1 SAMUEL 29:1-11

1 SAMUEL 29:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die Filistyne het hulle manne laat bymekaarkom by die stad Afek, en die Israeliete het hulle tente opgeslaan by die fontein naby die stad Jisreël. Die leiers van die Filistyne het hulle manne laat verbyloop in groepe. In party groepe was daar 100 manne en in party groepe was daar 1 000 manne. Dawid en sy manne het laaste verbygeloop saam met Akis. Die leiers van die Filistyne vra toe: “Hoekom is hierdie Hebreërs hier?” Akis het vir die leiers gesê: “Dit is Dawid, hy was 'n amptenaar van Saul, die koning van Israel. Hy was 'n lang tyd by my, en hy het niks verkeerd gedoen nie, nooit nie, vandat hy weggegaan het van Saul en na ons toe gekom het.” Die leiers van die Filistyne was kwaad vir Akis. Hulle het gesê: “Stuur die man terug na die plek wat jy vir hom gegee het. Hy mag nie saam met ons na die oorlog gaan nie, want miskien sal hy dan teen ons veg. Sy koning sal weer baie van hom hou as hy die koppe van ons manne vir die koning bring. Dit is hierdie Dawid oor wie hulle dans en sing en sê: “ ‘ Saul het duisende manne oorwin, maar Dawid het tienduisende oorwin.’ ” Akis het toe vir Dawid geroep en hy het vir Dawid gesê: “So seker soos die Here lewe, jy is 'n goeie man en ek dink dit is reg dat jy saam met my gekom het om oorlog te maak, want jy het niks verkeerd gedoen nie, vandat jy by my gekom het tot vandag toe. Maar die leiers dink dit is nie reg nie. Jy moet nou asseblief omdraai en gaan sodat daar vrede kan wees, jy moet niks doen waarvan die leiers van die Filistyne nie hou nie.” Dawid het vir Akis gesê: “Maar wat het ek gedoen? Wat het jy gesien wat ek verkeerd gedoen het vandat ek by jou gekom het tot vandag toe? Waarom mag ek nie teen jou vyande gaan veg nie?” Akis het vir Dawid gesê: “Ek weet jy was vir my so goed soos 'n engel van God. Maar die leiers van die Filistyne het gesê jy mag nie saam met hulle gaan oorlog maak nie. Daarom, jy en jou koning se manne wat saam met jou gekom het, moet vroeg opstaan wanneer dit môre lig word en julle moet teruggaan.” Dawid en sy manne het toe vroeg die volgende oggend opgestaan, en hulle het teruggegaan na Filistyne-land. Die Filistyne het na die stad Jisreël gegaan.

1 SAMUEL 29:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die Filistyne het hulle hele leër by Afek versamel, terwyl Israel laer opgeslaan het by die fontein wat by Jísreël is. Toe die vorste van die Filistyne by honderde en by duisende verbytrek, maar Dawid en sy manne in die agterhoede met Agis saam verbytrek, vra die owerstes van die Filistyne: Wat soek hierdie Hebreërs? En Agis sê aan die owerstes van die Filistyne: Dit is mos Dawid, die onderdaan van Saul, die koning van Israel, wat nou al dae of al jare by my is, sonder dat ek iets in hom gevind het van die dag af dat hy oorgeloop het, tot vandag toe. Maar die owerstes van die Filistyne het baie kwaad vir hom geword, en die owerstes van die Filistyne het aan hom gesê: Stuur die man terug, dat hy kan teruggaan na die plek wat u hom aangewys het, en laat hom nie met ons saam in die geveg aftrek, dat hy nie vir ons in die geveg 'n teëstander word nie. Want waarmee kan hierdie man hom aangenaam maak by sy heer? Is dit nie met die hoofde van hierdie manne nie? Is dit nie dié Dawid nie, van wie hulle in die koordanse gesing en gesê het: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende? Agis het Dawid toe geroep en aan hom gesê: So waar as die HERE leef, sekerlik, jy is opreg, en jou uitgang en jou ingang in die leër met my saam is goed in my oë; want ek het geen kwaad in jou gevind van die dag af dat jy na my gekom het tot vandag toe nie. Maar in die oë van die vorste is jy nie goed nie. Draai dan nou om en gaan in vrede, en doen niks wat verkeerd is in die oë van die vorste van die Filistyne nie. Hierop sê Dawid vir Agis: Maar wat het ek gedoen? Of wat het u in u dienaar gevind van die dag af dat ek voor u gewees het tot vandag toe, dat ek nie mag gaan veg teen die vyande van my heer die koning nie? Maar Agis het Dawid geantwoord en gesê: Ek weet dat jy goed is in my oë soos 'n engel van God, maar die owerstes van die Filistyne sê: Hy mag nie met ons saam optrek in die geveg nie. Maak jou dan nou môre vroeg klaar met die dienaars van jou heer wat met jou saamgekom het. Julle moet dus môre vroeg klaarmaak, en as dit vir julle lig word, trek dan weg. En Dawid het vroeg klaargemaak, hy en sy manne, om in die môre heen te gaan, om terug te trek na die land van die Filistyne; maar die Filistyne het opgetrek na Jísreël.

1 SAMUEL 29:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Filistyne het hulle hele leër bymekaargemaak by Afek, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël. Terwyl die regeerders van die Filistyne met honderde en duisende verbytrek en Dawid en sy manne heel laaste saam met Akis verbygaan, het die leiers van die Filistyne gesê: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?” Akis het vir die leiers van die Filistyne gesê: “Dit is maar net Dawid, die onderdaan van koning Saul van Israel, wat al geruime tyd by my is. Vandat hy afvallig geword het tot nou toe het ek niks teen hom gevind nie.” Maar die leiers van die Filistyne het hulle vererg en vir Akis gesê: “Laat die man omdraai en laat hy teruggaan na sy plek toe wat jy vir hom aangewys het. Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie. Dalk draai hy in die geveg teen ons. Hoe sal hy weer by sy koning in die guns kom? Is dit nie met die koppe van ons soldate nie? Dit is mos die Dawid van wie hulle in koordanse sing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Akis het toe vir Dawid geroep en vir hom gesê: “So seker as die Here leef, jy is opreg. Ek vind dit goed dat jy saam met my gaan veg, want vandat jy by my gekom het tot nou toe, het ek niks verkeerds by jou gevind nie, maar jy is nie aanvaarbaar vir die regeerders nie. Draai nou maar om en gaan in vrede sodat jy jou nie die onguns van die Filistynse regeerders op die hals haal nie.” Maar Dawid het vir Akis gesê: “Wat het ek gedoen, en wat het u by my gevind vandat ek in u diens gekom het tot vandag toe dat ek nie kan kom en teen u vyande veg nie?” Akis het geantwoord en Dawid verseker: “Ek is oortuig dat jy so opreg is as 'n boodskapper van die gode. Dis net dat die leiers van die Filistyne gesê het: ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’ Maak dan nou môreoggend klaar, ook jou koning se onderdane wat saam met jou gekom het; julle moet môre voordag klaarmaak en as dit lig word, moet julle vertrek.” Toe het Dawid en sy manne klaargemaak om vroeg die môre te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne toe. Maar die Filistyne het na Jisreël toe opgetrek.

1 SAMUEL 29:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Filistyne het hulle hele leër by Afek byeengebring, en Israel het kamp opgeslaan by die fontein in Jisreël. Terwyl die Filistynse regeerders in eenhede van honderd en duisend verbytrek, het Dawid en sy manne heel agter saam met Agis verbygetrek. Die bevelvoerders van die Filistyne sê toe: “Wat van hierdie Hebreërs? ” Waarop Agis vir die Filistynse bevelvoerders sê: “Is dit nie Dawid, die dienaar van Saul, die koning van Israel, wat al 'n geruime tyd by my is nie? Ek kon niks teen hom vind nie, van die dag af dat hy oorgeloop het tot vandag toe.” Die bevelvoerders van die Filistyne het hulle bloedig vererg vir hom. Die Filistynse bevelvoerders het vir hom gesê: “Stuur die man terug! Hy moet teruggaan na sy plek wat jy aan hom toegewys het. Hy mag nie saam met ons aan die geveg deelneem nie, sodat hy nie in die geveg ons teenstander word nie. Waarmee sal dié man homself weer vir sy heer aanvaarbaar maak? Is dit nie met die koppe van hierdie manne nie? Is dit dan nie Dawid, vir wie hulle in hulle kringdanse sing nie? “ ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ ” Agis het Dawid toe ontbied en vir hom gesê: “So waar as die HERE leef, jy is opreg. Dit is goed in my oë dat jy saam met my in die oorlog uittrek en terugkeer; want ek het niks verkeerds in jou gevind nie, van die dag af dat jy by my aangekom het tot vandag toe. Maar in die oë van die Filistynse regeerders is jy nie goed nie. Draai dan nou om en gaan in vrede, en moet niks verkeerds doen in die oë van die Filistynse regeerders nie.” Toe sê Dawid vir Agis: “Maar wat het ek gedoen? En wat het u in u dienaar gevind, van die dag af dat ek by u teenwoordig is tot vandag toe, dat ek nie mag gaan en veg teen die vyande van my heer die koning nie?” Agis antwoord toe en sê vir Dawid: “Ek weet dit. Ja, jy is in my oë so goed soos 'n boodskapper van God; maar die Filistynse bevelvoerders het gesê, ‘Hy mag nie saam met ons in die oorlog optrek nie.’ Staan nou môre vroeg op, jy en die dienaars van jou heer wat saam met jou gekom het. Julle moet vroeg môre opstaan, en as dit lig genoeg is, moet julle vertrek.” Dawid het toe vroeg opgestaan, hy en sy manne, om in die oggend te vertrek en terug te gaan na die land van die Filistyne. Toe het die Filistyne opgeruk na Jisreël.

1 SAMUEL 29:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die Filistyne het al hulle leërs by Afek versamel, en die Israeliete het laer opgeslaan by 'n fontein wat in Jísreël is. En die vorste van die Filistyne het deurgetrek met honderde en by duisende, maar Dawid en sy manne het in die beloning saam met Agis getrek. Toe sê die vorste van die Filistyne: Wat doen hierdie Hebreërs hier? Toe sê Agis aan die vorste van die Filistyne: Is dit nie Dawid, die dienaar van Saul, die koning van Israel, wat deesdae of hierdie jare by my was nie, en ek het geen skuld by hom gevind vandat hy aan my oorval het nie op hierdie dag? En die vorste van die Filistyne was kwaad vir hom; en die vorste van die Filistyne het vir hom gesê: Laat hierdie man teruggaan, dat hy kan teruggaan na sy plek wat jy hom aangestel het, en laat hom nie saam met ons aftrek om te veg nie, dat hy nie in die geveg 'n teëstander van ons is nie want waarmee sou hy hom met sy heer versoen? moet dit nie met die koppe van hierdie manne wees nie? Is dit nie Dawid van wie hulle in danse gesing het en gesê het: Saul het sy duisende gedood en Dawid sy tienduisende nie? Toe het Agis Dawid geroep en vir hom gesê: Waarlik, so waar as die HERE leef, jy was opreg, en jou uit- en ingaan saam met my in die leër is goed in my oë; want ek het sedertdien geen kwaad in jou gevind nie die dag van u koms na my toe tot vandag toe; Daarom, keer nou terug en gaan in vrede, dat jy die vorste van die Filistyne nie mishaag nie. Toe sê Dawid vir Agis: Maar wat het ek gedoen? en wat het jy by jou kneg gevind so lank as wat ek by jou was tot vandag toe, dat ek nie kan gaan veg teen die vyande van my heer die koning nie? Toe antwoord Agis en sê vir Dawid: Ek weet dat jy goed is in my oë soos 'n engel van God; alhoewel die vorste van die Filistyne gesê het: Hy mag nie saam met ons na die geveg optrek nie. Daarom moet jy nou vroeg in die môre opstaan met die dienaars van jou heer wat saam met jou gekom het; en sodra julle vroeg in die môre opstaan en lig het, gaan weg. Dawid en sy manne het toe vroeg opgestaan om in die môre te vertrek om terug te keer na die land van die Filistyne. En die Filistyne het opgetrek na Jísreël.

1 SAMUEL 29:1-11 Die Boodskap (DB)

Die Filistyne het al hulle manskappe by Afek bymekaargebring. Die Israeliete se kamp was by die fontein wat in die Jisreëlvlakte is. Die regeerders van die Filistynse stadstate het met hulle leërafdelings van honderde duisende man uitgetrek. Dawid en sy manne het saam met Akis die agterhoede gevorm. Die Filistynse regeerders sê toe: “Maar wat soek hierdie klomp Hebreërs hier?” Waarop Akis hulle antwoord: “Dis mos Dawid, een van Saul, die koning van Israel, se offisiere. Hy is al ’n hele ruk by my. Vandat hy van Saul af weggeloop het tot vandag toe kon ek nog nie met hom fout vind nie.” Maar die Filistynse regeerders was die joos in vir Akis en sê vir hom: “Laat die man dadelik omdraai! Stuur hom terug na die plek toe waar jy gesê het hy kan bly. Hy trek nie saam met ons uit oorlog toe nie. Netnou spring hy om in die geveg. Daar is nie ’n beter manier om sy koning se guns te wen as met ons eie mense se koppe nie! Dis mos hierdie einste Dawid oor wie die vroue sing as hulle in die rondte dans: ‘Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.’” Akis het Dawid laat roep en vir hom gesê: “So waar as die Here leef, jy is betroubaar en ek dink dis goed dat jy op al ons veldtogte saam met my is, want vandat jy by my gekom het tot nou, het jy, wat my betref, nog niks verkeerds gedoen nie. Maar die regeerders van die Filistynse stadstate vertrou jou nie. Gaan nou maar terug en wees rustig en moenie iets doen waarvan hulle nie hou nie.” Dawid het vir Akis gesê: “Maar wat het ek verkeerd gedoen? Kan u u vinger op enigiets lê wat ek gedoen het, vandat ek by u gekom het tot vandag toe, wat ’n rede kan wees waarom ek nie teen U Majesteit se vyande mag gaan veg nie?” Akis het hom geantwoord: “Ek weet, ek weet! Vir my was jy soos ’n engel uit die hemel! Maar die Filistynse regeerders het gesê jy mag nie saam met ons oorlog toe gaan nie. Maak nou môre vroeg klaar, jy en al Saul se onderdane wat saam met jou gekom het, en dan vertrek julle sodra dit lig word.” Dawid en sy manne het toe vroeg opgestaan en na die gebied van die Filistyne teruggegaan. Die Filistyne het daarna teen die Israeliete in Jisreël gaan veg.

1 SAMUEL 29:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die hele Filistynse leër het by Afek saamgetrek, terwyl die Israeliete by die fontein in Jisreël kamp opgeslaan het. Die Filistynse bevelvoerders het hulle soldate in groepe van 100 en 1 000 laat uittrek. Dawid en sy manne het die agterhoede van koning Akis gevorm. Toe vra die Filistynse bevelvoerders: “Wat maak hierdie Hebreërs hier?” Akis sê vir hulle: “Dit is Dawid, die onderdaan van Saul, koning van Israel. Hy is nou al ’n geruime tyd by my. Sedert hy na my toe uitgewyk het, kon ek nog geen fout by hom vind nie.” Maar die Filistynse bevelvoerders was kwaad. “Stuur hom terug na die plek wat jy tot sy beskikking gestel het!” eis hulle. “Hy kan nie saam met ons in die geveg gaan nie. Wat sal gebeur as hy teen ons draai? Daar is mos g’n beter manier vir hom om weer met sy heer versoen te raak as met die koppe van ons vegters nie! Dis mos dieselfde Dawid oor wie die vroue van Israel in hulle koordanse gesing het: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Toe roep Akis vir Dawid. “So waar as die HERE leef,” sê hy, “jy is betroubaar en getrou in alles wat jy doen. Vandat jy by my is tot nou toe het jy niks verkeerds gedoen nie. Ek dink julle is reg, maar die Filistynse vorste wil niks van jou weet nie. Moenie hulle verder ontstel nie, en gaan liewer in vrede terug huis toe.” “Wat het ek dan gedoen om hierdie behandeling te ontvang?” vra Dawid. “Wat het ek verkeerd gedoen in al die tyd dat ek by u is? Hoekom kan ek nie saam teen die vyande van my heer die koning gaan veg nie?” Maar Akis antwoord: “Wat my betref, is jy so goed soos ’n boodskapper van God. Maar die bevelvoerders is bang om jou saam met hulle in die geveg toe te laat. “Staan nou môre-oggend vroeg op en vertrek saam met jou manskappe voordat dit lig word.” Dawid en sy manskappe is toe vroegoggend terug na die land van die Filistyne toe, terwyl die Filistynse leër na Jisreël opgetrek het.