1 SAMUEL 21:1-15

1 SAMUEL 21:1-15 Die Boodskap (DB)

Dawid het in Nob by priester Agimelek aangekom. Agimelek het groot geskrik toe hy Dawid sien en vir hom gevra: “Hoekom kom jy alleen hier aan sonder iemand by jou?” Dawid sê toe vir priester Agimelek: “Die koning het my gestuur, maar hy het gesê ek mag vir niemand vertel waarheen hy my stuur en wat hy vir my gesê het nie. Ek sal my manskappe op ’n sekere plek kry. Maar sê my, wat het jy wat ’n mens kan eet? Gee my so vyf brode of wat jy ook al het.” Die priester sê toe vir Dawid: “Ek het nie gewone brood nie, net tempelbrood. Jy kan dit kry op voorwaarde dat jou manskappe rein is en nie seks gehad het nie.” “Maar natuurlik was ons nie by vroue nie,” antwoord Dawid. “Die manne is rein soos altyd wanneer ons gaan oorlog maak. Al is hierdie ’n gewone ding wat ons moet gaan doen, is die manne vir seker rein.” Die priester gee toe vir hom die tempelbrood, want daar was nie ander brood nie. Die enigste brood was dié wat die priesters by die altaar weggevat het toe hulle weer vars brood daar moes neersit. Een van Saul se werkers was daardie dag ook om die een of ander rede in die tempel. Sy naam was Doëg. Hy het uit Edom gekom en was die baas van Saul se skaapwagters. Dawid vra toe vir Agimelek: “Het jy nie dalk ’n spies of ’n swaard hier nie? Die koning het my so haastig gestuur, ek kon nie eers my spies of swaard of ander wapens vat nie.” Die priester antwoord hom: “Goliat, die Filistyn wat jy in Eikelaagte doodgemaak het, se swaard is hier. Dis toegedraai in ’n mantel daar agter die priestersak. As jy dit wil hê, kan jy dit kry. Dis die enigste swaard wat hier is.” “Daar is nie nóg so ’n swaard nie,” sê Dawid. “Gee hom vir my.” Dawid het daardie dag vir Saul gevlug en by Akis, die koning van Gat, uitgekom. Akis se paleiswerkers sê toe vir hom: “Maar dis mos Dawid, die koning van die land! Dis mos oor hóm wat die vroue sing as hulle in die rondte dans: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Toe Dawid agterkom wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat. Hy het toe voor hulle gemaak of hy mal is. Toe hulle hom vang, het hy hom stapelgek gehou: hy het met sy naels aan die deure by die dorp se ingang gekrap en die spoeg het oor sy baard geloop. “Kan julle nie sien die man is van sy kop af nie?” sê Akis vir die paleiswerkers. “Hoekom bring julle hom hier na my toe? Dink julle ek het mal mense nodig dat julle dié vent hierheen bring om sy manewales hier uit te haal? Vat hom uit my paleis uit!”

1 SAMUEL 21:1-15 Bybel vir almal (ABA)

Dawid het in die stad Nob by die priester Agimelek gekom. Agimelek het geskrik toe hy vir Dawid sien. Hy het vir Dawid gevra: “Hoekom is jy alleen? Hoekom is daar niemand saam met jou nie?” Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het vir my gesê ek moet iets gaan doen. Hy het gesê niemand moet weet waarnatoe hy my stuur en hoekom ek moet gaan nie. Ek het vir my manne gesê waar hulle my moet kry. Maar het jy hier kos vir my? Gee vir my vyf brode of iets anders wat jy het.” Die priester het vir Dawid gesê: “Ek het nie gewone brood nie, hier is net gewyde brood. Maar ek hoop die manne het nie kort gelede seks gehad nie.” Dawid sê toe vir die priester: “Nee, wanneer ons gaan oorlog maak, dan het die manne nooit seks nie. Hulle wapens is ook gewyd. My manne is altyd gewyd wanneer ons saam iets gaan doen. Hierdie is 'n spesiale werk wat ons doen, daarom is hulle nog meer gewyd.” Die priester gee toe vir Dawid van die gewyde brood. Daar was nie ander brood nie, daar was net die offer-brood wat die priester weggeneem het uit die tempel toe hy dit omgeruil het om vars brood daar neer te sit. Een van Saul se amptenare moes daardie dag in die tempel bly. Sy naam was Doëg, en hy was die hoof oor die wagters wat Saul se beeste en skape en bokke moes oppas. Dawid het vir Agimelek gevra: “Het jy vir my 'n spies of 'n swaard? Ek kon nie my swaard of ander wapens saambring nie, want ek moes haastig weggaan.” Die priester het gesê: “Hier is die swaard van die Filistyn Goliat wat jy oorwin het in die vallei waar die groot boom is. Kyk, hier is dit toegedraai in 'n lap agter die skouer-kleed. Neem dit as jy dit wil hê, hier is nie 'n ander swaard nie.” Dawid het gesê: “Dit is die beste swaard. Gee dit vir my.” Dawid het daardie selfde dag nog verder weggevlug van Saul. Hy het na koning Akis van die stad Gat gegaan. Akis se amptenare het vir hom gesê: “Dit is Dawid, die koning van die land. Dit is die man vir wie die vroue gedans en gesing het. Hulle het gesê: “ ‘ Saul het duisende manne oorwin, maar Dawid het tienduisende oorwin.’ ” Toe Dawid hoor wat die amptenare sê, het hy geskrik en hy het baie bang geword vir koning Akis van Gat. Toe hy by die Filistyne kom, het hy gemaak of hy nie weet wat hy doen nie. Hy het gemaak of hy mal is. Hy het met sy vingers op die deure van die poorte gekrap en hy het spoeg in sy baard laat afloop. Akis het vir sy amptenare gesê: “Kyk daar, julle kan sien die man is mal. Hoekom bring julle hom na my toe? Hier is baie mal mense. Hoekom bring julle hierdie mal man ook na my toe? Hierdie man moenie in my huis kom nie.”

1 SAMUEL 21:1-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN Dawid het in Nob gekom by die priester Ahiméleg; en Ahiméleg het Dawid bewend tegemoetgegaan en hom gevra: Waarom is u alleen, en is daar niemand by u nie? En Dawid sê aan die priester Ahiméleg: Die koning het my 'n opdrag gegee en aan my gesê: Laat geen mens iets van die saak weet waarvoor ek jou stuur en wat ek jou opdra nie. Daarom het ek die dienaars 'n sekere plek aangewys. Maar nou, wat is hier by u? Gee vyf brode in my hand, of wat beskikbaar is. En die priester het Dawid geantwoord en gesê: Hier is geen gewone brood by my nie; hier is net heilige brood. As die dienaars hulle maar net vir vroue in ag geneem het. Toe antwoord Dawid die priester en sê vir hom: Sekerlik is die vroue aan ons onthou soos altyd wanneer ek uittrek. Dus is die uitrustings van die dienaars heilig, alhoewel dit 'n ongewyde onderneming is — hoeveel te meer as hulle vandag deur die uitrusting geheilig word! Toe gee die priester hom die heilige brood, want daar was geen ander brood nie, behalwe die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem word, om vars brood neer te sit op die dag as dit weggeneem word. Maar daar was 'n man uit die dienaars van Saul wat dieselfde dag opgesluit was voor die aangesig van die HERE, en sy naam was Doëg, die Edomiet, die opsigter oor die veewagters van Saul. En Dawid sê vir Ahiméleg: Is hier nie 'n spies of 'n swaard by u nie? Want ek het my swaard sowel as my wapens nie met my saamgeneem nie, omdat die opdrag van die koning dringend was. Toe sê die priester: Die swaard van Góliat, die Filistyn, wat u in die dal van die terpentynboom verslaan het, hier is dit in 'n mantel toegedraai, agter die skouerkleed; as u dit vir u wil neem, neem dit, want behalwe dit is hier geen ander nie. Toe sê Dawid: Daar is nie nog so een nie, gee dit aan my. En Dawid het hom klaargemaak en dié dag van Saul af weggevlug en by Agis, die koning van Gat, gekom. Maar die dienaars van Agis het hom gevra: Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Het hulle nie vir hom in die koordanse gesing nie en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende? En Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bevrees geword vir Agis, die koning van Gat. Daarom het hy hom voor hulle oë kranksinnig aangestel en hom mal gehou onder hulle hand en op die deure van die poort gekrap en sy speeksel in sy baard laat afloop. Daarop sê Agis aan sy dienaars: Julle sien tog die man is kranksinnig, waarom bring julle hom na my toe? Het ek gebrek aan kranksinniges, dat julle hierdie een bring om sy kranksinnigheid by my uit te haal? Moet so een in my huis inkom?

1 SAMUEL 21:1-15 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dawid het in Nob by die priester Agimelek gekom. Agimelek het Dawid ontsteld tegemoet gegaan en gevra: “Waarom is u alleen? Waarom is daar niemand by u nie?” Dawid het vir die priester Agimelek gesê: “Die koning het my 'n opdrag gegee en gesê: ‘Niemand mag iets weet van die saak waarvoor ek jou stuur en wat ek jou beveel nie.’ Ek het my manskappe op 'n sekere plek bestel. Maar nou iets anders: wat het u byderhand? Gee my tog vyf brode of net wat u beskikbaar het.” Die priester het Dawid geantwoord: “Ek het nie gewone brood byderhand nie, hier is net gewyde brood. As die manskappe hulle tog maar van vrouens weerhou het.” Toe sê Dawid vir die priester: “Soos altyd wanneer ek gaan oorlog maak, is vrouens vir ons verbode en daarom is die liggame van die manskappe rein. Al is dit ook 'n gewone onderneming, is die liggame vandag tog rein.” Die priester het toe aan hom gewyde brood gegee, want daar was nie gewone brood nie, net die offerbrood wat op 'n bepaalde tyd uit die tempel verwyder word om dit deur vars brood te vervang. Een van Saul se slawe moes daardie dag in die tempel deurbring. Sy naam was Doëg. Hy was 'n Edomiet, die hoof van Saul se veewagters. Dawid het ook vir Agimelek gesê: “Is hier nie miskien 'n spies of 'n swaard byderhand nie? Ek kon selfs nie eens my swaard of my ander wapens vat nie, want die saak van die koning was dringend.” Die priester het hom geantwoord: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die dal by die groot boom verslaan het, is hier, toegedraai in 'n mantel agter die skouerkleed. Vat dit vir u as u wil, want in hierdie plek is daar niks behalwe hierdie een nie.” En Dawid sê: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.” Hierná het Dawid klaargemaak en dieselfde dag nog van Saul af weggevlug na koning Akis van Gat toe. Akis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Sing hulle nie vir hom in koordanse nie: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Toe Dawid besef wat hulle sê, het hy baie bang geword vir koning Akis van Gat. Daarom het Dawid hom voor die Filistyne waansinnig gehou, en terwyl hy by hulle was, het hy hom soos 'n mal mens gedra. Hy het teen die deure van die poort gekrap en sy spoeg in sy baard laat afloop. Akis het vir sy amptenare gesê: “Julle kan mos sien die man is mal. Waarom bring julle hom na my toe? Het ek behoefte aan mal mense dat julle hierdie een na my toe bring om by my mal te wees? Moet hý in my huis inkom?”

1 SAMUEL 21:1-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Dawid het in Nob by Agimeleg, die priester, aangekom. Agimeleg het Dawid vreesbevange tegemoetgegaan en hom gevra: “Waarom is u alleen en is daar niemand by u nie?” Dawid sê toe vir Agimeleg, die priester: “Die koning self het 'n saak aan my opgedra, maar hy het vir my gesê, ‘Niemand mag iets weet van die saak waaroor ek jou stuur en jou opdrag gee nie.’ Ek het met my jong dienaars afgespreek om mekaar op 'n sekere plek te ontmoet. En nou, wat het u beskikbaar? Vyf brode? Gee dit vir my; of wat u ook al het.” Die priester het Dawid geantwoord en gesê: “Gewone brood het ek nie byderhand nie, maar heilige brood is hier wel, as die jong dienaars hulleself maar net van vroue weerhou het. ” Dawid antwoord toe die priester en sê vir hom: “Ek verseker jou, niemand van ons het naby 'n vrou gekom nie, soos dit altyd is wanneer ek op 'n veldtog uittrek. Die toerusting van die jong dienaars is heilig. Dit is 'n gewone sending – hoeveel te meer sal hulle dan nie, met hulle toerusting, vandag heilig wees nie.” Toe gee die priester vir hom heilige brood, omdat daar geen ander brood daar was nie, behalwe die vertoonbrode wat voor die HERE verwyder word om dit met warm brood te vervang op die dag wanneer dit weggeneem word. Op daardie dag was een van Saul se amptenare wat afgesonder is voor die HERE egter ook daar. Sy naam was Doëg die Edomiet, die voorman van Saul se veewagters. Dawid het ook vir Agimeleg gevra: “U het nie dalk hier 'n vegspies of 'n swaard byderhand nie? Ek het nie my swaard of my wapens met my saamgeneem nie, omdat die saak van die koning so dringend is.” Toe sê die priester: “Die swaard van Goliat die Filistyn, vir wie u in die Ela-vallei verslaan het, kyk, dit is in 'n kledingstuk toegedraai agter die efod. As u dít vir u wil neem, neem dit; want hier is geen ander swaard behalwe dié een nie.” Dawid sê toe: “Daar is nie nog so een nie. Gee dit vir my.” Dawid het gereedgemaak en dieselfde dag nog vir Saul gevlug, en by Agis die koning van Gat aangekom. Agis se amptenare het vir hom gesê: “Is dit dan nie Dawid dié, die koning van die land nie? Is dit nie vir hom wat hulle in hulle kringdanse gesing het nie? “ ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!’ ” Dawid het hierdie woorde ter harte geneem en baie bang geword vir Agis, die koning van Gat. Hy het hom toe voor hulle oë kranksinnig gehou. Hy het voorgegee dat hy waansinnig is terwyl hy in hulle hande was, en het merke gemaak op die poortdeure en die kwyl in sy baard laat afloop. Agis het vir sy amptenare gesê: “Kyk, julle sien die man gedra hom soos 'n mal mens – waarom bring julle hom na my toe? Het ek 'n tekort aan mal mense dat julle hierdie man gebring het om sy mal streke hier by my te kom uithaal? Moet hierdie man in my huis inkom?”

1 SAMUEL 21:1-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe kom Dawid in Nob by die priester Ahimeleg, en Ahimeleg het bang geword by die vergadering van Dawid en vir hom gesê: Waarom is jy alleen en niemand by jou nie? Toe sê Dawid vir die priester Ahimeleg: Die koning het my 'n saak beveel en vir my gesê: Laat niemand iets weet van die saak waarheen ek jou stuur en wat ek jou beveel het nie; en ek het my dienaars aangestel om so en so 'n plek. Wat is dan nou onder jou hand? gee vir my vyf brode in my hand, of wat daar is. En die priester het Dawid geantwoord en gesê: Daar is geen gewone brood onder my hand nie, maar daar is heilige brood; as die jong mans hulle ten minste van vroue weggehou het. En Dawid het die priester geantwoord en vir hom gesê: Daar is waarlik, hierdie drie dae vandat ek uitgegaan het, vroue van ons weggehou, en die voorwerpe van die jongmanne is heilig, en die brood is algemeen, ja, alhoewel dit vandag in die houer geheilig is. Die priester het toe vir hom heilige brood gegee, want daar was geen brood daar nie, behalwe die toonbrode wat voor die aangesig van die HERE weggeneem is, om warm brood te sit op die dag as dit weggeneem word. En 'n sekere man uit die dienaars van Saul was daardie dag daar, in hegtenis voor die aangesig van die HERE; en sy naam was Doëg, 'n Edomiet, die vernaamste van die veewagters wat aan Saul behoort het. Toe sê Dawid vir Ahimeleg: Is hier nie 'n spies of swaard onder jou hand nie? want ek het nie my swaard of my wapens saamgebring nie, omdat die koning se saak haas was. Toe sê die priester: Die swaard van Goliat, die Filistyn, wat jy in die dal van Ela verslaan het, kyk, dit is hier agter die skouerkleed in 'n doek toegedraai; as jy dit wil neem, neem dit; want daar is niemand anders nie hier. En Dawid sê: So is daar nie; gee dit vir my. Dawid het hom klaargemaak en daardie dag uit vrees vir Saul gevlug en na Agis, die koning van Gat, gegaan. En die dienaars van Agis sê vir hom: Is dit nie Dawid, die koning van die land nie? Het hulle nie die een vir die ander van hom in koordanse gesing nie en gesê: Saul het sy duisende verslaan en Dawid sy tienduisende? En Dawid het hierdie woorde in sy hart opgelê, en hy was baie bevrees vir Agis, die koning van Gat. En hy het sy gedrag voor hulle verander en hom in hulle hande gek gemaak en aan die deure van die poort gekrap en sy speeksel op sy baard laat val. Toe sê Agis vir sy dienaars: Kyk, julle sien die man is kranksinnig; waarom het julle hom dan na my toe gebring? Het ek mal manne nodig, dat julle hierdie man gebring het om die mal man voor my te speel? sal hierdie man in my huis kom?

1 SAMUEL 21:1-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dawid het by die priester Agimelek in Nob aangekom. Agimelek was bang toe hy Dawid sien en vra: “Hoekom is jy alleen sonder iemand anders by jou?” “Die koning het my op ’n geheime sending gestuur,” sê Dawid. “Hy het my verbied om vir enigiemand te sê hoekom ek hier is. Ek het my manskappe aangesê om my op ’n bepaalde plek te ontmoet. Maar sê my, wat het julle hier om te eet? Gee vir my vyf brode of enigiets anders wat beskikbaar is.” “Ons het nie gewone brood hier nie,” antwoord die priester. “Ons het net die heilige brode wat julle maar kan kry as jou manne nie onlangs by ’n vrou geslaap het nie.” “Geen probleem nie,” antwoord Dawid. “My manskappe mag nie by vroue kom wanneer ons op ’n veldtog uitgaan nie. Dis die reël vir gewone veldtogte, hoeveel te meer vir hierdie een!” Omdat daar dus nie gewone brood beskikbaar was nie, gee die priester hom die offerbrood wat net daardie dag uit die heiligdom geneem is en met vars brode vervang is. Doëg die Edomiet, hoof van Saul se veewagters, moes dié dag daar in die heiligdom deurbring. Dawid vra vir Agimelek: “Is hier dalk ’n spies of ’n swaard beskikbaar? Die koning se opdrag was so dringend dat ek nie eens tyd gehad het om my wapens te gryp nie!” “Al wat ek hier het,” antwoord Agimelek, “is die swaard van Goliat die Filistyn wat jy in die vallei van die groot boom doodgemaak het. Dit is toegedraai in ’n mantel agter die skouerkleed. Jy kan dit vat as jy wil, want daar is niks anders hier nie.” “Daar is niks beters as dié swaard nie. Gee dit vir my!” sê Dawid. Dawid het nog dieselfde dag van Saul af weggevlug en by Akis, die koning van Gat, aangekom. Maar Akis se amptenare het gevra: “Is dit dan nie Dawid, die koning van die land nie? Is dit nie die een wat die mense met danse vereer het en oor wie hulle gesing het: ‘Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende’ nie?” Dawid het hierdie opmerkings gehoor en was bang dat Akis teen hom sou optree. Daarom het hy gemaak of hy mal is deur teen die poorte te krap en sy spoeg teen sy baard te laat afloop. Toe sê Akis vir sy amptenare: “Kan julle nie sien die man is mal nie? Hoekom bring julle hom na my toe? Het ons nog mal mense nodig dat julle hom na my toe bring om voor my mal te wees? Hoekom moet ek so iemand in my huis toelaat?”