1 SAMUEL 28:1-25

1 SAMUEL 28:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

In daardie tyd het die Filistyne hulle leërs vir die stryd begin oproep om teen Israel oorlog te maak. Akis het vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my in die leër moet optrek.” En Dawid het vir Akis gesê: “Maar u weet tog wat ek nog altyd doen.” Toe sê Akis vir Dawid: “Daarom stel ek jou vir goed aan as my lyfwag.” Samuel het te sterwe gekom, en die hele Israel het oor hom gerou en hulle het hom in sy stad Rama begrawe. Saul het ook die dodebesweersters en die waarsêers uit die land verban. Die Filistyne het bymekaargekom en kamp gaan opslaan by Sunem. Saul het die hele Israel bymekaargemaak en kamp opgeslaan by Gilboa. Saul het die kamp van die Filistyne gesien; hy was bang en sy hart het benoud geklop. Hy het die Here geraadpleeg, maar die Here het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die urim, nóg deur profete. Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Soek vir my 'n dodebesweerster sodat ek haar kan gaan raadpleeg.” Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is 'n dodebesweerster in En-Dor.” Saul het hom vermom en ander klere aangetrek, en hy en twee manne het gegaan en in die nag by die vrou aangekom en gesê: “Tree vir my as waarsegster op deur die gees van 'n afgestorwene, en laat vir my die een opkom wat ek vir jou sê.” Maar die vrou het vir hom gesê: “Jy weet baie goed wat Saul gedoen het en dat hy die dodebesweersters en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom stel jy vir my 'n lokval om my dood te maak?” Maar Saul het vir haar 'n eed afgelê in die Naam van die Here: “So seker as die Here leef, jy sal nie oor hierdie saak gestraf word nie.” Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” En hy antwoord: “Laat Samuel vir my opkom.” Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskreeu en vir Saul gesê: “Waarom het u my bedrieg? U is dan self Saul.” Maar die koning het vir haar gesê: “Moenie bang wees nie. Wat sien jy?” en die vrou sê vir Saul: “Ek sien 'n wese uit 'n ander wêreld opkom uit die aarde.” Hy sê toe vir haar: “Hoe lyk hy?” en sy sê: “'n Ou man kom op en hy het 'n mantel aan.” Saul het toe geweet dat dit Samuel is en Saul het diep gebuig en eer aan hom betoon. Samuel het vir Saul gevra: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” En Saul antwoord: “Ek is baie bang, want die Filistyne veg teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete nie en ook nie deur drome nie. Daarom het ek u opgeroep om my in te lig oor wat ek moet doen.” Maar Samuel sê: “Waarom raadpleeg jy mý dan as die Here jou verlaat en jou teëstander geword het? Die Here het gedoen soos Hy deur my gesê het. Die Here het die koningskap van jou afgeskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee, want jy het nie die bevel van die Here gehoorsaam nie en sy gloeiende toorn nie op Amalek gewreek nie. Daarom het die Here jou nou hierdie ding aangedoen. Die Here sal Israel saam met jou in die mag van die Filistyne oorgee, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal ook die leër van Israel oorgee in die mag van die Filistyne.” Saul het meteens in sy volle lengte op die grond neergeslaan en hy het baie bang geword vanweë die woorde van Samuel. Hy het geen krag gehad nie, want hy het die hele dag en nag nie geëet nie. Toe het die vrou na Saul toe gekom en gesien dat hy baie bewe en sy het vir hom gesê: “Ek het aan u versoek toegegee en ek het my lewe op die spel geplaas toe ek na u geluister het. Gee dan tog nou toe aan my versoek, en laat ek vir u 'n stukkie kos voorsit. Eet dan, sodat daar weer krag in u kom en u verder kan gaan.” Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie.” Sy manne en ook die vrou het by hom aangedring totdat hy hulle hulle sin gegee het. Hy het van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit. Die vrou het 'n kalf by die huis op stal gehad, en sy het dit gou gaan slag. Sy het ook meel gevat, dit geknie en ongesuurde brood gebak. Sy het dit vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog weggegaan.

1 SAMUEL 28:1-25 Bybel vir almal (ABA)

In daardie tyd het die Filistyne hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak teen die Israeliete. Akis het vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan, jy en jou manne sal nou saam met my moet gaan om oorlog te maak.” Dawid het vir Akis gesê: “Ja, goed, jy sal self sien ek sal jou dien.” Akis sê toe vir Dawid: “Goed, dan moet jy my altyd oppas.” Samuel het voor daardie tyd gesterf. Al die Israeliete het oor hom gerou en hulle het hom begrawe in Rama, die stad waar hy gewoon het. Voor daardie tyd het Saul al die vroue wat met die geeste van dooie mense gepraat het en ook die waarsêers weggejaag uit die land. Die Filistyne het bymekaargekom en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Sunem. Saul het al die Israeliete laat bymekaarkom en hy het sy tente opgeslaan op Gilboa-berg. Saul het baie bang geword toe hy die tente van die Filistyne sien en hy het gebewe. Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Die Here het nie met Saul gepraat in 'n droom of met die urim nie. Hy het ook nie vir die profete gesê wat hulle vir Saul moet sê nie. Saul het toe vir sy amptenare gesê: “Julle moet vir my sê waar is 'n vrou wat met die geeste van dooie mense praat, ek wil vir haar vra wat ek moet doen.” Sy amptenare het vir hom gesê: “Daar is so 'n vrou in En-Dor.” Saul het ander klere aangetrek sodat niemand kon sien wie hy is nie, en hy en twee manne het na die vrou toe gegaan. Hulle het in die nag by die vrou gekom, en Saul het vir haar gesê: “Jy moet vir my help, jy moet praat met die gees van 'n dooie man. Ek sal vir jou sê wie jy moet laat kom.” Maar die vrou het vir Saul gesê: “Luister na my, jy weet self wat Saul gedoen het. Hy het die vroue wat met die geeste van dooie mense praat en die waarsêers uit die land gejaag. Hoekom wil jy hê ek moet iets doen waaroor hy my sal doodmaak?” Saul het vir haar voor die Here belowe en gesê: “So seker soos die Here lewe, jy sal nie hieroor skuldig wees nie.” Die vrou het gevra: “Wie moet ek vir jou laat kom?” En Saul het gesê: “Jy moet Samuel vir my laat kom.” Toe die vrou vir Samuel sien, het sy hard geskree en vir Saul gesê: “Hoekom het jy my bedrieg? Jy is Saul.” Die koning het vir haar gesê: “Jy moenie bang wees nie. Wat sien jy?” Die vrou het gesê: “Ek sien 'n gees wat uit die aarde kom.” Saul het vir haar gevra: “Hoe lyk hy?” En sy het gesê: “Hy lyk soos 'n ou man, en hy dra 'n bo-kleed.” Saul het toe geweet dit is Samuel. Saul het gekniel en hy het laag gebuig. Samuel het vir Saul gesê: “Hoekom is jy lastig? Hoekom laat jy my kom?” Saul sê toe: “Ek het baie probleme. Die Filistyne maak oorlog teen my, en God het weggegaan van my. Hy het my nie geantwoord nie, nie met die profete nie en nie met drome nie. Toe het ek vir jóú geroep, jy moet vir my sê wat ek moet doen.” Samuel het gesê: “Die Here het weggegaan van jou en Hy het jou vyand geword. Hoekom vra jy nou vir mý om jou te help? Die Here het gedoen wat Hy gesê het. Hy het my gestuur om vir jou te sê jy sal nie meer koning wees nie, Hy sal 'n ander man koning maak. Daardie man is Dawid. Die Here het dit gedoen omdat jy ongehoorsaam was aan Hom. Hy was kwaad vir die Amalekiete, en jy het nie gedoen wat Hy vir jou gesê het nie. Die Here sal die Filistyne laat wen teen die Israeliete en teen jou, en môre sal jy en jou seuns by my wees. Die Here sal die Filistyne laat wen teen die manne van Israel.” Saul het plat op die grond geval. Hy was baie bang oor wat Samuel gesê het. Hy was ook swak, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Die vrou het na Saul toe gekom en sy het gesien hoe bang hy is. Sy het vir hom gesê: “Luister na my, ek het gedoen wat jy gevra het. Dit was baie gevaarlik vir my, maar ek het geluister na jou. Nou moet jy luister na mý. Ek sal vir jou 'n bietjie kos bring sodat jy kan eet en sterk kan word voordat jy verder gaan.” Maar Saul wou dit nie doen nie, hy het gesê: “Nee, ek sal nie eet nie.” Maar sy manne en die vrou het aangehou sê hy moet eet, toe het Saul geluister na hulle. Hy het opgestaan en hy het op 'n bank gaan sit. Die vrou het 'n vet jong bees by die huis gehad, en sy het dit gou geslag. Sy het meel geneem en geknie en ongesuurde brood gebak. Sy het dit gebring en voor Saul en sy manne neergesit. Hulle het geëet en hulle het dieselfde nag weggegaan.

1 SAMUEL 28:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN toe die Filistyne in dié dae hulle leër versamel vir oorlog om teen Israel te veg, sê Agis vir Dawid: Jy moet goed verstaan dat jy met my saam in die leër moet uittrek, jy en jou manne. Daarop sê Dawid vir Agis: Goed, u weet wel wat u dienaar moet doen. En Agis sê vir Dawid: Goed, ek sal jou vir altyd aanstel as my lyfwag. En Samuel het gesterwe, en hulle het oor hom gerouklaag, die hele Israel, en hom begrawe in Rama, naamlik in sy stad. En Saul het die dodebesweerders en die waarsêers uit die land verwyder. Daarop het die Filistyne bymekaargekom en ingetrek en laer opgeslaan in Sunem. En Saul het die hele Israel versamel, en hulle het laer opgeslaan op Gilbóa. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bevrees geword, en sy hart het baie gebewe. En Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie — nie deur drome en nie deur die Urim en nie deur die profete nie. En Saul sê aan sy dienaars: Soek julle vir my 'n vrou wat 'n dodebesweerster is, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Daar is 'n vrou, 'n dodebesweerster, in En-Dor. Daarop het Saul hom onkenbaar gemaak en ander klere aangetrek en weggegaan, hy en twee manne saam met hom. En toe hulle in die nag by die vrou aankom, sê hy: Voorspel tog vir my deur die gees van 'n afgestorwene en laat vir my opkom die een wat ek jou sal noem. Maar die vrou sê vir hom: Jy weet tog self wat Saul gedoen het; hoe hy die dodebesweerders en waarsêers uit die land uitgeroei het. Waarom stel jy dan 'n val vir my op om my dood te maak? Toe sweer Saul vir haar by die HERE en sê: So waar as die HERE leef, geen straf sal jou ter wille hiervan tref nie! En die vrou vra: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Laat Samuel vir my opkom. Maar toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hardop, en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het u my bedrieg? Want u is Saul self. En die koning antwoord haar: Wees nie bevrees nie; maar wat sien jy? En die vrou sê vir Saul: Ek sien 'n bonatuurlike wese uit die aarde opkom. Hy vra haar toe: Hoe is sy voorkoms? En sy antwoord: 'n Ou man kom op met 'n mantel om. Toe Saul begryp dat dit Samuel is, buig hy met sy aangesig na die aarde toe en val neer. En Samuel sê vir Saul: Waarom verontrus jy my deur my te laat opkom? En Saul antwoord: Ek is baie benoud, want die Filistyne voer teen my oorlog, en God het van my gewyk en antwoord my nie langer deur die diens van die profete en ook nie deur drome nie; daarom het ek u geroep om my bekend te maak wat ek moet doen. En Samuel sê: Maar waarom raadpleeg jy my terwyl die HERE van jou gewyk en jou vyand geword het? Die HERE het dan vir Homself gedoen soos Hy deur my diens gespreek het, en die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister en die gloed van sy toorn teen Ámalek nie uitgevoer het nie, daarom het die HERE jou vandag hierdie ding aangedoen. En die HERE sal Israel ook saam met jou in die hand van die Filistyne gee, en môre sal jy met jou seuns by my wees; ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne gee. En Saul het plotseling in sy volle lengte op die grond geval en baie bevrees geword deur die woorde van Samuel; buitendien was daar geen krag in hom nie, want hy het die hele dag en die hele nag geen brood geëet nie. Daarop gaan die vrou na Saul; en toe sy sien dat hy baie verskrik was, sê sy vir hom: Kyk, u dienares het na u geluister en my lewe gewaag en na u woorde geluister wat u tot my gespreek het. En nou moet u self tog luister na u dienares, en laat ek u 'n stukkie brood voorsit, en eet, dat daar krag in u kan wees as u verder gaan. Maar hy het geweier en gesê: Ek wil nie eet nie. Maar toe sy dienaars en die vrou ook by hom aandring, het hy na hulle geluister en opgestaan van die grond af en op die bed gaan sit. En die vrou het 'n kalf in die stal by die huis gehad en dit gou geslag, en sy het meel geneem en geknie en daar ongesuurde koeke van gebak. Toe het sy dit aangebring voor Saul en voor sy dienaars, en hulle het geëet en opgestaan en dieselfde nag weggegaan.

1 SAMUEL 28:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Toe die Filistyne in daardie tyd hulle leërs byeenbring vir oorlog, om teen Israel te veg, het Agis vir Dawid gesê: “Jy moet goed verstaan dat jy saam met my in die leër moet uittrek, jy en jou manne.” Dawid het Agis geantwoord: “In daardie geval sal u self agterkom wat u dienaar kan doen.” Waarop Agis toe vir Dawid sê: “Goed dan, ek stel jou aan as my permanente lyfwag.” Toe Samuel dood is, het die hele Israel oor hom gerou en hom begrawe in sy tuisdorp, in Rama. Saul het die oproepers van geeste en die waarsêers uit die land gesit. Die Filistyne het toe byeengekom. Hulle het die land binnegeval en kamp opgeslaan by Sunem. Saul het die hele Israel byeengebring, en hulle het kamp opgeslaan by Gilboa. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, was hy bang en het sy hart verskriklik gebewe. Saul het die HERE geraadpleeg, maar die HERE het hom nie geantwoord nie, nóg deur drome, nóg deur die Urim, nóg deur die profete. Saul sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my 'n vrou wat mag het oor geeste, dat ek na haar kan gaan en haar kan raadpleeg.” Sy amptenare sê vir hom: “Kyk, daar is 'n vrou met 'n waarsêerput in En-Dor.” Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Hy gaan toe, hy en twee manne saam met hom, en kom in die nag by die vrou aan. Hy sê toe: “Tree asseblief vir my as voorspeller op deur die gees van 'n dooie. Laat vir my dié een opkom wat ek vir jou sal sê.” Die vrou sê egter vir hom: “Kyk, jy weet self wat Saul gedoen het, dat hy die oproepers van geeste en waarsêers in die land uitgeroei het. Waarom is jy besig om vir my 'n strik te stel om my dood te maak?” Maar Saul het vir haar 'n eed by die HERE afgelê: “So waar as die HERE leef, geen skuld sal op jou rus in hierdie saak nie.” Die vrou vra toe: “Wie moet ek vir jou laat opkom?” Hy het gesê: “Laat Samuel vir my opkom.” Maar toe die vrou Samuel sien, het sy baie hard gegil. Die vrou sê toe vir Saul: “Waarom het u my mislei? U is dan Saul!” Toe sê die koning vir haar: “Moenie bang wees nie. Maar wat sien jy?” Die vrou het vir Saul gesê: “Ek sien 'n geestelike wese besig om uit die grond op te kom.” Hy vra haar toe: “Hoe lyk hy?” Sy het geantwoord: “'n Ou man is besig om op te kom, en hy het 'n mantel om hom.” Toe weet Saul dat dit Samuel is. Hy het gekniel met sy gesig na die grond en diep neergebuig. Samuel sê toe vir Saul: “Waarom steur jy my deur my te laat opkom?” Saul het geantwoord: “Ek is baie benoud. Die Filistyne voer teen my oorlog en God het van my gewyk. Hy antwoord my nie meer nie, nóg deur die profete, nóg deur drome. Toe het ek u opgeroep om aan my te kenne te gee wat ek moet doen.” Toe sê Samuel: “En waarom raadpleeg jy my, as die HERE van jou gewyk en jou teenstander geword het? Die HERE het aan jou gedoen soos Hy deur my bekend gemaak het: Die HERE het die koningskap uit jou hand geruk en dit aan jou medemens, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister het nie, en nie sy brandende toorn oor Amalek voltrek het nie, daarom doen die HERE dit vandag aan jou. Die HERE sal ook Israel saam met jou in die hand van die Filistyne oorgee. En môre sal jy en jou seuns by my wees. Ook die leër van Israel sal die HERE in die hand van die Filistyne oorgee.” Saul het dadelik in sy volle lengte op die grond neergeval. Hy was angsbevange oor die woorde van Samuel. Daar was ook geen krag oor in hom nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Die vrou het na Saul gekom, en toe sy sien dat hy heeltemal verskrik is, sê sy vir hom: “Kyk, u slavin het na u geluister. Ek het my lewe in my hand geneem en u woorde wat u vir my gesê het, gehoorsaam. Luister u dan nou ook asseblief na u slavin. Laat ek 'n stukkie brood voor u neersit, sodat u kan eet. U moet krag hê, omdat u op u pad moet gaan.” Maar hy het geweier en gesê: “Ek gaan nie eet nie.” Sy dienaars en ook die vrou het egter by hom aangedring. Hy het toe na hulle geluister, van die grond af opgestaan en op die bed gaan sit. Die vrou het by die huis 'n kalf op stal gehad, en sy het dit gou geslag. Sy het meel geneem, dit geknie en ongesuurde brood gebak. Sy het dit vir Saul en sy dienaars voorgesit en hulle het geëet. Hulle het gereedgemaak en dieselfde nag nog vertrek.

1 SAMUEL 28:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En in dié dae het die Filistyne hulle leërs bymekaargeroep vir oorlogvoering om teen Israel te veg. Toe sê Agis vir Dawid: Weet verseker dat jy saam met my na die oorlog sal uittrek, jy en jou manne. Toe sê Dawid vir Agis: Jy sal sekerlik weet wat jou dienaar kan doen. Toe sê Agis vir Dawid: Daarom sal ek jou vir altyd as wagter oor my hoof aanstel. En Samuel was dood, en die hele Israel het hom beklaag en hom in Rama begrawe, ja, in sy eie stad. En Saul het die geeste van afgestorwenes en die towenaars uit die land verdryf. En die Filistyne het bymekaargekom en gekom en laer opgeslaan in Sunem, en Saul het die hele Israel bymekaargemaak en laer opgeslaan in Gilboa. En toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy bang geword, en sy hart het baie gebewe. En toe Saul die HERE geraadpleeg het, het die HERE hom nie geantwoord nie, nie deur drome of deur Urim of deur profete nie. Toe sê Saul vir sy dienaars: Soek vir my 'n vrou met 'n gees van afgestorwene, dat ek na haar kan gaan en haar raadpleeg. En sy dienaars sê vir hom: Kyk, daar is 'n vrou met 'n bekende gees in Endor. En Saul het hom vermom en ander klere aangetrek, en hy het gegaan, en twee mans saam met hom, en hulle het in die nag by die vrou gekom; op, wie Ek vir jou sal noem. En die vrou sê vir hom: Kyk, jy weet wat Saul gedoen het, hoe hy die geeste van afgestorwenes en die towenaars uit die land uitgeroei het; daarom lê jy dan 'n strik vir my lewe om my sterf? En Saul het vir haar by die HERE gesweer en gesê: So waar as die HERE leef, oor hierdie saak sal geen straf jou oorkom nie. Toe sê die vrou: Wie moet ek vir jou laat opkom? En hy sê: Bring vir my Samuel op. Toe die vrou Samuel sien, het sy met 'n groot stem uitgeroep; en die vrou het met Saul gespreek en gesê: Waarom het jy my bedrieg? want jy is Saul. Toe sê die koning vir haar: Moenie bang wees nie, want wat het jy gesien? En die vrou sê vir Saul: Ek het gode uit die aarde sien opkom. En hy sê vir haar: Van watter gestalte is hy? En sy sê: 'n Ou man kom op; en hy is bedek met 'n mantel. Toe Saul bemerk dat dit Samuel was, het hy met sy aangesig na die aarde gebuk en gebuig. Toe sê Samuel vir Saul: Waarom het jy my onrustig gemaak om my op te bring? En Saul antwoord: Ek is baie benoud; want die Filistyne voer oorlog teen my, en God het van my gewyk en antwoord my nie meer deur profete of drome nie; daarom het ek jou geroep, dat jy my bekend kan maak wat ek moet doen. Toe sê Samuel: Waarom vra jy my dan, terwyl die HERE van jou gewyk het en jou vyand geword het? En die HERE het aan hom gedoen soos Hy deur my gespreek het, want die HERE het die koningskap uit jou hand geskeur en dit aan jou naaste, aan Dawid, gegee. Omdat jy nie na die stem van die HERE geluister het en sy gloed van grimmigheid nie teen Amalek laat optree het nie, daarom het die HERE hierdie ding vandag aan jou gedoen. Verder sal die HERE ook Israel saam met jou oorgee in die hand van die Filistyne; en môre sal jy en jou seuns by My wees; die HERE sal ook die leër van Israel in die hand van die Filistyne gee. Toe val Saul dadelik oral op die aarde en was baie bevrees vanweë die woorde van Samuel, en daar was geen krag in hom nie; want hy het die hele dag en ook nie die hele nag brood geëet nie. En die vrou het by Saul gekom en gesien dat hy baie ontsteld was, en vir hom gesê: Kyk, u dienares het na u stem geluister, en ek het my lewe in my hand gegee en geluister na u woorde wat u met my gespreek het. Luister tog nou tog ook na die stem van u dienares, en laat my 'n stukkie brood voor u voorsit; en eet, dat jy krag kan hê as jy op pad gaan. Maar hy het geweier en gesê: Ek sal nie eet nie. Maar sy dienaars, saam met die vrou, het hom gedwing; en hy het na hulle stem geluister. En hy het van die aarde af opgestaan en op die bed gaan sit. En die vrou het 'n vet kalf in die huis gehad; en sy het dit gou geslag en meel geneem en geknie en ongesuurde brode daarvan gebak. En sy het dit voor Saul en voor sy dienaars gebring; en hulle het geëet. Toe het hulle opgestaan en daardie nag weggegaan.

1 SAMUEL 28:1-25 Die Boodskap (DB)

Toe die Filistyne in dié tyd hulle manskappe reggekry het om teen Israel oorlog te maak, het Akis vir Dawid gesê: “Jy weet natuurlik dat jy en jou manne saam met my sal moet gaan oorlog maak.” “Maar natuurlik,” het Dawid geantwoord. “U Majesteit sal self sien wat ek kan doen.” “Goed so,” het Akis gesê. “Dan is jy, so lank as wat die oorlog aanhou, my persoonlike lyfwag.” Samuel was dood en die mense het klaar oor hom getreur en hom in sy tuisdorp, Rama, begrawe. Intussen het Saul al die mense wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land verban. Die Filistyne het bymekaargekom en by Sunem kamp opgeslaan. Saul het al die Israeliete op die Gilboaberg laat saamtrek. Toe Saul die leër van die Filistyne sien, het hy baie benoud geraak. Hy het vir die Here gevra wat hy moet doen, maar die Here het hom nie geantwoord nie. Hy kon nie deur drome of deur die heilige klippies of by profete ’n antwoord van die Here kry nie. Hy sê toe vir sy amptenare: “Soek vir my ’n vrou wat geeste kan oproep. Ek wil na haar toe gaan en vir haar raad vra.” Sy amptenare sê toe vir hom: “Daar is ’n vrou in Endor wat geeste oproep.” Saul het homself vermom en gewone klere aangetrek. Hy en twee van sy werkers het in die nag na die vrou toe gegaan. Daar aangekom, sê hy vir haar: “Jy moet asseblief vir my iemand se gees oproep. Ek sal vir jou sê wie s’n.” Die vrou sê vir hom: “Maar jy weet mos wat Saul gedoen het: hy het dié wat geeste oproep en die fortuinvertellers uit die land uitgeroei. Wil jy my laat doodmaak deur my in ’n lokval te lei?” Saul het vir haar voor die Here gesweer en gesê: “So waar as die Here leef, jy sal niks oorkom nie.” Toe vra die vrou: “Wie moet ek vir jou oproep?” Hy antwoord: “Roep Samuel vir my op.” Toe die vrou Samuel sien, het sy hard gegil. Sy het vir Saul gesê: “Hoekom het u my om die bos gelei? U is Saul!” “Moenie bang wees nie,” sê koning Saul vir haar, “sê vir my wat jy sien.” Die vrou antwoord hom: “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom!” “Hoe lyk hy?” vra Saul. Sy antwoord: “Dis ’n ou man met ’n profetemantel aan.” Toe weet Saul dis Samuel. Hy het op sy knieë gaan staan en met sy gesig teen die grond gebuig. Samuel vra toe vir Saul: “Hoekom pla jy my? Hoekom laat jy my oproep?” Saul antwoord hom: “Ek is baie diep in die moeilikheid: die Filistyne maak oorlog teen my, en God het my verlaat. Hy antwoord my nie meer nie, nie deur profete of drome nie. Ek het jou laat oproep om te hoor wat ek moet doen.” Samuel sê vir hom: “Maar hoekom kom vra jy mý as die Here die rug vir jou gedraai en jou vyand geword het? Die Here doen maar net wat ek vir jou gesê het Hy gaan doen: Hy het jou koningskap van jou afgeskeur en dit aan iemand anders, aan Dawid, gegee. Die Here doen dit aan jou omdat jy nie na Hom wou luister nie. Hy was kwaad vir die Amalekiete en jy moes hulle uitgeroei het. Die Here gaan die Israeliete saam met jou aan die Filistyne oorgee. Môre sal jy en jou seuns by my in die onderwêreld wees. Ja, die Here gaan die leër van Israel teen die Filistyne laat verloor.” Toe Saul hoor wat Samuel sê, het hy só geskrik dat hy net daar, so groot as wat hy is, op die grond neergeslaan het. Hy het in elk geval nie meer krag in sy lyf gehad nie, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Die vrou het nader gekom en gesien hoe Saul op die grond lê en ruk. Sy sê toe vir hom: “My koning, ek het na u geluister; ek het my lewe gewaag en gedoen wat u vir my gesê het. Nou moet u asseblief ook na mý luister: laat ek vir my koning ’n stukkie brood bring dat u weer krag kan kry vir die pad wat voorlê.” Maar hy het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!” Die twee werkers wat saam met hom was en die vrou het só by hom aangehou dat hy naderhand na hulle geluister en van die grond af opgestaan het. Hy het op die bed gaan sit. Die vrou het ’n kalf in die stal by die huis gehad. Sy het die kalf so gou as wat sy kon, geslag. Sy het meel gevat, deeg aangemaak en platbrood gebak. Sy het die kos vir Saul en sy werkers voorgesit. Hulle het geëet, daarna opgestaan en dieselfde nag weer weggegaan.

1 SAMUEL 28:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ongeveer hierdie tyd het die Filistyne hulle troepe saamgetrek vir ’n oorlog teen Israel. Akis sê vir Dawid: “Jy besef seker dat jy en jou manne saam met my oorlog toe sal moet gaan.” “Sekerlik!” sê Dawid. “Dan kan u self sien waartoe ons in staat is.” Akis sê vir hom: “Goed, ek stel jou permanent aan as my persoonlike lyfwag.” Intussen het Samuel gesterf. Die hele Israel het oor hom gerou. Hy is in Rama, sy tuisdorp, begrawe. En Saul het al die dodebesweerders en waarsêers uit die land verban. Die Filistyne het hulle kamp by Sunem opgeslaan. Saul het al die Israeliete opgeroep en kamp opgeslaan by Gilboa. Toe Saul die groot Filistynse mag sien, het hy wanhopig van vrees geword. Hy het die HERE gevra wat hy moes doen, maar die HERE het hom nie geantwoord nie, nie deur drome nie en ook nie deur die Urim of die profete nie. Saul beveel toe sy amptenare: “Soek ’n vrou wat ’n dodebesweerder is sodat ek vir haar kan gaan vra wat om te doen.” Sy amptenare antwoord: “Daar is ’n dodebesweerder in En-Dor.” Saul het homself vermom en ander klere aangetrek. Vergesel van twee van sy manskappe het hy in die nag na die vrou se huis toe gegaan. “Raadpleeg vir my die gees van ’n afgestorwene,” sê hy. “Roep die een op wat ek vir jou sal sê.” “Nee!” sê die vrou. “Jy weet mos dat Saul alle dodebesweerders en waarsêers uit die land verban het. Hoekom stel jy vir my ’n strik sodat ek moet sterf?” Maar Saul het ’n eed afgelê in die Naam van die HERE en belowe: “So seker as die HERE leef, jy sal niks oorkom as jy dit doen nie.” Uiteindelik het sy ingewillig: “Wie se gees moet ek vir jou oproep?” “Roep Samuel vir my op,” antwoord Saul. Toe die vrou Samuel sien, skreeu sy hard: “U het my mislei! U is dan Saul!” “Moenie bang wees nie!” sê hy vir haar. “Wat sien jy?” “Ek sien ’n gees wat uit die onderwêreld opkom,” sê sy. “Hoe lyk hy?” vra Saul. “Dis ’n ou man met ’n mantel aan,” antwoord sy. Saul het besef dis Samuel, en hy het in eerbied voor hom op die grond neergeval. “Hoekom pla jy my deur my op te roep?” vra Samuel. “Ek is baie beangs,” antwoord Saul. “Die Filistyne maak oorlog teen my en God het my ook verlaat. Hy antwoord my nie meer deur óf profete óf drome nie. Daarom het ek u laat oproep om vir my te sê wat ek moet doen.” Maar Samuel antwoord hom: “Waarom vra jy my dan as die HERE jou verlaat het en jou vyand geword het? Die HERE het gedoen net soos Hy deur my gesê het Hy sou doen. Hy het die koningskap van jou weggeneem en dit vir iemand anders, vir Dawid, gegee. Die HERE doen dit omdat jy nie sy bevele oor die Amalekiete gehoorsaam het en hulle gestraf het nie. Dis hoekom die HERE vandag so maak. Trouens, die HERE sal Israel saam met jou oorgee in die mag van die Filistyne sodat jy en jou seuns ook môre hier by my sal wees. Die HERE sal toesien dat die Filistyne die hele leër van Israel verslaan.” Saul het uitgestrek op die grond neergeval, lam van vrees oor die woorde van Samuel. Hy was ook flou van honger, want hy het die hele dag en nag niks geëet nie. Toe die vrou sien hoe geweldig ontsteld hy is, sê sy: “My heer, ek het gedoen soos u gevra het en het my lewe gewaag om na u te luister. Doen nou ook wat ek sê. Laat my iets vir u gee om te eet sodat u sterk kan word vir die terugreis.” Maar Saul het geweier en gesê: “Ek wil nie eet nie!” Die manne saam met hom het soos die vrou hom ook aangepor om te eet. Hy het uiteindelik toegegee en van die grond af opgestaan en op die rusbank gaan sit. Die vrou het ’n vet kalf by haar huis gehad. Sy het dit geslag, deeg geknie en ongesuurde brood gebak. Dit het sy vir Saul en sy manne voorgesit en hulle het geëet. Daarna het hulle opgestaan en dieselfde nag nog teruggegaan.