1 SAMUEL 16:1-23

1 SAMUEL 16:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul treur nadat Ek hom as koning oor Israel verwerp het? Maak 'n horing vol olie en gaan na Betlehem toe! Ek stuur jou na Isai toe, want onder sy seuns sien Ek vir My 'n koning.” Samuel vra toe: “Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.” En die Here sê vir hom: “Neem 'n vers saam en sê: ‘Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring.’ Nooi dan vir Isai na die offer toe. Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Salf vir My dié een wat Ek jou sal beveel.” Samuel het gedoen wat die Here gesê het. By sy aankoms in Betlehem het die leiers van die stad hom ontsteld tegemoet gekom en gesê: “Kom u in vrede?” En hy het gesê: “Ja. Ek het gekom om vir die Here 'n offer te bring. Reinig julle en kom saam met my na die offer toe.” Hyself het vir Isai en sy seuns gereinig en hulle na die offer toe genooi. Toe hulle inkom, het Samuel vir Eliab gesien en gedink: die gesalfde van die Here staan hier voor die Here. Maar Hy sê vir Samuel: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.” Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan en hy dink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan, maar Samuel het gedink: die Here het ook hierdie een nie gekies nie. Nadat Isai sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan het, sê Samuel vir Isai: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.” Daarop het Samuel vir Isai gevra: “Is dit al jou seuns dié?” En hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar hy pas nou skape op.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons eet nie voordat hy hier is nie.” Isai het hom laat haal. Hy het 'n rooi gelaatskleur gehad, mooi oë en 'n goeie voorkoms. Toe sê die Here: “Staan op, salf hom, want dis hý.” Samuel het die horing met olie gevat en hom voor sy broers gesalf. Die Gees van die Here het van daardie dag af kragtig in Dawid gewerk. Daarna het Samuel klaargemaak en na Rama toe teruggegaan. Maar die Gees van die Here het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat deur die Here gestuur is, het hom voortdurend ontstel. Die amptenare van Saul het vir hom gesê: “U word ontstel deur 'n boosaardige gees wat deur God gestuur is. Die koning moet maar net praat, dan soek ons iemand wat die lier kan speel. As die boosaardige gees u pla, kan die man speel, en u sal beter voel.” Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk maar vir my uit na 'n man wat goed kan speel en bring hom na my toe.” Een van die amptenare antwoord hom: “Ek het 'n seun van Isai die Betlehemmer hoor speel. Hy is 'n dapper man en 'n goeie vegter. Hy kan sy woord goed doen en het 'n goeie voorkoms. Die Here is by hom.” Saul het boodskappers na Isai toe gestuur met die versoek: “Stuur jou seun Dawid wat by die kleinvee is, na my toe.” Isai het toe brood, 'n sak wyn en 'n klein bokkie gevat en dit op 'n donkie met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. So het Dawid dan by Saul gekom en vir hom gewerk. Saul het baie van Dawid gehou, sodat hy Saul se wapendraer geword het. Saul het ook na Isai toe gestuur en laat vra: “Laat Dawid tog vir my werk, ek hou van hom.” Telkens wanneer die boosaardige gees in Saul was, het Dawid die lier gevat en daarop gespeel. Dan het Saul bedaar, en die boosaardige gees het van hom af padgegee.

1 SAMUEL 16:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie aanhou huil en treur oor Saul nie. Ek het besluit hy sal nie meer koning wees oor Israel nie. Jy moet jou horing vol olyf-olie maak en gaan. Ek stuur jou na Isai toe in die stad Betlehem. Ek het gesien een van sy seuns kan die koning wees wat Ek wil hê.” Samuel het gesê: “Ek kan nie gaan nie. As Saul dit hoor, dan sal hy my doodmaak.” Die Here het gesê: “Jy moet 'n jong koei saam met jou neem en jy moet sê jy het gekom om vir die Here te offer. En dan moet jy vir Isai uitnooi na die offer. Ek sal dan vir jou sê wat jy moet doen. Jy moet die persoon salf wat Ek vir jou sê.” Samuel het gedoen wat die Here gesê het. Toe hy in Betlehem kom, het die leiers van die stad hom kom ontmoet. Hulle was bang en hulle het gevra: “Kom jy om iets te doen wat goed is vir ons?” Hy het gesê: “Ja, ek het gekom om vir die Here te offer. Julle moet julle reinig en julle moet saam met my kom offer.” Samuel het ook vir Isai en sy seuns gereinig en hy het hulle uitgenooi na die offer. Toe hulle kom, en Samuel sien vir Eliab, het hy gedink: Ja, dit is die gesalfde wat hier voor die Here staan. Maar die Here het vir Samuel gesê: “Jy moenie na Eliab se gesig kyk en kyk hoe lank hy is nie. Eliab is nie die man wat Ek gekies het nie, want die Here kyk nie na dieselfde dinge as mense nie. Mense kyk hoe iemand lyk, maar die Here kyk wat in iemand se hart is.” Daarna het Isai vir Abinadab geroep en hy het hom voor Samuel laat verbyloop, maar Samuel het gesê: “Die Here het hom ook nie gekies nie.” Isai het toe vir Samma laat verbyloop, maar Samuel het gesê: “Die Here het hom ook nie gekies nie.” Isai het sy sewe seuns by Samuel laat verbyloop, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die Here het nie een van hulle gekies nie.” Samuel vra toe vir Isai: “Het jy nog ander seuns?” Isai het gesê: “Daar is nog een seun, hy is die jongste, maar hy pas die skape en bokke op.” Samuel het vir Isai gesê: “Jy moet hom laat kom, want ons sal nie begin eet voordat hy hier is nie.” Isai het vir Dawid laat kom. Dawid het baie gesond gelyk. Hy het mooi oë gehad en hy kon goed sien. Die Here het gesê: “Jy moet opstaan en hom salf, want hy is die regte een.” Samuel het die horing met die olyf-olie daarin geneem en hy het vir Dawid gesalf. Sy broers het dit gesien. Die Gees van die Here het van daardie dag af in Dawid gekom. Samuel het gereedgemaak en teruggegaan na Rama. Die Gees van die Here het weggegaan van Saul, en 'n bose gees wat van die Here gekom het, het vir Saul laat swaarkry. Sy amptenare het vir hom gesê: “Ons sien dat 'n bose gees wat van God kom, jou laat swaarkry. Koning, jy moet sê, dan sal ons iemand soek wat vir jou musiek kan maak op die lier. Wanneer die bose gees in jou kom, dan moet die persoon musiek maak op die lier, dan sal dit beter gaan met jou.” Saul het vir sy amptenare gesê: “Goed. Kyk of julle iemand kan kry wat goed musiek kan maak, en bring hom na my toe.” Een van die amptenare het toe gesê: “Ek het gesien een van Isai van Betlehem se seuns kan goed musiek maak op die lier. Hy is 'n belangrike man en hy kan goed oorlog maak en goed praat. Hy is mooi en die Here is by hom.” Saul het toe boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Jou seun Dawid is by die skape en bokke, jy moet hom na my toe stuur.” Isai het brood en 'n velsak wyn op 'n donkie gelaai en hy het dit en 'n bok-lam saam met Dawid vir Saul gestuur. Dawid het na Saul toe gekom en hy het vir Saul begin werk. Saul het baie lief geword vir Dawid, en Dawid het Saul se wapendraer geword. Saul het vir Isai 'n boodskap gestuur en gevra: “Mag Dawid asseblief by my bly en vir my werk, want ek hou van hom.” Elke maal wanneer die bose gees wat van God gekom het, in Saul gekom het, dan het Dawid die lier geneem en musiek gemaak. Dan het Saul rustig geword en beter gevoel, en die bose gees het weggegaan van hom.

1 SAMUEL 16:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA sê die HERE aan Samuel: Hoe lank sal jy treur oor Saul, terwyl Ek hom verwerp het om koning te wees oor Israel? Vul jou horing met olie en gaan heen: Ek stuur jou na Ísai, die Betlehemiet, want Ek het onder sy seuns vir My 'n koning uitgesoek. Maar Samuel vra: Hoe kan ek gaan? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak. Toe sê die HERE: Neem 'n jong koei met jou saam en sê: Ek kom om aan die HERE te offer. Nooi Ísai dan na die offermaaltyd, en Ek sal jou bekend maak wat jy moet doen, en jy moet die een vir My salf wat Ek jou sal noem. En Samuel het gedoen wat die HERE gespreek het; en toe hy by Betlehem aankom, het die oudstes van die stad hom bewend tegemoetgegaan en gevra: Is u koms vrede? En hy sê: Vrede! Ek kom om aan die HERE te offer; heilig julle, en kom met my saam aan die offermaaltyd. En hy het Ísai en sy seuns geheilig en hulle na die offermaaltyd genooi. Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde! Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan. Toe roep Ísai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie. Verder het Ísai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie. So het Ísai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Ísai gesê: Die HERE het hulle nie uitgekies nie. Verder het Samuel aan Ísai gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Ísai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie. Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en 'n mooi voorkoms. En die HERE sê: Staan op, salf hom, want dit is hy. Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan. MAAR die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en 'n bose gees, deur die HERE gestuur, het hom verskrik. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, 'n bose gees van God verskrik u: laat ons heer net sê, en u dienaars wat voor u staan, sal 'n man soek wat op die siter kan speel; en as die bose gees van God oor u is, moet hy speel met sy hand, dan sal dit beter met u word. Daarop sê Saul aan sy dienaars: Kyk tog vir my uit na 'n man wat goed kan speel, en bring hom na my. En een van die dienaars antwoord en sê: Kyk, ek het 'n seun van Ísai, die Betlehemiet, gesien wat kan speel, en hy is 'n dapper held en 'n krygsman en wel ter tale en mooi gebou, en die HERE is met hom. Toe het Saul boodskappers na Ísai gestuur en gesê: Stuur tog jou seun Dawid wat by die skape is, na my. Ísai neem toe 'n esel, brood en 'n leersak met wyn en 'n bokkie en stuur dit met sy seun Dawid na Saul. So het Dawid dan by Saul gekom en voor hom gestaan; en dié het hom baie liefgekry, sodat hy sy wapendraer geword het. Daarna het Saul na Ísai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan, want hy het guns in my oë gevind. En net wanneer daar 'n gees van God oor Saul kom, neem Dawid die siter en speel met sy hand; dan voel Saul verlig en word beter, en die bose gees wyk van hom.

1 SAMUEL 16:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die HERE het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog treur oor Saul? Dit is Ek wat hom verwerp het as koning oor Israel. Vul jou horing met olie en vertrek. Ek stuur jou na Isai van Betlehem, want tussen sy seuns het Ek vir My 'n koning gesien. ” Maar Samuel het gesê: “Hoe kan ek gaan? As Saul daarvan hoor, sal hy my doodmaak.” Toe sê die HERE: “'n Verskalf moet jy saam met jou neem en dan moet jy sê, ‘Om aan die HERE 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het.’ Nooi jy dan vir Isai na die offer en Ek sal jou meedeel wat jy moet doen. Jy moet vir My die een salf wat Ek vir jou sal sê. ” Samuel het gedoen wat die HERE gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, kom die oudstes van die stad hom bewend tegemoet en vra: “Beteken u koms vrede?” Hy het gesê: “Ja, vrede! Om aan die HERE 'n offer te bring – dit is waarvoor ek gekom het. Heilig julleself en kom saam met my na die •maaltydoffer.” Hy het Isai en sy seuns toe geheilig en hulle na die maaltydoffer genooi. Toe hulle inkom en hy vir Eliab sien, het hy gedink: “Sekerlik, hier staan, voor die HERE, sy gesalfde!” Maar die HERE het vir Samuel gesê: “Moenie na sy voorkoms en sy rysige gestalte kyk nie, want Ek het hom afgekeur. Dit gaan immers nie oor wat die mens sien nie, want: “Die mens kyk na wat hy sien, maar die HERE kyk na die hart.” Isai roep toe vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die HERE nie gekies nie.” Daarna het Isai vir Samma laat verbygaan; maar hy het gedink: “Ook hierdie een het die HERE nie gekies nie.” So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het vir Isai gesê: “Die HERE het hulle nie gekies nie.” Samuel vra toe vir Isai: “Is dit al die jong manne?” Hy het geantwoord: “Die jongste is nog oor, maar kyk, hy is besig om die kleinvee op te pas.” Toe sê Samuel vir Isai: “Laat haal hom, want ons gaan nie eet voordat hy hier aankom nie.” Hy het dit gedoen en hom toe laat inkom. Die seun was rooierig, met mooi oë en 'n goeie voorkoms. Die HERE sê toe: “Staan op, salf hom, want dit is hy.” Samuel het die horing met olie geneem en hom daar tussen sy broers gesalf. Die Gees van die HERE het van daardie dag af en ook verder van Dawid besit geneem. Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan. Die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en 'n bose gees wat van die HERE af kom, het hom beangs gemaak. Saul se amptenare het vir hom gesê: “Kyk, dit is 'n bose gees van God wat u beangs maak. U Majesteit moet maar net praat. U dienaars hier voor u sal iemand soek wat weet hoe om op 'n lier te speel. Wanneer die bose gees van God oor u kom, kan hy dit bespeel en dit sal goed wees vir u. ” Saul sê toe vir sy amptenare: “Kyk asseblief vir my uit vir iemand wat goed kan speel, en bring hom na my.” Een van die jong manne antwoord toe en sê: “Kyk, ek het 'n seun van Isai, van Betlehem, gesien wat weet hoe om te speel. Hy is 'n dapper kryger, 'n krygsman; hy kan sy woord goed doen en is aantreklik. En die HERE is met hom. ” Saul stuur toe boodskappers na Isai met die versoek: “Stuur Dawid, jou seun wat by die kleinvee is, na my.” Isai neem toe 'n donkie en stuur dit met brood, 'n leersak wyn en 'n boklam, met sy seun Dawid na Saul. Dawid het by Saul aangekom en in sy diens getree. Saul het baie van hom gehou, en Dawid het sy wapendraer geword. Saul het vir Isai laat weet: “Dawid moet asseblief in my diens bly, want hy het guns gevind in my oë.” Telkens wanneer die gees van God oor Saul gekom het, het Dawid die lier geneem en daarop gespeel. Dit het vir Saul verligting gebring; dit het hom goed gedoen. Die bose gees het dan van hom gewyk.

1 SAMUEL 16:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê die HERE vir Samuel: Hoe lank sal jy oor Saul treur, terwyl Ek hom verwerp het om oor Israel te heers? vul jou horing met olie, en gaan, Ek stuur jou na Isai, die Betlehemiet, want Ek het vir my 'n koning onder sy seuns voorsien. Toe sê Samuel: Hoe kan ek gaan? as Saul dit hoor, sal hy my doodmaak. Toe sê die HERE: Neem 'n vers saam en sê: Ek het gekom om aan die HERE te offer. En roep Isai na die offer, en ek sal jou te kenne gee wat jy moet doen; en jy moet vir My hom salf wat Ek vir jou noem. En Samuel het gedoen wat die HERE gespreek het, en hy het in Betlehem gekom. En die oudstes van die stad het gebewe by sy koms en gesê: Kom jy in vrede? En hy het gesê: Vreedsaam, ek het gekom om aan die HERE te offer; heilig julle en kom saam met my na die offer. En hy het Isai en sy seuns geheilig en hulle na die offer geroep. En toe hulle aankom, het hy Eliab aangekyk en gesê: Waarlik, die gesalfde van die HERE is voor hom. Maar die HERE het vir Samuel gesê: Kyk nie na sy aangesig of na die hoogte van sy gestalte nie; want Ek het hom verwerp; want die HERE sien nie soos die mens sien nie; want die mens kyk na die uiterlike, maar die HERE kyk na die hart. Toe het Isai Abinadab geroep en hom voor Samuel laat verbygaan. En hy sê: Ook dit het die HERE nie uitverkies nie. Toe het Isai vir Samma laat verbygaan. En hy sê: Ook dit het die HERE nie uitverkies nie. Isai het weer sewe van sy seuns voor Samuel laat verbygaan. En Samuel sê vir Isai: Die HERE het hierdie nie uitverkies nie. Toe sê Samuel vir Isai: Is al jou kinders hier? En hy sê: Daar is nog die jongste oor, en kyk, hy hou die skape op. En Samuel sê vir Isai: Stuur en haal hom, want ons sal nie gaan sit voordat hy hierheen kom nie. En hy het gestuur en hom ingebring. Nou was hy rooierig en mooi van voorkoms en mooi om na te kyk. Toe sê die HERE: Staan op, salf hom, want dit is hy. Toe neem Samuel die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van daardie dag af oor Dawid gekom. Samuel het toe opgestaan en na Rama gegaan. Maar die Gees van die HERE het van Saul gewyk, en 'n bose gees van die HERE het hom verskrik. Toe sê die dienaars van Saul vir hom: Kyk tog, 'n bose gees van God verskrik jou. Laat ons heer nou u dienaars wat voor u is, beveel om 'n man te soek wat 'n listige harpspeler is; en as die bose gees van God oor u kom, sal hy met sy hand, en jy sal gesond word. Toe sê Saul aan sy dienaars: Verskaf tog vir my 'n man wat goed kan speel, en bring hom na my toe. Toe antwoord een van die diensknegte en sê: Kyk, ek het 'n seun van Isai, die Betlehemiet, gesien wat slinks is om te speel, en 'n dapper magtige man en 'n krygsman en verstandig in sake en 'n mooi mens; en die HERE is met hom. Daarom het Saul boodskappers na Isai gestuur en gesê: Stuur vir my u seun Dawid wat by die skape is. En Isai het 'n esel geneem, gelaai met brood, en 'n sak wyn en 'n bokkie en dit deur sy seun Dawid na Saul gestuur. En Dawid het by Saul gekom en voor hom gaan staan, en hy het hom baie liefgehad; en hy het sy wapendraer geword. En Saul het na Isai gestuur om te sê: Laat Dawid tog voor my staan; want hy het genade in my oë gevind. En toe die bose gees van God oor Saul was, neem Dawid die siter en speel met sy hand

1 SAMUEL 16:1-23 Die Boodskap (DB)

Die Here het vir Samuel gesê: “Hoe lank gaan jy nog oor Saul huil noudat Ek nie meer wil hê hy moet die koning van Israel wees nie? Maak ’n beeshoring vol olyfolie en gaan na Isai toe wat in Betlehem bly. Ek stuur jou na hom toe, want Ek het gesien een van sy seuns sal ’n goeie koning wees.” Samuel sê toe: “Maar ek kan nie sommer net gaan en dit doen nie! As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak!” “Nou maar vat dan ’n verskalf,” sê die Here, “en sê jy wil die dier vir die Here gaan offer. Nooi vir Isai na die ete by die offer, dan sal Ek vir jou sê wat jy moet doen. Salf dan die een wat Ek jou sal wys.” Samuel het gemaak soos die Here vir hom gesê het. Toe hy in Betlehem aankom, het die mense geskrik en die leiers van die dorp het na hom toe gekom en gevra: “Kom u omdat hier ’n probleem is?” “Nee, daar’s nie ’n probleem nie,” sê hy. “Ek het net vir die Here kom offer. Was julle en trek skoon klere aan, dan kan julle saam met my van die offervleis eet.” Hy het ook vir Isai en sy seuns gesê om dit te doen en hulle na die ete by die offer genooi. Toe Isai en sy seuns inkom, sien Samuel vir Eliab raak en dink: “Dís die man wat die Here wil laat salf.” Maar die Here sê vir Samuel: “Moenie kyk hoe hy lyk of hoe groot hy is nie. Ek wil hom nie hê nie. Dis nie wat ’n mens kan sien wat tel nie. Mense kyk na iemand se buitekant. Ek, die Here, kyk na ’n mens se hart.” Isai roep toe vir Abinadab en stel hom aan Samuel voor. Samuel dink toe: “Die Here het seker ook nie hierdie een gekies nie.” Daarna stel Isai vir Samma aan hom voor, en Samuel dink: “Die Here het ook nie hierdie een gekies nie.” So het Isai sewe van sy seuns aan Samuel voorgestel. Maar Samuel sê vir hom: “Die Here het nie een van hulle gekies nie. Is dit al jou kinders?” Isai antwoord hom: “Die jongste seun is nie hier nie, want hy pas die skape op.” “Laat hom ook kom,” sê Samuel vir Isai, “want ons gaan nie eet voor hy ook hier is nie.” Isai het hom laat haal. Hy was ’n mooi kind met ’n seunsgesig en mooi oë. Toe sê die Here: “Dis hy! Staan op en salf hom.” Samuel het die horing met olyfolie gevat en dit daar voor sy broers op Dawid se kop uitgegooi. Van daardie dag af het die Here se Gees in Dawid gewerk. Samuel het teruggegaan Rama toe. Die Gees van die Here was nie meer by Saul nie. Saul het partykeer verskriklik bang geword, want die Here het toegelaat dat ’n slegte gees hom beetpak. Saul se mense wat in die paleis werk, het vir hom gesê: “Ons weet wat die probleem is: u kry die aanvalle omdat ’n bose gees u beetpak. U Majesteit moet maar net sê, dan soek ons dadelik iemand wat op ’n lier kan speel. As die bose gees u beetpak en die man speel vir u, sal u gou-gou beter voel.” “Goed,” sê Saul, “kyk maar of julle iemand kry wat goed kan speel. Bring hom dan vir my.” Een van die paleiswerkers sê toe: “Ek weet van iemand wat goed kan speel: een van die seuns van Isai wat in Betlehem bly. Hy is nie bang nie en hy kan goed veg. ’n Mens kan luister na wat hy sê, en hy is ’n mooi jong man. Die Here is by hom.” Saul het toe vir Isai laat weet: “Stuur jou seun Dawid, die een wat skape oppas, na my toe.” Isai het brood en ’n leersak met wyn op ’n donkie gelaai en ook ’n jong bokkie saam met Dawid vir Saul gestuur. Dawid het by Saul gekom en vir hom begin werk. Saul het sommer baie van Dawid gehou en hy het Saul se wapendraer geword. Daarom het Saul vir Isai ’n boodskap gestuur: “Ek wil hê Dawid moet vir my bly werk, want ek hou van hom.” Elke keer as die bose gees Saul beetpak, vat Dawid die lier en speel daarop. Dan gee die bose gees van Saul af pad, en word hy kalm en voel beter.

1 SAMUEL 16:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE het weer met Samuel gepraat: “Jy het nou lank genoeg oor Saul getreur vandat Ek besluit het dat hy nie langer koning van Israel moet wees nie. Maak ’n horing vol olie en gaan na Betlehem toe. Daar moet jy ’n man met die naam Isai soek. Ek het besluit dat een van sy seuns die nuwe koning sal wees.” Maar Samuel vra: “Hoe kan ek dit doen? As Saul dit hoor, sal hy my doodmaak.” “Vat ’n jong vers saam met jou,” antwoord die HERE, “en sê: ‘Ek kom om ’n offer aan die HERE te bring.’ Nooi Isai ook na die offer. Dan sal Ek jou sê watter een van sy seuns jy vir My moet salf.” Samuel het gedoen wat die HERE beveel het. Toe Samuel in Betlehem aankom, was die leiers van die dorp bang. Hulle vra hom toe: “Wat is verkeerd? Kom u in vrede?” “Ja, in vrede,” antwoord Samuel. “Ek het gekom om ’n offer aan die HERE te bring. Sorg dat julle die reinigingseremonie uitgevoer het sodat julle saam met my daaraan kan deelneem.” Hy het Isai en sy seuns self gereinig en na die geleentheid genooi. Toe hulle daar aankom, kyk hy na Eliab en dink: “Dis sekerlik die HERE se gesalfde!” Maar die HERE sê vir Samuel: “Moenie volgens voorkoms of grootte of liggaamsbou oordeel nie, want Ek het hom nie gekies nie. Die HERE neem nie besluite soos mense nie! Mense oordeel volgens uiterlike voorkoms, maar die HERE kyk na die binnekant.” Toe roep Isai vir Abinadab en laat hom voor Samuel verbyloop, maar Samuel sê: “Dis ook nie die HERE se keuse nie.” Daarna roep Isai vir Samma, maar Samuel sê: “Hierdie een het die HERE ook nie gekies nie.” Sewe van Isai se seuns is so aan Samuel voorgestel, maar Samuel sê vir Isai: “Die HERE het nie een van hulle gekies nie.” Daarom vra hy: “Is hierdie al jou seuns?” “Die jongste is nie hier nie,” antwoord Isai. “Hy pas die skape op.” “Stuur iemand om hom te gaan haal,” sê Samuel. “Ons kan nie eet voordat hy ook hier is nie.” Isai het so gemaak en hom laat roep. Hy was rooierig van voorkoms, aantreklik met mooi oë. Uiteindelik sê die HERE: “Dis die regte een. Salf hom.” Terwyl Dawid daar tussen sy broers staan, neem Samuel die olie wat hy saamgebring het en gooi dit uit op Dawid se kop. Van toe af het die Gees van die HERE kragtig in hom gewerk. Daarna het Samuel na Rama toe teruggegaan. Maar die Gees van die HERE het Saul verlaat. ’n Bose gees wat die HERE gestuur het, het hom geteister. Toe sê sy amptenare vir hom: “Dis duidelik dat ’n bose gees deur God gestuur is om u te teister. Laat ons iemand kry wat goed op die lier kan speel. Wanneer die bose gees u lastig val, sal die musiek u kalmeer sodat u gou weer beter sal voel.” “Goed,” sê Saul. “Soek iemand wat goed kan speel en bring hom na my toe.” Een van Saul se amptenare sê toe vir hom: “Ek het ’n seun van Isai uit Betlehem teëgekom wat goed kan speel. Hy is dapper en ’n goeie vegter. Hy is goed met woorde en ook aantreklik. Die HERE is met hom.” Saul het boodskappers na Isai toe gestuur en gesê: “Stuur jou seun Dawid, die skaapwagter, na my toe.” Isai het ’n jong bokkie geneem, kos en wyn op ’n donkie gelaai en dit alles saam met sy seun Dawid na Saul toe gestuur. So het dit gebeur dat Dawid in Saul se diens getree het. Saul het so baie van Dawid gehou dat Dawid selfs sy wapendraer geword het. Saul laat weet toe vir Isai: “Laat Dawid tog vir my werk, want ek is baie tevrede met hom.” Telkens wanneer die bose gees vir Saul kwel, het Dawid op die lier gespeel. Dit het Saul beter laat voel en die bose gees het hom laat staan.