1 SAMUEL 30:1-6
1 SAMUEL 30:1-6 Bybel vir almal (ABA)
Dawid en sy manne het op die derde dag by die stad Siklag aangekom. Terwyl hulle weg was, het die Amalekiete die mense in die Suid-land en in Siklag aangeval en hulle het alles gevat wat hulle kon kry. Hulle het Siklag aangeval en hulle het die stad verbrand. Hulle het al die vroue wat in die stad was, gevang en weggevat. Hulle het niemand doodgemaak nie, hulle het die vroue voor hulle laat loop en hulle het verder gegaan. Dawid en sy manne kom toe by die stad, en toe was dit afgebrand. Hulle vroue en hulle seuns en dogters was weg. Dawid en die manne by hom het hard gehuil, hulle het aangehou totdat hulle nie meer kon huil nie. Dawid se twee vroue was ook weg. Sy vroue was Aginoam van die stad Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van die stad Karmel. Dit was gevaarlik vir Dawid, want die manne het gesê hulle wil hom doodgooi met klippe. Die manne was baie hartseer oor hulle kinders. Maar Dawid het sterk gebly, want sy God die Here was by hom.
1 SAMUEL 30:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN toe Dawid met sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n inval gedoen in die Suidland en in Siklag, en hulle het Siklag verslaan en dit met vuur verbrand. En hulle het die vroue en almal wat daarin was, gevange weggevoer, van die kleinste af tot die grootste toe; hulle het niemand gedood nie, maar hulle weggevoer en verder gegaan. Toe Dawid met sy manne die stad inkom, lê dit daar met vuur verbrand, en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters was as gevangenes weggevoer. Daarop het Dawid en die manskappe wat by hom was, hulle stem verhef en geween totdat daar geen krag meer in hulle was om te ween nie. Ook Dawid se twee vroue, Ahínoam uit Jísreël, en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet, was as gevangenes weggevoer. En Dawid het dit baie benoud gehad, want die manskappe het gepraat om hom te stenig; want die siel van al die manskappe was verbitterd, elkeen oor sy seuns en sy dogters; maar Dawid het homself versterk in die HERE sy God.
1 SAMUEL 30:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete al klaar 'n strooptog onderneem teen die Suidland en teen Siklag. Hulle het Siklag verower en afgebrand. Hulle het die vrouens en almal daarin, groot en klein, as krygsgevangenes weggevoer. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar almal gedwing om saam met hulle te gaan. Toe Dawid en sy manne in die dorp kom, was dit afgebrand en hulle vrouens, seuns en dogters was as gevangenes weggevoer. Dawid en sy manne het hard gehuil totdat hulle nie meer kon huil nie. Die twee vrouens van Dawid, Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet, was ook as gevangenes weggevoer. Dawid was in die nood, want die manne het daaraan gedink om hom met klippe dood te gooi. Almal was verbitterd, elkeen oor sy seuns en dogters, en toe het Dawid hulp gevra by die Here sy God.
1 SAMUEL 30:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Dawid en sy manne die derde dag by Siklag aankom, het die Amalekiete 'n strooptog uitgevoer in die Negev en in Siklag. Hulle het Siklag aangeval en afgebrand. Hulle het die vroue wat daarin was, weggevoer, van die kleinste tot die grootste. Hulle het niemand doodgemaak nie, maar hulle voor hulle uit aangejaag en padgegee. Toe Dawid en sy manne by die dorp aankom – daar is die dorp afgebrand en die vroue en seuns en dogters weggevoer! Dawid en die manskappe by hom het hard begin skreeu en gehuil totdat daar nie meer krag in hulle oor was om te huil nie. Die twee vroue van Dawid, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer. Dawid was erg in die noute, want die manskappe het gedreig om hom te stenig. Al die manskappe was immers bitter ontsteld, elkeen oor sy seuns en dogters. Maar Dawid het krag gevind by die HERE sy God.
1 SAMUEL 30:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe Dawid en sy manne op die derde dag in Siklag aankom, het die Amalekiete die suide en Siklag binnegeval en Siklag verslaan en dit met vuur verbrand; En hulle het die vroue wat daarin was, as gevangenes weggevoer; Daarop het Dawid en sy manne in die stad gekom, en kyk, dit is met vuur verbrand; en hulle vroue en hulle seuns en hulle dogters is as gevangenes weggevoer. Toe het Dawid en die manskappe wat by hom was, hul stem verhef en geween totdat hulle nie meer mag gehad het om te ween nie. En Dawid se twee vroue is as gevangenes weggevoer, Ahinoam, die Jisreëlitiese, en Abigail, die vrou van Nabal, die Karmeliet. En Dawid was baie benoud; want die volk het gepraat om hom te stenig, omdat die siel van die hele volk bedroef was, elkeen oor sy seuns en oor sy dogters; maar Dawid het hom bemoedig in die HERE sy God.
1 SAMUEL 30:1-6 Die Boodskap (DB)
Toe Dawid en sy manne twee dae later by Siklag aankom, is die dorp afgebrand. Die Amalekiete was op ’n strooptog in die Negev, en Siklag het ook in die slag gebly. Die Amalekiete het niemand doodgemaak nie, maar hulle het al die vroue en kinders gevang en met hulle saamgevat. Toe Dawid en sy manne in die afgebrande dorp kom en besef dat hulle vroue en seuns en dogters ontvoer is, het hulle in trane uitgebars en hardop gehuil. Hulle was ontroosbaar. Dawid se twee vroue, Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel, is natuurlik ook ontvoer. Dawid was lelik in die nood: die manne was só verbitter oor hulle kinders dat hulle gedreig het om hom met klippe dood te gooi. Maar hy het krag gekry by die Here sy God.
1 SAMUEL 30:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Drie dae later, toe Dawid en sy manne in Siklag aankom, ontdek hulle dat die Amalekiete ’n strooptog in die Suidland uitgevoer het. Hulle het ook Siklag verower en tot op die grond toe afgebrand. Hulle het die vroue en almal in die stad, klein en groot, as gevangenes weggevoer sonder om iemand dood te maak. Toe Dawid en sy manne die ruïnes sien en besef wat met hulle families gebeur het, het hulle gehuil totdat hulle nie meer kon nie. Dawid se twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel, is ook weggevoer. Dawid was nou in groot moeilikheid, want sy manne was verbitterd omdat hulle hulle vroue en kinders verloor het. Hulle het begin sê dat hulle Dawid met klippe moet doodgooi. Maar die HERE sy God het aan Dawid krag gegee.