1 SAMUEL 18:1-5
1 SAMUEL 18:1-5 Bybel vir almal (ABA)
Nadat Dawid klaar gepraat het met Saul, het Jonatan baie van Dawid begin hou. Hy was lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was. Saul het gesê Dawid moet altyd by hom bly, hy moenie weer teruggaan na sy pa se huis nie. Jonatan en Dawid het 'n ooreenkoms gemaak, want Jonatan was baie lief vir Dawid, so lief soos hy vir homself was. Jonatan het sy bo-kleed en sy ander klere uitgetrek en hy het dit vir Dawid gegee, en ook sy swaard en sy pyl en boog en sy belt. Dawid het oral gegaan waar Saul hom gestuur het, en dit het goed gegaan met hom. Saul het hom gekies om die hoof te wees oor die manne wat moes oorlog maak, en die manne en ook Saul se amptenare was bly daaroor.
1 SAMUEL 18:1-5 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN nadat hy sy gesprek met Saul beëindig het, het die siel van Jónatan verkleef geraak aan die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgekry soos sy eie siel. En Saul het hom dié dag geneem en hom nie na sy familie laat teruggaan nie. Toe sluit Jónatan met Dawid 'n verbond, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. Daarby trek Jónatan sy mantel uit wat hy aangehad het, en gee dit aan Dawid; ook sy klere, ja, selfs sy swaard en sy boog en sy gordel. En Dawid het uitgetrek. Oral waar Saul hom gestuur het, was hy voorspoedig, sodat Saul hom oor die krygsmanne aangestel het; en dit was goed in die oë van die hele volk en ook in die oë van die dienaars van Saul.
1 SAMUEL 18:1-5 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan baie geheg geraak aan Dawid en hom liefgekry soos homself. Dieselfde dag nog het Saul vir Dawid saamgevat huis toe en hom nie toegelaat om na sy pa se huis toe terug te gaan nie. Jonatan en Dawid het 'n verbond gesluit omdat Jonatan hom liefgekry het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het toe opgetrek teen elkeen teen wie Saul hom uitgestuur het. Hy was suksesvol, en Saul het hom oor die soldate aangestel. Die hele volk en Saul se amptenare het dit goedgevind.
1 SAMUEL 18:1-5 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, was Jonatan reeds baie geheg aan Dawid. Jonatan het hom liefgekry soos homself. Saul het hom op daardie dag saamgeneem en hom nie toegelaat om na sy familie terug te gaan nie. Jonatan het met Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos homself. Jonatan het die mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en dit vir Dawid gegee, ook sy uitrusting, ja selfs sy swaard, sy boog en sy gordel. Dawid het aan al die veldtogte deelgeneem, waarheen Saul hom ook al gestuur het. Hy het sukses behaal, en Saul het hom aangestel oor die krygsmanne. Die hele volk en ook Saul se amptenare het dit goedgevind.
1 SAMUEL 18:1-5 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe hy klaar was om met Saul te spreek, was die siel van Jónatan verbind met die siel van Dawid, en Jónatan het hom liefgehad soos sy eie siel. En Saul het hom daardie dag geneem en hom nie meer huis toe laat gaan na sy vader se huis nie. Toe het Jónatan en Dawid 'n verbond gesluit, omdat hy hom liefgehad het soos sy eie siel. En Jónatan het die mantel wat hom aangehad het, uitgetrek en dit aan Dawid gegee en sy klere tot by sy swaard en tot by sy boog en tot by sy gordel. En Dawid het uitgegaan waarheen Saul hom ook al gestuur het, en hy het verstandig gedra; en Saul het hom oor die krygsmanne aangestel, en hy was welgevallig in die oë van die hele volk en ook in die oë van Saul se dienaars.
1 SAMUEL 18:1-5 Die Boodskap (DB)
Van daardie dag af het Saul vir Dawid by hom gehou. Hy het hom nie weer na sy pa se huis toe laat gaan nie. Toe Dawid klaar met Saul gepraat het, het Jonatan sommer baie van hom begin hou. Hy het net soveel vir Dawid omgegee as vir homself. Jonatan en Dawid het vir mekaar belowe dat hulle boesemvriende sou wees, dat hulle vir mekaar net soveel sou omgee as wat elkeen vir homself omgee. Jonatan het sy mantel wat hy aangehad het, uitgetrek en vir Dawid gegee. Hy het ook sy oorlogsklere en selfs sy swaard, sy boog en sy lyfband vir hom gegee. Alles wat Dawid vir Saul moes doen, was ’n sukses. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Al die manskappe en die paleiswerkers was gelukkig daaroor.
1 SAMUEL 18:1-5 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Nadat Dawid met Saul gepraat het, het Saul se seun Jonatan baie geheg geraak aan Dawid. Daar was dadelik ’n band tussen hulle sodat hulle boesemvriende geword het. Daardie dag nog het Saul hom saamgeneem huis toe en wou nie toelaat dat hy na sy pa toe teruggaan nie. Jonatan en Dawid het toe ’n plegtige ooreenkoms aangegaan omdat Jonatan baie aangetrokke tot hom gevoel het. Jonatan het sy mantel uitgetrek en dit vir Dawid gegee. Hy het ook sy wapenrusting, sy swaard, sy boog en sy gordel vir hom gegee. Dawid het toe uitgetrek teen wie ook al Saul hom uitgestuur het. Dawid het dit suksesvol uitgevoer. Daarom het Saul hom oor sy soldate aangestel. Sowel die soldate as Saul se amptenare het dit goedgekeur.