1 SAMUEL 17:1-51

1 SAMUEL 17:1-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Filistyne het hulle krygsmag opgeroep. Hulle het bymekaargekom in Soko wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan in Efes-Dammim tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het bymekaargekom en kamp opgeslaan in die laagte by die groot boom en teenoor die Filistyne stelling ingeneem om te veg. Die Filistyne het teen die een rant gestaan, en die Israeliete teen die ander, met 'n smal vallei tussen hulle. Toe kom daar 'n baasvegter uit die laer van die Filistyne uit. Sy naam was Goliat en hy was afkomstig uit Gat. Hy was drie meter lank. Daar was 'n bronshelm op sy kop, en hy het 'n harnas met skubbe aangehad. Die gewig van die harnas was sewe en vyftig kilogram. Daar was bronsskerms voor sy bene en tussen sy wapens was daar 'n bronsswaard. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van 'n weefstoel, en die ysterlem daarvan was sewe kilogram. Sy skilddraer het voor hom uit geloop. Goliat het gaan staan en na die linies van Israel geroep. Hy het vir hulle gesê: “Waarom het julle uitgekom om gevegslinies op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle almal Saul se slawe nie? Kies vir julle iemand om na my toe uit te kom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees. As ek hom baasraak en verslaan, sal julle ons slawe wees en vir ons werk.” Verder het die Filistyn nog gesê: “Ek staan die linies van Israel al heeldag en verkleineer! Gee my tog iemand dat ons teen mekaar kan veg.” Toe Saul en die hele Israel hoor wat die Filistyn sê, het hulle geskrik en baie bang geword. Dawid was die seun van 'n Efratiet, iemand uit Betlehem in Juda met die naam Isai. Hy het ag seuns gehad. In die tyd van Saul was hierdie man al oud en afgeleef. Die drie oudste seuns van Isai het Saul na die oorlog toe gevolg. Die name van die drie seuns wat gaan veg het, was Eliab die oudste, Abinadab die tweede, en Samma die derde. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het pal met Saul saamgegaan, maar Dawid het om die beurt na Saul toe gegaan en dan weer sy pa se kleinvee in Betlehem gaan oppas. Die Filistyn het veertig dae lank vroeg in die môre en teen die aand nader gekom en regoor die Israeliete gaan staan. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Vat tog vir jou broers sestien kilogram gebraaide koring en tien brode en bring dit gou vir hulle in die kamp. Die tien kase moet jy na die aanvoerder van die afdeling toe vat. Dan moet jy sommer kyk of dit nog goed gaan met jou broers, en 'n bewys daarvan saambring. Saul en jou broers en die hele Israel is in die laagte by die groot boom aan die veg teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan, die kleinvee aan die wagter afgegee, die goed opgetel en gegaan soos Isai hom beveel het. Net toe hy by die kamp aankom, het die leër wat na die gevegslinie toe uitgaan, die oorlogskreet aangehef. Israel en die Filistyne het naamlik in linies teenoor mekaar stelling ingeneem. Dawid het die pak wat hy gedra het, onder die sorg gelaat van die man wat die goed oppas, en na die linies toe gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan, en terwyl hy nog met hulle praat, kom die baasvegter Goliat die Filistyn uit Gat juis uit die linies van die Filistyne vorentoe en hy praat weer so. Dawid het dit gehoor. Toe die Israeliete die man sien, het hulle almal vir hom gevlug en hulle was baie bang. 'n Israeliet sê toe: “Julle sien hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom net om Israel te verkleineer. Die man wat hom verslaan – die koning sal daardie man baie ryk maak en sy dogter aan hom gee, en die man se familie sal in Israel van alle verpligtinge vrygestel wees.” Dawid het vir die manskappe wat by hom staan, gevra: “Wat sal gebeur met die man wat die skande van Israel wegneem en die Filistyn daar anderkant verslaan? Wie is hierdie heiden, hierdie Filistyn, nogal dat hy die linies van die lewende God verkleineer?” Die manskappe het dieselfde vir hom gesê: “So sal gedoen word aan die man deur wie die Filistyn verslaan word.” Dawid se oudste broer Eliab het gehoor wat hy met die manskappe praat en Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen gekom en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die droëveld afgegee? Ek ken jou vermetelheid en kwaadwilligheid. Het jy net hierheen gekom om na die geveg te kyk?” Toe sê Dawid: “Wat het ek nou gedoen? Is dit dan nie 'n belangrike saak nie?” Dawid het van hom af weggedraai na 'n ander een toe en dieselfde gevra, en die manskap het geantwoord soos die eerste. Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword. Die manskappe het dit vir Saul vertel, en hy het hom laat haal. “'n Mens moenie oor hóm moedeloos word nie,” sê Dawid toe vir Saul. “Ek sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is jonk en hy 'n vegter van kindsbeen af.” Toe sê Dawid vir Saul: “As ek die kleinvee vir my pa oppas, en daar kom 'n leeu of 'n beer en dra 'n lam weg uit die kudde, gaan ek agter hom aan en slaan hom dood en red die lam uit sy bek; as hy op my afstorm, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het die leeu en ook die beer doodgeslaan, en hierdie heiden, hierdie Filistyn, sal soos hulle word, want hy het die linies van die lewende God verkleineer.” Verder het Dawid gesê: “Die Here, wat my gered het uit die kloue van die leeu en uit die kloue van die beer, Hý sal my red uit die mag van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die Here by jou wees.” Saul het sy eie uitrusting vir Dawid laat aantrek: hy het 'n bronshelm op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek, en Dawid het Saul se swaard bo-oor sy uitrusting vasgegord. Maar hy kon nie loop nie, want hy was dit nie gewoond nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek is dit nie gewoond nie.” En Dawid het dit uitgetrek. Hy het sy kierie in sy hand gevat, vyf gladde klippies in die spruit uitgesoek en dit by sy skaapwagtersgoed in sy slingersak gesit. En met sy slingervel in die hand het hy op die Filistyn af geloop. Die Filistyn het al hoe nader gekom na Dawid toe, terwyl sy skilddraer voor hom was. Toe hy vir Dawid sien, het die Filistyn hom met minagting aangekyk omdat hy jonk was, met 'n rooi gelaatskleur en 'n mooi voorkoms. Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Is ek 'n hond dat jy met kieries na my toe kom?” Hy het Dawid toe in die naam van die Filistynse gode vervloek. Verder het die Filistyn vir Dawid gesê: “Kom 'n bietjie hier dat ek jou vleis vir die roofvoëls en vir die wilde diere kan gee.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jý kom na my toe met 'n dolk en 'n spies en 'n swaard, maar ék kom na jou toe in die Naam van die Here die Almagtige, die God van die linies van Israel, wat jy verkleineer het. Vandag sal die Here jou in my mag oorgee sodat ek jou kan verslaan en jou kop van jou lyf afkap. Dan sal ek vandag nog die lyke van die Filistynse laer vir die roofvoëls en vir die wilde diere gee, sodat die hele wêreld kan besef dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele skare besef dat die Here nie deur swaard of spies verlos nie, maar dat die oorlog aan die Here behoort en dat Hy julle in ons mag oorgee.” Toe die Filistyn regmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid die Filistyn vinnig op die vegterrein tegemoet gehardloop. Toe steek Dawid sy hand in die sak, vat 'n klip daaruit, gooi met die slingervel, en tref die Filistyn teen die voorkop. Die klip het in sy voorkop ingedring, en hy het vooroor geval op die grond. Met die slingervel en klip was Dawid sterker as die Filistyn en het hy hom verslaan en doodgemaak. Dawid het nie eens 'n swaard by hom gehad nie! Toe het Dawid gehardloop, by die Filistyn gaan staan, sy swaard gevat, dit uit die skede getrek en hom van kant gemaak: hy het sy kop daarmee afgekap. Die Filistyne het gesien dat hulle held dood is, en het gevlug.

1 SAMUEL 17:1-51 Bybel vir almal (ABA)

Die Filistyne het hulle manne laat bymekaarkom om oorlog te maak. Hulle het bymekaargekom by die stad Soko in die land Juda, en hulle het hulle tente opgeslaan by die stad Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manne van Israel het ook bymekaargekom. Hulle het hulle tente opgeslaan in die vallei waar die groot boom is, en hulle het in rye gereedgestaan om oorlog te maak teen die Filistyne. Die Filistyne was teen een berg, en die Israeliete was teen 'n ander berg. Daar was 'n klein vallei tussen hulle. 'n Voorvegter het uit die Filistyne se kamp gekom. Sy naam was Goliat en hy het uit die stad Gat gekom. Hy was ses el en 'n span lank. Op sy kop was 'n helm van brons en hy het 'n harnas van brons-plate aangehad. Die harnas het 5 000 sikkels geweeg. Om sy bene was brons-plate, en 'n brons-spies het tussen sy skouers gehang. Die houtsteel van sy spies was so groot soos die balk van 'n weefstoel, en die ysterlem van die spies het 600 sikkels geweeg. Voor hom het 'n man geloop wat sy skild gedra het. Goliat het gaan staan. Hy het vir die Israeliete geskree en hy het gesê: “Hoekom kom staan julle in rye om oorlog te maak? Ek is 'n Filistyn en julle is die mense wat vir Saul werk. Julle moet 'n man kies en julle moet hom na my toe laat kom. As hy teen my kan veg en as hy my wen, dan sal ons julle slawe wees. Maar as ek beter is as hy en as ek hom wen, dan sal julle ons slawe wees en julle sal vir ons werk.” Die Filistyn het gesê: “Ek sê nou vir julle: Julle Israeliete beteken niks. Julle moet vir my 'n man stuur sodat ons teen mekaar kan veg.” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn sê, en hulle het geskrik en baie bang geword. Dawid was die seun van 'n man uit Efrat, by die stad Betlehem in die land Juda. Die man se naam was Isai, en hy het ag seuns gehad. Isai was al oud toe Saul koning was. Sy drie oudste seuns het saam met Saul gaan oorlog maak. Hulle was Eliab, die oudste seun, en Abinadab en Samma. Dawid was die jongste seun. Sy drie oudste broers het saam met Saul gegaan. Dawid was partymaal by Saul, en partymaal by Betlehem om sy pa se skape en bokke op te pas. Die Filistyn Goliat het 40 dae lank elke oggend en aand nader gekom na Saul en sy manne toe en hy het gereedgestaan om te veg. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Jy moet asseblief hierdie efa gebraaide koring en hierdie tien brode neem en jy moet dit vir jou broers in die kamp bring. En hierdie tien stukke kaas moet jy vir hulle offisier bring. Jy moet kyk hoe dit met jou broers gaan en jy moet iets saambring wat vir my sal wys dat hulle nog lewe.” Saul en die broers van Dawid en die manne van Israel was in die vallei waar die groot boom is. Hulle was daar om oorlog te maak teen die Filistyne. Dawid het vroeg die volgende oggend opgestaan en hy het die skape en bokke by 'n skaapwagter gelos. Hy het toe gegaan en gedoen wat Isai gesê het en hy het by die kamp gekom. Die manne was besig om in rye te gaan staan en hulle het geskree dat die oorlog moet begin. Die Israeliete het in rye gaan staan, en die Filistyne het oorkant die Israeliete in rye gaan staan. Dawid het die goed wat hy saamgebring het, gelos by die man wat die goed moes oppas, en hy het na die rye manne toe gehardloop. Toe hy daar kom, het hy vir sy broers gevra hoe dit gaan. Die voorvegter se naam was Goliat. Hy het vorentoe gekom terwyl Dawid besig was om met sy broers te praat. Goliat was 'n Filistyn wat uit die stad Gat gekom het. Hy het weer gespog, soos voorheen, en Dawid het dit gehoor. Al die manne van Israel het teruggestaan toe hulle die man sien. Hulle was baie bang. Hulle het gesê: “Sien julle hierdie man wat vorentoe kom? Hy kom om vir die Israeliete te sê dat hulle niks beteken nie. Die koning sal die man wat hom wen, baie ryk maak. Die koning sal ook sy dogter met die man laat trou, en die man se familie sal nie meer vir die koning moet werk soos die ander Israeliete nie.” Dawid het vir die manne wat by hom gestaan het, gevra: “Wat sal die koning doen vir die man wat hierdie Filistyn wen sodat hy nie meer die Israeliete sal spot nie? Want wie is hierdie Filistyn? Hy is 'n heiden. Hoekom sê hy die soldate van die God wat lewe, beteken niks?” Die manne het vir Dawid gesê wat die koning sal doen vir die man wat die Filistyn oorwin. Dawid se oudste broer Eliab het gehoor toe Dawid met die manne praat. Eliab het kwaad geword vir Dawid en hy het gesê: “Hoekom het jy hiernatoe gekom, en by wie het jy daardie skape en bokke in die veld gelos? Ek weet jy is parmantig en skelm. Jy het net gekom om te kyk hoe ons veg.” Dawid het gesê: “Wat het ek verkeerd gedoen? Ek het net gevra.” Dawid het weggedraai van Eliab. Hy het dieselfde vir die ander manne gevra, en hulle het vir hom dieselfde geantwoord. Party manne het gehoor wat Dawid sê, en hulle het dit vir koning Saul gaan vertel. Saul het vir Dawid laat roep. Dawid het vir Saul gesê: “Niemand moet bang wees vir hierdie Filistyn nie. Ek sal teen hom gaan veg.” Saul het vir Dawid gesê: “Jy kan nie teen hom gaan veg nie, want jy is 'n kind en hy is 'n man wat oorlog maak vandat hy jonk was.” Dawid het vir Saul gesê: “Ek was 'n wagter by my pa se skape en bokke, en wanneer 'n leeu of 'n beer gekom het en een van die skape weggedra het, dan het ek hom gejaag en hom geslaan en die skaap uit sy bek geruk. En wanneer hy my wou byt, dan het ek hom aan sy baard gegryp en hom doodgeslaan. Ek het leeus én bere oorwin, en hierdie Filistyn, hierdie heiden, sal soos een van hulle wees, want hy het gesê die manne van die God wat lewe, beteken niks.” Dawid het gesê: “Die Here wat my gered het van leeus en bere, dit is Hy wat my sal red van hierdie Filistyn.” Saul het vir Dawid gesê: “Goed, jy mag gaan. Ek bid dat die Here jou sal help.” Saul het toe sy klere geneem en hy het dit vir Dawid gegee om aan te trek. Saul het sy helm van brons op Dawid se kop gesit en hy het gesê Dawid moet die harnas aantrek. Dawid het sy swaard bo-oor die klere vasgemaak met 'n belt en hy het probeer loop, want hy het dit nog nooit gedoen nie. Maar toe sê hy vir Saul: “Ek kan nie met hierdie swaar goed loop nie, ek het dit nog nooit gedoen nie.” Dawid het toe Saul se klere uitgetrek. Hy het sy kierie geneem en hy het vyf gladde klippe in die sloot gaan soek. Hy het dit in sy skaapwagter-sak gesit. Toe het hy nader gegaan na die Filistyn toe en hy het sy slingervel in sy hand vasgehou. Die Filistyn het nader gekom na Dawid toe. Die man wat sy skild gedra het, was voor hom. Toe die Filistyn vir Dawid sien, het hy gedink Dawid beteken niks, want Dawid was 'n jong seun. Hy was gesond en mooi. Die Filistyn het vir Dawid gesê: “Dink jy ek is 'n hond? Hoekom kom jy met 'n kierie na my toe? Ek vervloek jou, my gode sal jou laat sterf.” Hy het vir Dawid gesê: “Kom hier, ek sal jou vleis vir die voëls en die wilde diere gee.” Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my toe met 'n swaard en met spiese, maar ek kom na jou toe omdat die Here my gestuur het, die Here wat oor alles regeer. Hy is die God van die manne van Israel. Jy het gesê hulle beteken niks. Vandag sal die Here my laat wen teen jou, en ek sal jou oorwin en jou kop afkap. Ek sal die dooie liggame van die Filistyne vir die voëls en die wilde diere gee. Al die mense op die aarde sal weet daar is 'n God in die land Israel. Almal wat hier bymekaar is, sal weet dat dit die Hére is wat mense red. Hy gebruik nie swaarde en spiese wanneer Hy hulle red nie. Dit is Hý wat besluit wat gebeur in 'n oorlog en Hy sal ons laat wen teen julle.” Toe die Filistyn gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig vorentoe gehardloop om by hom te kom. Dawid het 'n klip uit sy sak gehaal en hy het dit met die slingervel gegooi. Hy het die klip so hard teen die Filistyn se voorkop gegooi, dat dit in sy kop ingegaan het. Die Filistyn het op sy gesig op die grond geval. Dawid het net die slingervel en een klip gebruik, maar hy was sterker as die Filistyn. Hy het die Filistyn oorwin en hy het hom doodgemaak, en hy het nie 'n swaard in sy hand gehad nie. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan. Hy het die Filistyn se swaard uit sy leersak getrek en hy het hom doodgemaak en sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug.

1 SAMUEL 17:1-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die Filistyne het hulle leër versamel vir die oorlog en bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka in Efes-Dammim. Maar Saul en die manne van Israel het byeengekom en laer opgeslaan in die dal van die terpentynboom en hulle in slagorde teenoor die Filistyne opgestel. En die Filistyne het duskant teen die berg en die Israeliete oorkant teen die berg gestaan, sodat die dal tussen hulle in was. Toe kom daar 'n baasvegter uit die laers van die Filistyne, met die naam van Góliat, uit Gat; sy hoogte was ses el en 'n span. Daar was 'n koperhelm op sy hoof, en hy het 'n pantser van skubbe aangehad — die gewig van die pantser was vyfduisend sikkels koper — en skeenplate van koper was aan sy bene en 'n koperlans tussen sy skouers. Die steel van sy spies was soos 'n wewersbalk, en die lem van sy spies was van seshonderd sikkels yster, en die skilddraer het voor hom uit geloop. En hy het gaan staan en roep na die slagordes van Israel en vir hulle gesê: Waarom trek julle uit om jul in slagorde op te stel? Is ek nie die Filistyn, en julle dienaars van Saul nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy teen my kan veg en my verslaan, sal ons julle slawe wees; maar as ek hom oorwin en hom verslaan, moet julle ons slawe wees en ons dien. Verder sê die Filistyn: Ek daag die slagordes van Israel vandag uit! Gee my 'n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bevrees. En Dawid was die seun van dié Efratiet, uit Betlehem-Juda, met die naam van Ísai; hy het agt seuns gehad, en die man was in Saul se dae oud, op jare gekom onder die manne. Maar die drie oudste seuns van Ísai het Saul al in die oorlog gevolg; en die name van sy drie seuns wat in die oorlog gegaan het, was: Elíab, die oudste, en sy tweede, Abinádab, en die derde, Samma. Dawid was die jongste, terwyl die drie oudstes Saul gevolg het. En Dawid het heen en weer gegaan van Saul om die kleinvee van sy vader in Betlehem op te pas. En die Filistyn het smôrens vroeg en saans nader gekom en gaan staan, veertig dae lank. Toe het Ísai aan sy seun Dawid gesê: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en bring dit gou vir jou broers na die laer toe. Maar hierdie tien skywe kaas moet jy bring na die owerste oor duisend, en jy moet ondersoek doen na die welstand van jou broers en van hulle 'n pand saambring. En Saul en hulle en al die manne van Israel was besig om te veg teen die Filistyne in die dal van die terpentynboom. En die volgende môre vroeg het Dawid hom klaargemaak: die kleinvee aan die wagter afgegee en opgelaai en weggegaan soos Ísai hom beveel het. En toe hy by die wa-laer kom, hef die leërmag wat na die vegterrein uittrek, juis die krygsgeskreeu aan. Israel sowel as die Filistyne het slagorde teenoor slagorde opgestel. Daarop gee Dawid sy pakgoed af onder bewaring van die oppasser van die pakgoed, en hy hardloop na die vegterrein. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers na die welstand. En terwyl hy met hulle spreek, kom juis die baasvegter — Góliat is sy naam, die Filistyn uit Gat — uit die slagordes van die Filistyne op en spreek daardie selfde woorde, sodat Dawid dit hoor. Maar toe al die manne van Israel die man sien, vlug hulle vir hom weg, want hulle was baie bang. En die manne van Israel sê: Het julle die man gesien wat daar opkom? Want hy kom op om Israel uit te daag. En die koning sal die man wat hom verslaan, oorlaai met groot rykdom; ook sal hy sy dogter aan hom gee en sy familie in Israel vrystel van belasting. Daarop het Dawid die manne wat by hom staan, gevra en gesê: Wat sal met die man gebeur wat hierdie Filistyn verslaan en die smaad van Israel wegneem? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God durf uitdaag? En die manskappe gee hom dieselfde antwoord: Só sal met die man gebeur wat hom verslaan. Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien. En Dawid sê: Wat het ek nou gedoen? Ek vra maar net. En hy het by hom weggedraai na iemand anders en dieselfde woorde gespreek, en die manskappe het hom geantwoord volgens die eerste woorde. Toe hulle die woorde hoor wat Dawid spreek en dit voor Saul meedeel, het dié hom laat haal. En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg. Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af. Daarop sê Dawid aan Saul: U dienaar het vir sy vader die kleinvee opgepas, en as daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n stuk kleinvee uit die trop wegdra, dan gaan ek uit agter hom aan en verslaan hom en ruk dit uit sy bek uit; en as hy my aanval, gryp ek hom aan sy baard en verslaan hom en maak hom dood. U dienaar het die leeu sowel as die beer doodgeslaan, en met hierdie onbesnede Filistyn sal dit gaan net soos met een van hulle, omdat hy die slagordes van die lewende God uitgedaag het. Verder sê Dawid: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en mag die HERE met jou wees! En Saul het Dawid sy klere laat aantrek en 'n koperhelm op sy hoof gesit en hom 'n pantser laat aantrek. En Dawid het sy swaard bo-oor sy klere vasgegord, en toe hy moeite doen om te loop, omdat hy dit nooit probeer het nie, sê Dawid vir Saul: Ek kan nie hierin loop nie, want ek het dit nooit probeer nie. En Dawid het dit uitgetrek. Daarop neem hy sy staf in sy hand en soek vir hom uit die spruit vyf gladde klippe uit en steek dit in sy herderstas wat hy gehad het, naamlik in die slingersak; en met sy slinger in sy hand het hy nader gekom na die Filistyn. Ook die Filistyn het al nader en nader gekom na Dawid, en die skilddraer voor hom uit. Toe die Filistyn opkyk en Dawid sien, het hy hom verag, omdat hy 'n seun was — rooierig, met 'n mooi voorkoms. En die Filistyn vra vir Dawid: Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, dat ek jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee. Maar Dawid sê vir die Filistyn: Jy kom na my met 'n swaard en met 'n spies en met 'n lans, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die slagordes van Israel, wat jy uitgedaag het. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, dat ek jou kan verslaan en jou hoof van jou wegneem, en die lyke van die leër van die Filistyne vandag aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde kan gee, sodat die hele aarde kan weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele menigte moet erken dat die HERE nie deur swaard en deur spies verlos nie; want die stryd behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. Toe die Filistyn hom dan klaarmaak en aldeur nader kom om Dawid te ontmoet, loop Dawid gou na die vegterrein om die Filistyn te ontmoet; en Dawid steek sy hand in die tas en neem 'n klip daaruit en slinger, en hy tref die Filistyn in sy voorhoof, sodat die klip in sy voorhoof indring en hy op sy gesig teen die grond val. So het Dawid dan die Filistyn oorweldig met 'n slinger en 'n klip. En hy het die Filistyn verslaan en hom gedood alhoewel daar geen swaard in Dawid se hand was nie. Daarop het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem, dit uit sy skede getrek en hom van kant gemaak, en hy het daarmee sy hoof afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood was, het hulle gevlug.

1 SAMUEL 17:1-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die Filistyne het hulle leër laat saamtrek vir oorlog. Hulle het byeengekom by Sogo, wat aan Juda behoort, en het kamp opgeslaan tussen Sogo en Aseka by Efes-Dammim. Saul en die manne van Israel het saamgetrek en kamp opgeslaan in die Ela-vallei. Hulle het die gevegslinies opgestel vir die oorlog teen die Filistyne. Die Filistyne het teen die een heuwel stelling ingeneem, en die Israeliete teen die ander heuwel, met die vallei tussen hulle. Daar tree toe 'n baasvegter uit die kampe van die Filistyne na vore met die naam Goliat, afkomstig uit Gat. Sy lengte was ses el en 'n span. Daar was 'n helm van brons op sy kop, en hy het 'n geskubde harnas aangehad. Die gewig van die harnas was vyfduisend sikkel brons. Daar was bronsplate voor sy skene en 'n kromswaard van brons tussen sy skouers. Die skag van sy vegspies was soos die dwarsbalk van 'n weefraam en die lem van sy vegspies was van seshonderd sikkel yster. Iemand wat 'n grootskild dra, het voor hom uit geloop. Hy het gaan staan en vir die gevegslinies van Israel geskreeu. Hy het vir hulle gesê: “Waarom trek julle uit om gevegslinies vir oorlog op te stel? Is ek nie 'n Filistyn, en julle Saul se slawe nie? Kies vir julle 'n man uit, dat hy na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg, en hy verslaan my, sal ons julle slawe word; maar as ek oor hom die oorhand kry en hom verslaan, sal julle ons slawe word en moet julle ons dien.” Die Filistyn het gesê: “Ek, ja ek, maak vandag van die gevegslinies van Israel 'n bespotting! Stuur vir my 'n man, sodat ons kan veg!” Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle paniekbevange en baie bang. Dawid was die seun van hierdie man uit Efrata, uit Betlehem in Juda, met die naam Isai. Hy het agt seuns gehad. In Saul se tyd was die man al oud, gevorderd in jare. Die drie oudste seuns van Isai het Saul gevolg na die oorlog. Die name van sy drie seuns wat oorlog toe is, was Eliab die eersgeborene, sy tweede was Abinadab, en die derde was Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudstes het Saul gevolg, maar Dawid het telkens van Saul af teruggekeer om sy vader se kleinvee op te pas in Betlehem. Intussen het die Filistyn vroeg soggens en smiddags laat nader gekom en stelling ingeneem – veertig dae lank. Isai het vir sy seun Dawid gesê: “Neem tog vir jou broers hierdie efa geroosterde graan en hierdie tien brode. Vat dit gou na jou broers in die kamp. Hierdie tien blokke kaas moet jy vir die bevelvoerder van die afdeling gee. En oor jou broers moet jy uitvind hoe dit gaan, en 'n bewys van hulle af saambring. ” Saul en die broers en al die manne van Israel was steeds besig om teen die Filistyne oorlog te maak in die Ela-vallei. Dawid het die oggend vroeg opgestaan en die kleinvee by 'n wagter agtergelaat. Hy het gepak en vertrek, soos Isai hom beveel het. Toe hy by die oornagkamp aankom, was die leër besig om uit te gaan na die gevegslinies. Hulle het die oorlogskreet aangehef vir die geveg, en Israel en die Filistyne was besig om hulle gevegslinies teenoor mekaar op te stel. Dawid het die pakgoed wat hy gedra het by die oppasser van die pakgoed afgegee en na die gevegslinie gehardloop. Toe hy daar aankom, vra hy sy broers hoe dit gaan. Hy was nog besig om met hulle te praat, toe die baasvegter met die naam Goliat, die Filistyn, uit Gat, juis na vore tree uit die gevegslinies van die Filistyne, en dieselfde woorde sê. Dawid het dit gehoor. Maar al die manne van Israel het, toe hulle die man sien, voor hom padgegee. Hulle was baie bang. Die manne van Israel het gesê: “Sien julle hierdie man wat na vore tree? Ja, dit is net om 'n bespotting te maak van Israel dat hy na vore tree! Die man wat hom verslaan – vir hom sal die koning met groot rykdom oorlaai, sy dogter aan hom gee en sy familie vrystel van verpligtinge in Israel.” Dawid vra toe vir die manne wat by hom staan: “Wat sal gedoen word vir die man wat hierdie Filistyn verslaan en die bespotting van Israel laat wyk? Want wie is hierdie onbesnede Filistyn nogal dat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God?” Die manskappe het hom met dieselfde woorde geantwoord: “Dit is wat gedoen sal word vir die man wat hom verslaan.” Sy oudste broer, Eliab, het gehoor toe hy met die manne praat. Eliab het hom vir Dawid vererg en gesê: “Waarom het jy hierheen afgekom, en by wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn agtergelaat? Ek ken jou verwaandheid en die boosheid van jou hart. Ja, dit is met die doel om die geveg te sien, dat jy hierheen afgekom het.” Dawid het geantwoord: “Wat het ek nou gedoen? Is dit nie maar net 'n vraag nie? ” Dawid het van Eliab weggedraai na iemand anders en dieselfde vraag gevra. Die manskappe het hom dieselfde antwoord gegee as die eerste. Die woorde wat Dawid gesê het, het rugbaar geword; en toe hulle dit vir Saul vertel, het hy hom laat haal. Dawid het vir Saul gesê: “'n Mens moenie moed verloor oor hom nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie, want jy is nog maar 'n seun, en hy is 'n krygsman van sy jeug af.” Toe sê Dawid vir Saul: “U dienaar het nog altyd vir sy vader die kleinvee opgepas. Wanneer daar 'n leeu of 'n beer kom en 'n lam uit die trop wegdra, gaan ek uit agter hom aan, slaan hom plat en ruk die lam uit sy bek. As hy opstaan en my aanval, gryp ek hom aan sy kaak, slaan hom plat en maak hom dood. U dienaar het al 'n leeu en selfs ook 'n beer doodgeslaan. Met hierdie onbesnede Filistyn sal dit net soos met een van hulle gaan, omdat hy 'n bespotting maak van die gevegslinies van die lewende God. Die HERE wat my gered het uit die klou van 'n leeu en die klou van 'n beer,” het Dawid gesê, “dit is Hy wat my sal red uit die hand van hierdie Filistyn.” Toe sê Saul vir Dawid: “Gaan, en mag die HERE met jou wees!” Saul het Dawid sy eie uitrusting laat aantrek. Hy het 'n helm van brons op sy kop gesit en hom 'n harnas laat aantrek. Dawid het ook Saul se swaard oor sy uitrusting vasgegord en probeer om te loop, want hy het dit nog nooit probeer nie. Dawid sê toe vir Saul: “Ek kan nie hiermee loop nie, want ek het dit nog nooit probeer nie.” Toe haal Dawid dit van hom af. Hy het sy staf in sy hand geneem, vir hom vyf gladde klippe in die spruit uitgesoek en dit in die skaapwagtersak wat hy gehad het, in die kantsak, gesit. Met sy slingervel in sy hand het hy die Filistyn genader. Die Filistyn het al hoe nader aan Dawid gekom, met voor hom die man wat die grootskild dra. Toe die Filistyn mooi kyk en Dawid sien, het hy hom geminag, want hy was nog maar 'n seun, rooierig, en met 'n mooi voorkoms. Die Filistyn sê toe vir Dawid: “Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom?” En die Filistyn het Dawid vervloek by sy gode. Verder sê die Filistyn vir Dawid: “Kom na my toe, sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere in die veld kan gee.” Maar Dawid het vir die Filistyn gesê: “Jy kom na my met 'n swaard en met 'n vegspies en met 'n kromswaard, maar ek kom na jou in die Naam van die HERE, Heerser oor alle magte, die God van die gevegslinies van Israel, van wie jy 'n bespotting maak. Vandag sal die HERE jou in my hand oorlewer, en ek sal jou verslaan en jou kop afkap. Ek sal die lyke van die Filistyne se leër vandag nog aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee, sodat die hele aarde sal weet dat Israel 'n God het. Dan sal hierdie hele strydmag moet erken dat dit nie deur swaard en vegspies is wat die HERE verlos nie. Ja, die oorlog behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee.” Toe die Filistyn gereedmaak en al nader kom om Dawid tegemoet te loop, het Dawid die Filistyn vinnig tegemoet gehardloop in die rigting van die gevegslinie. Dawid het sy hand in die sak gesteek en 'n klip daaruit geneem, met die slingervel gegooi, en die Filistyn op sy voorkop getref. Die klip het sy voorkop binnegedring, en hy het op die grond op sy gesig geval. Dawid het die oorhand gekry oor die Filistyn met 'n slingervel en 'n klip. Hy het die Filistyn verslaan en hom doodgemaak, al was daar nie 'n swaard in Dawid se hand nie. Dawid hardloop toe en gaan staan by die Filistyn, vat sy swaard vas, en trek dit uit die skede. Hy het hom die doodslag toegedien deur sy kop met die swaard af te kap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle gevlug.

1 SAMUEL 17:1-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En die Filistyne het hulle leërs bymekaargemaak om te veg, en hulle het bymekaargekom by Sogo wat aan Juda behoort, en hulle het laer opgeslaan tussen Sogo en Aséka, in Efes-Dammim. En Saul en die manne van Israel het bymekaargekom en laer opgeslaan by die dal van Ela en die geveg opgestel teen die Filistyne. En die Filistyne het aan die een kant op die berg gestaan, en Israel het aan die ander kant op die berg gestaan, en daar was 'n dal tussen hulle. En daar het 'n kampvegter uit die laer van die Filistyne uitgetrek, met die naam van Goliat, van Gat, wie se hoogte ses el en 'n span was. En hy het 'n helm van koper op sy hoof gehad, en hy was gewapen met 'n pantser; en die gewig van die rok was vyf duisend sikkels koper. En hy het koperpanne aan sy bene gehad en 'n koperskyf tussen sy skouers. En die staf van sy spies was soos 'n wewersbalk; en die kop van sy spies het ses honderd sikkels yster geweeg, en een wat 'n skild dra, het voor hom uit gegaan. En hy het gaan staan en die leërs van Israel aangeroep en vir hulle gesê: Waarom het julle uitgetrek om julle geveg op te stel? Is ek nie 'n Filistyn en julle dienaars van Saul nie? kies vir jou 'n man, en laat hom na my toe afkom. As hy in staat is om teen my te veg en my dood te maak, dan sal ons julle dienaars wees; maar as ek hom oorwin en hom doodmaak, dan moet julle ons dienaars wees en ons dien. Toe sê die Filistyn: Ek verag die leërs van Israel vandag; gee my 'n man, dat ons saam kan veg. Toe Saul en die hele Israel hierdie woorde van die Filistyn hoor, was hulle verskrik en baie bang. En Dawid was die seun van daardie Efratiet van Betlehem-Juda, wie se naam Isai was; en hy het agt seuns gehad, en die man het onder die mense gegaan vir 'n ou man in die dae van Saul. En die drie oudste seuns van Isai het gegaan en Saul gevolg in die geveg; en die name van sy drie seuns wat in die geveg uitgetrek het, was Eliab, die eersgeborene, en naas hom Abinadab en die derde Samma. En Dawid was die jongste, en die drie oudstes het Saul gevolg. Maar Dawid het gegaan en van Saul af teruggekeer om sy vader se skape by Betlehem op te pas. En die Filistyn het soggens en saans nader gekom en hom veertig dae lank opgedaag. En Isai sê vir sy seun Dawid: Neem tog vir jou broers 'n efa van hierdie gebraaide koring en hierdie tien brode, en hardloop na die laer na jou broers; En bring hierdie tien kase na die owerste oor hulle duisend, en kyk hoe dit met jou broers gaan, en neem hulle pand. En Saul en hulle en al die manne van Israel was in die dal van Ela en het teen die Filistyne geveg. Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by 'n wagter agtergelaat en geneem en gegaan, soos Isai hom beveel het; en hy het by die sloot gekom terwyl die leër na die geveg uitgetrek het, en vir die geveg uitgeroep. Want Israel en die Filistyne het die geveg opgestel, leër teen leër. Dawid het sy wa in die hand van die wagter oorgelaat en die leër ingehardloop en gekom en sy broers gegroet. En terwyl hy met hulle spreek, kyk, daar het die kampvegter, die Filistyn van Gat, met die naam van Goliat, uit die leërs van die Filistyne opgekom en volgens dieselfde woorde gespreek, en Dawid het hulle gehoor. Toe al die manne van Israel die man sien, het hulle van hom weggevlug en baie bang geword. Toe sê die manne van Israel: Het julle hierdie man gesien wat opgekom het? sekerlik het hy opgetrek om Israel te verag; en die man wat hom doodmaak, sal die koning hom verryk met groot rykdom en hom sy dogter gee en sy vader se huis in Israel vrymaak. En Dawid het met die manne wat by hom staan, gespreek en gesê: Wat moet met die man gedoen word wat hierdie Filistyn doodmaak en die smaad van Israel wegneem? want wie is hierdie onbesnede Filistyn, dat hy die slagordes van die lewende God sou uitdaag? En die volk het hom so geantwoord en gesê: So sal dit gedoen word met die man wat hom doodmaak. En Elíab, sy oudste broer, het gehoor toe hy met die manne gespreek het; en Elíab se toorn het teen Dawid ontvlam, en hy het gesê: Waarom het jy hierheen gekom? en by wie het jy daardie paar skape in die woestyn agtergelaat? Ek ken jou trots en die stoutheid van jou hart; want jy het afgekom om die geveg te sien. Toe sê Dawid: Wat het ek nou gedoen? Is daar nie 'n oorsaak nie? En hy het van hom af weggedraai na 'n ander en op dieselfde manier gespreek, en die skare het hom weer op die vorige manier geantwoord. En toe die woorde gehoor word wat Dawid gespreek het, het hulle dit voor Saul laat hoor, en hy het hom laat roep. Toe sê Dawid vir Saul: Laat niemand se hart weens hom beswyk nie; u dienaar sal teen hierdie Filistyn gaan veg. Toe sê Saul vir Dawid: Jy kan nie teen hierdie Filistyn optrek om teen hom te veg nie, want jy is maar 'n jong man, en hy is 'n krygsman van sy jeug af. Toe sê Dawid vir Saul: U dienaar het sy vader se skape opgepas, en daar het 'n leeu en 'n beer gekom en 'n lam uitgehaalvan die kudde: En ek het agter hom aan uitgegaan en hom geslaan en dit uit sy mond gered; en toe hy teen my opstaan, het ek hom aan sy baard gegryp en hom geslaan en hom gedood. U dienaar het die leeu sowel as die beer gedood, en hierdie onbesnede Filistyn sal wees soos een van hulle, omdat hy die leërs van die lewende God uitgedaag het. Verder het Dawid gesê: Die HERE wat my gered het uit die klou van die leeu en uit die klou van die beer, Hy sal my red uit die hand van hierdie Filistyn. Toe sê Saul vir Dawid: Gaan, en die HERE sal met jou wees. En Saul het Dawid met sy wapenrusting bewapen en 'n koperhelm op sy hoof gesit; ook het hy hom met 'n wapen gewapen. Dawid het sy swaard om sy wapenrusting gegord, en hy het probeer om te gaan; want hy het dit nie bewys nie. Toe sê Dawid vir Saul: Ek kan nie saam met hulle gaan nie; want Ek het hulle nie beproef nie. En Dawid het hulle van hom afgesit. En hy het sy staf in sy hand geneem en vir hom vyf gladde klippe uit die spruit gekies en dit in 'n herderstas wat hy gehad het, in 'n sak gesit; en sy slinger was in sy hand, en hy het nader gekom na die Filistyn. En die Filistyn het aangekom en nader gekom na Dawid; en die man wat die skild gedra het, het voor hom uit gegaan. En toe die Filistyn rondkyk en Dawid sien, het hy hom verag, want hy was maar 'n jong en rooierig en mooi van voorkoms. Toe sê die Filistyn vir Dawid: Is ek 'n hond dat jy met stokke na my toe kom? En die Filistyn het Dawid by sy gode vervloek. Toe sê die Filistyn vir Dawid: Kom na my toe, en ek sal jou vlees aan die voëls van die hemel en die diere van die veld gee. Toe sê Dawid vir die Filistyn: Jy kom na my toe met 'n swaard en met 'n spies en met 'n skild; maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE van die leërskare, die God van die leërskare van Israel. Vandag sal die HERE jou in my hand gee; en Ek sal jou verslaan en jou hoof van jou wegneem; en Ek sal vandag die lyke van die leër van die Filistyne aan die voëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee; sodat die hele aarde kan weet dat daar 'n God in Israel is. En hierdie hele vergadering sal weet dat die HERE nie deur swaard en spies verlos nie; want die geveg behoort aan die HERE, en Hy sal julle in ons hand gee. En toe die Filistyn hom klaarmaak en nader kom om Dawid te ontmoet, het Dawid hom gehaas en na die leër gehardloop om die Filistyn te ontmoet. En Dawid het sy hand in sy sak gesteek en 'n klip daarvandaan geneem en dit geslinger, en hy het die Filistyn op sy voorhoof geslaan, sodat die klip in sy voorhoof gesink het; en hy het op sy aangesig na die aarde geval. En Dawid het die Filistyn oorwin met 'n slinger en met 'n klip, en hy het die Filistyn verslaan en hom gedood; maar daar was geen swaard in die hand van Dawid nie. Daarom het Dawid gehardloop en by die Filistyn gaan staan en sy swaard geneem en dit uit sy skede getrek en hom gedood en sy kop daarmee afgekap. En toe die Filistyne sien dat hulle kampvegter dood is, het hulle gevlug.

1 SAMUEL 17:1-51 Die Boodskap (DB)

Die Filistyne het hulle soldate bymekaargemaak vir oorlog en by Soko wat in Juda is, saamgekom. Hulle kamp was by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die Israeliete het ook bymekaargekom. Hulle kamp was by Eikelaagte. Hulle het gereedgemaak om teen die Filistyne te veg. Die Filistyne en die Israeliete het kamp opgeslaan op twee bulte weerskante van ’n spruit. Daar kom toe ’n voorvegter uit die kamp van die Filistyne. Sy naam was Goliat. Hy het uit die dorp Gat gekom en hy was amper drie meter lank. Die man het ’n brons helm op sy kop gehad en ’n veghemp met brons skubbe aangehad. Die veghemp het 57 kilogram geweeg. Hy het brons beenskutte gedra en daar het ’n brons kromswaard tussen sy skouers gehang. Die handvatsel van sy spies het gelyk soos die balk waaraan mense wat weef, hulle wol hang, en die spies se ysterpunt het omtrent ses kilogram geweeg. ’n Man wat ’n groot skild dra, het voor hom geloop. Goliat het by die spruit gaan staan en vir die manne van Israel geskree: “Hoekom maak julle reg om teen die Filistyne te veg? Ék is ’n Filistyn en julle is ’n klomp slawe van Saul! Kies iemand en laat hom hier onder na my toe kom! As hy kans sien om teen my te veg en my wen, sal ons julle slawe wees! As ek vir hóm kans sien en hom wen, moet julle óns slawe wees en vir ons werk!” Hy skree toe ook nog: “Ek spot al die hele dag met die soldaatjies van die Israeliete! Stuur tog nou iemand om teen my te kom veg!” Saul en al die Israeliete het gehoor wat die Filistyn vir hulle skree. Hulle het hulle koud geskrik en was doodbang. Die Filistyn het vir baie dae elke môre en elke aand by die spruit gaan staan en skree. Dawid was die seun van ’n man met die naam Isai, wat in Betlehem-Efrata in Juda gebly het. Isai het agt seuns gehad. In Saul se tyd was hy self al te oud om te veg, maar sy drie oudste seuns is saam met Saul oorlog toe. Die oudste van die seuns was Eliab, die tweede een Abinadab en die derde een Samma. Dawid was die jongste. Die drie oudste seuns was die hele tyd by Saul se manskappe, maar Dawid het gereeld van die paleis af Betlehem toe gegaan om sy pa se skape te help oppas. Isai sê toe vir Dawid: “Hier’s ’n halfsak gebraaide koring en tien brode vir jou broers. Vat dit gou vir hulle in die kamp. Dié tien kase moet jy vir die leier van hulle groep gee. Hoor hoe dit met jou broers gaan en bring dan ’n bewys saam dat jy by hulle was. Hulle en Saul en al die manskappe van Israel maak daar by Eikelaagte oorlog teen die Filistyne.” Dawid het die môre vroeg opgestaan en die skape by ’n wagter gelos. Hy het die goed gevat en gegaan soos sy pa vir hom gesê het. Hy het by die kamp gekom net toe die manskappe hulle strydkreet skree en op hulle plekke gaan staan vir die geveg, want die Israeliete en die Filistyne het hulle manskappe laat regstaan om mekaar aan te val. Dawid het die goed wat hy by hom gehad het, by die man gelos wat die bagasie oppas. Hy het na die plek gehardloop waar die manne vir die geveg reggestaan het. Toe hy daar kom, het hy sy broers gevra hoe dit met hulle gaan. Terwyl hy nog met hulle praat, kom die voorvegter van die Filistyne met die naam Goliat, die man uit Gat, vorentoe en skree weer dieselfde woorde sodat Dawid dit hoor. Toe die Israeliete die man sien, was hulle almal doodbang en het teruggestaan. Daar is vir die Israeliete gesê: “Sien julle hoe kom hierdie man elke keer vorentoe om met die Israeliete te spot? Die koning sal die man wat hom doodmaak, skatryk maak en sy dogter vir hom gee. Sy familie sal ook nie belasting hoef te betaal nie.” Dawid sê toe vir die manne wat daar om hom staan: “Wat sal gebeur met die man wat daardie Filistyn doodmaak en hierdie skande vir Israel stopsit? Wie dink daardie heiden van ’n Filistyn miskien is hy dat hy so met die manskappe van die lewende God spot?” Die manne het vir Dawid dieselfde antwoord gegee: “Dit is wat gedoen sal word met die man wat die Filistyn doodmaak.” Dawid se oudste broer, Eliab, het gehoor dat Dawid met die manne praat. Hy het hom bloedig vererg vir Dawid: “Wat het jy hier kom soek? En by wie het jy daardie klompie skape in die oop veld gelos? Ek weet hoe voor op die wa jy is en watter plannetjies jy altyd maak: jy het maar net hierheen gekom om die geveg te sien.” “Wat het ek nou verkeerd gedoen?” vra Dawid. “Hierdie is tog ’n ernstige saak.” Hy draai toe weg van Eliab af na van die ander manne en vra vir hulle ook dieselfde vraag. Hulle gee hom toe dieselfde antwoord. Die manskappe het gehoor wat Dawid sê en dit vir Saul gaan vertel. Saul laat hom toe haal. Dawid het vir Saul gesê: “Ons moenie moed verloor oor hierdie Filistyn nie. Hierdie dienaar van u sal teen hom gaan veg.” Maar Saul sê vir Dawid: “Nee, man, jy kan nie teen hierdie Filistyn gaan veg nie! Jy is nog ’n kind en hy is van kleintyd af al ’n beroepsoldaat.” “U Majesteit,” antwoord Dawid vir Saul, “ek pas lank vir my pa skape op. As ’n leeu of ’n beer een van die lammers in die trop vang, gaan ek agter hom aan en slaan hom plat en kry die lam terug. As hy my aanval, gryp ek hom aan sy keel en slaan hom dood. Ek het leeus en bere kafgeloop en ek sal dieselfde doen met hierdie Filistyn, want hy het met die manskappe van die lewende God gespot. Die Here wat my teen die kloue van leeus en bere beskerm het, sal my ook teen hierdie Filistyn beskerm.” Saul het vir hom gesê: “Gaan dan maar; en mag die Here jou help.” Saul trek toe vir Dawid sy eie oorlogsklere aan: hy sit ’n brons helm op sy kop en trek vir hom ’n veghemp aan. Dawid maak Saul se swaard bo-oor sy oorlogsklere vas. Hy probeer toe met die klere loop, maar hy was glad nie gewoond daaraan nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy vir Saul, “ek is nie gewoond daaraan nie.” Toe trek Dawid die klere uit. Hy vat sy kierie, soek vir hom vyf spoelklippies uit in die spruit, druk dit in die kantsakkie van sy bladsak en met sy slingervel in sy hand gaan hy na die Filistyn toe. Die Filistyn kom al hoe nader na Dawid toe. Voor hom loop die man wat die groot skild dra. Toe die Filistyn Dawid mooi bekyk en sien dat hy sommer nog ’n kind is met ’n seunsgesig, het hy hom geminag. Hy sê toe vir Dawid: “Dink jy ek is ’n hond dat jy met stokke na my toe kom?” Hy het Dawid vervloek in die naam van sy gode en vir hom gesê: “Kom hier, dat ek jou vleis vir die aasvoëls en jakkalse kan voer.” Maar Dawid sê vir die Filistyn: “Jy kom teen my veg met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek veg teen jou in die Naam van die magtige Here, die God van die manskappe van Israel, met wie jy gespot het. Vandag gaan die Here jou aan my oorgee: ek gaan jou neerslaan en jou kop afkap. Vandag gaan ek die lyke van die soldate van die Filistyne vir die aasvoëls en die jakkalse voer. Dan sal die hele wêreld weet dat Israel ’n God het, en al die mense wat hier bymekaar is, sal weet dat die Here nie swaarde en spiese nodig het om mee te red nie. Die Here besluit wie ’n oorlog wen en Hy het julle klaar aan ons oorgegee.” Toe die Filistyn hom gereedmaak en nader kom om teen Dawid te veg, het Dawid vinnig nader gehardloop om hóm aan te val. Dawid steek sy hand in die sak, haal ’n klip uit en gooi met die slingervel. Die klip tref die Filistyn reg voor die kop en gaan in sy voorkop in sodat hy vooroor op die grond val. Dawid het die Filistyn gewen met slingervel en klip. Dawid het hom raak gegooi en hom so doodgemaak. Net so, sonder ’n swaard het Dawid dit gedoen. Dawid het gehardloop en by die Filistyn gaan staan, sy swaard uit die skede getrek en hom doodgemaak. Daarna het hy sy kop afgekap. Toe die Filistyne sien dat hulle held dood is, het hulle weggehardloop.

1 SAMUEL 17:1-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die Filistynse troepe het saamgetrek vir oorlog. Hulle het by Soko in Juda bymekaargekom en kamp opgeslaan by Efes-Dammim, tussen Soko en Aseka. Saul en die manskappe van Israel het in die vallei by die groot boom kamp opgeslaan en hulle vir die geveg teen die Filistyne gereedgemaak. Die Filistyne en die Israeliete het op twee heuwels teenoor mekaar stelling ingeneem. Daar was ’n vallei tussen hulle. Goliat, ’n uithalervegter van Gat, het uit die leër van die Filistyne na vore gekom. Hy was drie meter lank. Hy het ’n bronshelm op sy kop gehad en ’n harnas met skubbe. Die gewig van die harnas was 57 kilogram. Sy beenplate was ook van brons, en ’n bronsswaard het tussen sy skouerblaaie gehang. Die steel van sy spies was so dik soos ’n wewer se balk en die ysterlem van die spies het sewe kilogram geweeg. ’n Wapendraer het voor hom uitgeloop en ’n skild gedra. Hy het teenoor die manskappe van Israel gaan staan en geskreeu: “Is dit regtig nodig dat die gevegslinies opgestel moet word? Ek is tog ’n Filistyn en julle is onderdane van Saul. Kies iemand wat ’n tweegeveg met my kan voer. As julle man daarin slaag om my dood te maak, sal ons julle slawe wees, maar as ek hom doodmaak, sal julle ons slawe wees! Ek daag vandag die gevegsmagte van Israel uit! Stuur tog iemand om teen my te veg!” Toe Saul en die Israeliete dit hoor, was hulle mismoedig en baie bang. Dawid was die seun van Isai, ’n Efratiet uit Betlehem in Juda. Isai het agt seuns gehad. Hy was toe alreeds oud. Die oudste drie, Eliab, Abinadab en Samma, was soldate in Saul se leër. Dawid was die jongste seun, terwyl die drie oudstes reeds in Saul se leër diens gedoen het. Dawid het heen en weer beweeg tussen Saul en sy pa se skape wat hy in Betlehem moes versorg. Vir 40 dae lank, elke oggend en aand, het die Filistyn uitgekom en sy uitdaging aan die Israeliete gerig. Op ’n dag sê Isai vir Dawid: “Vat sestien kilogram gebraaide koring en tien brode na jou broers toe in die militêre kamp. Gee hierdie tien stukke kaas vir hulle bevelvoerder. Kyk ’n bietjie hoe dit met jou broers gaan en bring iets saam om te bewys dat dit goed gaan met hulle.” Dawid se broers was manskappe in Saul se leër wat in die laagte by die groot boom teen die Filistyne geveg het. Dawid het vroeg opgestaan, die skape in die sorg van ’n ander herder gelos, die kos geneem en gedoen soos sy pa hom beveel het. Net toe hy daar aankom, het die manskappe met ’n oorlogskreet in gevegsorde uitgetrek waar Israel en die Filistyne teenoor mekaar opgestel was. Dawid het sy bagasie net so in die sorg van ’n oppasser gelos en hom na sy broers in die linie gehaas. Daar verneem hy na hulle welstand. Juis toe kom Goliat, die uithalervegter van Gat, uit die Filistyne se linies na vore. Dawid het sy herhaalde uitdaging gehoor. Toe die Israeliete Goliat hoor, het hulle weggehardloop omdat hulle vir hom bang was. Die manskappe van Israel sê toe: “Het julle hom gesien? Elke dag kom hy uit om Israel te beledig. Die koning het ’n groot beloning aangebied vir enigeen wat die man sal doodmaak. Die koning sal een van sy dogters vir hom as vrou gee en sy hele familie sal van belasting vrygestel word!” Dawid praat toe met die ander wat daar by hom staan. “Wat sal gebeur met die man wat hierdie Filistyn doodmaak en so ’n einde bring aan die skande oor Israel? Wie is hierdie onbesnede Filistyn dat hy die leër van die lewende God so kan beledig?” Dawid het dieselfde antwoord as vroeër ontvang: “Dit is wat sal gebeur met die man wat hom doodmaak.” Maar Dawid se oudste broer het gehoor hoe hy met die manskappe praat en het kwaad geword. “Hoekom het jy hierheen gekom?” vra hy. “En by wie het jy daardie klompie vee in die wildernis gelos? Ek ken jou domastrantheid en vermetelheid. Jy wil net die geveg sien!” “Wat het ek dan nou gedoen?” antwoord Dawid. “Ek het maar net ’n vraag gevra!” Hy gaan toe na iemand anders toe en vra dieselfde vraag en kry dieselfde antwoord. Al meer mense het gehoor wat Dawid sê en het dit aan Saul oorgedra. Hy het Dawid laat roep. “Ons moenie oor hierdie man moedeloos word nie,” sê Dawid vir Saul. “Ek sal teen hierdie Filistyn gaan veg!” “Moenie verspot wees nie,” sê Saul. “Jy kan tog nie teen die Filistyn veg nie, want jy is nog maar ’n seun, terwyl hy van jongs af ’n vegter is!” Maar Dawid het volgehou: “Ek pas my pa se skape op,” sê hy. “As ’n leeu of ’n beer kom om ’n lam uit die trop weg te dra, sit ek hom agterna. Ek val hom aan en red die lam uit sy bek. As hy my wil aanval, gryp ek hom aan sy baard en slaan hom dood. Ek het dit al met sowel ’n leeu as ’n beer gedoen, en hierdie onbesnede Filistyn sal soos een van hulle word omdat hy die leër van die lewende God beledig het! Die HERE wat my uit die kloue van die leeu en die beer gered het, sal my ook red van hierdie Filistyn!” Saul het uiteindelik ingestem. “Goed, doen dit,” sê hy. “En mag die HERE met jou wees!” Saul laat Dawid toe sy eie uitrusting aantrek: ’n bronshelm op sy kop en ’n borsharnas. Dawid het ook sy swaard bo-oor sy uitrusting vasgemaak. Toe hy probeer loop, kon hy nie, want hy het dit nog nie vantevore gedra nie. “Ek kan nie hiermee loop nie,” sê hy. “Ek is nie daaraan gewoond nie.” Daarom het hy die uitrusting uitgetrek. Hy neem toe sy herderstok, soek vyf gladde klippies in die spruit uit en sit dit in sy slingersak. Met sy slingervel in die hand loop hy die Filistyn tegemoet. Die Filistyn het na Dawid toe uitgekom, met sy skilddraer voor hom. Toe hy hom sien, het hy hierdie jong rooierige en aantreklike seun geminag. Hy skreeu vir hom: “Is ek ’n hond dat jy met ’n stok na my toe kom?” Toe vervloek hy Dawid in die naam van die Filistyne se gode. “Kom nader sodat ek jou vleis vir die voëls van die hemel en die diere van die veld kan gee!” skree hy. Maar Dawid skree terug: “Jy kom na my toe met ’n swaard en ’n spies en ’n kromswaard, maar ek kom na jou toe in die Naam van die HERE, die Almagtige, die God van die magte van Israel wat jy staan en beledig. Vandag gee die HERE jou oor in my mag. Ek sal jou doodmaak, jou kop afkap, en die lyke van die Filistynse leër vir die roofvoëls van die hemel en die wilde diere van die aarde gee. Die hele wêreld sal weet dat Israel ’n God het. Almal sal weet dat die HERE nie swaard en spies nodig het om sy mense te red nie. Die oorlog is die HERE s’n, en Hy sal julle in ons mag oorgee!” Die Filistyn het al nader gekom, maar Dawid het hom vinnig tegemoetgegaan. Hy steek sy hand in sy slingersak, vat ’n klip daaruit, gooi dit met sy slingervel en tref die voorkop van die Filistyn. Die klip het in sy kop ingedring en hy het met sy gesig vooroor op die grond geval. So het Dawid met sy slinger en ’n klip die Filistyn oorwin. Hy het hom getref en doodgemaak sonder dat daar ’n swaard in Dawid se hande was. Toe hardloop Dawid, trek die Filistyn se swaard uit die skede en kap sy kop daarmee af.