1 SAMUEL 22:1-23

1 SAMUEL 22:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dawid het daarvandaan weggegaan en ontsnap na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en daarheen gegaan na hom toe. Verder het elkeen wat in die moeilikheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was, by hom aangesluit, en hy het hulle leier geword. Daar was ongeveer vier honderd man by hom. Daarvandaan het Dawid na Mispe in Moab toe gegaan en vir die koning van Moab gevra: “Laat my ouers tog uitkom na u toe totdat ek weet wat God aan my sal doen.” Dawid het hulle toe in die sorg van die koning van Moab gelaat. Hulle het by hom gebly so lank as Dawid in die bergskuiling was. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die skuiling bly nie. Trek weg en gaan na Juda toe.” Dawid het toe na die Geretbos toe gegaan. Terwyl Saul in Gibea op 'n hoogte onder 'n tamarisk gesit het met sy spies in sy hand, en al sy amptenare by hom gestaan het, het hy verneem dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. Saul het vir sy amptenare wat by hom staan, gesê: “Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Isai miskien ook vir julle almal velde en wingerde gee en julle almal aanstel as leiers van duisende en leiers van honderde? Julle almal het saamgesweer teen my. Niemand het my vertel dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie; niemand van julle het medelye met my nie; niemand het my vertel dat my seun 'n amptenaar van my teen my opmaak, sodat hy vandag vir my 'n bedreiging is nie.” Doëg die Edomiet het tussen die amptenare van Saul gestaan en hy het gesê: “Ek het die seun van Isai gesien toe hy in Nob by Agimelek seun van Agitub gekom het. Agimelek het die Here vir Dawid geraadpleeg en vir hom padkos gegee. Agimelek het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir hom gegee.” Daarop het die koning gestuur om die priester Agimelek, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters in Nob, te ontbied, en hulle het almal na die koning toe gekom. Saul het toe gesê: “Luister, seun van Agitub.” En hy het geantwoord: “Ek luister, U Majesteit.” En Saul het vir hom gevra: “Waarom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer toe jy vir hom brood en 'n swaard gegee en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy teen my in opstand kon kom en vandag vir my 'n bedreiging is?” Agimelek het die koning geantwoord: “Maar wie van al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning? Hy is die hoof van u lyfwag en geniet hoë aansien in u huis. Dit is in elk geval nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Die koning moet my en my hele familie nie van iets beskuldig nie, want ek het beslis niks van die hele saak af geweet nie.” Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterwe, jy en jou hele familie.” Toe beveel die koning die hardlopers wat by hom staan: “Pak hulle en maak dood die priesters van die Here, want hulle is aan Dawid se kant. Hulle het baie goed geweet dat hy vlug en hulle het my dit nie vertel nie.” Maar die amptenare van die koning wou nie 'n vinger verroer om die priesters van die Here aan te val nie. Toe sê die koning vir Doëg: “Spring onder hulle in en val die priesters aan.” Doëg die Edomiet het onder hulle ingespring, die priesters aangeval en daardie dag vyf en tagtig man wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak. Nob, die dorp van die priesters, is met die swaard uitgewis: man en vrou, kind en suigling, bees en donkie en kleinvee. Maar een seun van Agimelek seun van Agitub het ontkom. Sy naam was Abjatar en hy het agter Dawid aan gevlug. Abjatar het aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het. Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg die Edomiet daar was, geweet dat hy beslis alles vir Saul sou vertel. Ek het die lewe van jou hele familie in gevaar gestel. Bly by my en moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Maar jy is veilig by my.”

1 SAMUEL 22:1-23 Die Boodskap (DB)

Dawid het van daar af weggevlug na die Adullamgrot toe. Sy broers en sy hele familie het dit gehoor en na hom toe gegaan. Mense wat in die moeilikheid was, wat in die skuld was of wat bitter was oor die een of ander ding, het ook na Dawid toe gegaan. Hy het hulle leier geword. Daar was omtrent 400 mense by hom. Dawid is daarvandaan na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gevra: “Kan my pa en ma asseblief hier by u kom bly tot ek weet wat God met my gaan doen?” Dawid het hulle toe by die koning van Moab gelos. Hulle het daar gebly so lank as wat Dawid in die berg weggekruip het. Die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Moenie in die berg wegkruip nie. Gaan na Juda toe.” Dawid het dit gedoen en na die Geretbos toe gegaan. Saul het gehoor dat die mense weet waar Dawid en sy manne is. Saul het onder die tamariskboom op die bult by Gibea gaan sit met sy spies in sy hand. Al sy amptenare was by hom. Hy sê toe vir sy amptenare wat daar om hom staan: “Luister hier, manne van Benjamin! Dink julle daardie seun van Isai sal vir julle elkeen lande en wingerde gee? Sal hy julle leiers maak van groepe van 100 of 1  000 manskappe? Is dít die rede hoekom julle almal planne maak teen my en niemand my eers vertel dat my eie seun en daardie seun van Isai vir mekaar beloftes gemaak het nie? Nie een van julle gee meer vir my om nie, want niemand sal vir my kom sê dat my eie seun een van my werkers teen my opgesteek het sodat hy nou sy kans afwag om my by te kom nie! Dís nou hoe dit is!” Doëg, die man uit Edom, het self ook daar by Saul se amptenare gestaan. Hy sê toe: “Ek het gesien die seun van Isai kom daar by Nob aan, by Agimelek, Agitub se seun. Agimelek het vir hom by die Here uitgevind wat hy moet doen; hy het vir hom padkos gegee en hy het boonop nog Goliat se swaard ook vir hom gegee.” Die koning laat kom toe priester Agimelek, Agitub se seun, saam met sy hele familie wat almal priesters was in Nob. Hulle het almal na die koning toe gekom. Saul sê toe: “Luister mooi wat ek vir jou gaan sê, seun van Agitub!” “Ja, U Majesteit,” antwoord hy. Saul sê vir hom: “Hoekom het julle teen my planne gemaak, jy en daardie seun van Isai? Jy het vir hom kos gegee en ’n swaard en toe nog vir God ook gevra wat hy moet doen. Nou wag hy net sy kans af om teen my in opstand te kom. Dís hoe dit nou is!” Agimelek antwoord die koning: “Maar, U Majesteit, wie van al u werkers is so getrou soos Dawid, u eie skoonseun, hoof van u lyfwag, iemand vir wie almal in die paleis respek het? Dit was ook nie die eerste keer dat ek vir God gevra het wat Dawid moet doen nie. Ek het dit al baie gedoen! U Majesteit moet asseblief nie hierdie dienaar van u of sy familie van enigiets beskuldig nie, want ek het heeltemal niks geweet van hierdie hele saak nie.” “Jy moet doodgemaak word, Agimelek, jy en jou hele familie,” antwoord die koning. Hy sê toe vir sy wagte wat daar by hom staan: “Komaan! Maak die priesters van die Here dood, want húlle is ook aan Dawid se kant en hulle het geweet hy vlug, maar hulle het my nie kom sê nie!” Maar die koning se amptenare het g’n hand verroer nie; hulle wou nie die priesters van die Here aanval nie. Die koning sê toe vir Doëg: “Komaan jy! Doen jy dit!” Doëg, die Edomiet, het self op die priesters toegesak en hulle aangeval. Hy het daardie dag 85 mans wat priesterklere aangehad het, doodgemaak. Hy het ook alles in Nob, die dorpie waar die priesters gebly het, doodgemaak: mans en vroue, kinders, babatjies, beeste, donkies, skape en bokke. Almal is voor die voet met swaarde doodgesteek. Net een van Agimelek se seuns het weggekom. Dit was Abjatar. Hy het na Dawid toe gevlug en vir hom vertel dat Saul die priesters van die Here vermoor het. Dawid het vir Abjatar gesê: “Daardie dag in die tempel toe Doëg, die Edomiet, daar was, het ek voor my siel geweet hy gaan dit vir Saul vertel. Ék moet die skuld kry vir wat met jou familie gebeur het. Bly by my. Moenie bang wees nie, want die een wat jóú wil doodmaak, wil mý ook doodmaak. By my is jy veilig.”

1 SAMUEL 22:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid is daar weg en het in die Adullamgrot gaan skuil. Sy broers en al die ander familielede het dit gehoor en daar by hom aangesluit. Daarna het al meer mense wat in die moeilikheid was, of hulle skuld nie kon betaal nie, of oor iets ontevrede was, by hom aangesluit. Mettertyd was Dawid die leier van omtrent 400 man. Dawid het intussen die koning van Moab in Mispa besoek en vir hom gevra: “Mag my ouers hier by julle kom woon totdat ek weet wat God met my gaan doen?” Die koning het ingestem en Dawid se ma en pa het tydens Dawid se verblyf in die bergskuiling in Moab gewoon. Die profeet Gad sê op ’n dag vir Dawid: “Moenie in die bergskuiling bly nie. Gaan terug na Juda toe.” Dawid gaan toe na die Geretbos. Die nuus van sy aankoms in Juda het gou Saul se ore bereik. Saul het onder ’n tamariskboom op die hoogte by Gibea gesit met sy spies in sy hand en sy offisiere rondom hom. “Luister hier, manne van Benjamin!” roep Saul uit toe hy die nuus hoor. “Sal die seun van Isai ook vir julle landerye en wingerde gee? Sal hy julle hoofde oor duisend en oor honderd in sy leër maak? Julle het almal teen my saamgesweer! Nie een van julle het my vertel dat my eie seun met die seun van Isai teen my saamgesweer het nie. Julle is nie eens jammer vir my nie. Dink daaraan! My eie seun hits my onderdaan aan om my dood te maak!” Toe antwoord Doëg die Edomiet wat oor Saul se veewagters aangestel was. “Toe ek in Nob was,” sê hy, “het ek gesien die seun van Isai praat met die priester Agimelek seun van Agitub. Agimelek het die HERE vir Dawid geraadpleeg om te hoor wat Dawid moes doen. Boonop het hy ook brood en die swaard van Goliat die Filistyn vir Dawid gegee.” Die koning het dadelik Agimelek seun van Agitub en sy hele familie in Nob laat roep. Daar aangekom, sê Saul: “Luister, seun van Agitub!” “Ek luister, o Koning,” antwoord Agimelek. “Hoekom het jy en die seun van Isai teen my saamgesweer?” vra Saul. “Hoekom het jy vir hom brood en ’n swaard gegee? Hoekom het jy God vir hom geraadpleeg en hom aangemoedig om teen my in opstand te kom sodat ek nou deur hom bedreig word?” “Maar, Koning,” verweer Agimelek hom, “daar is tog niemand onder u amptenare wat so betroubaar is as u skoonseun Dawid nie. Hy is dan die aanvoerder van u lyfwag en ’n geëerde lid van u huishouding! Dis tog nie die eerste keer dat ek God vir hom geraadpleeg het nie. Moet asseblief nie my en my familie hiervan beskuldig nie, want ek het absoluut niks geweet van ’n komplot teen u nie.” “Jy sal sekerlik sterf, Agimelek, jy en jou hele familie!” roep die koning uit. Toe beveel hy die lyfwagte rondom hom: “Maak die priesters van die HERE dood, want hulle is kop in een mus met Dawid. Hulle het geweet dat hy van my af vlug, maar het my nie laat weet nie!” Maar Saul se wagte het geweier om die priesters van die HERE dood te maak. Toe beveel die koning vir Doëg: “Val die priesters aan!” Doëg het die priesters aangeval en 85 mans wat die linneskouerkleed dra, doodgemaak. Daarna is ook Nob, die priesterdorp, aangeval en al die mans, vroue, kinders en babas, asook al die grootvee, donkies en kleinvee afgemaai. Net Abjatar, een van die seuns van Agimelek en kleinseun van Agitub, het ontkom en na Dawid toe gevlug. Toe hy vir Dawid vertel dat Saul al die priesters van die HERE doodgemaak het, roep Dawid uit: “Ek het so gedink! Toe ek dié dag vir Doëg die Edomiet daar sien, het ek geweet hy sou alles vir Saul vertel. Ek het die dood van jou pa se hele familie veroorsaak. Bly hier by my en moenie bang wees nie. Die een wat jou wil doodmaak, wil my ook doodmaak. By my is jy egter veilig.”

1 SAMUEL 22:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Dawid het weggegaan van koning Akis en hy het in die Adullam-grot gaan wegkruip. Sy broers en sy hele familie het gehoor dat hy daar is en hulle het na hom toe gegaan. Almal wat probleme gehad het, het na Dawid toe gekom, en ook almal wat geld geskuld het en almal wat kwaad was vir ander mense. Dawid was hulle leier, en daar was omtrent 400 manne by hom. Dawid het weggegaan van die Adullam-grot na die stad Mispe in Moab en hy het vir die koning van Moab gevra: “Mag my ouers asseblief by julle kom bly totdat ek weet wat God met my sal doen.” Dawid het vir sy ouers woonplek gekry by die koning van Moab, en hulle het daar gebly terwyl Dawid in die berge weggekruip het. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: “Jy moenie aanhou om hier in die berge weg te kruip nie, jy moet na die land Juda gaan.” Dawid het toe gegaan en hy het in die Geret-bos gaan woon. Saul het gehoor dat Dawid en sy manne in die Geret-bos is. Saul het by die stad Gibea op 'n hoë plek onder 'n tamariskboom gesit. Hy het sy spies in sy hand vasgehou, en al sy amptenare het by hom gestaan. Hy sê toe vir hulle: “Manne van die Benjamin-stam, julle moet luister: Dink julle Dawid sal ook vir julle almal koringlande en wingerde gee? Dink julle hy sal julle ook almal offisiere maak oor 1 000 manne of oor 100 manne? Julle het almal planne gemaak teen my. Niemand het vir my kom sê dat my seun 'n ooreenkoms gemaak het met die seun van Isai nie. Niemand van julle is bekommerd oor my nie. Niemand het vir my kom sê dat my seun vir Dawid, my amptenaar, opstandig gemaak het teen my nie. Dit is wat Dawid vandag doen, hy lê en wag om my aan te val.” Die Edomiet Doëg het by die amptenare van Saul gestaan. Hy het vir Saul gesê: “Ek het gesien Dawid seun van Isai het na die stad Nob gekom na Agimelek seun van Agitub toe. Agimelek het tot die Here gebid en gevra of dit goed sal gaan met Dawid en hy het vir Dawid padkos gegee. Hy het ook die swaard van die Filistyn Goliat vir Dawid gegee.” Die koning het toe vir Agimelek seun van Agitub en sy hele familie laat roep. Hulle was die priesters in Nob en hulle het almal na die koning toe gekom. Saul het gesê: “Seun van Agitub, luister.” Agimelek het gesê: “Ek luister, Meneer.” Saul vra toe vir Agimelek: “Hoekom het julle planne gemaak teen my, jy en die seun van Isai? Jy het vir hom kos en 'n swaard gegee en jy het vir die Here gevra of dit goed sal gaan met hom. Daarom is hy opstandig en daarom wil hy veg teen my. Hy lê vandag en wag om my aan te val.” Agimelek sê toe vir die koning: “Maar 'n mens kan vir Dawid glo, 'n mens kan hom meer glo as vir jou ander amptenare. Hy is jou skoonseun en hy is die hoof oor die mense wat jou moet oppas. Almal in jou familie respekteer hom. Dit is ook nie die eerste maal dat ek tot die Here bid en vra of dit goed sal gaan met Dawid nie. Nee, die koning moenie dink dat ek en my familie iets gedoen het wat verkeerd is nie, want ek het niks geweet van planne teen jou nie, heeltemal niks.” Maar die koning het gesê: “Agimelek, jy moet sterf, dit is seker, jy en jou hele familie.” Die koning sê toe vir die manne wat by hom staan: “Julle moet die priesters aanval en julle moet hulle doodmaak, want hulle het ook vir Dawid gehelp. Hulle het geweet dat hy vlug en hulle het dit nie vir my kom sê nie.” Maar die amptenare van die koning wou nie die priesters van die Here aanval en doodmaak nie. Die koning sê toe vir Doëg: “Dan moet jý die priesters aanval.” Die Edomiet Doëg het toe die priesters aangeval. Hy het daardie dag 85 priesters doodgemaak, manne wat die linne- skouer-kleed dra. Hy het ook almal in die priesterstad Nob doodgesteek: mans en vroue, kinders en babas, beeste, donkies en skape. Maar Abjatar, een seun van Agimelek, het weggehardloop en hy het nie gesterf nie. Hy het na Dawid toe gevlug en hy het vir Dawid vertel dat Saul die priesters van die Here doodgemaak het. Dawid het vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag geweet dat die Edomiet Doëg daar is en dat hy vir Saul sal vertel. Dit is mý skuld dat jou hele familie gesterf het. Jy moet by my bly, jy moenie bekommerd wees nie. Die man wat vir jou wil doodmaak, wil ook vir my doodmaak, maar jy sal veilig wees by my.”

1 SAMUEL 22:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Dawid het daarvandaan weggegaan en ontvlug na die spelonk van Adúllam; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom. Verder het by hom vergader elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat 'n skuldeiser gehad het, en elkeen wat verbitterd was; en hy het owerste oor hulle geword, sodat daar omtrent vierhonderd man met hom saam was. Vandaar gaan Dawid toe na Mispe in Moab en sê aan die koning van Moab: Laat my vader en my moeder tog uitkom by julle totdat ek weet wat God met my wil doen. En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gebly al die dae wat Dawid in die bergvesting was. Maar die profeet Gad het vir Dawid gesê: Jy mag nie in die bergvesting bly nie; trek weg en gaan die land Juda in. En Dawid het weggetrek en in die bos Héret gekom. TOE Saul hoor dat Dawid en die manne wat by hom was, opgemerk is — Saul het by Gíbea op die hoogte onder die tamarisk gesit met sy spies in sy hand, en al sy dienaars het by hom gestaan — het Saul aan sy dienaars wat by hom staan, gesê: Luister tog, Benjaminiete! Sal die seun van Ísai ook vir julle almal lande en wingerde gee, julle almal aanstel as owerstes oor duisend en owerstes oor honderd, dat julle almal teen my saamspan en niemand dit aan my openbaar as my seun met die seun van Ísai 'n verbond sluit nie? en niemand van julle met my medelyde het en dit aan my openbaar dat my seun my onderdaan teen my ophits om my voor te lê, soos vandag die geval is nie? Daarop antwoord Doëg, die Edomiet, wat by die dienaars van Saul staan, en sê: Ek het die seun van Ísai sien kom in Nob by Ahiméleg, die seun van Ahítub. En dié het vir hom die HERE geraadpleeg en hom padkos gegee; hy het ook die swaard van Góliat, die Filistyn, aan hom gegee. Toe stuur die koning om Ahiméleg, die seun van Ahítub, die priester, met sy hele familie, die priesters wat in Nob was, te roep, en hulle het almal na die koning gekom. En Saul het gesê: Luister tog, seun van Ahítub! Toe antwoord hy: Hier is ek, my heer! En Saul sê vir hom: Waarom het julle teen my saamgesweer, jy en die seun van Ísai, deurdat jy vir hom brood en 'n swaard gegee het en God vir hom geraadpleeg het, sodat hy hom as iemand wat my voorlê, teen my sou versit soos vandag die geval is? Toe antwoord Ahiméleg die koning en sê: Maar wie is onder al u dienaars so getrou soos Dawid, wat skoonseun van die koning is en aangesluit het by u lyfwag en geëerd is in u huis? Het ek vandag vir die eerste keer God vir hom geraadpleeg? Dit is ver van my! Die koning moet nie op sy dienaar, op my hele familie, iets lê nie; want u dienaar het van hierdie hele saak, klein of groot, niks af geweet nie. Maar die koning sê: Ahiméleg, jy moet sekerlik sterwe, jy en jou hele familie. En die koning sê aan die hardlopers wat by hom staan: Tree nader en maak die priesters van die HERE dood, omdat hulle hand ook met Dawid saam is en omdat hulle geweet het dat hy vlug en dit nie aan my geopenbaar het nie. Maar die dienaars van die koning wou hulle hand nie uitsteek om op die priesters van die HERE aan te val nie. Daarop sê die koning vir Doëg: Tree jy nader en val op die priesters aan. Toe tree Doëg, die Edomiet, nader en hý val op die priesters aan; en hy het op dié dag vyf-en-tagtig man wat die linneskouerkleed dra, gedood. Ook die priesterstad Nob het hy met die skerpte van die swaard verslaan, man sowel as vrou, kind sowel as suigling, ook die beeste en esels en skape met die skerpte van die swaard. Maar een van die seuns van Ahiméleg, die seun van Ahítub, het vrygeraak, en sy naam was Ábjatar; hy het agter Dawid aan gevlug. Toe Ábjatar aan Dawid vertel dat Saul die priesters van die HERE vermoor het, sê Dawid vir Ábjatar: Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit sekerlik aan Saul sou vertel. Ek is die oorsaak van die dood van al die lede van u familie. Bly by my, wees nie bevrees nie; want die wat my lewe soek, soek u lewe ook; want u is by my in goeie bewaring.

1 SAMUEL 22:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dawid is toe daar weg en het ontvlug na die grot van Adullam. Toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen afgetrek na hom toe. Elkeen wat in die moeilikheid was, wat geld geskuld het, of verbitterd was, het by hom aangesluit, en hy het hulle •aanvoerder geword. Daar was ongeveer vierhonderd man by hom. Van daar af is Dawid na Mispe in Moab. Hy het vir die koning van Moab gesê: “Laat my vader en moeder asseblief na julle uitwyk, totdat ek weet wat God met my wil doen.” Hy het hulle toe by die koning van Moab besorg, en hulle het by hom gebly so lank as wat Dawid in die bergskuiling was. Die profeet Gad het egter vir Dawid gesê: “Jy mag nie in die bergskuiling bly nie. Gaan weg! Sorg dat jy in die gebied van Juda kom.” Dawid het toe vertrek en die bos van Geret binnegegaan. Saul het gehoor dat Dawid, en ook die manne wat by hom was, opgemerk is. Saul het in Gibea op die hoogte onder 'n tamarisk gesit met sy vegspies in sy hand, met al sy amptenare wat daar by hom staan. Saul sê toe vir sy amptenare wat by hom staan: “Luister, Benjaminiete! Gaan die seun van Isai ook vir julle almal landerye en wingerde gee, julle almal aanstel as aanvoerders van duisend en aanvoerders van honderd? Want julle smee almal 'n komplot teen my, en niemand lig my in wanneer my eie seun met die seun van Isai 'n ooreenkoms sluit nie; ja, niemand van julle het simpatie met my en maak dit aan my bekend dat my eie seun my dienaar teen my laat opstaan nie, om my voor te lê soos dit op die oomblik is.” Doëg, die Edomiet, wat daar by Saul se amptenare staan, reageer toe daarop en sê: “Ek het gesien die seun van Isai kom in Nob aan, by Agimeleg, seun van Agitub. Hy het die HERE vir hom geraadpleeg en padkos vir hom gegee; ook die swaard van Goliat, die Filistyn, het hy vir hom gegee. ” Die koning ontbied toe Agimeleg, die priester, seun van Agitub, en sy hele familie, die priesters wat in Nob was. Hulle het almal na die koning gekom. “Luister mooi, seun van Agitub!” het Saul gesê. “Tot u diens, my heer!” het hy geantwoord. Saul sê toe vir hom: “Waarom het jy 'n komplot teen my gesmee, jy en die seun van Isai, deur vir hom brood en 'n swaard te gee en God vir hom te raadpleeg, sodat hy teen my in opstand gekom het om my voor te lê, soos dit op die oomblik is?” Agimeleg het die koning geantwoord en gesê: “Maar wie onder al u amptenare is so betroubaar soos Dawid, die skoonseun van die koning, aanvoerder van u lyfwag, en geëer in u huis? Het ek nou eers God vir hom begin raadpleeg? Hoegenaamd nie! Die koning moet nie sy dienaar en sy hele familie by die saak betrek nie, want u dienaar het van hierdie hele saak, groot of klein, niks geweet nie.” Maar die koning sê: “Jy moet beslis sterf, Agimeleg; jy en jou hele familie.” Toe sê die koning vir die hardlopers wat by hom staan: “Draai om! Maak die priesters van die HERE dood, want ook hulle ondersteun Dawid. Hulle het immers geweet dat hy aan die vlug is, maar hulle het my nie daaroor ingelig nie.” Die dienaars van die koning wou egter nie hulle hand uitsteek om die priesters van die HERE aan te val nie. Toe sê die koning vir Doëg: “Draai jy om en val die priesters aan!” Toe draai Doëg, die Edomiet, om en val self die priesters aan. Hy het daardie dag vyf-en-tagtig manne wat die linne-efod dra, doodgemaak. Hy het Nob, die dorp van die priesters, met die skerpte van die swaard verslaan: van man tot vrou, kinders tot suigelinge; beeste, donkies en skape – alles met die skerpte van die swaard. 'n Seun van Agimeleg, seun van Agitub, het egter ontkom. Sy naam was Abjatar. Hy het agter Dawid aan gevlug; en toe Abjatar vir Dawid vertel dat Saul die priesters van die HERE uitgemoor het, het Dawid vir Abjatar gesê: “Ek het daardie dag toe Doëg, die Edomiet, daar was, geweet dat hy dit beslis vir Saul gaan vertel. Eintlik het ek teen elke persoon in jou familie gedraai. Bly by my, moenie bang wees nie, want hy wat my lewe soek, soek ook jou lewe. Ja, jy is veilig by my.”

1 SAMUEL 22:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Dawid het toe daarvandaan weggegaan en na die spelonk Adullam ontvlug; en toe sy broers en sy hele familie dit hoor, het hulle daarheen na hom afgegaan. En elkeen wat in benoudheid was, en elkeen wat skuld gehad het, en elkeen wat ontevrede was, het by hom vergader; en hy het 'n owerste oor hulle geword, en by hom was omtrent vier honderd man. Dawid het daarvandaan na Mispa van Moab gegaan en aan die koning van Moab gesê: Laat my vader en my moeder tog uittrek en by jou wees totdat ek weet wat God met my sal doen. En hy het hulle voor die koning van Moab gebring, en hulle het by hom gewoon al die tyd wat Dawid in die bergvesting was. Toe sê die profeet Gad vir Dawid: Moenie in die bergvesting bly nie; gaan weg en gaan na die land Juda. Toe het Dawid weggegaan en in die bos van Haret gekom. Toe Saul hoor dat Dawid ontdek is, en die manne wat by hom was, het Saul in Gíbea onder 'n boom in Rama gebly, met sy spies in sy hand, en al sy dienaars het rondom hom gestaan. Toe sê Saul aan sy dienaars wat by hom staan: Luister tog, Benjaminiete! sal die seun van Isai aan julle elkeen lande en wingerde gee en julle almal owerstes oor duisend en owerstes oor honderd aanstel; Dat julle almal teen my saamgesweer het, en daar is niemand wat my te kenne gee dat my seun 'n verbond met die seun van Isai gesluit het nie, en daar is niemand van julle wat jammer is vir my of aan my te kenne gee dat my seun opgewek het nie my dienaar teen my opstaan om te loer soos dit vandag is? Toe antwoord Doëg, die Edomiet, wat oor die dienaars van Saul aangestel was, en sê: Ek het die seun van Isai na Nob sien aankom, by Ahimeleg, die seun van Ahítub. En hy het die HERE vir hom geraadpleeg en hom voedsel gegee en hom die swaard van Goliat, die Filistyn, gegee. Toe het die koning gestuur om Ahimeleg, die priester, die seun van Ahítub, en die hele huis van sy vader, die priesters wat in Nob was, te roep; en hulle het almal na die koning gekom. Toe sê Saul: Luister tog, seun van Ahítub! En hy antwoord: Hier is ek, my heer. En Saul sê vir hom: Waarom het julle teen my sameswering gemaak, jy en die seun van Isai, deurdat jy hom brood en 'n swaard gegee het en God vir hom geraadpleeg het, dat hy teen my sou opstaan om in te lê en wag, soos op hierdie dag? Toe antwoord Ahimeleg die koning en sê: En wie is so getrou onder al u dienaars soos Dawid, wat die koning se skoonseun is, en gaan volgens u bevel en is eerbaar in u huis? Het ek dan begin om God vir hom te raadpleeg? laat die koning sy dienaar en die hele huis van my vader niks toereken nie, want u dienaar het niks hiervan geweet nie, minder of meer. Toe sê die koning: Jy sal sekerlik sterwe, Ahimeleg, jy en jou hele huis. Toe sê die koning aan die voetgangers wat rondom hom staan: Draai om en maak die priesters van die HERE dood; omdat hulle hand ook met Dawid is, en omdat hulle geweet het toe hy gevlug het en dit nie aan my te kenne gegee het nie. Maar die dienaars van die koning wou nie hulle hand uitsteek om teen die priesters van die HERE te val nie. Toe sê die koning vir Doëg: Draai jou om en val op die priesters. En Doëg, die Edomiet, het omgedraai, en hy het op die priesters geval en op dié dag vyf en tagtig mense gedood wat 'n linneskouerkleed gedra het. En Nob, die stad van die priesters, het hy met die skerpte van die swaard verslaan, mans sowel as vroue, kinders en suigelinge en beeste en esels en skape met die skerpte van die swaard. En een van die seuns van Ahímeleg, die seun van Ahítub, met die naam van Abjatar, het vrygekom en agter Dawid aan gevlug. En Abjatar het vir Dawid te kenne gegee dat Saul die priesters van die HERE gedood het. Toe sê Dawid vir Abjatar: Ek het daardie dag geweet toe Doëg, die Edomiet, daar was, dat hy sekerlik vir Saul sou sê: Ek het die dood veroorsaak van al die mense van jou vader se huis. Bly by my, wees nie bevrees nie, want hy wat my lewe soek, soek jou lewe; maar by my sal jy in bewaring wees.