar hulle dood lê op Gilboaberg. Hulle het sy kop afgekap en sy oorlogsklere en wapens gevat. Hulle het mense deur hulle hele land rondgestuur om in hulle afgodstempels en vir al die mense die goeie nuus te vertel. Hulle het sy oorlogsklere en wapens in die tempel van die Astartegodin neergesit en sy lyk aan die muur van Bet-San opgehang. Die mense van Jabes in Gilead het gehoor wat die Filistyne met Saul gedoen het. Al die manne van Jabes wat kon veg, het bymekaargekom en dwarsdeur die nag geloop om die lyke van Saul en sy seuns van Bet-San se muur af te haal. Hulle het die lyke na Jabes toe gevat en dit daar aan die brand gesteek. Wat van die lyke oorgebly het, het hulle onder die tamariskboom by Jabes begrawe. Daarna het hulle ’n week lank getreur en nie geëet nie.

1 SAMUEL 31:1-13 Bybel vir almal (ABA)

Die Filistyne het oorlog gemaak teen die Israeliete. Die manne van Israel het gevlug vir die Filistyne, en die Filistyne het baie Israeliete doodgemaak op Gilboa-berg. Die Filistyne het ook teen Saul en sy seuns geveg en hulle het Saul se seuns Jonatan, Abinadab en Malki-Sua gevang en doodgemaak. Daarna het die Filistyne vir Saul aangeval, die Filistyne wat met pyl en boog skiet, en Saul het baie bang geword vir hulle. Hy het vir sy wapendraer gesê: “Jy moet jou swaard neem en jy moet my doodsteek. Ek wil nie hê hierdie heidene moet my kom doodsteek en vir my lag nie.” Maar sy wapendraer wou dit nie doen nie, hy was bang. Toe neem Saul self sy swaard en hy val daarop. Die swaard het deur hom gesteek. Toe die wapendraer sien dat Saul dood is, het hy ook op sy swaard geval en hy het saam met Saul gesterf. So het Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al die manne van Israel daardie dag saam gesterf. En toe die mense van Israel wat oorkant die vallei en oorkant die Jordaan-rivier was, hoor dat die manne van Israel gevlug het en dat Saul dood is, het hulle gevlug uit hulle stede. Die Filistyne het toe gekom en hulle het in daardie stede gaan woon. Die Filistyne het die volgende dag gekom om die goed en die klere van die dooie mense te vat, en hulle het vir Saul en sy drie seuns op Gilboa-berg gekry, Saul en sy seuns was dood. Hulle het Saul se kop afgekap en hulle het sy wapens gevat. Hulle het dit in Filistyne-land rondgestuur om die goeie nuus te bring in die tempels van hulle afgode en vir hulle mense. Hulle het Saul se wapens in die tempel van Astarte gesit en hulle het sy lyk teen die muur van die stad Bet-San opgehang. Toe die mense van die stad Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne met Saul gedoen het, het al die belangrike manne gereedgemaak en hulle het die hele nag geloop. Hulle het Saul en sy seuns se lyke afgehaal van die muur van Bet-San. Hulle het dit na Jabes gebring en hulle het die lyke daar verbrand. Hulle het die bene wat oor was, geneem en hulle het dit begrawe onder die tamariskboom in Jabes. Daarna het hulle sewe dae lank gevas.

1 SAMUEL 31:1-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TERWYL die Filistyne teen Israel veg, het die manne van Israel vir die Filistyne weggevlug, en gesneuweldes het op die gebergte Gilbóa gelê. En die Filistyne het Saul en sy seuns agternagesit, en die Filistyne het Jónatan en Abinádab en Malkisúa, die seuns van Saul, gedood. Toe die geveg dan swaar word teen Saul, en die manne, die boogskutters, hom aantref, het hy gebewe van angs vir die skutters. En Saul het aan sy wapendraer gesê: Trek jou swaard uit en deurboor my daarmee, anders kom hierdie onbesnedenes en deurboor my en dryf die spot met my. Maar sy wapendraer wou nie, omdat hy baie bevrees was. Daarop neem Saul die swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, het hy self ook in sy swaard geval en saam met hom gesterf. So het dan Saul en sy drie seuns en sy wapendraer, ook al sy manne op dieselfde dag almal saam gesterwe. Daarop sien die manne van Israel wat oorkant die vlakte en wat oorkant die Jordaan was, dat die manne van Israel gevlug het en dat Saul en sy seuns dood was, en hulle het die stede verlaat en gevlug; en die Filistyne het gekom en daarin gaan woon. En toe die Filistyne die volgende dag kom om die gesneuweldes te plunder, kry hulle Saul en sy drie seuns nog daar lê op die gebergte Gilbóa. En hulle het sy hoof afgekap en sy wapenrusting uitgetrek en dit in die land van die Filistyne rondgestuur om die blye boodskap te bring in die tempels van hulle afgode en aan die volk. Daarna het hulle sy wapens in die Astárte-tempel neergelê, maar sy lyk teen die muur van Bet-San vasgeslaan. Toe die inwoners van Jabes in Gílead daarvan hoor — wat die Filistyne aan Saul gedoen het — het al die dapper manne hulle gereedgemaak en die hele nag deur getrek; en hulle het die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-San afgehaal en by Jabes gekom en hulle daar verbrand. En hulle het hul gebeente geneem en onder die tamarisk in Jabes begrawe en sewe dae lank gevas.

1 SAMUEL 31:1-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die Filistyne het teen Israel geveg, en die manne van Israel het voor die Filistyne gevlug en gesneuweldes op die berg Gilboa geval. En die Filistyne het Saul en sy seuns hard gevolg; en die Filistyne het Jónatan en Abinadab en Malkisua, die seuns van Saul, gedood. En die geveg het hewig geword teen Saul, en die boogskutters het hom getref; en hy is baie gewond deur die boogskutters. Toe sê Saul vir sy wapendraer: Trek jou swaard uit en steek my daarmee deur; dat hierdie onbesnedenes nie kom en my deurboor en my beledig nie. Maar sy wapendraer wou nie; want hy was baie bang. Daarom het Saul 'n swaard geneem en daarop geval. En toe sy wapendraer sien dat Saul dood was, het hy net so op sy swaard geval en saam met hom gesterf. So het Saul en sy drie seuns en sy wapendraer en al sy manne op dieselfde dag saam gesterf. En toe die manne van Israel wat oorkant die dal was, en die wat oorkant die Jordaan was, sien dat die manne van Israel vlug en dat Saul en sy seuns dood was, het hulle die stede verlaat en gevlug; en die Filistyne het gekom en in hulle gaan woon. En die volgende dag, toe die Filistyne kom om die gesneuweldes te stroop, het hulle Saul en sy drie seuns op die berg Gilboa geval gevind. En hulle het sy kop afgekap en sy wapenrusting uitgetrek en na die land van die Filistyne rondom gestuur om dit bekend te maak in die huis van hulle afgode en onder die volk. En hulle het sy wapenrusting in die huis van Astarot gesit en sy liggaam aan die muur van Bet-san vasgemaak. En toe die inwoners van Jabes in Gílead hoor wat die Filistyne aan Saul gedoen het; Al die dapper manne het hulle klaargemaak en die hele nag deurgegaan en die lyk van Saul en die lyke van sy seuns van die muur van Bet-san geneem en in Jabes gekom en dit daar verbrand. En hulle het hul gebeente geneem en dit onder 'n boom by Jabes begrawe en sewe dae lank gevas.

1 SAMUEL 31:1-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Intussen het die Filistyne Israel aangeval. Die Israeliete het op die vlug geslaan. Baie van hulle het teen die hange van Gilboaberg gesneuwel. Die Filistyne het hulle op Saul en sy seuns toegespits en al drie seuns, Jonatan, Abinadab en Malkisua, doodgemaak. Die aanslag op Saul het al strawwer geword. Die boogskutters het hom ingehaal en hom ernstig gewond. Toe beveel Saul sy wapendraer: “Vat jou swaard en steek my daarmee dood voordat hierdie onbesnede Filistyne my doodsteek en my verneder.” Maar sy wapendraer was bang en wou dit nie doen nie. Toe vat Saul self die swaard en val daarin. Toe sy wapendraer sien dat Saul dood is, val hy ook in sy swaard en sterf saam met Saul. So is Saul en sy drie seuns, sy wapendraer en die manskappe by hom almal saam op een dag dood. Toe die Israeliete aan die oorkant van die Jisreëllaagte en oorkant die Jordaan sien dat die leër verslaan is en Saul en sy seuns dood is, het hulle die dorpe verlaat en gevlug. Daarna het die Filistyne hierdie dorpe beset en daar gaan woon. Die volgende dag, toe die Filistyne gaan om die lyke te plunder, kry hulle die lyke van Saul en sy drie seuns daar op Gilboaberg. Hulle het Saul se kop afgekap en sy wapenrusting afgestroop. Hulle het dit deur die hele land van die Filistyne rondgestuur om die goeie nuus te versprei en om dit in die tempel van hulle afgode en onder die mense bekend te maak. Hulle het Saul se wapenrusting in die tempel van Astarte uitgestal en sy liggaam teen die muur van Bet-San opgehang. Toe die inwoners van Jabes in Gilead hoor wat die Filistyne aan Saul gedoen het, het hulle manskappe die hele nag deur na Bet-San toe getrek en die liggame van Saul en sy seuns van die muur afgehaal. Hulle het dit na Jabes toe gebring en dit daar verbrand. Die bene het hulle onder die tamariskboom in Jabes begrawe. Daarna het hulle sewe dae lank gevas.