1 SAMUEL 23:1-14
1 SAMUEL 23:1-14 Bybel vir almal (ABA)
Iemand het vir Dawid kom sê dat die Filistyne oorlog maak teen die mense van die stad Keïla en dat hulle die koring op die dorsvloere vat. Dawid het vir die Here gevra: “Moet ek daardie Filistyne gaan aanval?” En die Here het vir Dawid gesê: “Jy moet die Filistyne gaan aanval en jy moet die mense van Keïla red.” Dawid se manne het vir hom gesê: “Ons is bang hier in Juda, maar ons sal nog baie banger wees as ons na Keïla moet gaan om die Filistyne aan te val.” Dawid het weer vir die Here gevra wat hy moet doen, en die Here het geantwoord en gesê: “Jy moet gereedmaak en na Keïla gaan, want Ek sal jou laat wen teen die Filistyne.” Dawid en sy manne het na Keïla gegaan. Hulle het oorlog gemaak teen die Filistyne en hulle het die Filistyne se beeste en skape en bokke gevat. Hulle het hard geveg en hulle het die Filistyne oorwin. So het Dawid die mense van Keïla gered. Abjatar seun van Agimelek het die skouer-kleed saam met hom gebring toe hy gevlug het na Dawid toe in Keïla. Iemand het vir Saul vertel dat Dawid na Keïla gegaan het, en Saul het gedink: God het vir Dawid gelos, want Dawid het ingegaan in 'n stad waar 'n mens die poorte kan toesluit. Dawid het homself toegesluit. Saul het toe al sy manne laat roep om te kom oorlog maak. Hy wou hê dat hulle na Keïla moet gaan om Dawid en sy manne in die stad vas te keer en te vang. Toe Dawid uitvind dat Saul hom wil kom aanval, het hy vir die priester Abjatar gesê hy moet die skouer-kleed bring. Dawid het gesê: “Here, God van Israel, luister asseblief na wat ek vra, want ek weet Saul sal na Keïla kom om die stad te verwoes omdat ek hier is, dit is seker. Ek vra vir U: Sal die leiers van die mense van Keïla my vir Saul gee? Ek het gehoor dat Saul na Keïla kom. Is dit waar? Here, God van Israel, sê asseblief vir my wat sal gebeur.” En die Here het gesê: “Saul sal kom.” Dawid het weer gevra: “Sal die leiers van die mense van Keïla my en my manne vir Saul gee?” En die Here het gesê: “Ja, hulle sal dit doen.” Dawid en sy manne het toe gereedgemaak en hulle het uit Keïla gegaan. Hulle was omtrent 600 manne. Hulle het nie op een plek gebly nie, hulle het van die een plek na die ander plek gegaan. Saul het gehoor dat Dawid weggekom het uit Keïla, en hy het toe nie daarnatoe gegaan nie. Dawid het in die woestyn gaan bly in plekke in die berge waar mense nie maklik kan kom nie. Hy het ook gaan bly op die berg in die Sif-woestyn. Saul het aangehou om te soek na Dawid, maar Saul het nie vir Dawid gevang nie, God het vir Dawid beskerm.
1 SAMUEL 23:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
INTUSSEN is aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla, en hulle plunder die dorsvloere. Toe raadpleeg Dawid die HERE en vra: Sal ek gaan en daardie Filistyne verslaan? En die HERE sê vir Dawid: Gaan en verslaan die Filistyne en verlos Kehíla. Maar die manne van Dawid sê vir hom: Kyk, hier in Juda is ons al bevrees, hoeveel te meer dan as ons na Kehíla trek teen die slagordes van die Filistyne? Toe raadpleeg Dawid die HERE nog weer, en die HERE het hom geantwoord en gesê: Maak klaar, trek af na Kehíla, want Ek gee die Filistyne in jou hand. Daarom het Dawid met sy manne na Kehíla getrek en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggedrywe en 'n groot slag onder hulle geslaan. So het Dawid dan die inwoners van Kehíla verlos. (By die vlug van Ábjatar, die seun van Ahiméleg, na Dawid, het hy na Kehíla afgekom met die skouerkleed by hom.) Daarop kry Saul berig dat Dawid in Kehíla gekom het, en Saul sê: God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself opgesluit deurdat hy in 'n stad met poorte en grendels ingegaan het. Daarom het Saul al die manskappe vir die geveg opgeroep om af te trek na Kehíla ten einde Dawid en sy manne in te sluit. Toe Dawid gewaar dat Saul onheil teen hom beraam, sê hy aan die priester Ábjatar: Bring die skouerkleed nader. En Dawid sê: HERE, God van Israel, u kneg het verseker gehoor dat Saul na Kehíla wil trek om die stad om my ontwil te verwoes. Sal die burgers van Kehíla my in sy hand uitlewer? Sal Saul afkom soos u kneg verneem het? HERE, God van Israel, gee u kneg dit tog te kenne! Toe antwoord die HERE: Hy sal afkom. Daarop sê Dawid: Sal die burgers van Kehíla my en my manne in die hand van Saul uitlewer? En die HERE antwoord: Hulle sal uitlewer. En Dawid het klaargemaak met sy manne, omtrent seshonderd man — hulle het uit Kehíla uitgetrek en rondgetrek waar hulle maar kon. Toe Saul berig ontvang dat Dawid uit Kehíla ontsnap het, het hy opgehou om uit te trek. En Dawid het gebly in die woestyn, in die bergvestings, ook op die gebergte in die woestyn Sif; en Saul het hom aldae gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.
1 SAMUEL 23:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n keer is aan Dawid vertel: “Die Filistyne veg teen Keïla en plunder die dorsvloere.” Dawid het die Here geraadpleeg: “Sal ek optrek en hierdie klomp Filistyne verslaan?” Die Here het vir Dawid geantwoord: “Trek op en verslaan die Filistyne en bevry Keïla.” Maar die manne van Dawid sê: “O nee, ons verkeer hier in Juda alreeds in gevaar, hoeveel te meer as ons na die skanse van die Filistyne toe gaan by Keïla?” Dawid het weer die Here geraadpleeg, en die Here het geantwoord: “Maak klaar, trek op na Keïla toe, want Ek lewer die Filistyne aan jou oor.” Dawid en sy manne het toe opgetrek na Keïla toe en teen die Filistyne oorlog gemaak. Hy het hulle vee as buit saamgevat nadat hy hulle in 'n groot veldslag verslaan het. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry. Toe Abjatar seun van Agimelek na Dawid toe in Keïla gevlug het, het hy die skouerkleed saamgevat. Daar is toe aan Saul berig dat Dawid in Keïla gekom het, en hy het gesê: “God het Hom aan Dawid onttrek. Hy is nou in my hand, want deur in 'n stad met grendeldeure in te gaan, het hy homself toegesluit.” Saul het al die manskappe opgekommandeer vir die oorlog, om op te trek na Keïla toe en Dawid en sy manne te beleër. Maar Dawid het te wete gekom dat Saul hom wil aanval en hy het vir die priester Abjatar gesê: “Bring die skouerkleed hier.” Dawid het gesê: “Here, God van Israel, ek is u dienaar. Ek het verneem dat Saul na Keïla toe wil kom om die stad te verwoes omdat ek hier is. Sal die regeerders van Keïla my aan hom uitlewer? Sal Saul optrek soos ek verneem het? Here, God van Israel, lig my tog in.” En die Here antwoord: “Ja, hy sal optrek.” Toe vra Dawid: “Sal die regeerders van Keïla my en my manne aan Saul uitlewer?” Die Here het hom geantwoord: “Ja.” Dawid en sy manne, ongeveer ses honderd man, het klaargemaak, uit Keïla uitgegaan en heen en weer rondgetrek. Daar is ook aan Saul vertel dat Dawid uit Keïla ontsnap het en Saul het sy agtervolging gestaak. Daarna het Dawid in die woestyn in bergskuilings gaan woon. Hy het in die berge in die Sifwoestyn gewoon. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in Saul se mag oorgegee nie.
1 SAMUEL 23:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar is aan Dawid berig gebring: “Kyk, die Filistyne is besig om teen Keïla te veg, en hulle plunder die dorsvloere!” Dawid het die HERE geraadpleeg: “Moet ek gaan en daardie Filistyne aanval?” Die HERE het vir Dawid gesê: “Gaan, val die Filistyne aan en bevry Keïla!” Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Kyk, hier in Juda leef ons reeds in vrees – hoeveel te meer as ons na Keïla toe gaan, na die gevegslinies van die Filistyne?” Dawid het weer die HERE geraadpeeg, en die HERE het hom geantwoord en gesê: “Maak gereed, gaan af na Keïla, want Ek gaan die Filistyne in jou hand gee.” Dawid en sy manne het toe na Keïla gegaan en teen die Filistyne geveg. Hy het hulle vee weggedryf en 'n groot slagting onder hulle aangerig. So het Dawid die inwoners van Keïla bevry. Toe Abjatar, seun van Agimeleg, na Dawid in Keïla gevlug het, het hy afgegaan met 'n efod by hom. Toe daar aan Saul berig gebring is dat Dawid in Keïla aangekom het, het Saul gesê: “God het hom in my hand oorgelewer, want hy het homself toegesluit deur in 'n dorp met poortdeure en 'n sluitbalk in te gaan.” Daarop het Saul al die manskappe opgeroep vir die geveg om af te trek na Keïla en Dawid en sy manne te beleër. Dawid het egter geweet dat Saul besig is om kwaad teen hom te beplan. Hy sê toe vir Abjatar, die priester: “Bring die efod nader!” Toe sê Dawid: “HERE, God van Israel, u dienskneg het betroubaar verneem dat Saul van plan is om na Keïla te kom en om vanweë my die dorp te verwoes. Sal die burgers van Keïla my oorlewer in die hand van Saul? Gaan Saul afkom, soos u dienskneg verneem het? HERE, God van Israel, maak dit tog aan u dienskneg bekend!” Die HERE het geantwoord: “Hy gaan afkom.” Toe vra Dawid: “Sal die burgers van Keïla my en my manne oorlewer in die hand van Saul?” Die HERE het geantwoord: “Hulle sal.” Daarop het Dawid en sy manne – ongeveer seshonderd man – gereedgemaak en uit Keïla weggetrek. Hulle het toe bly rondbeweeg. Aan Saul is berig dat Dawid ontvlug het uit Keïla. Hy het toe sy veldtog gestaak. Dawid het in die woestyn, in die bergskuilings, gebly. Daarna het hy in die berggebied van die woestyn van Sif gaan bly. Saul het hom die hele tyd gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.
1 SAMUEL 23:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het hulle dit aan Dawid meegedeel en gesê: Kyk, die Filistyne veg teen Kehíla en beroof die dorsvloere. Daarom het Dawid die HERE geraadpleeg en gesê: Sal ek gaan en hierdie Filistyne verslaan? En die HERE het vir Dawid gesê: Gaan heen, verslaan die Filistyne en red Kehíla. Toe sê die manne van Dawid vir hom: Kyk, ons is bevrees hier in Juda; hoeveel te meer as ons in Kehíla kom teen die leërs van die Filistyne? Dawid het toe weer die HERE geraadpleeg. En die HERE het hom geantwoord en gesê: Staan op, trek af na Kehíla; want Ek sal die Filistyne in jou hand gee. Dawid en sy manne het toe na Kehíla gegaan en teen die Filistyne geveg en hulle vee weggebring en hulle met 'n groot slagting verslaan. So het Dawid die inwoners van Kehíla gered. En toe Abjatar, die seun van Ahímeleg, na Dawid na Kehíla vlug, het hy afgekom met 'n skouerkleed in sy hand. En daar is aan Saul meegedeel dat Dawid na Kehíla gekom het. Toe sê Saul: God het hom in my hand gegee; want hy is toegesluit deur in 'n stad in te gaan wat poorte en grendels het. En Saul het die hele volk bymekaargeroep om oorlog te voer, om af te trek na Kehíla, om Dawid en sy manne te beleër. En Dawid het geweet dat Saul in die geheim onheil teen hom begaan het; en hy sê vir die priester Abjatar: Bring die skouerkleed hierheen. Toe sê Dawid: HERE, God van Israel, u kneg het beslis gehoor dat Saul na Kehíla wil kom om die stad om my ontwil te verwoes. Sal die manne van Kehíla my in sy hand oorgee? Sal Saul afkom soos u dienaar gehoor het? O HERE, God van Israel, sê tog vir u kneg. En die HERE het gesê: Hy sal afkom. Toe sê Dawid: Sal die manne van Kehíla my en my manne in die hand van Saul gee? En die HERE het gesê: Hulle sal jou oorlewer. Daarna het Dawid en sy manne, omtrent seshonderd, opgestaan en uit Kehíla vertrek en gegaan waar hulle ook al kon gaan. En aan Saul is meegedeel dat Dawid uit Kehíla vrygeraak het; en hy het versuim om uit te gaan. En Dawid het in die woestyn in vestings gebly en op 'n berg in die woestyn Sif gebly. En Saul het hom elke dag gesoek, maar God het hom nie in sy hand oorgegee nie.
1 SAMUEL 23:1-14 Die Boodskap (DB)
Dawid het gehoor dat die Filistyne besig was om die dorp Keïla aan te val en die mense se koring te steel. Dawid het toe deur die priester vir die Here gevra: “Moet ek hierdie klomp Filistyne gaan aanval?” Die Here het geantwoord: “Ja, gaan val hulle aan dat Keïla weer vry kan wees.” Maar die manne van Dawid het vir hom gesê: “Ag nee, man! Ons het al genoeg moeilikheid hier in Juda, wat nog as ons Keïla toe gaan en die soldate van die Filistyne gaan aanval!” Dawid het toe weer deur die priester die Here se raad gaan vra. Die Here het hom geantwoord: “Maak klaar en gaan af na Keïla toe, want Ek gaan die Filistyne aan jou oorgee.” Dawid en sy manne is toe na Keïla toe. Hulle het teen die Filistyne geveg, hulle vee afgeneem en baie van hulle doodgemaak. So het Dawid die mense van Keïla gered. Saul het gehoor Dawid het na Keïla toe gegaan. Hy het gedink: “God het hom om die bos gelei en hy is nou in my mag. Hy is vasgekeer in ’n dorp met deure en sluitbalke.” Saul het toe al die burgers opgeroep vir oorlog. Hulle moes na Keïla toe gaan en Dawid en sy manne in die dorp vaskeer. Toe Dawid hoor wat Saul se plan met hom is, het hy vir priester Abjatar gesê: “Bring die priestersak waarmee jy uitvind wat die Here sê.” (Abjatar, Agimelek se seun, het die priestersak saamgevat toe hy na Dawid toe gevlug het in Keïla.) Dawid sê toe: “Here, God van Israel, hierdie dienaar van u het sonder twyfel gehoor dat Saul van plan is om na Keïla toe te kom en die dorp uit te wis omdat ek hier is. Sal die burgers van Keïla my aan Saul oorgee? Sal Saul hierheen kom, soos ek gehoor het? Here, God van Israel, sê my asseblief wat gaan gebeur!” Die Here het geantwoord: “Ja, Saul gaan hierheen kom.” Dawid vra toe weer: “En sal die leiers van Keïla my en my manne aan Saul oorgee?” “Ja, hulle gaan julle oorgee,” antwoord die Here. Dawid en sy manne, omtrent 600 van hulle, het gereedgemaak en padgegee uit Keïla en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid uit Keïla weggekom het, het hy nie na die dorp opgetrek nie. Dawid het in veilige plekke in die veld en in die berge van die Sifwoestyn gaan bly. Saul het dae lank na hom gesoek, maar God het nie vir Dawid aan hom oorgegee nie.
1 SAMUEL 23:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is aan Dawid berig dat die Filistyne teen Keïla veg en hulle dorsvloere plunder. Dawid het vir die HERE gevra: “Moet ek die Filistyne gaan aanval?” “Ja, gaan verdryf die Filistyne en verlos Keïla,” sê die HERE vir hom. Sy manskappe sê egter vir hom: “Wag ’n bietjie! Selfs hier in Juda voel ons onveilig. Moet ons dan nou na Keïla toe gaan en die hele Filistynse mag daar teen ons kry?” Dawid vra toe weer vir die HERE, en die HERE het herhaal: “Gaan na Keïla toe, want Ek sal jou help om die Filistyne te verslaan.” Dawid en sy manskappe het toe na Keïla toe gegaan. Hulle het die Filistyne verslaan, al hulle vee buitgeneem en die inwoners van Keïla bevry. Die priester Abjatar seun van Agimelek wat na Dawid toe gevlug het, het die skouerkleed saamgebring na Keïla toe. Saul het gehoor dat Dawid in Keïla was. “God het Hom aan Dawid onttrek!” het hy gesê. “Nou is hy in ons mag, want deur in ’n ommuurde dorp met grendels te skuil, het hy homself opgesluit.” Saul het toe sy hele leër bymekaargemaak om na Keïla te gaan en Dawid en sy manskappe daar te beleër. Maar Dawid het van Saul se planne gehoor. Hy vra toe vir Abjatar om die skouerkleed te bring en by die HERE te hoor wat hom te doen staan. Dawid het gebid: “O HERE, God van Israel, ek, u dienaar, het gehoor dat Saul kom om Keïla te vernietig omdat ek hier is. Sal die inwoners van Keïla my aan hom uitlewer? En sal Saul regtig kom soos ek verneem het? HERE, God van Israel, sê my, asseblief.” Die HERE antwoord hom: “Ja, hy sal kom.” Dawid vra weer: “Sal hierdie inwoners van Keïla my en my mense aan Saul uitlewer?” En die HERE antwoord: “Ja, hulle sal jou verraai.” Dawid en sy manskappe, nou omtrent 600 man, het Keïla verlaat en van plek tot plek rondgetrek. Toe Saul hoor dat Dawid gevlug het, het hy nie na Keïla toe gegaan nie. Dawid het in bergskuilings in die woestyn en in die heuwelagtige landstreek van Sif gaan bly. Saul het hom gedurig gesoek, maar God het nie toegelaat dat Saul hom vang nie.