1 SAMUEL 27:1-12

1 SAMUEL 27:1-12 Bybel vir almal (ABA)

Dawid het gedink: Eendag sal Saul my kry en dan sal hy my doodmaak. Dit sal beter wees as ek wegvlug na Filistyne-land, dan sal Saul ophou om my oral in die land Israel te soek. So sal ek wegkom van hom. Dawid het toe gereedgemaak en hy en 600 manne het gegaan na koning Akis van die stad Gat. Akis was die seun van Maok. Dawid en sy manne het by Akis in Gat gaan woon. Elke man het ook sy huisgesin saamgeneem. Dawid se twee vroue was Aginoam van die stad Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van die stad Karmel. Saul het gehoor dat Dawid na Gat gevlug het, en Saul het hom nie meer gesoek nie. Dawid het vir Akis gesê: “As jy tevrede is met my, dan moet jy vir my plek gee in een van die stede weg van die stad Gat, dan kan ek daar woon. Ek is nie belangrik nie, hoekom moet ek hier in die koningstad by jou woon?” Akis het toe die stad Siklag vir Dawid gegee. Daarom behoort Siklag tot vandag toe aan die konings van Juda. Dawid het 'n jaar en vier maande in die land van die Filistyne gewoon. Hy en sy manne het die mense van Gesur en Geser en ook die Amalekiete gaan aanval. Dit was die mense wat lank gelede tussen Sur en Egipte gewoon het. Wanneer Dawid 'n land aangeval het, dan het hy almal doodgemaak, mans en vroue. Dan het hy hulle klere gevat en die skape en bokke en beeste en donkies en kamele, en hy het teruggegaan. En wanneer hy by Akis gekom het, dan het Akis gevra waar hulle daardie dag mense aangeval het en die mense se goed gevat het. Dan het Dawid gesê hulle het die mense in die Suid-land van Juda aangeval of die Jeragmeël-families of die Keniete in die Suid-land. Dawid en sy manne het altyd almal doodgemaak, mans en vroue, sodat niemand kon vertel wat hulle gedoen het nie. Dawid het dit altyd gedoen toe hy in die land van die Filistyne gewoon het. Akis was nie bekommerd oor Dawid nie, hy het gedink: Dawid se eie mense in die volk Israel praat baie sleg van hom, hy sal altyd vir my moet werk.

1 SAMUEL 27:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Dawid het by homself gesê: Nou sal ek een van die dae omkom deur die hand van Saul; daar is vir my niks goeds nie, tensy ek dadelik ontsnap na die land van die Filistyne; dan sal Saul die hoop opgee om my langer in die hele grondgebied van Israel te soek, en ek sal uit sy hand ontsnap. Dawid maak toe klaar, en hy saam met die seshonderd man wat by hom was, het deurgetrek na Agis, die seun van Maog, die koning van Gat. En Dawid het by Agis gebly in Gat, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin; Dawid met sy twee vroue, Ahínoam uit Jísreël en Abígail, die vrou van Nabal, die Karmeliet. Toe Saul tyding kry dat Dawid na Gat gevlug het, het hy verder nie meer na hom gesoek nie. En Dawid het vir Agis gesê: As ek dan guns in u oë gevind het, laat hulle my tog 'n plek gee in een van die plattelandse stede, dat ek daar kan woon; waarom tog sou u dienaar in die koninklike stad by u woon? Daarop gee Agis dieselfde dag Siklag aan hom; daarom het Siklag aan die konings van Juda behoort tot vandag toe. En die getal dae wat Dawid in die land van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande. En Dawid het met sy manne opgetrek, en hulle het die Gesuriete en die Girsiete en die Amalekiete oorval, want hulle was van ouds die bewoners van die land in die rigting van Sur en tot aan Egipteland. En so dikwels as Dawid die land oorval, laat hy geen man of vrou lewe nie, en neem kleinvee en beeste en esels en kamele en klere saam. En as hy teruggaan en by Agis kom, vra Agis: Waar het julle vandag 'n inval gedoen? Dan sê Dawid: In die Suidland van Juda en in die Suidland van die Jeragmeëliete en in die Suidland van die Keniete. Maar geen man of vrou het Dawid laat lewe om dié na Gat te bring nie, want hy het gedink: Anders sal hulle ons aangee en sê: So het Dawid gehandel. En dit was sy manier al die dae wat hy in die land van die Filistyne gewoon het. En Agis het Dawid vertrou en gesê: Hy het homself vir goed by sy volk, by Israel, gehaat gemaak en sal vir altyd my onderdaan wees.

1 SAMUEL 27:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dawid het by homself gedink: ek sal nog eendag deur Saul omkom. Daar bly vir my niks anders oor nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne toe. Dan sal Saul ophou om langer oral in die gebied van Israel na my te soek. So sal ek van hom af wegkom. Dawid het klaargemaak en hy en ses honderd man wat by hom was, het oorgetrek na koning Akis van Gat, seun van Maok toe. Dawid het by Akis in Gat gewoon, hy en sy manne met hulle gesinne, en ook sy twee vrouens Aginoam uit Jisreël, en Abigajil die weduwee van Nabal die Karmeliet. Daar is toe aan Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het, en Saul het hom nie langer gesoek nie. Dawid het vir Akis gesê: “As u my goedgesind is, gee my dan 'n plek in een van u buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom moet ek saam met u in die koninklike stad woon?” Op daardie dag het Akis toe vir Siklag aan hom gegee, en daarom behoort Siklag nou nog aan die konings van Juda. Dawid het 'n jaar en vier maande op die platteland by die Filistyne gewoon. Dawid en sy manne het van tyd tot tyd opgetrek en dan het hulle die Gesureërs of die Geseriete of die Amalekiete aangeval. Dit is die mense wat die gebied bewoon van Olam af waar jy ingaan na Sur toe tot by Egipte. Wanneer Dawid 'n gebied verower het, het hy geen man of vrou laat lewe nie. Hy het skape en beeste, donkies en kamele en klere buitgemaak. Dan het hy omgedraai en na Akis toe gegaan. En as Akis vra: “Vir wie het julle nou weer oorval?” antwoord Dawid: “Die Suidland van Juda” of “die Suidland van die Jeragmeëliete” of “die Suidland van die Keniete.” Dawid het geen man of vrou laat lewe om na Gat toe te bring nie, want hy het gedink: anders verklik hulle ons en sê: “Dit is wat Dawid gedoen het.” Dit het hy gedoen so lank hy op die platteland by die Filistyne gewoon het. Akis het vir Dawid vertrou, want hy het gedink: hy het vir goed by sy volk Israel in onguns geraak. Hy sal altyd my onderdaan wees.

1 SAMUEL 27:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dawid het vir homself gesê: “Nou gaan ek op 'n dag deur die hand van Saul weggevee word. Daar is vir my niks beter nie as om uit te wyk na die land van die Filistyne. Dan sal Saul moed opgee oor my, om verder na my te soek in die hele gebied van Israel. Ek sal so aan sy hand ontvlug.” Dawid het toe gereedgemaak, en hy en die seshonderd man wat by hom was, het oorgegaan na Agis, seun van Maog, die koning van Gat. Dawid het toe by Agis in Gat gebly, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin, ook Dawid met sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal van Karmel. Toe daar aan Saul berig gebring is dat Dawid na Gat gevlug het, het hy hom nie verder gesoek nie. Dawid het vir Agis gesê: “As ek guns gevind het in u oë, laat hulle vir my 'n plek gee in een van die buitedorpe sodat ek daar kan woon. Waarom sou u dienaar in die koninklike stad by u woon?” Agis het dieselfde dag nog Siklag vir hom gegee. Daarom behoort Siklag aan die konings van Juda; dit is vandag nog so. Die tydperk wat Dawid in die gebied van die Filistyne gewoon het, was een jaar en vier maande. Dawid en sy manne het opgetrek en aanvalle geloods op die mense van Gesur; op die mense van Geser en op die Amalekiete. Ja, hulle was die inwoners van die land wat van altyd af gestrek het van die ingang na Sur tot by Egipteland. Wanneer Dawid 'n landstreek aanval, het hy geen man of vrou laat leef nie, maar hy het die kleinvee, beeste, donkies, kamele en klere geneem. Wanneer hy dan terugkeer en by Agis aankom, vra Agis: “Waar het julle vandag 'n aanval geloods?” Dawid sê dan: “In die Negev van Juda”, of “teen die mense van Jeragmeël in die Negev”, of “teen die Keniete in die Negev”. Dawid het geen man of vrou lewend na Gat geneem nie, want hy het gedink: Anders kan hulle inligting gee oor ons en sê: “So het Dawid gemaak.” Dit was sy gewoonte solank as wat hy in die Filistynse gebied gewoon het. Agis het Dawid vertrou, en gedink: “Hy het hom so afstootlik gedra by sy volk Israel dat hy vir altyd my dienaar sal wees.”

1 SAMUEL 27:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê Dawid in sy hart: Ek sal nou eendag deur die hand van Saul omkom; en Saul sal van my wanhopig wees om my verder te soek in enige gebied van Israel; so sal ek uit sy hand ontvlug. Dawid het hom klaargemaak en saam met die seshonderd man wat by hom was, deurgetrek na Agis, die seun van Maog, die koning van Gat. En Dawid het by Agis in Gat gewoon, hy en sy manne, elkeen met sy huisgesin, ook Dawid met sy twee vroue, Ahinoam, die Jisreëlitiese, en Abigail, die Karmelitiese, Nabal se vrou. En aan Saul is meegedeel dat Dawid na Gat gevlug het, en hy het hom nie meer gesoek nie. Toe sê Dawid vir Agis: As ek nou genade in u oë gevind het, laat hulle my 'n plek gee in 'n dorp in die land, dat ek daar kan woon; want waarom sou u dienaar by u in die koninklike stad woon? Toe het Agis hom daardie dag Siklag gegee; daarom is Siklag tot vandag toe aan die konings van Juda. En die tyd wat Dawid in die land van die Filistyne gewoon het, was 'n volle jaar en vier maande. En Dawid en sy manne het opgetrek en die Gesuriete en die Gesriete en die Amalekiete binnegeval; want daardie nasies was van ouds af die bewoners van die land terwyl jy na Sur, tot by Egipteland, kom. En Dawid het die land verslaan en geen man of vrou in die lewe gelaat nie, en hy het die skape en die beeste en die esels en die kamele en die kleed weggeneem en teruggekeer en na Agis gekom. En Agis sê: Waarheen het jy vandag 'n pad gemaak? Toe sê Dawid: Teen die suide van Juda en teen die suide van die Jeragmeeliete en teen die suide van die Keniete. En Dawid het geen man of vrou in die lewe gebring om 'n boodskap in Gat te bring deur te sê: Dat hulle nie van ons sou vertel en gesê het: So het Dawid gedoen, en so sal sy manier wees al die tyd wat hy in die land van die Filistyne woon nie. En Agis het Dawid geglo en gesê: Hy het sy volk Israel 'n afsku van hom gemaak; daarom sal hy vir ewig my dienaar wees.

1 SAMUEL 27:1-12 Die Boodskap (DB)

Dawid het vir homself gesê: “Eendag is eendag, dan val ek nog in Saul se hande. Dit sal beter wees as ek so gou moontlik padgee na die Filistyne se gebied toe; dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek. So sal ek van hom ontslae raak.” Daarom het Dawid met sy 600 man oorgetrek na Maok se seun Akis wat toe die koning van Gat was. Die manne het hulle huisgesinne ook saamgeneem. Dawid het al twee sy vroue saamgevat: Aginoam uit Jisreël en Abigajil, die weduwee van Nabal uit Karmel. Hulle het almal by Akis in Gat gebly. Die mense het vir Saul vertel dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het daarna opgehou om hom te probeer vang. Dawid het vir Akis gesê: “Kan ek nie maar ’n plek kry in een van u plattelandse dorpe en daar gaan bly nie? Dis mos nie nodig dat ek hier by u in die hoofstad bly nie.” Akis het daardie selfde dag Siklag vir Dawid gegee. Daarom behoort Siklag vandag nog aan die konings van Juda. Dawid het ’n jaar en vier maande in die Filistyne se gebied gebly. Terwyl hy daar was, het hy en sy manne strooptogte uitgevoer op die Gesurstam, op die mense van Geser en die Amalekiete. Hierdie mense het in die streek van Telam af na Sur toe en tot by Egipte gebly. Wanneer Dawid so ’n gebied aangeval het, het hy al die mense doodgemaak. Maar die skape en beeste en donkies en kamele en die mense se klere het hy saamgevat. Dan het hy altyd na Akis toe teruggegaan. As Akis hom dan vra: “Waar het julle nóú weer ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die Negev van Juda,” of “in die Negev waar die Jeragmeëlfamilie bly,” of “in die Negev waar die Keniete bly.” Dawid het nooit enige man of vrou lewendig na Gat toe gevat nie, want hy het gedink: “Anders verraai hulle ons en sê: ‘Dis wat Dawid gedoen het.’” Dit was Dawid se manier so lank as wat hy in die gebied van die Filistyne gebly het. Akis het Dawid vertrou. Hy het gedink Dawid het sy naam so sleg gemaak by sy eie mense in Israel dat hy altyd vir hom wat Akis is, sou werk.

1 SAMUEL 27:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid dink toe by homself: “Eendag sal Saul my nog doodmaak. Dis beter dat ek vlug en by die Filistyne gaan woon. Dan sal Saul ophou om my oral in Israel te soek en ek sal veilig wees.” Dawid en sy 600 man het toe met hulle gesinne in Gat onder beskerming van koning Akis seun van Maok gaan woon. Dawid het hom in Gat gevestig met sy twee vroue, Aginoam van Jisreël en Abigajil, Nabal se weduwee uit Karmel. Saul het verneem dat Dawid na Gat toe gevlug het. Hy het toe opgehou om hom te agtervolg. Na ’n tyd sê Dawid vir Akis: “As dit vir u aanvaarbaar is, laat ons liewer in een van die dorpe woon in plaas van in die koninklike stad.” Akis gee hom toe die dorp Siklag, wat tot vandag aan die konings van Juda behoort. Dawid-hulle het ’n jaar en vier maande daar op die platteland van die Filistyne gewoon. Dawid en sy manne het van tyd tot tyd strooptogte op verskillende groepe uitgevoer en die Gesureërs, die Geseriete en die Amalekiete aangeval. Hulle het nog altyd die gebied van Olam af op pad na Sur in die rigting van Egipte bewoon. Dawid het niemand laat oorbly uit die dorpe wat hy aangeval het nie. Hy het hulle kleinvee, beeste, donkies, kamele en klere gebuit. Dan het hy teruggekeer en na Akis toe gegaan. Wanneer Akis vra: “Waar het jy vandag ’n strooptog uitgevoer?” antwoord Dawid: “In die suidland van Juda,” of: “In die suidland van die Jeragmeëliete,” of: “In die suidland van die Keniete.” Hy het niemand laat bly lewe wat na Gat toe kon kom en vertel waar hy regtig was nie. Dit het keer op keer gebeur terwyl hy tussen die Filistyne gewoon het. Akis het Dawid vertrou en gedink: “Teen hierdie tyd is hy sekerlik in onguns by die Israeliete. Nou sal hy hier moet bly en vir altyd my onderdaan wees.”