1 SAMUEL 18:5-30
1 SAMUEL 18:5-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind. Toe Dawid teruggekom het nadat hy die Filistyn verslaan het en Saul-hulle op pad was huis toe, het die vroue van al die dorpe van Israel uitgegaan om te sing, en die danseresse het koning Saul tegemoet gegaan met tamboeryne en driesnarige musiekinstrumente en met gejubel. Die vroue het gedans en gesing: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende!” Daaroor het Saul hom vererg. Dit het hom nie geval nie en hy het gesê: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee en aan my duisende. Die koningskap sal ook nog syne word!” Van toe af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak, sodat hy in sy huis te kere gegaan het soos 'n waansinnige. Soos gewoonlik het Dawid op die lier gespeel. In die hand van Saul was daar 'n spies. Toe lig Saul die spies op en dink: ek gaan vir Dawid teen die muur vaspen. Maar Dawid het weggekoes, selfs twee maal. Saul het bang geword vir Dawid omdat die Here by hom was, maar die Here het vir Saul verlaat. Saul het daarna nie meer vir Dawid by hom laat bly nie en hom aangestel as hoof van 'n leërafdeling. Hy het in die oorlog as aanvoerder van die manskappe opgetree en in alles sukses behaal omdat die Here by hom was. Saul het opgemerk dat Dawid baie suksesvol was, en Saul was bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, en hy het in die oorlog as hulle aanvoerder opgetree. Later het Saul vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar aan jou as vrou. Jy moet net vir my 'n dapper man wees en die oorloë van die Here voer.” Saul het naamlik gedink: ek moenie teen hom wees nie. Laat die Filistyne teen hom wees. Dawid sê toe vir Saul: “Wie is ek en wie is my broers en my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun mag word?” Maar teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy aan Adriël die Megolatiet as vrou gegee. Saul se ander dogter, Mikal, was verlief op Dawid, en toe dit aan Saul vertel is, was hy in sy skik daarmee. Saul het naamlik gedink: ek sal haar aan hom gee dat sy vir hom 'n vangstrik word en die Filistyne teen hom kan wees. So het Saul dan twee keer vir Dawid gesê: “Jy kan vandag my skoonseun word.” Saul het sy amptenare beveel: “Sê so ongemerk vir Dawid: Jy weet, die koning hou van jou en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou maar die koning se skoonseun.” Saul se amptenare het hierdie boodskap vir Dawid in die oor gefluister en Dawid het gesê: “Dink julle dis 'n kleinigheid om die koning se skoonseun te word? Ek is maar 'n arm man sonder aansien.” Saul se amptenare het hom meegedeel wat Dawid gesê het. Maar Saul het gesê: “So moet julle vir Dawid sê: Die koning wil niks anders as honderd voorhuide van die Filistyne as huweliksvergoeding hê nie, om so wraak te neem teen sy vyande.” Saul se gedagte was om Dawid deur die Filistyne te laat omkom. Saul se amptenare het hierdie woorde aan Dawid meegedeel, en Dawid het ingestem om die koning se skoonseun te word. Dawid het nie tyd verspeel nie, maar klaargemaak, en hy en sy manskappe het twee honderd Filistyne gaan doodmaak. Dawid het hulle voorhuide gebring, en dié is almal aan die koning oorhandig sodat Dawid die koning se skoonseun kon word. Saul het sy dogter Mikal aan hom gegee as vrou. Dit het vir Saul duidelik geword dat die Here by Dawid is. Boonop het Saul se dogter Mikal vir Dawid liefgehad. Toe het Saul nog banger geword vir Dawid, Saul was vir goed vyandig teenoor hom. Die regeerders van die Filistyne het herhaaldelik opgetrek om oorlog te maak, maar elke keer as hulle optrek, het Dawid meer sukses gehad as die offisiere van Saul, sodat hy groot aansien verkry het.
1 SAMUEL 18:5-30 Bybel vir almal (ABA)
Dawid het oral gegaan waar Saul hom gestuur het, en dit het goed gegaan met hom. Saul het hom gekies om die hoof te wees oor die manne wat moes oorlog maak, en die manne en ook Saul se amptenare was bly daaroor. Nadat Dawid die Filistyn oorwin het, het Saul en sy manne teruggekom, en toe het daar iets gebeur. Die vroue het uit al die stede van Israel na koning Saul toe gekom. Hulle het gesing en gedans en musiek gemaak met tamboeryne en driehoeke. Hulle was vrolik, hulle het gelag en gesing en hulle het gesê: “Saul het duisende manne oorwin, maar Dawid het tienduisende oorwin.” Saul het baie kwaad geword, hy het niks daarvan gehou nie. Hy het gesê: “Hulle sê Dawid het tienduisende manne oorwin, maar ek het net duisende oorwin. As hulle so aanhou praat, dan sal hy die koning word in my plek.” Daarom het Saul van daardie dag goed gekyk of Dawid iets verkeerd doen. Die volgende oggend het 'n bose gees in Saul gekom. Saul het soos 'n profeet gepraat, en Dawid het musiek gemaak soos hy voorheen gedoen het. Saul se spies was in sy hand, en hy het die spies na Dawid gegooi, hy wou vir Dawid teen die muur vassteek met die spies. Hy het die spies twee maal gegooi, maar elke maal het Dawid weggespring. Saul het bang geword vir Dawid, want die Here was by Dawid en Hy was nie meer by Saul nie. Saul het vir Dawid weggestuur van hom. Hy het vir Dawid 'n offisier oor 1 000 manne gemaak, en Dawid het die manne gelei. Dit het oral goed gegaan met Dawid. Die Here was by hom. Saul het gesien dat dit baie goed gaan met Dawid, en hy het bang geword vir Dawid. Al die manne van Israel en Juda het lief geword vir Dawid, want hy het hulle gelei. Saul het vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Ek gee haar vir jou om jou vrou te wees. Maar ek wil hê jy moet 'n dapper man wees en jy moet die oorloë van die Here veg.” Saul het gedink: Ek wil nie self vir Dawid doodmaak nie, die Filistyne sal dit doen. Maar Dawid het vir Saul gesê: “Ek en my familie is nie belangrike mense nie. Ek kan nie die koning se skoonseun word nie.” En toe die tyd kom dat Merab met Dawid moes trou, het Saul haar laat trou met Adriël van Megola. Maar Saul se dogter Mikal was verlief op Dawid, en toe Saul dit hoor, het hy gedink dit is goed. Hy het gedink: Ek sal haar vir Dawid gee, maar ek sal dit só doen dat die Filistyne hom kan doodmaak. Saul het toe 'n tweede maal vir Dawid gesê Dawid kan sy skoonseun word. Saul het vir sy amptenare gesê hulle moet privaat met Dawid praat en hulle moet vir hom sê: “Luister, die koning hou van jou, en al sy amptenare is lief vir jou. Jy moet nou die koning se skoonseun word.” Toe Saul se amptenare dit vir Dawid sê, het Dawid gesê: “Ek is 'n arm man, ek is nie belangrik nie. Dink julle iemand soos ek kan die koning se skoonseun word?” Saul se amptenare het vir Saul vertel wat Dawid gesê het, en Saul het gesê hulle moet vir Dawid sê: “Die koning wil net een bruidsprys hê, hy wil 100 voorhuide van Filistyne hê, want hy wil sy vyande straf.” Saul se plan was dat die Filistyne vir Dawid moes doodmaak. Die amptenare het vir Dawid gaan sê wat die koning gesê het, en Dawid het gesê dit is goed, hy sal die koning se skoonseun word. Dawid het nie lank gewag nie. Hy het gereedgemaak en gegaan, hy en sy manne, en hulle het 200 Filistyne doodgemaak. Hy het die voorhuide gebring en hy het dit alles vir die koning gegee sodat hy die koning se skoonseun kon word. Saul het toe sy dogter Mikal met Dawid laat trou. Saul het gesien en geweet dat die Here by Dawid is. Saul het ook gesien dat sy dogter Mikal lief is vir Dawid. Daarom was Saul toe nóg banger vir Dawid en hy was Dawid se vyand sy hele lewe lank. Die leiers van die Filistyne het baie maal gekom om oorlog te maak, maar elke maal het Dawid hulle oorwin. Dawid het hulle meer male oorwin as al die ander amptenare van Saul. Almal het vir Dawid gerespekteer.
1 SAMUEL 18:5-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul. En toe hulle tuis kom, en ook Dawid terug was nadat hy die Filistyn verslaan het, het die vroue uitgegaan uit al die stede van Israel met sang en koordanse, met tamboeryne, met vreugdegeroep en met triangels koning Saul tegemoet. En die vroue wat vrolik was, het gesing en gesê: Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende! En Saul het baie kwaad geword, want hierdie woord was verkeerd in sy oë. En hy sê: Hulle het Dawid die tienduisende gegee, maar my die duisende gegee; hy moet nou nog net die koningskap kry! En van dié dag af en verder het Saul die oog op Dawid gehad. Die volgende dag het die bose gees van God oor Saul vaardig geword, sodat hy rasend was binne-in die huis terwyl Dawid soos elke dag met sy hand speel, en Saul 'n spies in sy hand hou. Toe gooi Saul die spies en sê: Ek wil Dawid teen die muur vassteek! Maar Dawid het twee maal vir hom padgegee. En Saul was bevrees vir Dawid, omdat die HERE met hom was en van Saul gewyk het. Daarom het Saul hom uit sy teenwoordigheid verwyder en hom aangestel as sy owerste oor duisend, sodat hy voor die manskappe uit- en ingegaan het. EN Dawid was voorspoedig in al sy weë, want die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig was, het hy vir hom bang geword. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het voor hulle uit- en ingegaan. Verder het Saul vir Dawid gesê: Hier is my oudste dogter Merab, haar sal ek aan jou as vrou gee; wees net vir my 'n dapper man en voer die oorloë van die HERE. Want Saul het gedink: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees. Maar Dawid het vir Saul gesê: Wie is ek, en wat is my familie, die geslag van my vader in Israel, dat ek 'n skoonseun van die koning sou word? Maar teen die tyd dat Merab, die dogter van Saul, aan Dawid moes gegee word, is sy aan Ádriël, die Meholatiet, as vrou gegee. Maar Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgekry; en toe hulle dit aan Saul meedeel, was die saak in sy oë reg. Want Saul het gedink: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom 'n strik kan wees en dat die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom het Saul vir Dawid gesê: Vir die tweede keer kan jy vandag my skoonseun word! En Saul het sy dienaars bevel gegee: Spreek met Dawid in die geheim en sê: Kyk, die koning hou van jou, en al sy dienaars het jou lief: word nou maar die koning se skoonseun. Die dienaars van Saul het toe hierdie woorde voor die ore van Dawid gespreek; maar Dawid het gevra: Is dit 'n kleinigheid in julle oë om die skoonseun van die koning te word, terwyl ek 'n arm en geringe man is? En die dienaars van Saul het hom dit meegedeel: Sulke woorde het Dawid gespreek. Toe sê Saul: So moet julle aan Dawid sê: Die koning het behae in geen ander bruidsprys as honderd voorhuide van Filistyne nie, as wraakneming op die vyande van die koning. Saul het naamlik daarop gereken om Dawid te laat val deur die hand van die Filistyne. Toe sy dienaars hierdie woorde aan Dawid meedeel, was die saak reg in die oë van Dawid om skoonseun van die koning te word. En voordat die dae verstreke was, het Dawid hom klaargemaak en met sy manne uitgetrek, en hulle het tweehonderd man onder die Filistyne doodgeslaan; en Dawid het hulle voorhuide gebring en dit is voltallig aan die koning afgegee, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul aan hom sy dogter Migal as vrou gegee. Toe Saul sien en merk dat die HERE met Dawid was, en dat Migal, die dogter van Saul, hom liefhet, het Saul nog meer bevrees geword vir Dawid, en Saul het Dawid se vyand geword al die dae. En die vorste van die Filistyne het uitgetrek; en so dikwels as hulle uittrek, het Dawid meer voorspoed gehad as al die dienaars van Saul, sodat sy naam hooggeëerd was.
1 SAMUEL 18:5-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind. Met hulle aankoms, toe Dawid terugkeer van sy oorwinning oor die Filistyn, het vroue uit al die stede van Israel gekom om te sing en koning Saul met kringdanse tegemoet te gaan, met tamboeryne, vreugderoepe en driesnarige instrumente. Die dansende vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het baie kwaad geword. Hierdie saak was verkeerd in sy oë. Hy het gesê: “Aan Dawid gee hulle tienduisende, maar aan my gee hulle die duisende. Hy moet nou nog net die koningskap kry. ” Van daardie dag af het Saul vir Dawid wantrouig dopgehou. Die volgende dag het 'n bose gees van God van Saul besit geneem, en hy was rasend in sy huis. Terwyl Dawid soos gewoonlik besig was om op die lier te speel, was daar 'n vegspies in Saul se hand. Toe gooi Saul die vegspies. Hy het gedink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen!” Maar Dawid het twee keer vir hom weggekoes. Saul het bang geword vir Dawid, want die HERE was met hom, maar van Saul het Hy gewyk. Saul het Dawid toe uit sy onmiddellike omgewing verwyder en hom aangestel as •aanvoerder van 'n leërafdeling. Dawid was op die voorpunt van die manskappe wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Dawid het oral waar hy gegaan het, sukses behaal, en die HERE was met hom. Toe Saul sien dat hy baie voorspoedig is, het hy hom gevrees. Die hele Israel en Juda was lief vir Dawid, omdat hy op die voorpunt was wanneer hulle uitgetrek en teruggekeer het. Saul het vir Dawid gesê: “Hier is my oudste dogter Merab. Haar sal ek aan jou as vrou gee. Wees net vir my 'n onverskrokke vegter en voer die oorloë van die HERE. ” Saul het gedink: “Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees.” Dawid het vir Saul gesê: “Wie is ek, en wie is my bloedverwante, die familiegroep van my vader in Israel, dat ek 'n skoonseun van die koning sou word?” Teen die tyd dat Saul se dogter Merab aan Dawid gegee moes word, is sy egter aan Adriël van Megola, as vrou gegee. Maar Migal, Saul se dogter, was verlief op Dawid. Hulle het dit vir Saul vertel, en die saak was reg in sy oë. Saul het gedink: “Ek sal haar aan hom gee, sodat sy vir hom 'n valstrik kan wees, en die hand van die Filistyne dan teen hom sal wees.” Saul het toe vir Dawid gesê: “Deur die tweede dogter kan jy vandag my skoonseun word.” Saul het sy amptenare beveel: “Sê stilletjies vir Dawid, ‘Kyk, die koning hou van jou, en al sy amptenare is lief vir jou. Word nou die koning se skoonseun.’ ” Die amptenare van Saul het hierdie woorde vir Dawid in die oor gefluister, maar Dawid het gesê: “Is dit in julle oë so 'n ligte saak om 'n skoonseun van die koning te word? Ek is arm en 'n nikswerd.” Saul se amptenare het aan hom berig gebring: “Dit is die woorde wat Dawid gesê het.” Toe sê Saul: “So moet julle vir Dawid gaan sê, ‘Die koning wil geen ander bruidsprys hê as 'n honderd voorhuide van Filistyne nie om wraak te neem op die koning se vyande.’ ” Saul het beplan om Dawid te laat sneuwel deur die hand van die Filistyne. Toe sy amptenare hierdie woorde aan Dawid oordra, was die saak reg in Dawid se oë om so die koning se skoonseun te word. Voor die bepaalde tyd om was, het Dawid gereedgemaak en gegaan, hy en sy manne. Hy het tweehonderd man onder die Filistyne doodgeslaan. Dawid het hulle voorhuide gebring en die volle getal is aan die koning oorhandig, sodat hy die koning se skoonseun kon word. Daarop het Saul sy dogter Migal vir hom as vrou gegee. Saul het ingesien en besef dat die HERE met Dawid is, en dat Migal, Saul se dogter, hom liefhet. Saul was toe nog banger vir Dawid, en hy het vir altyd 'n vyand van Dawid gebly. Die aanvoerders van die Filistyne het uitgetrek om oorlog te voer, maar telkens wanneer hulle uitgetrek het, het Dawid meer sukses behaal as al Saul se offisiere. Sy naam het groot agting afgedwing.
1 SAMUEL 18:5-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Dawid het uitgegaan waarheen Saul hom ook al gestuur het, en hy het verstandig gedra; en Saul het hom oor die krygsmanne aangestel, en hy was welgevallig in die oë van die hele volk en ook in die oë van Saul se dienaars. En terwyl hulle aankom, toe Dawid teruggekeer het van die slagting van die Filistyn, het die vroue uit al die stede van Israel uitgegaan, singend en dansend, koning Saul tegemoet, met trommels, met blydskap en met instrumente van musiek. En die vroue het mekaar geantwoord terwyl hulle speel en gesê: Saul het sy duisende verslaan, en Dawid sy tienduisende. En Saul was baie toornig, en die woord was verkeerd in hom; en hy sê: Hulle het aan Dawid tien duisende toegeskryf, en aan My het hulle maar duisende toegeskryf; en wat kan hy meer hê as die koninkryk? En Saul het Dawid van daardie dag af en verder gekyk. En die volgende dag het die bose gees van God oor Saul gekom, en hy het in die middel van die huis geprofeteer; en Dawid het met sy hand gespeel soos die vorige kere, en daar was 'n spies in die hand van Saul. En Saul het die spies gegooi; want hy het gesê: Ek sal Dawid daarmee verslaan tot by die muur. En Dawid het twee keer uit sy teenwoordigheid weggewyk. En Saul was bang vir Dawid, want die HERE was met hom en het van Saul af weggegaan. Daarom het Saul hom van hom verwyder en hom as owerste oor duisend aangestel; en hy het uitgegaan en voor die volk ingekom. En Dawid het in al sy weë wys gedra; en die HERE was met hom. Daarom, toe Saul sien dat hy baie wys gedra het, was hy bang vir hom. Maar die hele Israel en Juda het Dawid liefgehad, want hy het uit- en ingegaan voor hulle uit. En Saul sê vir Dawid: Kyk, my oudste dogter Merab, haar sal ek jou as vrou gee; wees net dapper vir my en voer die oorloë van die HERE. Want Saul het gesê: Laat my hand nie teen hom wees nie, maar laat die hand van die Filistyne teen hom wees. Toe sê Dawid vir Saul: Wie is ek? en wat is my lewe, of my vader se geslag in Israel, dat ek die koning se skoonseun sou wees? Maar in die tyd toe Merab Saul se dogter aan Dawid gegee moes word, is sy aan Adriël, die Meholatiet, as vrou gegee. En Migal, die dogter van Saul, het Dawid liefgehad; Toe sê Saul: Ek sal haar aan hom gee, dat sy vir hom 'n strik kan wees en die hand van die Filistyne teen hom kan wees. Daarom sê Saul vir Dawid: Jy sal vandag my skoonseun wees in die een van die twee. En Saul het sy dienaars bevel gegee en gesê: Spreek in die geheim met Dawid en sê: Kyk, die koning het 'n welbehae in jou, en al sy dienaars het jou lief; wees dan nou die koning se skoonseun. En die dienaars van Saul het hierdie woorde voor die ore van Dawid gespreek. En Dawid sê: Is dit vir jou 'n ligte ding om 'n koning se skoonseun te wees, aangesien ek 'n arm man en gering geag is? En die dienaars van Saul het hom meegedeel en gesê: So het Dawid gespreek. Toe sê Saul: So moet julle vir Dawid sê: Die koning begeer geen bruidskat nie, maar honderd voorhuide van die Filistyne om te wreek op die vyande van die koning. Maar Saul het gedink om Dawid deur die hand van die Filistyne te laat val. En toe sy dienaars hierdie woorde aan Dawid meedeel, het dit Dawid goed behaag om die koning se skoonseun te wees, en die dae was nog nie verby nie. Daarom het Dawid hom klaargemaak en gegaan, hy en sy manne, en van die Filistyne twee honderd man gedood; en Dawid het hulle voorhuide gebring, en hulle het dit die volle verhaal aan die koning gegee, sodat hy die koning se skoonseun kon wees. En Saul het vir hom sy dogter Mikal as vrou gegee. En Saul het gesien en geweet dat die HERE met Dawid was en dat Mikal, die dogter van Saul, hom liefgehad het. En Saul was nog banger vir Dawid; en Saul het gedurigdeur Dawid se vyand geword. Toe het die vorste van die Filistyne uitgetrek, en nadat hulle uitgetrek het, het Dawid hom wyser gedra as al die dienaars van Saul; sodat sy naam groot sou wees.
1 SAMUEL 18:5-30 Die Boodskap (DB)
Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor. Toe die manne terugkom van die oorlog af waarin Dawid die Filistyn doodgemaak het, het die vroue uit al die dorpe van Israel uitgegaan om koning Saul te groet. Hulle het vrolike liedjies gesing, in die rondte gedans en op tamboeryne en ander musiekinstrumente gespeel. Die vroue het gesing: “Saul het duisende verslaan en Dawid tien duisende.” Daaroor het Saul baie kwaad geword. Hy het niks van die liedjie se woorde gehou nie en gedink: “Hulle prys Dawid vir tien duisende wat hy gewen het, maar mý prys hulle net vir duisende. Hulle moet hom nou nog net koning maak!” Van daardie dag af het Saul Dawid nie vertrou nie. Die volgende dag het ’n bose gees weer vir Saul beetgepak sodat hy soos ’n mal mens in die paleis tekere gegaan het. Dawid het, soos hy maar altyd gemaak het, vir hom op die lier gespeel. Saul het ’n spies in sy hand gehad. Saul gooi toe die spies na Dawid. Hy wou Dawid in die muur vasgooi met die spies. Maar Dawid het twee keer weggekoes vir die spies. Saul het toe bang geword vir Dawid. Die Here het vir Dawid gehelp, maar die Here was nie meer by Saul nie. Saul wou Dawid toe nie meer naby hom hê nie. Hy het hom die leier van ’n groep soldate gemaak. Dawid het die soldate in al hulle veldtogte gelei. Hy het oral sukses behaal, want die Here het hom gehelp. Toe Saul sien hoe goed Dawid vaar, het hy nog banger geword vir hom. Maar al die mense van Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy hulle in die oorlog gelei het. Saul het vir Dawid gesê: “Ek wil hê jy moet met my oudste dogter, Merab, trou. Die voorwaarde is net dat jy vir my ’n dapper soldaat moet wees en in die oorloë van die Here moet veg.” Saul het gedink: “Ék hoef dan nie vir Dawid dood te maak nie; die Filistyne sal dit doen.” Maar Dawid se antwoord was: “Ek en my familie is regtig te onbelangrik dat ek die koning se skoonseun kan word.” Toe die tyd kom dat Merab, die dogter van Saul, met Dawid moet trou, het Saul haar laat trou met Adriël wat in Megola gebly het. Intussen het Mikal, Saul se ander dogter, op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, het dit hom goed te pas gekom, want hy het gedink: “Ek sal haar met hom laat trou, dan trap hy op dié manier in die slagyster en raak die Filistyne van hom ontslae.” Daarom het hy vir Dawid gesê: “Jy kry nou nog ’n kans om my skoonseun te word.” Saul het vir sy amptenare gesê: “Sê vir Dawid in die geheim: ‘Weet jy, die koning is erg oor jou, en al sy amptenare hou van jou. Jy moet daaraan dink om die koning se skoonseun te word.’” Toe Saul se amptenare dit vir Dawid in die oor fluister, het Dawid gesê: “Dink julle ’n mens kan so maklik die koning se skoonseun word? Ek het nie geld nie en ek is ’n onbelangrike man.” Saul se amptenare het vir hom gaan vertel wat Dawid gesê het. Saul sê toe: “Gaan sê vir Dawid, die koning wil wraak neem op sy vyande; daarom is die enigste betaling vir die bruid wat hy wil hê, die voorhuide van 100 Filistyne.” Saul het gehoop die Filistyne maak Dawid dood. Toe die amptenare vir Dawid sê wat die voorwaarde is, het hy besluit om die koning se skoonseun te word. Hy het dadelik aan die werk gespring, alles reggekry, saam met sy manne uitgegaan en 200 Filistyne doodgeslaan. Dawid het al hulle voorhuide gebring en dit vir die koning gegee sodat hy sy skoonseun kon word. Saul het Mikal toe met hom laat trou. Saul het self gesien en geweet dat die Here vir Dawid help en dat sy dogter Dawid liefhet. Daarom was hy nóg banger vir Dawid, en solank hy geleef het, was hy Dawid se vyand. Die Filistyne het baie keer teen die Israeliete oorlog gemaak, maar elke keer het Dawid beter gevaar as Saul se offisiere. So het Dawid beroemd geword.
1 SAMUEL 18:5-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur. Toe hulle terugkeer huis toe ná Dawid se oorwinning oor die Filistyn, het die vroue uit al die dorpe van Israel koning Saul tegemoetgegaan. Hulle het gesing en gejubel saam met dansers met tamboeryne en met driesnarige instrumente. Die vroue het gesing en gesê: “Saul het sy duisende verslaan, maar Dawid sy tienduisende.” Saul het gebrand van jaloesie, en die woorde was vir hom ’n belediging. Hy sê toe: “Aan Dawid het hulle tienduisende gegee, maar vir my net die duisende. Al wat hy nog kortkom, is die koningskap!” Van daardie dag af het Saul vir Dawid gewantrou. Die volgende dag het ’n bose gees wat deur God gestuur is, vir Saul beetgepak sodat hy in sy huis soos ’n besetene opgetree het. Dawid het weer op die lier begin speel soos hy gewoonlik gedoen het. Saul het egter ’n spies in sy hand gehad. Toe gooi hy na Dawid met die spies en dink: “Ek sal Dawid teen die muur vaspen.” Maar Dawid het gekoes, ook vir ’n tweede keer. Saul het bang geword vir Dawid omdat die HERE by Dawid was, maar vir hom verlaat het. Daarom het hy Dawid weggestuur en hom elders as hoof van ’n leërafdeling aangestel. Dawid was suksesvol in alles wat hy gedoen het en die HERE was met hom. Toe Saul dit opmerk, was hy bang vir hom, maar die hele Israel en Juda het van Dawid gehou omdat hy ’n suksesvolle aanvoerder was. Saul sê toe vir Dawid: “Ek is van plan om my oudste dogter, Merab, vir jou as vrou te gee. Jy moet net jouself bewys en die oorloë van die HERE veg.” Saul het gedink: “Ek moet hom nie self doodmaak nie, maar hom eerder teen die Filistyne stuur sodat hulle dit kan doen.” Dawid sê egter vir Saul: “Wie is ek en wie is my familie in Israel dat ek die koning se skoonseun sal wees?” Maar teen die tyd dat Saul sy dogter Merab aan Dawid moes gee, is sy aan Adriël, die Megolatiet, as vrou gegee. Intussen het Saul se dogter Mikal op Dawid verlief geraak. Toe Saul dit hoor, was hy in sy skik daarmee. Saul het gedink: “Ek sal haar vir hom gee sodat ek deur haar vir hom ’n lokval kan stel. Die Filistyne sal ook teen hom wees.” Daarop sê Saul die tweede keer vir Dawid: “Jy kan my skoonseun wees!” Saul sê toe vir sy amptenare: “Praat met Dawid en sê: ‘Die koning hou van jou en al die amptenare is geheg aan jou. Hoekom aanvaar jy nie die koning se aanbod om sy skoonseun te word nie?’” Toe die amptenare so met Dawid praat, antwoord hy: “Dink julle dis so maklik om skoonseun van die koning te word? Ek is maar ’n arm man sonder aansien.” Die amptenare van Saul het hom meegedeel wat Dawid gesê het. Saul antwoord: “Sê vir Dawid: ‘As bruidsprys wil die koning niks anders hê nie as 100 voorhuide van die Filistyne. Eintlik soek ek maar net wraak op my vyande.’” In werklikheid het Saul gehoop die Filistyne sal Dawid doodmaak. Die amptenare het dit vir Dawid vertel en hy het dit goedgevind om so skoonseun van die koning te word voordat die aanbod verstryk het. Dawid en sy manskappe het uitgegaan en 200 Filistyne doodgemaak. Dawid het hulle voorhuide vir Saul gebring sodat hy skoonseun van die koning kon word. Saul het toe sy dogter Mikal vir hom as vrou gegee. Saul het opgelet dat die HERE met Dawid was en dat sy dogter Mikal hom liefhet. Daarom het Saul nog banger vir Dawid geword. Saul was lewenslank Dawid se vyand. Telkens wanneer die Filistynse heersers vir oorlog uitgetrek het, was Dawid meer suksesvol as enige van die ander bevelvoerders van Saul. So het hy baie aansien verwerf.