1 SAMUEL 15:1-23

1 SAMUEL 15:1-23 Bybel vir almal (ABA)

Samuel het vir koning Saul gesê: “Die Here het my gestuur om jou te salf sodat jy koning kan wees oor sy volk Israel. Nou moet jy luister na wat die Here sê. Die Here wat oor alles regeer, sê: Ek het gesien wat die Amalekiete aan die Israeliete gedoen het. Hulle het die Israeliete aangeval toe die Israeliete uit Egipte gekom het. Nou moet jy die Amalekiete gaan aanval en oorwin, en jy moet alles doodmaak wat hulle het. Jy moenie jammer wees vir hulle nie, jy moet almal doodmaak: mans en vroue, kinders en babas, beeste, skape, kamele en donkies.” Saul het toe die manne laat roep en hy het hulle laat bymekaarkom in Telaim. Daar was 200 000 manne van Israel en 10 000 manne van Juda. Saul het gekom tot by die stad van die Amalekiete. Hy en die manne het in die vallei weggekruip en hulle het vir die Amalekiete gewag. Saul het vir die Keniete 'n boodskap gestuur. Hy het gesê: “Julle moet weggaan van die Amalekiete, julle moenie by hulle bly nie. Dan sal ons julle nie doodmaak saam met die Amalekiete nie, want julle het goed gedoen aan die Israeliete toe hulle uit Egipte gekom het.” Die Keniete het toe weggegaan van die Amalekiete, en Saul het die Amalekiete aangeval. Hy het hulle oorwin, van die land Gawila tot by Sur, oos van Egipte. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig gevang maar hy het al die ander Amalekiete doodgemaak. Saul en die manne het Agag laat lewe, en ook die beste en vetste skape, bokke en beeste. Hulle wou nie al die goeie diere doodmaak nie. Hulle het al die maer en swak diere doodgemaak. Die Here het vir Samuel gesê: “Ek is jammer dat Ek vir Saul koning gemaak het, want hy was ontrou, hy het nie gedoen wat Ek gesê het nie.” Samuel was baie bekommerd en ontsteld. Hy het die hele nag tot die Here gebid en gevra dat die Here hom moet help. Hy het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Iemand het vir Samuel gesê: “Saul het na Karmel-berg gekom, en weet jy wat het hy gedoen? Hy het vir homself 'n gedenkteken ingeplant. Daarna het hy verder gegaan na die stad Gilgal.” Samuel het na Saul toe gegaan, en Saul het vir hom gesê: “Ek bid dat die Here dit goed sal laat gaan met jou. Ek het gedoen wat die Here gesê het.” Toe sê Samuel: “Maar hoekom hoor ek skape en bokke blêr en beeste bulk?” Saul het gesê: “Die manne het die diere van die Amalekiete gevat. Hulle het die beste skape en bokke en beeste laat lewe om dit te offer vir jou God die Here. Hulle het al die ander diere doodgemaak.” Samuel sê toe vir Saul: “Bly stil. Ek sal vir jou sê wat die Here gisteraand vir my gesê het.” Saul het gesê: “Goed, ek luister.” Toe sê Samuel: “Jy het gesê jy is nie 'n belangrike man nie, maar jy is nou die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf en Hy het jou koning oor Israel gemaak. Die Here het jou gestuur en Hy het gesê jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan doodmaak, jy moet teen hulle gaan oorlog maak totdat jy hulle almal doodgemaak het. Hoekom het jy nie gedoen wat die Here vir jou gesê het nie? En hoekom het jy so vinnig hulle goed gaan vat en iets gaan doen waarvan die Here nie hou nie?” Saul het vir Samuel gesê: “Maar ek hét gedoen wat die Here gesê het, ek hét gegaan toe Hy my gestuur het. Ek het vir Agag, die koning van die Amalekiete, hiernatoe gebring, maar ek het al die Amalekiete doodgemaak. En die manne het van die skape en bokke en beeste gevat om hulle vir jou God die Here hier in Gilgal te offer. Dit is die beste van die diere wat gewy was en wat hulle moes doodmaak.” Samuel het gesê: “Wat dink jy is vir die Here die belangrikste: Dat jy brand-offers vir Hom moet bring, of dat jy doen wat Hy vir jou sê? Jy moet dit weet: Dit is beter om gehoorsaam te wees as om te offer, dit is beter om te luister na Hom as om die vet van ramme te offer. Want iemand wat opstandig is, doen ook sonde soos waarsêers sonde doen. En iemand wat ongehoorsaam is, doen ook sonde soos mense wat afgodsbeeldjies het.”

1 SAMUEL 15:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE sê Samuel vir Saul: Die HERE het my gestuur om jou as koning te salf oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE. So sê die HERE van die leërskare: Ek het terdeë gelet op wat Ámalek Israel aangedoen het, dat hy hom in die weg gestaan het by sy optog uit Egipte. Gaan nou en verslaan Ámalek, en julle moet met die banvloek tref alles wat hy het; en jy mag hom nie verskoon nie, maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel. Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Teláim: tweehonderdduisend voetgangers en tienduisend man van Juda. En toe Saul by die stad van Ámalek aankom en in die dal 'n hinderlaag opstel, sê Saul vir die Keniete: Gaan weg, verwyder julle, trek af onder die Amalekiete uit, dat ek julle nie met hulle saam wegruim nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel by hulle optog uit Egipte. Toe het die Keniete hulle verwyder onder die Amalekiete uit. En Saul het die Amalekiete verslaan van Háwila af in die rigting van Sur wat oos van Egipte lê. En Agag, die koning van Ámalek, het hy lewendig gevang, maar die hele volk deur die skerpte van die swaard met die banvloek getref. Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar, en die beste van die kleinvee en beeste, en die naas-bestes en die lammers en alles wat van waarde was — dit wou hulle nie met die banvloek tref nie; maar al die goed wat veragtelik en vervalle was, dit het hulle met die banvloek getref. En die woord van die HERE het tot Samuel gekom en gesê: Ek het berou gekry dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My afvallig geword en my woorde nie uitgevoer nie. Toe het Samuel kwaad geword en die hele nag deur die HERE aangeroep. Maar die môre vroeg het Samuel hom klaargemaak om Saul te ontmoet. En aan Samuel is meegedeel en gesê: Saul het in Karmel aangekom, en kyk, hy het vir hom 'n gedenkteken opgerig; en hy het weggedraai en verbygegaan en afgetrek na Gilgal. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Mag u geseënd wees deur die HERE: ek het die woord van die HERE uitgevoer. Daarop vra Samuel: Maar wat vir 'n geblêr van kleinvee is dit in my ore en 'n gebulk van beeste wat ek hoor? En Saul sê: Van die Amalekiete het hulle dit gebring, want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE u God te offer; maar die ander het ons met die banvloek getref. Toe sê Samuel vir Saul: Hou op, dat ek jou kan meedeel wat die HERE vannag met my gespreek het. En hy antwoord hom: Spreek. En Samuel sê: Is jy, hoewel jy klein was in jou eie oë, nie tog die hoof van die stamme van Israel nie? En die HERE het jou as koning oor Israel gesalf. En die HERE het jou op die pad gestuur en gesê: Gaan heen en tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle vernietig is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie en op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE? Toe sê Saul vir Samuel: Ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad waar die HERE my op gestuur het, en Agag, die koning van Ámalek, gebring; maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Maar die manskappe het van die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer. Daarop sê Samuel: Het die HERE behae in brandoffers en slagoffers soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as slagoffer, om te luister beter as die vet van ramme. Want wederstrewigheid is 'n sonde van waarsêery, en eiesinnigheid is afgodery en beeldediens. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.

1 SAMUEL 15:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)

Samuel het vir Saul gesê: “Dit is vir my wat die Here gestuur het om jou tot koning oor sy volk Israel te salf. Luister nou na die woorde van die Here. So het die Here die Almagtige gesê: Ek het nie vergeet wat Amalek Israel aangedoen het nie, hoe hy Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. Gaan verslaan nou vir Amalek. Jy moet alles wat hy het, om die lewe bring. Jy mag jou oor hom nie ontferm nie. Jy moet man en vrou doodmaak, kind en suigling, bees en skaap, kameel en donkie.” Saul het die manskappe opgeroep. Hy het hulle by Telaim getel: twee honderd afdelings voetsoldate en tien afdelings uit Juda. Saul het by die woonplek van die Amalekiete aangekom en sy manskappe laat stelling inneem by 'n spruit. Toe het Saul die Keniete laat weet: “Gee gou pad tussen die Amalekiete uit sodat ek julle nie saam met hulle uit die weg ruim nie, want julle het die Israeliete goed behandel toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe tussen die Amalekiete uit padgegee. Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot waar 'n mens kom by Sur teenoor Egipte. Hy het koning Agag van Amalek lewend gevang, maar die hele volk om die lewe gebring. Saul en die manskappe het Agag gespaar en ook die mooiste kleinvee en beeste, die vetstes, en die lammers en alles wat mooi was. Saul-hulle wou dit alles nie om die lewe bring nie. Al die vee wat swak en waardeloos was, het hulle wel van kant gemaak. Toe het die woord van die Here tot Samuel gekom: “Ek is bedroef daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy het van My af weggedraai en nie my opdragte uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en hy het die Here die hele nag om uitkoms gesmeek. Die oggend het Samuel hom vroeg klaargemaak om Saul te ontmoet. Iemand het vir Samuel vertel: “Saul het by Karmel gekom en nogal vir homself 'n gedenkteken opgerig. Daarna het hy omgedraai en is hy verby na Gilgal toe.” Samuel het toe by Saul gekom, en Saul het vir hom gesê: “Mag die Here u seën! Ek het die opdrag van die Here uitgevoer.” Samuel vra toe: “Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore? En wat van die gebulk van beeste wat ek hoor?” “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring,” antwoord Saul. “Dit is die goed wat deur die manskappe gespaar is, die mooiste kleinvee en grootvee om aan die Here u God te offer. Die res het ons van kant gemaak.” En Samuel sê vir Saul: “Bly stil! Laat ek jou vertel wat die Here vannag vir my gesê het.” Saul sê toe vir hom: “Praat maar.” Toe sê Samuel: “Al is jy klein in jou eie oë, is jy tog die hoof van die stamme van Israel. Die Here het jou gesalf tot koning oor Israel. Die Here het jou met 'n doel uitgestuur en Hy het jou beveel: ‘Trek op, bring die sondaars, die Amalekiete, om die lewe. Jy moet teen hulle veg totdat jy hulle uitgeroei het.’ Waarom het jy nie na die bevel van die Here geluister nie? En waarom het jy jou aan die buit vergryp en hierdie ding gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here?” Saul antwoord toe vir Samuel: “Maar ek hét na die bevel van die Here geluister! Ek het gegaan om te doen waarvoor die Here my gestuur het, ek het vir koning Agag van Amalek hierheen gebring, maar die Amalekiete het ek om die lewe gebring. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste gevat, die beste van dié wat van kant gemaak moes word, om aan die Here u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Is brandoffers en ander diereoffers net so aanneemlik vir die Here as gehoorsaamheid aan sy bevel? Nee, gehoorsaamheid is beter as offerande, om te luister is beter as die vet van ramme. Weerspannigheid is net so erg as die sonde van waarsêery; eiesinnigheid net so erg as die bedrog van afgodery. Omdat jy die woord van die Here verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

1 SAMUEL 15:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Samuel het vir Saul gesê: “Vir my het die HERE gestuur om jou as koning te salf oor sy volk Israel. Luister dan nou na die woorde van die HERE. So sê die HERE, Heerser oor alle magte, ‘Ek het raakgesien wat die Amalekiete aan Israel gedoen het, oor wat hulle vir Israel in die weg gelê het toe hy uit Egipte opgetrek het. Gaan dan nou en verslaan die Amalekiete. Julle moet alles wat aan hulle behoort, met die banvloek tref. Jy mag nie met hulle medelye hê nie. Jy moet man en vrou, kind en suigeling, bees en skaap, kameel en donkie, laat doodmaak.’ ” Daarop het Saul die manskappe opgeroep en hulle gemonster in Telaïm – tweehonderdduisend voetsoldate en tienduisend man uit Juda. Toe Saul by die stad van die Amalekiete aankom, het hy 'n hinderlaag in die dal opgestel. Saul het vir die Keniete gesê: “Gee pad! Kom weg daar tussen die Amalekiete, anders vernietig ek julle saam met hulle. Julle is die mense wat guns bewys het aan al die Israeliete toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe onder die Amalekiete uit padgegee. Saul het die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, wat langs Egipte lê. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewend gevange geneem, maar die hele volk het hy deur die swaard met die banvloek getref. Saul en die manskappe het Agag gespaar, asook die beste kleinvee en beeste, al die naasbestes, ook die ramme en alles wat goed was. Hulle wou dit nie met die banvloek tref nie; maar alles wat verwerplik en swak was, dié het hulle met die banvloek getref. Toe het die woord van die HERE tot Samuel gekom: “Ek is spyt dat Ek Saul as koning aangestel het, want hy het van My af weggedraai en my opdragte nie uitgevoer nie.” Samuel was ontsteld en het die hele nag na die HERE om hulp geroep. Samuel het vroeg die oggend opgestaan om Saul te gaan ontmoet. Samuel is meegedeel: “Saul het in Karmel aangekom, en hy het sowaar vir homself 'n gedenkteken opgerig. Toe het hy omgedraai en verder gegaan; hy is af na Gilgal toe.” Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Mag u geseënd wees deur die HERE! Ek het die opdrag van die HERE uitgevoer.” Maar Samuel vra toe: “Wat is dan die geblêr van kleinvee in my ore en die gebulk van beeste wat ek hoor?” Saul het geantwoord: “Hulle het dit van die Amalekiete af gebring; want die manskappe het die beste kleinvee en beeste gespaar, sodat hulle aan die HERE u God kan offer. Die res het ons met die banvloek getref.” Toe sê Samuel vir Saul: “Hou op, dat ek aan jou kan bekend maak wat die HERE vannag vir my gesê het.” Waarop Saul vir hom sê: “Praat!” Samuel sê toe: “Is jy nie, alhoewel jy klein is in jou eie oë, die hoof van die stamme van Israel nie? En het die HERE jou nie as koning gesalf oor Israel nie? Die HERE het jou op 'n pad gestuur. Hy het gesê, ‘Gaan tref die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek. Veg teen hulle totdat jy hulle uitgewis het.’ Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit afgestorm en gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE?” Saul sê toe vir Samuel: “Ek het geluister na die stem van die HERE. Ek het gegaan op die pad waarop die HERE my gestuur het. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar die Amalekiete het ek met die banvloek getref. Die manskappe het egter uit die buit kleinvee en beeste geneem, die beste van die bangoed, om aan die HERE u God in Gilgal te offer.” Daarop het Samuel geantwoord: “Is daar vir die HERE vreugde in •brandoffers en •maaltydoffers, soos in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, om gehoorsaam te wees is beter as maaltydoffers, om te luister beter as die vet van ramme. Ja, opstandigheid is soos die sonde van waarsêery, en eiesinnigheid soos die euwel van huisgode. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou as koning verwerp. ”

1 SAMUEL 15:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Samuel het ook vir Saul gesê: Die HERE het my gestuur om jou te salf om koning te wees oor sy volk, oor Israel; luister dan nou na die stem van die woorde van die HERE. So sê die HERE van die leërskare: Ek dink aan wat Amalek aan Israel gedoen het, hoe hy hom op die pad gewag het toe hy uit Egipte opgetrek het. Gaan nou en verslaan Amalek, en vernietig alles wat hulle het, en spaar hulle nie; maar slag man sowel as vrou, suigeling en suigeling, bees en skaap, kameel en esel. En Saul het die manskappe bymekaar laat kom en hulle in Telaim getel, twee honderd duisend voetgangers en tien duisend man van Juda. En Saul het in 'n stad van Amalek gekom en in die dal gaan lê. Toe sê Saul aan die Keniete: Gaan heen, trek weg, trek julle af onder die Amalekiete, dat ek julle nie saam met hulle vernietig nie; want julle het guns bewys aan al die kinders van Israel toe hulle uit Egipte opgetrek het. So het die Keniete onder die Amalekiete uit weggetrek. En Saul het die Amalekiete van Hawila af verslaan totdat jy by Sur kom, wat teenoor Egipte lê. En hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig geneem en die hele volk met die skerpte van die swaard met die banvloek getref. Maar Saul en die manskappe het Agag gespaar en die beste van die skape en van die beeste en van die vetgemaakte diere en die lammers en alles wat goed was, en hulle wou hulle nie met die banvloek tref nie, maar alles wat gemeen en gemors was, wat hulle heeltemal vernietig het. Toe het die woord van die HERE tot Samuel gekom en gesê: Dit berou my dat ek Saul as koning aangestel het, want hy het van my afgewyk en my gebooie nie uitgevoer nie. En dit het Samuel bedroef; en hy het die HERE die hele nag aangeroep. En toe Samuel vroeg opstaan om Saul die oggend te ontmoet, is dit aan Samuel meegedeel en gesê: Saul het by Karmel gekom, en kyk, hy het vir hom 'n plek ingerig, en hy het rondgetrek en verder gegaan en afgegaan na Gilgal. Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: Geseënd is jy deur die HERE! Ek het die bevel van die HERE uitgevoer. Toe sê Samuel: Wat beteken dan hierdie geblêr van die skape in my ore en die gelag van die beeste wat ek hoor? Toe sê Saul: Hulle het hulle uit die Amalekiete gebring, want die volk het die beste kleinvee en beeste gespaar om aan die HERE jou God te offer; en die res het ons met die banvloek getref. Toe sê Samuel vir Saul: Bly, dan sal ek jou vertel wat die HERE in hierdie nag vir my gesê het. En hy sê vir hom: Sê maar. Toe sê Samuel: Toe jy klein was in jou eie oë, is jy nie die hoof van die stamme van Israel aangestel nie, en die HERE het jou as koning oor Israel gesalf? En die HERE het jou op reis gestuur en gesê: Gaan heen en bring die sondaars, die Amalekiete, met die banvloek en veg teen hulle totdat hulle verteer is. Waarom het jy dan nie na die stem van die HERE geluister nie, maar op die buit gevlieg en gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE? Toe sê Saul vir Samuel: Ja, ek het na die stem van die HERE geluister en gegaan op die pad wat die HERE my gestuur het, en Agag, die koning van Amalek, gebring en die Amalekiete met die banvloek getref. Maar die volk het van die buit kleinvee en beeste geneem, die belangrikste van die dinge wat met die banvloek getref moes word, om aan die HERE jou God in Gilgal te offer. Toe sê Samuel: Het die HERE 'n groot behae in brandoffers en slagoffers as in gehoorsaamheid aan die stem van die HERE? Kyk, gehoorsaam is beter as slagoffer, en luister as die vet van ramme. Want opstandigheid is soos die sonde van towery, en eiesinnigheid is ongeregtigheid en afgodery. Omdat jy die woord van die HERE verwerp het, het Hy jou ook verwerp om koning te wees.

1 SAMUEL 15:1-23 Die Boodskap (DB)

Samuel het vir Saul gaan sê: “Ek is die man wat die Here gestuur het om jou koning te maak oor sy mense, die Israeliete. Luister nou mooi wat het die Here gesê. Die magtige Here het gesê Hy onthou baie goed wat die Amalekiete gedoen het toe die Israeliete uit Egipte getrek het. Hulle het die Israeliete voorgekeer. Saul, jy moet nou met die Amalekiete gaan oorlog maak. Roei hulle almal uit. Moenie jammer wees vir hulle nie. Maak hulle en al hulle diere dood: die mans en vroue, die kinders en babatjies, die beeste en die skape, die kamele en die donkies.” Saul het vir die mense laat weet hy wil teen die Amalekiete gaan veg. Hulle het by Telaim bymekaargekom, en toe hy die manne tel, was daar 200 afdelings uit Israel en tien afdelings uit Juda. Toe Saul by die dorp van die Amalekiete kom, het hy hulle met sy manne in die spruit voorgelê. Maar hy het eers vir die Keniete laat weet: “Maak dat julle wegkom van die Amalekiete af, anders maak ek julle dalk saam met hulle dood. Ek wil dit nie doen nie, want julle was goed vir die Israeliete toe hulle uit Egipte getrek het.” Die Keniete het toe van die Amalekiete af padgegee. Saul het die Amalekiete aangeval en hulle van Gawila af gejaag tot by Sur, naby Egipte. Hy het Agag, die koning van die Amalekiete, lewendig laat vang, maar al die ander mense laat doodmaak. Saul en sy mense het nie vir Agag doodgemaak nie. Hulle het ook nie die beste skape, bokke en beeste doodgemaak nie; ook nie die tweede beste diere en die jong ramme nie. Hulle wou nie die mooi diere doodmaak nie, maar die diere wat niks werd was nie, die goed wat niemand wou hê nie, dié het hulle doodgemaak. Die Here sê toe vir Samuel: “Ek is jammer Ek het vir Saul laat koning maak, want hy luister nie na My nie en doen nie wat Ek vir hom sê nie.” Samuel was baie ongelukkig daaroor en hy het dwarsdeur die nag ernstig gebid. Hy het vroeg die môre opgestaan om Saul te gaan sien. Die mense sê toe vir hom: “Saul het Karmel toe gegaan om daar vir homself ’n monument op te sit. Daarvandaan is hy hier verby af Gilgal toe.” Toe Samuel by Saul kom, sê Saul vir hom: “Die Here is goed vir jou. Ek kon alles doen wat Hy gesê het ek moet doen.” “Maar hoekom hoor ek dan skape blêr en beeste bulk?” vra Samuel. “O, dit kom van die Amalekiete af,” sê Saul. “Die manne het die beste skape en beeste saamgebring om vir die Here u God te offer. Al die ander het ons doodgemaak.” “Bly stil,” sê Samuel vir Saul. “Kom ek sê vir jou wat die Here vannag vir my gesê het.” “Ja, sê maar,” sê Saul. “Jy het mos eers gedink jy is onbelangrik, nie waar nie?” sê Samuel. “Maar toe word jy die leier van al die Israeliete, want die Here het jou koning laat maak oor Israel. Die Here het jou gestuur om vir Hom ’n werk te gaan doen. Hy het vir jou gesê: ‘Saul, jy moet daardie klomp slegte mense, die Amalekiete, gaan doodmaak. Veg teen hulle totdat daar niks van hulle oor is nie.’ Hoekom het jy nie na die Here geluister nie? Hoekom het jy van die goed gegryp wat julle by die Amalekiete gevat het? Jy het ’n lelike ding gedoen. Die Here hou niks daarvan nie.” “Maar ek hét na die Here geluister,” sê Saul vir Samuel. “Ek het gaan doen wat die Here gesê het ek moet doen. Ek het Agag, die koning van die Amalekiete, saamgebring, maar ek het al die ander Amalekiete doodgemaak. Die manne het die beste skape en beeste wat ons vir die Here moes doodmaak, gevat om hier in Gilgal vir die Here jou God te kom offer.” Toe sê Samuel: Hou die Here meer van allerhande offers as van gehoorsaamheid? Nee, om gehoorsaam te wees is beter as om offerdiere te slag, en om te luister is beter as om die vet van ramme te verbrand. Om jou teen die Here te verset en jou eie kop te volg is net so erg as om na ’n waarsêer of afgodspriester te luister. Omdat jy die Here se woorde eenkant toe gestoot het, gaan die Here jou as koning eenkant toe stoot.

1 SAMUEL 15:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag sê Samuel vir Saul: “Ek het jou as koning oor Israel gesalf omdat dit die HERE se opdrag aan my was. Luister nou na die boodskap van die HERE: Dit is wat die HERE, die Almagtige, sê: ‘Ek het besluit om Amalek tot verantwoording te roep omdat hulle Israel teengestaan het toe hulle uit Egipte getrek het. Jy moet nou gaan en Amalek heeltemal uitroei. Doen dit sonder dat jy iemand oorsien, mans, vroue, kinders, babas, grootvee, kleinvee, kamele en donkies.’” Saul het toe sy soldate by Telaim bymekaargeroep. Daar was 200 000 manskappe behalwe die 10 000 uit Juda. Saul gaan toe na die stad van Amalek en stel ’n hinderlaag by die spruit. Hy stuur ook ’n boodskap aan die Keniete: “Gee pad tussen die Amalekiete, anders sal julle saam met hulle omkom. Julle was Israel immers goedgesind toe hulle uit Egipte opgetrek het.” Die Keniete het toe padgegee. Saul het daarna die Amalekiete verslaan van Gawila af tot by Sur, oos van Egipte. Hy het Agag, die koning van Amalek, gevange geneem, maar al die ander mense en diere totaal uitgewis. Saul en sy manskappe het Agag se lewe gespaar, asook die beste skape en beeste, die vet kalwers en lammers – trouens, alles wat hulle begeer het. Hulle het net dit wat waardeloos was, vernietig. HERE Die HERE sê toe vir Samuel: “Ek is spyt daaroor dat Ek Saul koning gemaak het, want hy was ontrou aan My en ongehoorsaam aan my opdragte.” Samuel was baie ontsteld hieroor en het die hele nag lank by die HERE gepleit. Vroeg die volgende môre het Samuel vir Saul gaan soek. Iemand sê vir hom: “Saul is Karmel toe om ’n gedenkteken vir homself op te rig. Hy het toe omgedraai en Gilgal toe gegaan.” Toe Samuel hom uiteindelik kry, het Saul hom vriendelik gegroet en gesê: “Mag die HERE u seën! Ek het die HERE se opdrag uitgevoer!” “Hoekom hoor ek dan die geblêr van skape en die gebulk van beeste?” vra Samuel. “Die soldate het van die diere gespaar,” antwoord Saul. “Hulle het die beste van die skape en die beeste van Amalek saamgebring om vir die HERE u God te offer. Al die ander het ons vernietig.” Daarop sê Samuel vir Saul: “Wag ’n bietjie, laat ek jou vertel wat die HERE laas nag vir my gesê het!” “Wat was dit?” vra Saul. Samuel sê vir hom: “Voorheen het jy min van jouself gedink, tog het jy die leier van die stamme van Israel geword. Die HERE het jou tot koning van Israel gesalf. Die HERE het jou met hierdie opdrag gestuur en gesê: ‘Jy moet die sondaars, die Amalekiete, gaan vernietig en hulle almal totaal uitwis.’ Hoekom het jy nie na die HERE geluister nie? Hoekom het jy jou aan die buit vergryp en presies dit gedoen wat die HERE gesê het jy nie moes doen nie?” “Maar ek hét na die HERE geluister,” hou Saul vol. “Ek het die opdrag wat Hy my gegee het, uitgevoer. Ek het koning Agag teruggebring, maar ek het al die ander mense doodgemaak. Die soldate het die beste van die skape en beeste gebring om vir die HERE u God in Gilgal te offer.” Maar Samuel antwoord: “Wat verkies die HERE: brandoffers of gehoorsaamheid? Gehoorsaamheid is beter as offers; om te luister is beter as die vet van ramme. Opstandigheid is net so ’n oortreding soos waarsêery, en hardkoppigheid is net so ’n sonde soos afgodery. Omdat jy die HERE se woord verwerp het, het Hy jou as koning verwerp.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid