1 SAMUEL 26:1-25

1 SAMUEL 26:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Mense van die stad Sif het na Saul toe gegaan in Gibea. Hulle het vir hom gesê: “Dawid kruip weg op die Gakila-berg naby die droë woestyn.” Saul het gereedgemaak en hy het na die Sif-woestyn gegaan. Daar was 3 000 manne by hom, hy het hulle gekies uit die Israeliete. Hy wou vir Dawid gaan soek in die Sif-woestyn. Saul het sy tente opgeslaan op die Gakila-berg naby die droë woestyn. Die tente was langs die pad. Dawid het in die woestyn gebly, en toe hy hoor dat Saul hom daar kom soek het, het hy mense gestuur om te kyk of Saul regtig gekom het. Dawid het toe gereedgemaak en hy het na die plek gegaan waar Saul se kamp was. Hy het gesien waar Saul en Abner lê en slaap. Abner, die hoof van die leër, was die seun van Ner. Saul het in die kamp gelê, en die manne het rondom hom gelê. Dawid het vir Agimelek van die stad Gat en vir Abisai, seun van Seruja en broer van Joab, gevra: “Wie sal saam met my na Saul se kamp gaan?” Abisai het gesê: “Ek sal saam met jou gaan.” Dawid en Abisai het in die nag by Saul se manne gekom. Saul het daar in die kamp gelê en slaap. Sy spies het regop gestaan naby sy kop. Abner en die manne het rondom hom gelê. Toe sê Abisai vir Dawid: “God het jou vandag gehelp om jou vyand te vang. Ek sal hom met my spies in die grond vassteek. Ek sal dit net een maal doen, dan sal hy dood wees.” Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Moenie hom doodmaak nie. As iemand iets doen teen die gesalfde van die Here, dan moet hy weet die Here sal hom straf. Ek weet, so seker soos die Here lewe, die Here sal Saul laat sterf, of Saul sal sterf wanneer dit sy tyd is, of hy sal oorlog toe gaan en sterf. Nee, ek sal nie iets doen teen die gesalfde van die Here nie. Maar kom ons neem die spies wat by sy kop staan en die waterkruik en dan loop ons.” Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se kop geneem, en hulle het geloop. Niemand het dit gesien of iets gehoor en wakker geword nie. Almal het geslaap, die Here het hulle baie vas laat slaap. Dawid het na die ander kant van die vallei gegaan en hy het op die berg gaan staan, ver van Saul en sy manne. Dawid het vir Saul se manne en vir Abner seun van Ner geskree: “Abner, kan julle my hoor?” Abner het geantwoord en gevra: “Wie is jy? Hoekom roep jy die koning?” Toe sê Dawid vir Abner: “Ek het gedink jy is 'n dapper man, niemand in die land Israel is soos jy nie. Maar hoekom het jy nie jou koning opgepas nie? Iemand het in die kamp gekom, hy kon jou koning doodgemaak het as hy wou. Jy het nie jou werk goed gedoen nie. So seker soos die Here lewe, julle moet sterf, want julle het nie waggestaan by julle koning nie, en hy is die gesalfde van die Here. Kyk, hier is die spies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was.” Saul het gehoor dit is Dawid wat praat, en hy het gevra: “Is dit jý wat praat, my seun Dawid?” En Dawid het gesê: “Ja, Meneer die koning, dit is ek wat praat. Hoekom jaag jy my? Wat het ek gedoen wat verkeerd is? Meneer die koning, jy moet asseblief nou luister na wat ek sê. As dit die Here is wat vir jou sê jy moet my doodmaak, dan moet ons vir Hom 'n offer bring. Maar as dit mense is, dan hoop ek die Here sal hulle straf, want dit is húlle wat my weggejaag het uit die land van die Here. Dit is húlle wat vir my sê ek moet ander gode gaan dien. Maar jy moenie vir my laat sterf ver van die plek waar die Here is nie. Ek is so onbelangrik soos 'n vlooi, maar die koning van Israel jaag my soos 'n mens 'n voël in die berge jag.” Toe sê Saul: “My seun Dawid, ek het 'n fout gemaak. Jy moet terugkom. Jy het vandag gewys dat my lewe belangrik is vir jou, en daarom sal ek niks aan jou doen nie. Ja, ek was dom, ek het 'n baie verkeerde ding gedoen.” Dawid het geantwoord en gesê: “Hier is die koning se spies, stuur een van die jongmanne om dit te kom haal. Die Here het jou vandag vir my gegee. Ek kon jou doodgemaak het as ek wou, maar ek het besluit om niks te doen teen die gesalfde van die Here nie. Ek weet dat die Here goed doen aan mense wat reg doen en wat lewe soos Hy wil hê. Jou lewe was vandag belangrik vir my. Ek bid dat my lewe ook belangrik sal wees vir die Here en dat Hy my altyd sal red wanneer dit sleg gaan met my.” Saul het vir Dawid gesê: “My seun Dawid, ek bid dat dit goed sal gaan met jou. Ek weet die Here sal al jou planne laat slaag, dit is seker.” Dawid het toe weggegaan, en Saul het teruggegaan na sy plek.

1 SAMUEL 26:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die Sifiete het by Saul in Gíbea gekom en gesê: Steek Dawid hom nie weg op die heuwel Hagíla vooraan die wildernis nie? Toe het Saul hom klaargemaak en afgetrek na die woestyn Sif, en met hom saam drieduisend man, uitgesoektes uit Israel, om Dawid te soek in die woestyn Sif. En Saul het laer opgeslaan op die heuwel Hagíla wat vooraan die wildernis langs die pad lê, terwyl Dawid in die woestyn gebly het. Maar toe hy sien dat Saul agter hom aankom die woestyn in — want Dawid het verkenners uitgestuur en verneem dat Saul verseker aankom — maak Dawid hom klaar en gaan na die plek waar Saul in die laer staan; en Dawid het die plek bekyk waar Saul gaan slaap het saam met Abner, die seun van Ner, sy leërowerste; Saul het naamlik geslaap in die wa-laer, terwyl die manskappe rondom hom in die laer was. En Dawid het begin spreek met Ahiméleg, die Hetiet, en met Abísai, die seun van Serúja, die broer van Joab, en gesê: Wie sal met my saam afgaan na Saul, na die laer toe? En Abísai sê: Ek sal met u saam afgaan. Toe Dawid met Abísai in die nag by die manskappe kom, lê Saul daar en slaap in die wa-laer met sy spies aan sy koppenent in die grond gesteek, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. En Abísai sê vir Dawid: Vandag het God u vyand in u hand oorgelewer; laat ek hom tog nou met sy spies in een slag teen die grond vassteek sonder om dit 'n tweede keer te doen. Maar Dawid sê vir Abísai: Bring hom nie om nie, want wie slaan sy hand aan die gesalfde van die HERE en bly ongestraf? Verder sê Dawid: So waar as die HERE leef, sekerlik sal die HERE hom slaan, òf sy dag sal kom dat hy sterwe, òf hy sal aftrek in die geveg en omkom! Mag die HERE my bewaar dat ek my hand aan die gesalfde van die HERE sou slaan! Maar neem nou tog die spies wat aan sy koppenent is, en die waterkruik, en laat ons weggaan. Toe neem Dawid die spies en die waterkruik van Saul se koppenent weg, en hulle het heengegaan sonder dat iemand dit sien of merk of wakker word; want hulle was almal aan die slaap, omdat 'n diepe slaap van die HERE op hulle geval het. En Dawid het deurgegaan na die oorkant en in die verte op die top van die berg gaan staan — die ruimte tussen hulle was groot — en Dawid het geroep na die manskappe en na Abner, die seun van Ner, en gevra: Antwoord jy nie, Abner? Toe antwoord Abner en sê: Wie is jy wat na die koning roep? En Dawid vra vir Abner: Jy is tog 'n man, en wie is soos jy in Israel? Waarom het jy dan nie by jou heer die koning wag gehou nie? Want een uit die volk het ingekom om die koning, jou heer, om te bring. Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie! So waar as die HERE leef, voorwaar, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het oor julle heer, oor die gesalfde van die HERE nie. En kyk nou, waar is die spies van die koning en die waterkruik wat aan sy koppenent was! Toe herken Saul die stem van Dawid en vra: Is dit jou stem daar, my seun Dawid? En Dawid sê: My stem, my heer die koning! Verder sê hy: Waarom agtervolg my heer sy dienaar tog? Want wat het ek gedoen? Of watter kwaad is daar by my? Laat my heer die koning dan nou luister na die woorde van sy dienaar: As die HERE u teen my aanhits, bied Hom dan 'n spysoffer aan; maar as dit mensekinders is — vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE, omdat hulle my vandag verdrywe, sodat ek my nie kan aansluit by die erfdeel van die HERE nie deurdat hulle sê: Gaan weg, dien ander gode! Laat my bloed dan nou nie op die aarde val ver van die aangesig van die HERE nie, want die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek, soos 'n man 'n patrys op die berge agtervolg. Toe sê Saul: Ek het gesondig; kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer doen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë; kyk, ek het dwaas gehandel en my grootliks misgaan. En Dawid antwoord en sê: Hier is die spies van die koning; laat dan een van die jongmanne deurkom om dit te haal. Die HERE tog vergeld aan elkeen sy regverdigheid en sy getrouheid — die HERE het u vandag in my hand gegee, maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek nie. En kyk, soos vandag u lewe in my oë kosbaar was, mag so my lewe in die oë van die HERE kosbaar wees, en mag Hy my red uit elke benoudheid. Hierop sê Saul vir Dawid: Geseënd is jy, my seun Dawid! Jy sal groot dinge doen en sekerlik die oorhand kry. Daarop het Dawid verder gegaan, en Saul het na sy woonplek teruggekeer.

1 SAMUEL 26:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarna het Siffiete by Saul in Gibea gekom en gesê: “Dawid kruip weg op die Gakilarant teenoor die onherbergsame streek.” Saul het toe klaargemaak en na die Sifwoestyn toe gegaan. Saam met hom was daar drie afdelings, uitgesoektes uit Israel, om Dawid in die Sifwoestyn op te spoor. Saul het kamp opgeslaan langs die pad op die Gakilarant, wat teenoor die onherbergsame gebied is. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy hoor dat Saul tot in die woestyn agter hom aankom, het Dawid spioene uitgestuur en so het hy sekerheid gekry dat Saul na hom toe op pad was. Toe het Dawid klaargemaak en by die plek gekom waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid het die plek gesien waar Saul en Abner seun van Ner, die hoof van Saul se leër, gelê en slaap het. Saul het op die wa gelê en die manskappe rondom hom. En Dawid het vir Agimelek die Hetiet, en vir Abisai, broer van Joab en seun van Seruja, gevra: “Wie wil saam met my na Saul toe in die kamp gaan?” Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou gaan.” Dawid en Abisai het daardie nag by die manskappe van Saul gekom, en Saul was vas aan die slaap op die wa terwyl sy spies aan die koppenent in die grond steek en Abner en die manskappe rondom hom lê en slaap. Abisai het vir Dawid gesê: “God het jou vyand nou in jou mag oorgegee. Laat ek hom nou sommer hier met die spies in die grond vassteek. Ek sal hom nie 'n tweede keer hoef te steek nie.” Maar Dawid het vir Abisai gesê: “Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?” Dawid het ook gesê: “So seker as die Here leef, die Here sal hom met 'n vroeë dood tref, of sy tyd sal aanbreek en hy sal sterwe, of hy sal gaan oorlog maak en hy sal omkom. Mag die Here my verhinder dat ek my hand oplig teen die gesalfde van die Here. Vat net die spies by sy koppenent en die waterkruik en laat ons hier wegkom.” Dawid het die spies en die waterkruik by Saul se koppenent gevat en weggegaan sonder dat iemand iets gesien of gehoor het of wakker geword het, want almal het geslaap. Die Here het hulle vas laat slaap. Daarna het Dawid na die oorkant toe gegaan en op die top van die berg gaan staan, ver weg met 'n groot afstand tussen hulle. Dawid het na die manskappe van Saul en na Abner seun van Ner geroep: “Abner, antwoord jy dan nie?” En Abner het geantwoord: “Wie is jy wat na die koning roep?” Toe sê Dawid vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? Wie is soos jy in Israel? Waarom het jy nie wag gestaan by jou koning nie? Daar het een van die volk gekom om die koning dood te maak. Wat jy gedoen het, is nie goed nie. So seker as die Here leef, julle moet eintlik dood wees omdat julle nie by julle koning, die gesalfde van die Here, wag gestaan het nie. Kyk net 'n bietjie! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy koppenent was?” Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jy wat praat, my seun, Dawid?” Dawid het gesê: “Dit is, U Majesteit!” Hy het verder gevra: “Waarom agtervolg die koning tog sy onderdaan? Wat het ek gedoen wat verkeerd is? Maar nou moet die koning tog na my luister. As dit die Here is wat u teen my aanhits, bring dan vir Hom 'n offer. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die Here, want hulle het my nou uitgedryf sodat ek voel asof ek nie meer aan die volk van die Here behoort nie. Hulle het gesê: ‘Gaan dien vreemde gode.’ Laat my bloed tog nie ver van die heiligdom af op die grond val nie. Waarlik, die koning van Israel het uitgetrek om een enkele vlooi te soek soos 'n mens 'n patrys in die berge agtervolg.” Maar Saul het gesê: “Ek het 'n fout gemaak. Kom terug, my seun, Dawid, want ek sal nie meer verkeerd teenoor jou optree nie omdat jy vandag my lewe gespaar het. Ja regtig, ek het dwaas opgetree en 'n growwe fout gemaak.” Toe sê Dawid: “Hier is die koning se spies. Laat een van u manskappe tog oorkom en dit kom haal. Mag die Here elkeen volgens sy geregtigheid en trou beloon, want die Here het u vandag in my mag gegee. Maar ek was nie bereid om my hand te lig teen die gesalfde van die Here nie. En kyk, mag die Here my lewe net so spaar soos ek vandag u lewe gespaar het, en mag Hy my uit elke benoudheid red.” Saul het vir Dawid gesê: “Mag dit goed gaan met jou, my seun, Dawid. Jy sal van krag tot krag gaan en beslis ook die oorhand kry.” Daarna het Dawid sy koers ingeslaan, en Saul het omgedraai huis toe.

1 SAMUEL 26:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Sifiete het by Saul in Gibea gekom en gesê: “Hou Dawid hom nie skuil op die heuwel van Hagila in die omgewing van Jesimon nie?” Saul het toe gereedgemaak en afgetrek na die woestyn van Sif. By hom was daar drieduisend man, uitgesoektes van Israel, om na Dawid in die woestyn van Sif te soek. Saul het op die heuwel van Hagila wat in die omgewing van Jesimon langs die pad lê, kamp opgeslaan. Dawid het in die woestyn gebly. Toe hy merk dat Saul agter hom aan is in die woestyn, het hy verkenners uitgestuur, en uit betroubare inligting agtergekom dat Saul daar aangekom het. Dawid het gereedgemaak en na die plek gegaan waar Saul kamp opgeslaan het. Dawid sien toe die plek waar Saul en Abner, seun van Ner, die bevelvoerder van sy leër, lê. Saul het in die oornagkamp gelê, en die manskappe het rondom hom gekamp. Daarop reageer Dawid toe en vra vir Agimeleg, die Hetiet, en vir Abisai, 'n seun van Seruja en broer van Joab: “Wie gaan saam met my af na Saul, na die kamp toe?” Abisai het geantwoord: “Ek sal saam met jou afgaan.” Dawid en Abisai het in die nag tot by die manskappe gekom, en sowaar, daar lê Saul vas aan die slaap in die oornagkamp, met sy vegspies in die grond gesteek by sy kop, terwyl Abner en die manskappe rondom hom lê. Abisai sê toe vir Dawid: “God het vandag jou vyand in jou hand oorgelewer. Laat ek hom tog nou met die vegspies in die grond vaspen met een steek. Ek sal dit nie 'n tweede keer hoef te doen met hom nie.” Maar Dawid sê vir Abisai: “Moet hom nie uitwis nie. Want wie kan sy hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek en onskuldig wees?” Verder sê Dawid: “So waar as die HERE leef, die HERE sal hom tref; óf sy dag sal kom en hy sal gewoon sterf, óf hy sal aftrek in die oorlog en weggevee word. Mag die HERE my daarvan weerhou dat ek ooit my hand teen die gesalfde van die HERE lig! Maar vat nou die vegspies wat by sy kop is en die waterkruik, en laat ons padgee.” Dawid het die vegspies en die waterkruik by Saul se kop gevat, en hulle het padgegee. Niemand het iets gesien of iets agtergekom of wakker geword nie; maar almal van hulle was aan die slaap, omdat 'n diep slaap, beskik deur die HERE, hulle oorval het. Dawid het oorgegaan na die oorkant en ver weg op die top van die heuwel gaan staan. Daar was 'n groot afstand tussen hulle. Dawid roep toe na die manskappe en na Abner, seun van Ner: “Antwoord jy dan nie, Abner?” Waarop Abner toe antwoord: “Wie is jy wat op die koning skreeu?” Dawid sê toe vir Abner: “Is jy nie 'n man nie? En wie is jou gelyke in Israel? Waarom het jy dan nie jou heer, die koning, opgepas nie? Want een van die manskappe het ingekom om die koning, jou heer, uit te wis. Hierdie ding wat jy gedoen het, is nie goed nie. So waar as die HERE leef, julle verdien die dood, omdat julle nie wag gehou het by julle heer, die gesalfde van die HERE nie. Kyk nou 'n bietjie: Waar is die vegspies van die koning en die waterkruik wat by sy kop was?” Saul het Dawid se stem herken en gesê: “Is dit jou stem, my seun Dawid?” Waarop Dawid toe antwoord: “Dit is my stem, my heer die koning.” Verder sê hy: “Waarom agtervolg my heer sy dienaar? Ja, wat het ek gedoen? Watter kwaad kleef aan my hande? “ Daarom moet my heer die koning asseblief na die woorde van sy dienaar luister: As dit die HERE is wat u teen my aangehits het, laat Hy die geur van 'n •graanoffer ruik. Maar as dit mense is, vervloek is hulle voor die HERE, want hulle het my vandag verdryf, weg van deelname aan die erfenis van die HERE deur te sê, ‘Gaan dien ander gode!’ Laat my bloed dan nou nie op die aarde val nie, ver van die teenwoordigheid van die HERE. Want die koning van Israel het uitgetrek om na een vlooi te soek soos iemand wat agter 'n patrys aan is in die bergwêreld.” Toe sê Saul: “Ek het gesondig! Kom terug, my seun Dawid, want ek sal jou nie meer kwaad aandoen nie, omdat my lewe vandag kosbaar was in jou oë. Kyk, ek het dwaas opgetree en die spoor heeltemal byster geraak.” Dawid het geantwoord en gesê: “Hier is die vegspies van die koning; laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. Die HERE is die Een wat die mens beloon vir sy regverdigheid en sy getrouheid, die HERE wat u vandag in my hand oorgegee het. Maar ek wou nie my hand teen die gesalfde van die HERE uitsteek nie. Kyk, soos u lewe vandag kosbaar was in my oë, mag my lewe so kosbaar wees in die oë van die HERE, en mag Hy my red uit alle nood.” Saul sê toe vir Dawid: “Mag jy geseënd wees, my seun Dawid. Jy sal nie net baie vermag nie, maar beslis ook seëvier.” Daarna het Dawid sy koers gegaan, en Saul het teruggekeer na sy woonplek.

1 SAMUEL 26:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die Sifiete het by Saul in Gíbea gekom en gesê: Skuil Dawid hom nie op die heuwel Hagíla wat voor Jesímon lê nie? Toe het Saul hom klaargemaak en na die woestyn Sif afgetrek, met drie duisend uitgesoekte manne uit Israel by hom om Dawid in die woestyn Sif te soek. En Saul het laer opgeslaan op die heuwel Hagila wat voor Jesímon lê, langs die pad. Maar Dawid het in die woestyn gebly, en hy sien dat Saul agter hom aankom in die woestyn. Dawid het toe spioene uitgestuur, en hy het verneem dat Saul baie goed gekom het. Toe staan Dawid op en kom by die plek waar Saul laer opgeslaan het; en Dawid het die plek gesien waar Saul lê en Abner, die seun van Ner, die leërowerste; en Saul het in die sloot gelê, en die manskappe het rondom hom opgeslaan. Toe antwoord Dawid en sê vir Ahimeleg, die Hetiet, en vir Abísai, die seun van Seruja, broer van Joab, en sê: Wie sal saam met my aftrek na Saul na die laer? En Abisai sê: Ek sal saam met jou aftrek. Daarop het Dawid en Abísai in die nag by die volk gekom, en kyk, Saul lê en slaap in die sloot, en sy spies het by sy skut in die grond gesteek, maar Abner en die manskappe het rondom hom gelê. Toe sê Abísai vir Dawid: God het vandag jou vyand in jou hand gegee; laat my hom dan tog dadelik met die spies tot op die aarde slaan, en ek sal hom nie die tweede keer verslaan nie. Toe sê Dawid vir Abísai: Verdelg hom nie, want wie kan sy hand uitsteek teen die gesalfde van die HERE en onskuldig wees? Dawid het verder gesê: So waar as die HERE leef, die HERE sal hom slaan; of sy dag kom om te sterwe; of hy sal in die geveg neerdaal en omkom. Die HERE het my verbied dat ek my hand teen die gesalfde van die HERE sou uitsteek; maar neem tog die spies wat by sy skut is en die waterkruis, en laat ons gaan. Dawid het toe die spies en die waterkruis uit Saul se skut geneem; en hulle het hulle weggetrek, en niemand het dit gesien of geweet of wakker geword nie; want hulle het almal aan die slaap geraak; want 'n diepe slaap van die HERE het op hulle geval. Dawid het toe oorgegaan na die oorkant en gaan staan op die top van 'n heuwel, daar ver; 'n groot spasie tussen hulle: Dawid het die volk en Abner, die seun van Ner, aangeroep en gesê: Antwoord jy nie, Abner? Toe antwoord Abner en sê: Wie is jy wat na die koning roep? Toe sê Dawid vir Abner: Is jy nie 'n dapper man nie? en wie is soos jy in Israel? waarom het jy dan nie jou heer die koning bewaar nie? want daar het een van die volk ingekom om die koning, u heer, te vernietig. Hierdie ding is nie goed wat jy gedoen het nie. So waar as die HERE leef, julle is waardig om te sterwe, omdat julle julle heer, die gesalfde van die HERE, nie bewaar het nie. En kyk nou waar die spies van die koning is en die waterkruis wat by sy skut was. En Saul het Dawid se stem geken en gesê: Is dit jou stem, my seun Dawid? Toe sê Dawid: Dit is my stem, my heer, o koning! En hy sê: Waarom jaag my heer sy dienaar so agterna? vir wat het ek gedoen? of watter onheil is daar in my hand? Laat my heer die koning dan nou tog die woorde van sy dienaar hoor. As die HERE jou teen my opgewek het, laat Hy 'n offer aanneem; maar as hulle mensekinders is, vervloek is hulle voor die aangesig van die HERE; want hulle het my vandag verdryf om nie in die erfdeel van die HERE te bly nie, deur te sê: Gaan dien ander gode. Laat my bloed dan nou nie op die aarde val voor die aangesig van die HERE nie, want die koning van Israel het uitgetrek om 'n vlooi te soek, soos wanneer 'n mens 'n patrys op die berge jag. Toe sê Saul: Ek het gesondig; keer terug, my seun Dawid, want ek sal jou geen kwaad meer aandoen nie, want my siel was vandag kosbaar in jou oë; Dawid het geantwoord en gesê: Daar is die spies van die koning! en laat een van die jongmanne oorkom en dit gaan haal. Die HERE vergeld aan elkeen sy geregtigheid en sy trou, want die HERE het jou vandag in my hand gegee, maar ek wou my hand nie uitsteek teen die gesalfde van die HERE nie. En kyk, soos jou lewe teen hierdie dag baie vasgestel is in my oë, so laat my lewe baie bepaal word in die oë van die HERE, en laat Hy my uit alle verdrukking red. Toe sê Saul vir Dawid: Geseënd is jy, my seun Dawid, jy sal groot dinge doen en ook nog oorwin. Toe het Dawid verder gegaan, en Saul het na sy plek teruggekeer.

1 SAMUEL 26:1-25 Die Boodskap (DB)

Daar het mense van Sif af na Saul toe in Gibea gekom en vir hom gesê: “U weet seker dat Dawid daar op die Gakilarant, oorkant die Jeshimonwoestyn wegkruip?” Saul het toe alles agtermekaar gekry en afgegaan na die Sifwoestyn met drie groepe van die beste manne van Israel om na Dawid te gaan soek. Saul het langs die pad op die Gakilarant kamp opgeslaan wat oorkant die Jeshimonwoestyn lê. Dawid was nog in die woestyn en toe hy sien Saul kom soek dáár ook na hom, het hy verkenners uitgestuur en presies uitgevind waar Saul is. Dawid het toe self na die plek gegaan waar Saul se kamp is en gesien waar Saul en generaal Abner, Ner se seun, slaap. Die manskappe het in ’n kring gelê en slaap, met Saul in die middel. Agimelek, die Hetiet, en Abisai, Joab se broer (hulle was Seruja se seuns), was by Dawid. Hy vra toe vir hulle: “Wie sal saam met my na Saul toe gaan in die kamp?” “Ék sal saam met jou gaan,” antwoord Abisai. Toe dit pikdonker is, sluip Dawid en Abisai by die manskappe verby, en jou waarlik, daar lê Saul vas aan die slaap met Abner en die manskappe in ’n kring om hom. Sy spies is by sy kop in die grond gesteek. “God het vannag jou vyand in jou mag gegee,” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met een hou met die spies deurboor. Net een steek sal genoeg wees.” “Nee, moenie hom doodmaak nie,” fluister Dawid vir Abisai. “Iemand wat sy hand teen die Here se gesalfde oplig, sal nie ongestraf bly nie. So waar as die Here leef, die Here self sal Saul laat doodgaan: wanneer sy tyd kom, sal hy ’n natuurlike dood sterf, of hy sal in ’n geveg omkom. Die Here bewaar my daarvan dat ek my hand teen sy gesalfde oplig. Kom ons vat liewer sy spies daar by sy kop en sy waterkruik, dan maak ons dat ons wegkom.” Dawid het die spies en die waterkruik wat by Saul se kop was, gevat en toe het hulle twee padgegee. Niemand het hulle gesien of eers geweet dat hulle daar was nie. Die manskappe was vas aan die slaap; nie een het wakker geword nie, want die Here het elkeen van hulle soos ’n klip laat slaap. Dawid het deur die valleitjie gegaan en aan die ander kant op ’n veilige afstand op ’n hoë rots gaan staan. Toe roep hy na die manskappe en na Abner, Ner se seun: “Abner! Antwoord jy dan nie ’n mens nie?” Abner skree toe terug: “Wie’s jy wat so vir die koning staan en skree?” Dawid antwoord hom: “Jy’s mos die beste man in die hele Israel? Hoekom het jy dan nie jou leier, die koning, opgepas nie? Daar het ’n manskap in die kamp ingekom om jou leier, die koning, dood te maak! Jy maak nie mooi nie, Abner! Julle almal verdien die dood oor julle nie julle leier, die Here se gesalfde, oppas nie! Kyk ’n bietjie waar is die spies van die koning en sy waterkruik wat by sy kop was!” Saul het Dawid se stem herken en gevra: “Is dit jóú stem wat ek hoor, Dawid, my kind?” Dawid het geantwoord: “Ja, U Majesteit, dis mý stem!” Verder sê hy: “U Majesteit, waarom vervolg u my? Wat het ek verkeerd gedoen en waaraan is ek skuldig? Luister tog asseblief na wat ek sê, U Majesteit: As dit die Here is wat u teen my opsteek, bring dan vir Hom ’n offer. Maar as dit mense is, is hulle vervloek voor die Here, want hulle het my nou weggejaag uit die land wat aan die Here behoort en waar ek mag woon. Hulle het as’t ware vir my gesê: ‘Gaan dien maar ander gode!’ Moet tog nie dat ek op vreemde grond, ver van die Here se altaar af doodgaan nie. Het die koning van Israel regtig ’n hele leër gevat om een enkele sandluis te soek, om een ou patrysie in die berge te kom jag?” Saul het geantwoord: “Ek het ’n groot fout gemaak. Kom terug, Dawid, my kind. Ek sal jou nie weer probeer doodmaak nie, want mý lewe was vandag vir jou kosbaar. Ek was regtig dom en het ’n groot fout gemaak.” Dawid sê toe vir hom: “Hier is u spies, U Majesteit. Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. Die Here is goed vir elke mens wat regverdig en getrou is. Hy het u vannag in my mag gegee en tog het ek nie my hand teen die Here se gesalfde opgelig nie. Ek hoop regtig die Here sal net soveel waarde aan my lewe heg as wat ek vannag aan u lewe geheg het, en dat Hy my uit elke moeilikheid sal red.” Daarop antwoord Saul hom: “Die Here sal vir jou goed wees, Dawid, my kind. Jy gaan nog groot dinge doen en baie sukses behaal.” Dawid het daarna sy eie koers gegaan en Saul is terug na sy plek toe.

1 SAMUEL 26:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Mense uit Sif het by Saul in Gibea aangekom en gesê: “Dawid skuil teen die Gakilarant aan die rand van die woestyn.” Saul vat toe drie afdelings uitgesoekte manskappe en vertrek om Dawid in die Sifwoestyn te vang. Saul het kamp opgeslaan langs die pad by Gakilarant, naby die woestyn waar Dawid weggekruip het. Dawid het egter gehoor dat Saul aangekom het. Daarom stuur hy spioene uit om Saul se bewegings dop te hou. Dawid gaan toe na waar Saul se kamp was. Hy het gekyk waar Saul en sy bevelvoerder, Abner seun van Ner, slaap. Saul was in die middel van die kamp met sy manskappe reg rondom hom. “Wie sal saam met my daarheen gaan?” vra Dawid vir Agimelek die Hetiet en Abisai, seun van Seruja, Joab se broer. “Ek sal saamgaan,” antwoord Abisai. Dawid en Abisai het toe in die nag Saul se kamp binnegesluip terwyl hy vas aan die slaap was. Sy spies het aan sy koppenent in die grond gesteek. Abner en sy manskappe rondom hom het almal vas geslaap. “God het hierdie keer beslis jou vyand aan jou oorgelewer!” fluister Abisai vir Dawid. “Laat ek hom nou met die spies in die grond vassteek. Ek sal dit nie ’n tweede keer hoef te doen nie!” “Nee!” sê Dawid. “Moenie hom doodmaak nie. Hoe kan iemand sy hand teen die gesalfde van die HERE laat uitgaan en nog onskuldig wees? So seker as die HERE leef, een of ander tyd sal die HERE Saul tref: Óf sy tyd sal aanbreek dat hy sterf, óf hy sal in die geveg sterf. Maar mag die HERE my daarvan bewaar dat ek sy gesalfde sou doodmaak. Kom ons vat nou die spies by sy koppenent en die waterkruik, dan gaan ons terug!” Dawid neem toe die spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het. Hy en Abisai is daar weg sonder dat iemand hulle gesien het of wakker geword het, want die HERE het Saul en sy manskappe baie vas laat slaap. Dawid gaan staan toe op ’n veilige afstand bo-op die hoogte regoor die kamp. Daarvandaan roep hy na die manskappe en vir Abner: “Word wakker, Abner! Hoe antwoord jy dan nie!” “Wie is dit wat na die koning roep?” vra Abner. “Abner, jy is mos ’n gesiene man, of hoe?” spot Dawid. “Daar is niemand in Israel soos jy nie! Nou hoekom het jy nie jou heer die koning bewaak toe iemand gekom het om hom dood te maak nie? Dis nie ’n goeie ding nie! So waar as die HERE leef, jy en jou manskappe verdien die dood omdat julle nie julle koning, die gesalfde van die HERE, behoorlik opgepas het nie. Kyk ’n bietjie rond! Waar is die koning se spies en die waterkruik wat by sy kop gestaan het?” Saul het Dawid se stem herken en roep toe: “Is dit jy, my seun Dawid?” Dawid antwoord hom: “Ja, my heer die koning. Hoekom agtervolg u my? Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding? My heer die koning moet tog nou na my luister. As die HERE u teen my aangehits het, bied Hom dan ’n offer aan. Maar as dit net mense is, vervloek is hulle voor die HERE. Want hulle het my uit my woonplek verdryf asof ek nie meer deel is van die volk van die HERE nie. Hulle sê: ‘Gaan dien ander gode!’ Moet ek dan op vreemde grond sterf, ver van die teenwoordigheid van die HERE? Hoekom het die koning van Israel gekom om na ’n enkele vlooi te soek? Hoekom maak hy jag op my soos op ’n patrys in die berge?” Saul bely toe: “Ek het verkeerd gedoen. Kom terug, my seun. Ek sal nie meer probeer om jou skade te berokken nie, want jy het vandag my lewe gespaar. Ek was ’n dwaas en het baie verkeerd gedoen.” “Hier is u spies, Koning,” antwoord Dawid. “Laat een van die jong manne oorkom en dit kom haal. Die HERE beloon elke mens vir regverdigheid en getrouheid. Vandag het die HERE u ten volle in my mag geplaas, maar ek het geweier om u dood te maak, want u is die gesalfde van die HERE. Mag die HERE my lewe ook kosbaar ag soos ek u lewe vandag kosbaar geag het. Mag Hy my uit alle gevare red.” Daarop sê Saul vir Dawid: “Geseënd is jy, my seun Dawid. Jy sal suksesvol wees in wat jy onderneem en seëvier.” Toe het Dawid weggegaan, en Saul het teruggekeer huis toe.