1 SAMUEL 14:1-52

1 SAMUEL 14:1-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

Op 'n dag sê Jonatan seun van Saul toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oor na die patrollie van die Filistyne toe daar oorkant.” Hy het dit egter nie vir sy pa vertel nie. Saul was toe onder 'n granaatboom by die dorsvloer net buite Gibea met omtrent ses honderd man by hom. Die priester Agija seun van Agitub, broer van Ikabod seun van Pinehas, seun van Eli wat priester van die Here in Silo was, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jonatan weggegaan het nie. Weerskante van die pas waar Jonatan probeer deurgaan het na die patrollie van die Filistyne toe, was daar 'n spits rots. Die naam van die een rots was Boses en dié van die ander Senne. Die een spits het soos 'n pilaar aan die noordekant teenoor Mikmas gestaan, en die ander aan die suidekant teenoor Gibea. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan oor na die patrollie van hierdie heidene toe. Miskien sal die Here ons help. Hy kan red, deur baie of deur min.” En sy wapendraer sê vir hom: “Net soos u wil. Ek is tot u diens.” Jonatan sê toe vir hom: “Nou toe, kom ons gaan in hulle rigting sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: ‘Staan stil totdat ons by julle kom,’ bly ons hier onder staan. Ons gaan dan nie op na hulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ gaan ons na hulle toe, want dan sal dit vir ons die teken wees dat die Here hulle in ons mag gee.” Toe die Filistynse patrollie die twee sien, het die Filistyne gesê: “Kyk daar! Party Hebreërs het uitgekom uit die gate waarin hulle weggekruip het.” En die manne van die patrollie het vir Jonatan en sy wapendraer uitgedaag: “Kom op na ons toe dat ons julle 'n les kan leer.” Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Klim agter my aan! Die Here het hulle in die mag van Israel oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet opgeklouter met sy wapendraer op sy hakke. Die vyand het voor Jonatan geval, en agter hom het sy wapendraer hulle doodgemaak. In hierdie eerste slagting deur Jonatan en sy wapendraer het omtrent twintig man geval, en dit op 'n klein stukkie grond. Toe het die hele leër van die vyand paniekbevange geword, in die laer en in die veld; die patrollie en die roofbende het ook paniekbevange geword: daar was 'n aardbewing en God het hulle paniekbevange gemaak. Toe die wagte van Saul by Gibea in Benjamin sien dat die menigte in beroering is en in die rondte maal, het Saul vir die manskappe by hom gesê: “Stel dadelik vas wie van ons is weg.” Hulle het vasgestel Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie. Saul sê toe vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester aan die praat was, het die rumoer in die laer van die Filistyne steeds groter geword. Toe sê Saul vir die priester: “Laat staan maar!” Saul en die manskappe by hom het bymekaargekom en toe hulle by die geveg kom, was die Filistyne besig om onder mekaar te veg. Daar was baie groot verwarring. Boonop het die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne se leër opgetrek het, oorgeloop na die Israeliete toe wat by Saul en Jonatan was. Al die Israeliete wat in die Efraimsberge weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug en het hulle agterna gesit. Die Here het Israel daardie dag gered. Hulle het veg-veg by Bet-Awen verbygegaan. Elke Israeliet het daardie dag kom veg. Saul het die manskappe 'n eed opgelê en gesê: “'n Ramp tref dié een wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Nie een van die manskappe het aan iets geproe nie. Die gebied was bosagtig en daar was veldheuning. Toe die manskappe in die bos kom, het dit sommerso gedrup van die heuning en tog het niemand sy mond aan iets gesit nie, want die manskappe was bang vir die eed wat hulle opgelê is. Jonatan het egter nie gehoor toe sy pa die leër die eed opgelê het nie. Hy het die punt van sy kierie in 'n heuningkoek gesteek en daarvan geëet. Dit het hom nuwe krag gegee. Een van die manskappe sê toe vir hom: “Jou pa het die manskappe 'n streng eed opgelê en gesê: ‘'n Ramp tref dié een wat vandag iets eet.’ Daarom is die manskappe nou uitgeput.” Maar Jonatan sê: “My pa het 'n ramp oor die land gebring. Kyk net, ek het nuwe krag gekry omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het. As die manskappe vandag maar net ongehinderd kon geëet het van die buit wat van die vyand afgevat is, sou die slagting onder die Filistyne nou sommer baie groot gewees het.” Daardie dag het hulle die Filistyne verslaan van Mikmas af tot by Ajalon, maar toe was die manskappe heeltemal gedaan. Hulle het op die buit toegesak en kleinvee, beeste en kalwers gevat en op die grond geslag en sommerso by die bloed geëet. Daar is toe aan Saul gesê: “Die manskappe sondig teen die Here deur by die bloed te eet.” Toe sê hy: “Julle doen verkeerd. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!” Verder het Saul gesê: “Loop tussen die manskappe deur en sê vir hulle: Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee na my toe bring en op die klip slag en dan gaan eet, sodat hulle nie teen die Here sondig deur by die bloed te eet nie.” Daardie nag het al die manskappe elkeen self sy bees gebring en daar by Saul geslag. Saul het 'n altaar vir die Here gebou: hy het die klip gebruik om 'n altaar vir die Here te bou. Daarna het Saul gesê: “Laat ons die Filistyne vannag agtervolg. Laat ons hulle plunder tot môre ligdag. Ons moenie een van hulle laat oorbly nie.” Die manskappe sê toe: “Maak soos u goedvind.” Maar die priester antwoord: “Laat ons God hier raadpleeg!” Toe het Saul vir God gevra: “Moet ek die Filistyne agtervolg? Sal U hulle in Israel se mag oorgee?” Maar God het hom nie toe geantwoord nie. Saul sê toe vir al die offisiere: “Kom hiernatoe dat julle kan uitvind en self sien wie vandag gesondig het. Al is dit ook my seun Jonatan moet hy sekerlik sterwe, so seker as wat die Here leef, Hy wat vir Israel red.” Maar geen enkele manskap het vir Saul geantwoord nie. Toe sê hy vir die hele Israel: “Julle moet eenkant toe staan. Ek en my seun Jonatan sal anderkant toe staan.” En die manskappe sê vir Saul: “Maak soos u goedvind.” Saul het vir die Here gevra: “God van Israel, gee tog 'n beslissing.” Jonatan en Saul is aangewys, en die manskappe is van blaam onthef. Toe sê Saul: “Julle moet loot tussen my en my seun Jonatan.” Jonatan is aangewys, en Saul het vir hom gesê: “Vertel my tog wat jy gedoen het.” Jonatan het vir hom vertel. Hy het gesê: “Ek het net met die punt van my kierie 'n bietjie heuning geproe. Maar ek is bereid om te sterf.” Saul sê toe: “Dit was 'n eed, Jonatan, jy moet beslis sterf!” Maar die manskappe sê vir Saul: “Moet Jonatan wat hierdie groot uitkoms vir Israel bewerk het, sterf? Beslis nie! So seker as die Here leef, daar sal vandag geen haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want met God se hulp het hy die Filistyne verslaan.” So het die manskappe vir Jonatan los gekry, en hy het nie gesterf nie. Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle gebied toe teruggegaan. Nadat Saul seker was van die koningskap oor Israel, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande in die omgewing: teen Moab en die Ammoniete; teen Edom en die konings van Soba; teen die Filistyne en teen almal wat teen hom gedraai het en gerebelleer het. Saul het dapper opgetree en die Amalekiete verslaan. Sodoende het hy Israel gered uit die mag van dié wat hom geplunder het. Die seuns van Saul was Jonatan, Jiswi en Malkisua; die name van sy twee dogters was Merab, die oudste, en Mikal, die jongste. Die naam van Saul se vrou was Aginoam dogter van Agimaäs, en die hoof van Saul se leër was Abner seun van Ner, 'n oom van Saul. Kis, Saul se pa, en Ner, Abner se pa, was seuns van Abiël. Gedurende die hele bewind van Saul was daar gedurig oorlog teen die Filistyne, en Saul het elke sterk of dapper man van wie hy gehoor het, by hom laat aansluit.

1 SAMUEL 14:1-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Op 'n dag sê Jonatan, seun van Saul, vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van die Filistyne daar oorkant.” Maar vir sy vader het hy dit nie vertel nie. Saul het aan die buitewyke van Gibea gesit onder die granaatboom by Migron. Daar was ongeveer seshonderd manskappe by hom. Agija, seun van Agitub, die broer van Ikabod, seun van Pinehas, seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het toe die efod gedra. Ook die manskappe het nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. In die middel van die pas waar Jonatan wou oorgaan na die garnisoen van die Filistyne, was daar 'n spits rotspunt aan die oorkant, en 'n spits rotspunt aan die duskant. Die naam van die een rotspunt was Boses en die naam van die ander was Senne. Die een spits verrys aan die noordekant teenoor Migmas, en die ander aan die suidekant teenoor Geba. Jonatan sê toe vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van hierdie onbesnedenes. Miskien help die HERE ons, want daar is vir die HERE geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” Sy wapendraer antwoord hom: “Doen enigiets wat u wil. As u naderkruip, kyk, ek is by u, wat u ook al besluit.” Toe sê Jonatan: “Dis reg; dan gaan ons oor na die manne, maar ons sorg dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê, ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan bly ons staan waar ons is, en klim nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê, ‘Kom op na ons toe!’ dan gaan ons op, want dan gee die HERE hulle in ons hand. Dit sal vir ons die teken wees.” Hulle twee het toe gesorg dat die garnisoen van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne sê toe: “Kyk, daar is Hebreërs besig om uit die gate te kom waar hulle weggekruip het. ” Die manne van die garnisoen skreeu toe vir Jonatan en sy wapendraer. Hulle het gesê: “Klim op na ons toe, sodat ons julle 'n les kan leer. ” Daarop sê Jonatan vir sy wapendraer: “Klim op agter my aan, want die HERE gee hulle in die hand van Israel.” Jonatan het hande-viervoet opgeklim, met sy wapendraer agter hom. Die Filistyne het voor Jonatan geval, en sy wapendraer agter hom het hulle die doodsteek toegedien. Hierdie eerste aanval, waarin Jonatan en sy wapendraer ongeveer twintig man neergevel het, het op naastenby die helfte van 'n ploegstrook plaasgevind. Dit het vrees veroorsaak in die kamp en in die veld, ja, onder al die manskappe. Die garnisoen en die stroperbendes, selfs hulle was aan die bewe. Die land het gesidder; dit was 'n vrees wat van God kom. Saul se verkenners by Gibea in Benjamin sien toe: Kyk, die massa mense spat uiteen in alle rigtings! Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Monster die manne, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Hulle hou toe 'n monstering en sowaar, Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie! Toe sê Saul vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was immers in dié tyd by die Israeliete. Terwyl Saul nog met die priester praat, raak die opskudding wat in die kamp van die Filistyne heers, al hoe erger. Saul sê toe vir die priester: “Hou jou hand terug!” Saul en al die manskappe wat by hom was, het op sy bevel byeengekom en tot die stryd toegetree. En kyk, onder die Filistyne was daar volslae verwarring: Elkeen se swaard was teen sy makker gerig! En die Hebreërs wat vroeër by die Filistyne aangesluit het, wat van oraloor saam met hulle in die leër opgetrek het, selfs hulle was gereed om aan te sluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jonatan was. Al die manne van Israel wat in die heuwelland van Efraim weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug, en ook hulle het in die geveg aan die hakkejag deelgeneem. Die HERE het Israel daardie dag verlos. Die geveg het voortgewoed tot anderkant Bet-Awen. Die manne van Israel was daardie dag onder druk, want Saul het die manskappe 'n eed opgelê deur te sê: “Vervloek is die man wat iets eet voor vanaand, en voordat ek my op my vyande gewreek het.” Nie een van die manskappe het toe sy mond aan iets gesit nie, en so ook die hele land. Hulle kom toe in 'n bos waar daar heuning op die grond was. Toe die manskappe by die bos aankom, is daar sowaar heuning in oorvloed! Maar niemand het daaraan geraak nie, want die manskappe was bang vir die eed. Jonatan het egter nie gehoor toe sy vader die manskappe 'n eed opgelê het nie. Hy het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek, dit in 'n heuningkoek gedoop en dit met sy hand na sy mond gebring. Sy oë het daarvan opgehelder. Een van die manskappe reageer toe en sê: “Jou pa het die manskappe streng onder eed geplaas deur te sê, ‘Vervloek is die man wat vandag iets eet.’ Dit is waarom die manskappe moeg geword het.” Daarop sê Jonatan: “My pa dompel die land in ellende. Kyk tog: My oë het opgehelder omdat ek aan hierdie bietjie heuning geproe het – hoeveel te meer die manskappe s'n, as hulle vandag goed kon eet van die buit wat hulle by hulle vyande afgeneem het! Want nou is die slagting onder die Filistyne nie so groot nie.” Hulle het daardie dag die Filistyne verslaan van Migmas af tot by Ajalon. Die manskappe was baie moeg, en het op die buit toegesak. Hulle het kleinvee, beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag. Hulle het dit met bloed en al geëet. Saul is meegedeel: “Kyk, die manskappe is besig om teen die HERE te sondig deur vleis met bloed en al te eet.” Toe sê hy: “Julle was ontrou. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!” Saul het ook gesê: “Beweeg tussen die manskappe deur en sê vir hulle, ‘Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee hier na my toe bring en dit hier slag en eet, sodat julle nie teen die HERE sondig deur dit met bloed en al te eet nie.’ ” Al die manskappe het toe daardie nag elkeen sy bees saamgebring en dit daar geslag. So het Saul vir die HERE 'n altaar opgerig. Dit was die eerste keer dat hy vir die HERE 'n altaar opgerig het. Saul het gesê: “Ons moet in die nag aftrek agter die Filistyne aan, tot ligdag toe onder hulle buit maak, en niemand onder hulle laat oorbly nie.” Die manskappe het gesê: “Doen wat goed is in u oë!” Maar die priester het gesê: “Laat ons hier eers tot God nader.” Saul het God toe geraadpleeg: “Moet ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in die hand van Israel oorgee?” Maar God het hom daardie dag nie geantwoord nie. Toe sê Saul: “Kom hier, al julle steunpilare van die volk! Vind uit, stel vas waarmee hierdie sonde vandag begaan is. Want so waar as die HERE leef, Hy wat Israel verlos – selfs as dit deur my seun Jonatan gedoen is, moet hy beslis sterf. ” Maar van al die manskappe het nie een hom geantwoord nie. Toe sê hy vir die hele Israel: “Staan julle aan die een kant, dan sal ek en my seun Jonatan aan die ander kant staan.” Die manskappe het Saul geantwoord: “Doen wat goed is in u oë!” Saul sê toe vir die HERE: “God van Israel, gee duidelikheid! ” Jonatan en Saul is uitgewys, en die manskappe was vry. Toe sê Saul: “Werp die lot tussen my en my seun Jonatan.” En Jonatan is uitgewys. Daarop sê Saul vir Jonatan: “Sê vir my wat jy gedoen het.” Jonatan het hom toe vertel. Hy het gesê: “Ek het maar net aan 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek – ek sal sterf.” Toe sê Saul: “Mag God my swaar straf as jy nie beslis sterf nie, Jonatan.” Maar die manskappe het vir Saul gesê: “Moet Jonatan, wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het, sterf? Hoegenaamd nie! So waar as die HERE leef, nie 'n haar van sy kop sal op die grond val nie! Want met God se hulp het hy dit vandag gedoen.” So het die manskappe Jonatan laat vrykom, en hy het nie gesterf nie. Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle plek toe gegaan. Saul het die koningskap oor Israel onder beheer gekry, en het op alle fronte oorlog gevoer teen al sy vyande: teen Moab, teen die Ammoniete, teen Edom, teen die konings van Soba en teen die Filistyne. Waar hy ook al gekom het, het hy redding gebring. Hy het dapper opgetree en Amalek verslaan. Hy het Israel gered uit die hand van hulle plunderaars. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua; sy twee dogters se name was Merab, die oudste, en Migal, die jongste. Saul se vrou se naam was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die naam van die bevelvoerder van sy leër was Abner, seun van Ner, die oom van Saul. Kis, die vader van Saul, en Ner, Abner se vader, was seuns van Abiël. Daar was hewige gevegte met die Filistyne solank Saul geleef het. Wanneer Saul enige heldhaftige of onverskrokke man gesien het, het hy dié by hom laat aansluit.

1 SAMUEL 14:1-52 Bybel vir almal (ABA)

Eendag het Jonatan seun van Saul vir sy wapendraer gesê: “Kom, ek wil hê ons moet die Filistyne gaan aanval wat daar oorkant wagstaan.” Jonatan het nie vir sy pa vertel wat hy wou doen nie. Saul het onder 'n granaatboom gesit wat in Migron was, naby die stad Gibea. Daar was omtrent 600 manne by hom. Hulle het ook nie geweet dat Jonatan gegaan het nie. Agija het die skouer-kleed aangehad. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Ikabod was die seun van Pinehas, en Pinehas was die seun van Eli, die priester van die Here in Silo. Jonatan moes oor die bergpas gaan om by die groep Filistyne te kom. Daar was 'n skerp rots langs elke kant van die bergpas. Die naam van die een rots was Boses en die naam van die ander rots was Senne. Die een rots het soos 'n pilaar gestaan, langs die noordekant van die bergpas, naby Mikmas, en die ander rots was langs die suidekant van die bergpas, naby Geba. Jonatan het vir sy wapendraer gesê: “Kom ons gaan op na daardie heidene toe. Miskien sal die Here ons help, want niks kan die Here keer wanneer Hy iemand wil red nie. Hy gebruik baie mense of min mense.” Jonatan se wapendraer het vir hom gesê: “Jy moet alles doen wat jy dink is reg. Gaan, en ek sal doen wat jy doen.” Toe sê Jonatan: “Wanneer ons opgaan na hulle toe, dan moet ons só loop dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Bly daar, ons kom na julle toe,’ dan moet ons staan waar ons is, ons moenie opgaan na hulle toe nie. Maar as hulle vir ons sê: ‘Kom op na ons toe,’ dan moet ons opgaan, want dit sal vir ons wys dat die Here ons sal laat wen teen hulle.” Jonatan en sy wapendraer het só geloop dat die Filistyne kon sien hulle kom, en die Filistyne het gesê: “Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate waar hulle weggekruip het.” Die manne van die groep Filistyne het vir Jonatan en sy wapendraer gesê: “Kom op na ons toe, ons sal vir julle wys wie is die sterkste.” Toe sê Jonatan vir sy wapendraer: “Kom saam met my, want die Here sal ons laat wen teen hulle.” Jonatan het op sy hande en voete opgeklim en sy wapendraer het agter hom gekom. Jonatan het die Filistyne met sy swaard gekap, en hulle het op die grond geval, en sy wapendraer het die Filistyne agter Jonatan doodgemaak. Jonatan en sy wapendraer het daardie eerste dag omtrent 20 Filistyne doodgemaak. Die grond waarop hulle die Filistyne doodgemaak het, was omtrent so groot soos 'n halwe ploeg-akker. Die Filistyne in die kamp het almal baie bang geword, en die Filistyne wat goed moes bymekaarmaak om weg te vat, het gebewe. Almal in die land was baie bang, want hulle het groot geskrik. Saul se wagte in Gibea in die land Benjamin het gesien dat die Filistyne vlug en dat hulle heen en weer hardloop. Saul het gesê: “Tel hoeveel manne hier is en kyk wie is nie hier nie.” Hulle het getel, en hulle het gesien Jonatan en sy wapendraer was nie daar nie. Saul het vir die priester Agitub gesê: “Bring die kis van God nader.” Die kis was daardie dag by die Israeliete. Maar Saul was besig om met die priester te praat, toe hoor hulle die Filistyne skree harder en harder en hulle sien dat die Filistyne heen en weer hardloop. Saul sê toe vir die priester: “Los die kis.” Saul en al die manne het geskree om die oorlog te begin en hulle het gegaan om die Filistyne aan te val. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak, en alles was baie deurmekaar. Die Hebreërs wat voorheen saam met die Filistyne was en wat saam met hulle gekom het om oorlog te maak, het nou na die Israeliete toe gekom wat by Saul en Jonatan was. Al die Israeliete wat weggekruip het in die Efraim-berge, het gehoor dat die Filistyne gevlug het. Hulle het ook die Filistyne gevolg en gejaag. Die Here het die Israeliete daardie dag gered. Hulle het oorlog gemaak tot verby die stad Bet-Awen. Toe die manne van Israel daardie dag nader kom, het Saul gewaarsku en gesê: “Ek vervloek die man wat voor vanaand eet, hy sal sterf, want ek wil eers my vyande straf.” Nie een van die manne het toe daardie dag geëet nie. Hulle het in 'n bos gekom, en daar was heuning in die grond. Toe die manne in die bos kom, sien hulle daar drup baie heuning, maar niemand het daarvan geëet nie, want hulle was bang vir wat Saul gesê het. Maar Jonatan het nie gehoor toe sy pa dit vir die manne gesê het nie. Hy het 'n kierie by hom gehad. Hy het die kierie se punt in die heuning gesteek en hy het die heuning afgelek. Hy het dadelik baie beter gevoel. Een van die manne het vir hom gesê: “Jou pa het gesê die manne mag nie vandag eet nie, en die man wat eet, sal sterf. Nou is die manne swak van die honger.” Jonatan het gesê: “My pa bring die dood oor die land. Kyk, ek het van die heuning geproe en ek voel nou baie beter. As die manne vandag geëet het van die goed wat hulle gevat het van die vyande, dan sou dit met hulle ook baie beter gegaan het. Maar nou het hulle nie baie Filistyne doodgemaak nie.” Die Israeliete het daardie dag teen die Filistyne geveg van die stad Mikmas tot by Ajalon, en hulle was baie moeg. Die manne het van die skape en bokke en beeste gevang wat hulle gevat het van die Filistyne. Hulle het die diere op die grond geslag en hulle het die vleis geëet wat vol bloed was. Iemand het vir Saul gaan sê: “Jy moet kyk, die manne doen sonde teen die Here, hulle eet vleis wat vol bloed is.” Saul het gesê: “Julle is ontrou aan die Here. Julle moet vandag 'n groot klip hiernatoe rol. Dan moet julle vir al die manne sê elkeen moet sy bees of sy skaap bring en hy moet dit hier slag en eet. Hulle moenie sonde doen teen die Here nie, hulle moenie vleis eet wat vol bloed is nie.” Al die manne het toe in die nag hulle diere gebring en daar geslag. Saul het 'n altaar vir die Here gebou. Dit was die eerste maal dat hy 'n altaar vir die Here gebou het. Daarna het Saul gesê: “Kom ons gaan vannag en ons veg teen die Filistyne en vat hulle goed. Ons moet aanhou tot die oggend, ons moenie een van hulle laat aanhou lewe nie.” Die manne het gesê: “Jy moet doen wat jy dink is reg.” Maar die priester het gesê: “Ons moet eers hier voor God kom staan en vir Hom vra wat ons moet doen.” Saul het toe vir God gevra: “Moet ons die Filistyne gaan aanval? Sal U ons laat wen teen hulle?” Maar God het daardie dag nie vir Saul geantwoord nie. Saul het toe gesê: “ Offisiere, julle moet hiernatoe kom, ons moet uitvind wie hierdie sonde gedoen het. Want die man wat die sonde gedoen het, sal sterf, dit is seker, so seker soos die Here lewe, Hy wat vandag vir Israel gered het. Die man sal sterf, ook as dit my seun Jonatan is.” Nie een van die manne het hom geantwoord nie. Hy het vir al die Israeliete gesê: “Julle moet hier staan, en ek en my seun Jonatan sal daar anderkant staan.” Die manne het vir Saul gesê: “Jy moet doen wat jy dink is reg.” Saul het vir die Here gesê: “God van Israel, sê vir ons die waarheid, sê wie is skuldig.” Die Here het gesê dit is Jonatan of Saul, nie die manne nie. Toe sê Saul vir die priester: “Vra nou wie is skuldig, ek of my seun Jonatan.” Die Here het gesê dit is Jonatan. Saul sê toe vir Jonatan: “Vertel vir my wat jy gedoen het.” Jonatan het vir hom gesê: “Ek het net 'n bietjie heuning geproe wat aan die punt van my kierie was. Hier is ek, ek sal sterf.” Toe sê Saul: “Jonatan, so seker soos die Here lewe, jy moet sterf.” Maar die manne het vir Saul gesê: “Moet Jonatan sterf? Nee, nooit nie! Dit is hý wat die Israeliete gehelp het om te wen! So seker soos die Here lewe, daar sal nie een haar van Jonatan se kop op die grond val nie, want God het hom gehelp.” So het die manne vir Jonatan gered. Hy het nie gesterf nie. Saul het opgehou om die Filistyne te jaag, en die Filistyne het teruggegaan na hulle land. Nadat Saul koning geword het oor die Israeliete, het hy oorlog gemaak teen al sy vyande rondom die land Israel: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die konings van die land Soba, en die Filistyne. Hy het oral gewen teen die vyande. Hy het sy manne geneem en hulle het die Amalekiete oorwin. So het hy die Israeliete gered van almal wat altyd hulle goed kom vat het. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malki-Sua, en sy twee dogters se name was Merab en Mikal. Saul se vrou was Aginoam dogter van Agimaäs. Die hoof van Saul se leër was Abner. Abner se pa was Ner. Ner was Saul se oom. Saul se pa was Kis. Kis en Ner was die seuns van Abiël. Die oorlog teen die Filistyne het aangehou so lank soos Saul koning was, en hy het elke man wat kon oorlog maak, saam met hom geneem.

1 SAMUEL 14:1-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN op 'n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van die Filistyne wat daar oorkant is. Maar aan sy vader het hy dit nie te kenne gegee nie. En Saul het gesit op die grens van Gíbea onder die granaatboom wat by Migron staan; en die manskappe by hom was omtrent seshonderd man. En Ahía, die seun van Ahítub, die broer van Íkabod, die seun van Pínehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, het die skouerkleed gedra. Maar die manskappe het nie geweet dat Jónatan weggegaan het nie. Nou was daar tussen die passe waar Jónatan wou deurgaan na die wagpos van die Filistyne, 'n spits rots oorkant en 'n spits rots duskant, en die naam van die een was Boses en die naam van die ander Sene. Die een spits staan soos 'n pilaar noord teenoor Migmas, en die ander een suid teenoor Geba. Jónatan dan het aan die dienaar wat sy wapens dra, gesê: Kom, ons gaan oor na die wagpos van daardie onbesnedenes; miskien sal die HERE vir ons optree, want by die HERE is daar geen verhindering om deur baie of deur min te verlos nie. Toe sê sy wapendraer vir hom: Doen alles wat in u hart is, maak soos u wil; hier is ek by u volgens die wens van u hart. Daarop sê Jónatan: Kyk, ons sal na die manne toe oorgaan en ons aan hulle vertoon. As hulle vir ons só sê: Staan stil totdat ons by julle kom! dan moet ons op ons plek bly staan en nie na hulle opklim nie. Maar as hulle só sê: Kom op na ons toe! dan klim ons op, want dan het die HERE hulle in ons hand gegee; en dit sal vir ons die teken wees. Toe hulle twee hul aan die wagpos van die Filistyne vertoon, sê die Filistyne: Kyk, daar kom Hebreërs uit die gate uit waar hulle weggekruip het. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer aangespreek en gesê: Klim op na ons toe, dan sal ons julle 'n les leer! Daarop sê Jónatan aan sy wapendraer: Klim op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel gegee. En Jónatan het op sy hande en voete uitgeklim, en sy wapendraer agter hom aan; en hulle het voor Jónatan geval terwyl sy wapendraer agter hom aan van kant maak. Hierdie eerste slag waarin Jónatan en sy wapendraer ongeveer twintig man verslaan het, het plaasgevind op omtrent die helfte van 'n aanvoorsel van 'n stuk land. Toe kom daar 'n skrik in die laer, in die veld en onder al die manskappe; die wagpos en die roofkommando, hulle het ook geskrik, ja, die land het gebewe, sodat dit 'n skrik van God geword het. En toe die spioene van Saul in Gíbea in Benjamin sien dat die menigte daar verward heen en weer golf, sê Saul aan die manskappe wat by hom was: Hou tog 'n monstering en kyk wie van ons af weggegaan het. En by die monstering het geblyk dat Jónatan en sy wapendraer daar nie was nie. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God nader. Want die ark van God was in dié tyd by die kinders van Israel. En terwyl Saul nog met die priester spreek en die rumoer wat in die laer van die Filistyne was, altyddeur groter word, sê Saul vir die priester: Trek jou hand terug! Saul en al die manskappe wat by hom was, is toe saamgeroep, en hulle het by die geveg aangekom; en kyk, die swaard van die een was teen die ander — 'n baie groot verwarring. Selfs die Hebreërs wat die Filistyne soos gister en eergister bygestaan het, wat verspreid met hulle saam in die leër opgetrek het, hulle het ook aangesluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jónatan was. Toe al die manne van Israel wat op die gebergte van Efraim weggekruip het, hoor dat die Filistyne vlug, het dié hulle ook in die geveg agternagesit. En die HERE het Israel op dié dag verlos. Toe die geveg dan by Bet-Awen verbygaan, en die manne van Israel dié dag aangedryf word, het Saul die manskappe besweer en gesê: Vervloek is die man wat iets eet tot vanaand, sodat ek my op my vyande kan wreek. Daarom het al die manskappe aan niks geproe nie. En al die mense het in 'n bos gekom, en daar was heuning op die veld. Toe die manskappe in die bos kom, was daar oorvloed van heuning; maar niemand het met sy hand aan sy mond geraak nie, omdat die manskappe bevrees was vir die eed. Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die manskappe besweer het nie en het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in 'n heuningkoek gedoop en sy hand aan sy mond gebring, en sy oë het helder geword. Daarop spreek een van die manskappe hom aan en sê: Jou vader het die manskappe met hierdie dure eed besweer: Vervloek is die man wat vandag iets eet. Daarom is die volk afgemat. En Jónatan sê: My vader stort die land in die ongeluk; kyk tog hoe helder my oë nou is, omdat ek hierdie bietjie heuning geproe het. Hoeveel te meer as die manskappe vandag vry kon eet van die buit van hul vyande wat hulle gevind het! Maar nou is die slagting onder die Filistyne nie groot nie. Maar dié dag het hulle die Filistyne verslaan van Migmas af na Ájalon toe, en die manskappe was baie afgemat. En die manskappe het op die buit afgestorm, en kleinvee en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die manskappe het dit met bloed en al geëet. Toe daar aan Saul geboodskap is: Kyk, die manskappe besondig hulle teen die HERE deur met bloed en al te eet, het hy gesê: Julle handel troueloos; rol nou 'n groot klip na my toe. Verder het Saul gesê: Versprei julle onder die manskappe en sê aan hulle: Bring na my elkeen sy bees en elkeen sy stuk kleinvee, en slag dit hier en eet; maar besondig julle nie teen die HERE deur met bloed en al te eet nie. En al die manskappe het elkeen in die nag sy bees met sy hand gebring en dit daar geslag. En Saul het vir die HERE 'n altaar gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir die HERE gebou het. Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan, en laat ons onder hulle plunder totdat dit môre lig word; en ons moet nie een onder hulle laat oorbly nie. En hulle antwoord: Doen alles wat goed is in u oë. Maar die priester het gesê: Laat ons hier tot God nader. Toe het Saul God geraadpleeg: Sal ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in Israel se hand gee? Maar Hy het hom dié dag nie geantwoord nie. En Saul sê: Kom nader hierheen, al die hoofde van die volk, en ondersoek en kyk waarin hierdie sonde vandag begaan is. Want so waar as die HERE leef wat Israel verlos, al was dit ook in my seun Jónatan, dan moet hy sekerlik sterwe! Maar niemand uit al die manskappe het hom geantwoord nie. Daarop sê hy aan die hele Israel: Julle moet eenkant staan, en ek en my seun Jónatan sal eenkant staan. En die manskappe antwoord Saul: Doen wat goed is in u oë. Toe sê Saul aan die HERE: God van Israel, gee tog die waarheid! En Jónatan en Saul is aangewys, maar die manskappe het vry uitgegaan. En Saul sê: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is aangewys. Daarop vra Saul vir Jónatan: Gee my tog te kenne wat jy gedoen het. En Jónatan het hom te kenne gegee en gesê: Ek het net 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was; hier is ek, ek sal sterwe. Toe sê Saul: Mag God aan my so doen en so daaraan toedoen, jy moet sekerlik sterwe, Jónatan! Maar die manskappe het aan Saul gesê: Moet Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? Volstrek nie! So waar as die HERE leef, geen haar van sy hoof sal op die aarde val nie! Want met God het hy dit vandag gedoen. So het die volk dan Jónatan losgekoop, dat hy nie gesterf het nie. Daarna het Saul agter die Filistyne teruggetrek, en die Filistyne het na hulle plek gegaan. SO het Saul dan die koningskap oor Israel verkry en oorlog gevoer rondom teen al sy vyande: teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en oral waarheen hy hom gewend het, het hy straf geoefen. En hy het hom dapper gedra: hy het Ámalek verslaan en Israel gered uit die hand van sy berower. En die seuns van Saul was Jónatan en Jiswi en Malkisúa, en die naam van sy twee dogters: die naam van die oudste was Merab, en die naam van die jongste Migal. En die naam van Saul se vrou was Ahínoam, 'n dogter van Ahímaäs; en die naam van sy leërowerste was Abner, die seun van Ner, die oom van Saul. En Kis was die vader van Saul, en Ner, die vader van Abner, was die seun van Abíël. Die oorlog teen die Filistyne was hewig al die dae van Saul; en waar Saul ook 'n held of 'n dapper man sien, het hy hom by hom opgeneem.

1 SAMUEL 14:1-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En op 'n dag het Jónatan, die seun van Saul, aan die jongman wat sy wapenrusting gedra het, gesê: Kom, laat ons oortrek na die wagpos van die Filistyne wat anderkant is. Maar hy het dit nie vir sy pa vertel nie. En Saul het aan die einde van Gíbea gebly onder 'n granaatboom wat in Migron is; en die manskappe wat by hom was, was omtrent seshonderd man; En Ahia, die seun van Agitub, die broer van Ikabod, die seun van Pinehas, die seun van Eli, die priester van die HERE in Silo, met 'n skouerkleed. En die volk het nie geweet dat Jónatan weg was nie. En tussen die gange waardeur Jónatan na die wagpos van die Filistyne wou oorgaan, was daar 'n skerp rots aan die een kant en 'n skerp rots aan die ander kant; en die naam van die een was Boses, en die naam van die ander Seneh. Die voorkant van die een was noordwaarts teenoor Migmas en die ander suidwaarts teenoor Gibea. En Jónatan sê vir die jongman wat sy wapenrusting gedra het: Kom, laat ons oortrek na die wagpos van hierdie onbesnedenes; deur min. En sy wapendraer sê vir hom: Doen alles wat in jou hart is; kyk, Ek is met jou volgens jou hart. Toe sê Jónatan: Kyk, ons sal na hierdie manne oorgaan, en ons sal onsself aan hulle ontdek. As hulle so vir ons sê: Bly stil totdat ons na julle toe kom; dan sal ons op ons plek bly staan en nie na hulle toe optrek nie. Maar as hulle so sê: Kom op na ons toe; dan sal ons optrek, want die HERE het hulle in ons hand gegee, en dit sal vir ons 'n teken wees. En hulle altwee het hulleself by die wagpos van die Filistyne ontdek, en die Filistyne het gesê: Kyk, die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggesteek het. En die manne van die wagpos het Jónatan en sy wapendraer geantwoord en gesê: Kom op na ons toe, dan sal ons julle iets te kenne gee. En Jónatan sê aan sy wapendraer: Trek op agter my aan, want die HERE het hulle in die hand van Israel oorgegee. En Jónatan het op sy hande en op sy voete geklim, en sy wapendraer agter hom aan, en hulle het voor Jónatan geval; en sy wapendraer het agter hom gedood. En daardie eerste slagting wat Jonatan en sy wapendraer gemaak het, was omtrent twintig man, binne soos 'n half akker land, wat 'n juk beeste kon ploeg. En daar het bewing gekom in die leër, in die veld en onder die hele volk: die wagpos en die verwoesters het ook gebewe, en die aarde het gebewe; En die wagte van Saul in Gíbea in Benjamin het gekyk; en kyk, die skare het weggesmelt, en hulle het aangehou om mekaar te verslaan. Toe sê Saul vir die manskappe wat by hom was: Tel tog en kyk wie van ons weg is. En toe hulle getel het, was Jónatan en sy wapendraer nie daar nie. Toe sê Saul vir Ahía: Bring die ark van God hierheen. Want die ark van God was in daardie tyd by die kinders van Israel. En terwyl Saul met die priester spreek, het die geraas wat in die leër van die Filistyne was, toegeneem en toegeneem, en Saul sê vir die priester: Trek jou hand terug. En Saul en al die manskappe wat by hom was, het bymekaargekom, en hulle het in die geveg gekom; En die Hebreërs wat voor daardie tyd by die Filistyne was, wat saam met hulle na die laer opgetrek het van die omliggende land af, hulle het ook omgedraai om by die Israeliete te wees wat by Saul en Jónatan was. Net so het al die manne van Israel wat hulle in die gebergte van Efraim weggekruip het, toe hulle hoor dat die Filistyne gevlug het, hulle ook hard agter hulle aan in die geveg gevolg. So het die HERE Israel daardie dag verlos, en die geveg het deurgetrek tot by Bet-Aven. En die manne van Israel was dié dag benoud, want Saul het die volk besweer en gesê: Vervloek is die man wat tot die aand toe iets eet, dat ek my op my vyande kan wreek. So nie een van die mense het enige kos geproe nie. En almal van die land het by 'n bos gekom; en daar was heuning op die grond. En toe die manskappe in die bos kom, het die heuning gedrup; maar niemand het sy hand aan sy mond gelê nie, want die volk was bang vir die eed. Maar Jónatan het nie gehoor toe sy vader die volk besweer het nie; daarom het hy die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek en dit in 'n heuningkoek gedoop en sy hand na sy mond gelê; en sy oë was verlig. Toe antwoord een van die manskappe en sê: Jou vader het die volk streng besweer en gesê: Vervloek is die man wat vandag iets eet! En die mense was flou. Toe sê Jónatan: My vader het die land in beroering gebring; kyk tog hoe my oë verlig is, omdat ek 'n bietjie van hierdie heuning geproe het. Hoeveel te meer as die volk vandag vryelik geëet het van die buit van hulle vyande wat hulle gevind het? want was daar nie nou 'n veel groter slagting onder die Filistyne nie? En hulle het die Filistyne daardie dag van Migmas af tot by Ajalon verslaan, en die manskappe was baie moeg. En die volk het op die buit gevlieg en skape en beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag, en die volk het dit saam met die bloed geëet. Toe het hulle dit aan Saul vertel en gesê: Kyk, die volk sondig teen die HERE deurdat hulle met die bloed eet. En hy sê: Julle het oortree; rol vandag vir my 'n groot klip. Toe sê Saul: Versprei julle onder die volk en sê vir hulle: Bring vir my elkeen sy bees en elkeen sy kleinvee, en slag hulle hier en eet; en sondig nie teen die HERE deur met die bloed te eet nie. En die hele volk het daardie nag elkeen sy bees saamgebring en hulle daar geslag. En Saul het 'n altaar vir die HERE gebou; dit was die eerste altaar wat hy vir die HERE gebou het. Toe sê Saul: Laat ons in die nag aftrek agter die Filistyne aan en hulle buit tot môrelig toe, en laat ons nie een van hulle agterlaat nie. En hulle sê: Doen alles wat goed is in jou oë. Toe sê die priester: Laat ons tot God nader. En Saul het vir God raad gevra: Sal ek agter die Filistyne aan trek? sal U hulle in die hand van Israel gee? Maar hy het hom nie daardie dag geantwoord nie. Toe sê Saul: Kom nader hierheen, al die owerstes van die volk, en weet en kyk waarin hierdie sonde vandag was. Want so waar as die HERE leef wat Israel verlos, al is dit in my seun Jonatan, hy sal sekerlik sterwe. Maar daar was nie 'n man onder die hele volk wat hom geantwoord het nie. Toe sê hy vir die hele Israel: Wees aan die een kant, en ek en my seun Jonatan sal aan die ander kant wees. Toe sê die manskappe vir Saul: Doen wat goed is in jou oë. Daarom het Saul aan die HERE, die God van Israel, gesê: Gee 'n volmaakte lot. En Saul en Jónatan is gevange geneem, maar die manskappe het vrygekom. Toe sê Saul: Werp die lot tussen my en my seun Jónatan. En Jónatan is geneem. Toe sê Saul vir Jónatan: Vertel my wat jy gedoen het. En Jónatan het hom vertel en gesê: Ek het net 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was, en kyk, ek moet sterwe. Toe antwoord Saul: God doen so en nog meer, want jy sal sekerlik sterwe, Jonatan. Toe sê die volk vir Saul: Sal Jónatan sterwe wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het? God verhoed dit: so waar as die HERE leef, geen haar van sy hoof sal op die grond val nie; want hy het vandag met God gewerk. En die manskappe het Jonatan gered, sodat hy nie gesterf het nie. Toe het Saul opgetrek agter die Filistyne af, en die Filistyne het na hulle eie plek gegaan. En Saul het die koningskap oor Israel ingeneem en geveg teen al sy vyande van alle kante, teen Moab en teen die kinders van Ammon en teen Edom en teen die konings van Soba en teen die Filistyne; en waarheen hy hom ook al gedraai het, hy het hulle gekwel. En hy het 'n leër bymekaargemaak en die Amalekiete verslaan en Israel verlos uit die hand van die wat hulle beroof het. En die seuns van Saul was Jónatan en Jisui en Melkisua; en die name van sy twee dogters was dit; die naam van die eersgeborene Merab, en die naam van die jongste Migal; En die naam van Saul se vrou was Ahinoam, die dogter van Ahímaäs; en die naam van die leërowerste was Abner, die seun van Ner, Saul se oom. En Kis was die vader van Saul; en Ner, die vader van Abner, was die seun van Abiël. En daar was hewige oorlog teen die Filistyne al die dae van Saul; en toe Saul 'n sterk man of 'n dapper man sien, het hy hom na hom geneem.

1 SAMUEL 14:1-52 Die Boodskap (DB)

Op ’n dag sê Jonatan, Saul se seun, vir sy wapendraer: “Kom ons gaan daar oorkant na die Filistyne se wagte toe.” Maar hy het nie vir sy pa gesê hy gaan dit doen nie. Op daardie stadium was daar so 600 man by Saul net buite Gibea. Saul self het onder die heilige granaatboom in Migron gesit saam met die priester Agija, wat vir die Here moes vra wat hulle moet doen. Niemand het geweet dat Jonatan weg was nie. (Agija was een van die priesters van Silo. Sy pa was Agitub, Ikabod se broer. Sy oupa was Pinehas, Eli se seun.) Aan elke kant van die bergpas waar Jonatan moes oorgaan om by die Filistyne se wagte uit te kom, was daar ’n rotskoppie. Die een rotskoppie se naam was Boses, en die ander een s’n Senne. Die spits rotskoppie is aan die noordekant duskant Mikmas, die ander een aan die suidekant duskant Gibea. Jonatan sê toe vir sy wapendraer: “Kom ons gaan na die wagte van daardie klomp heidene. Dalk help die Here ons. Dit maak mos nie saak of ons baie of min mense is nie, die Here kán ons laat wen.” “Maak soos jy goeddink,” antwoord die wapendraer, “ek volg jou.” “Goed,” sê Jonatan, “kom ons loop só na daardie manne toe dat hulle ons sien. As hulle vir ons sê: ‘Wag daar tot ons by julle is,’ bly ons staan waar ons is; dan klim ons nie op na hulle toe nie. Maar as hulle sê: ‘Klim op hier na ons toe,’ dan klim ons op, want dan is dit vir ons die teken dat die Here hulle aan ons oorgegee het.” Die twee loop toe openlik na die wagte toe. “Kyk daar,” sê die Filistyne, “die Hebreërs kruip uit hulle gate uit!” “Kom op hier na ons toe,” skree hulle vir Jonatan en sy wapendraer,” dan wys ons julle ’n ding of twee!” “Volg my,” sê Jonatan vir sy wapendraer, “die Here het hulle aan die Israeliete oorgegee.” Jonatan het hande-viervoet teen die kop uitgeklim met sy wapendraer kort agter hom. Hy het die Filistyne platgeslaan, en sy wapendraer het hulle agter hom doodgesteek. Daar is omtrent twintig man dood in hierdie eerste aanval van Jonatan en sy wapendraer. Die lyke het sommer bymekaar gelê. Paniek het onder die Filistyne in die kamp losgebreek. Dié wat in die veld was, die ander wagte wat uitgesit was en die manskappe wat die Israeliete moes beroof, het hulle ook lam geskrik. Toe daar nog ’n aardbewing ook kom, was hulle doodbenoud. Die verkenners van Saul by Gibea in Benjamin het laat weet dat die kamp in rep en roer is. Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Kyk wie van ons is nie hier nie.” Hulle kom toe agter dat Jonatan en sy wapendraer nie daar is nie. Saul sê toe vir Agija: “Bring vir ons die ark van God.” (Die ark was toe by die Israeliete.) Maar terwyl Saul nog met hom praat, word die geraas in die Filistyne se kamp al groter. Saul sê vir die priester: “Los maar die ark!” Saul en al die manskappe by hom trek toe saam vir die geveg. Maar tot hulle verbasing sien hulle dat die Filistyne in die deurmekaarspul teen mekaar veg! Hebreeuse huursoldate wat vroeër altyd vir die Filistyne geveg het en wat saam met hulle in die kamp was, het hulle by die Israeliete onder Saul en Jonatan aangesluit. Al die burgers van Israel wat in die Efraimsberge gaan wegkruip het, het gehoor dat die Filistyne aan die vlug is. Ook húlle het die Filistyne gejaag. Die Here het Israel daardie dag uitgehelp. Die geveg het aangehou tot by Bet-Awen. Die Israeliete het daardie dag harde bene gekou, want Saul het die manskappe voorgesweer: “So waar as die Here leef, enigiemand wat voor vanaand iets eet voor ek wraak geneem het op my vyande, sal doodgemaak word.” Niemand het aan iets geproe nie. Al die manskappe moes deur ’n plek met baie bome gaan. Daar was byeneste in gate in die grond. Toe die manne deur die bos gaan, sien hulle die vet heuningkoeke, maar niemand het dit gewaag om daaraan te proe nie, want hulle was bang oor die eed wat Saul gesweer het. Maar Jonatan was nie by toe sy pa dit vir die manskappe gesê het nie. Hy steek die kierie wat hy in sy hand het se punt in ’n heuningkoek en lek dit af. Sy oë het sommer weer geblink. Een van die manskappe praat toe met hom daaroor: “Jou pa het ons die dood voor oë gesweer en gesê: ‘Die man wat vandag iets eet, sal doodgemaak word.’ Daarom is die manskappe so gedaan.” “My pa het die land baie skade aangedoen,” antwoord Jonatan. “Kyk hoe blink my oë nadat ek net ’n bietjie heuning geproe het. Dit sou soveel beter gewees het as die manne vandag goed kon weglê aan die goed wat hulle by die Filistyne gevat het. Ons kon die Filistyne ’n nekslag gegee het.” Daardie dag het die Israeliete van Mikmas af tot by Ajalon die Filistyne kafgeloop. Omdat die manskappe doodmoeg was, het hulle teen die aand op die goed toegesak wat hulle van die Filistyne afgeneem het. Hulle het van die skape en bokke, koeie en kalwers gegryp en dit op die grond geslag en geëet sonder dat die bloed teen ’n altaar uitgegooi is. Iemand gaan sê toe vir Saul: “Die mense sondig teen die Here as hulle die vleis eet voor die bloed teen ’n altaar uitgegooi is.” “Julle doen verkeerd,” sê Saul, “rol dadelik ’n groot klip nader.” Daarop sê hy: “Laat weet al die manskappe: Elkeen moet sy bees of skaap hier na my toe bring en dit op hierdie klip slag. Dan kan julle eet en nie teen die Here sondig met die bloed van die diere nie.” Daardie aand het elkeen wat ’n dier wou slag, dit na die groot klip gebring en dit daar geslag. So het Saul vir die Here ’n altaar met die klip gebou. Dit was die eerste keer dat hy so iets gedoen het. Saul sê toe: “Ons gaan vannag in die vlakte agter die Filistyne aan. Ons vat hulle goed, jaag hulle tot die son uitkom en maak dan die laaste een dood.” “Maak soos u goeddink,” antwoord die manskappe. Maar die priester sê: “Kom ons hoor net eers wat God daarvan sê.” Saul vra toe vir God wat hy moet doen: “Moet ek agter die Filistyne aangaan in die vlakte? Sal U hulle aan Israel oorgee?” Maar God het hom glad nie geantwoord nie. “Bring al die leiers van die volk hier bymekaar,” sê Saul. “Ek wil weet watter verkeerde ding vandag gedoen is, want sowaar as die Here, die Helper van Israel, leef, die een wat dit gedoen het, moet doodgemaak word, al is dit ook my seun Jonatan.” Maar niemand wou iets vir Saul sê nie. Hy sê toe vir al die Israeliete: “Staan julle daar, ek en my seun Jonatan sal hier staan.” “Dis goed so,” antwoord hulle vir Saul. Toe sê Saul vir die Here: “God van Israel, gee tog vir ons ’n duidelike antwoord.” Jonatan en Saul is toe geloot; die manskappe was vry. “Trek lootjies tussen my en my seun Jonatan,” sê Saul. Jonatan is geloot. Saul sê vir hom: “Vertel my wat jy gedoen het.” Jonatan vertel hom toe en sê: “Ek het maar net ’n bietjie heuning geproe met die punt van ’n stok. Moet ek nou daaroor doodgemaak word?” Saul antwoord hom: “Jy móét doodgemaak word, Jonatan. As ek nie doen wat ek vir die Here gesweer het ek sal doen nie, sal Hy my baie swaar straf.” Maar toe sê die manskappe vir Saul: “Moet Jonatan wat die Israeliete so ver laat wen het, doodgemaak word? Dit sal die dag wees! So waar as die Here leef, niemand raak aan Jonatan nie, want wat hy vandag gedoen het, het hy net reggekry omdat God hom gehelp het!” So het die manne Jonatan van die dood gered. Saul het toe nie agter die Filistyne aangegaan nie, en die Filistyne het teruggegaan na hulle eie plek. Saul het die sake van die koningskap eers goed gereël en daarna het hy oorlog gemaak teen al die vyande wat rondom die Israeliete gebly het: teen die Moabiete, die Ammoniete, die Edomiete, die koning van Soba en die Filistyne. Oral waar hy geveg het, het hy gewen. Hy was nie ’n bang man nie. Hy het die Israeliete vrygemaak van die Amalekiete wat hulle gedurig aangeval en hulle goed gevat het. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Hy het ook twee dogters gehad; die oudste se naam was Merab en die jongste Mikal. Saul was getroud met Aginaäm. Sy was die dogter van Agimaäs. Die naam van Saul se generaal was Abner. Abner was sy neef. Hy was Ner se seun. Kis, Saul se pa, en Ner was die seuns van Abiël. Solank Saul geleef het, was daar groot gevegte met die Filistyne. Daarom het Saul elke man wat kon veg en wat nie bang was nie, as ’n soldaat gebruik.

1 SAMUEL 14:1-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n dag sê Saul se seun Jonatan vir sy wapendraer: “Kom ons gaan oorkant toe na die Filistyne se wagpos.” Jonatan het nie vir sy pa gesê wat hy gaan doen nie. Intussen het Saul en sy 600 man kamp opgeslaan onder die granaatboom by die dorsvloer buite Gibea. Saam met hom was ook Agija die priester wat die skouerkleed gedra het. Hy was die seun van Agitub, die broer van Ikabod. Agitub was die seun van Pinehas en die kleinseun van Eli, wat die priester vir die HERE in Silo was. Niemand het agtergekom dat Jonatan weg was uit die kamp van die Israeliete nie. Om by die Filistyne uit te kom, moes Jonatan teen ’n pas uit en tussen twee spits rotskranse deur. Die een rots is Boses genoem en die ander Senne. Die krans aan die noordekant was teenoor Mikmas en die een aan die suidekant was teenoor Gibea. “Kom ons gaan oor na hierdie heidene toe,” sê Jonatan vir sy wapendraer. “Dalk help die HERE ons. Hy kan tog deur baie of deur min die oorwinning gee!” “Doen wat u dink goed is,” sê die wapendraer. “Ek is hart en siel saam met u!” “Goed dan,” sê Jonatan. “Ons sal oorgaan sodat hulle ons kan sien. As hulle vir ons sê: ‘Bly waar julle is, of ons sal julle doodmaak,’ moet ons hier bly en nie na hulle toe gaan nie. Maar as hulle sê: ‘Kom op hierheen,’ dan gaan ons op na hulle toe. Dit sal die teken wees dat die HERE hulle aan ons oorgegee het.” Toe die Filistyne hulle sien aankom, roep hulle: “Kyk! Die Hebreërs kom uit die gate waar hulle weggekruip het!” Toe roep hulle na Jonatan: “Kom op hierheen sodat ons vir julle ’n les kan leer!” Jonatan sê vir sy wapendraer: “Kom, klim net agter my aan, want die HERE gee hulle oor in ons mag!” Hulle klim toe hande-viervoet boontoe. Die Filistyne het voor Jonatan geval en sy wapendraer het hulle agter hom doodgemaak. In hierdie eerste geveg het Jonatan en sy wapendraer omtrent twintig man op ’n klein stukkie grond doodgemaak. Daar het paniek onder die Filistyne ontstaan, onder dié wat in die kamp was en dié in die veld. Selfs die buiteposte en die roofbendes was vreesbevange. Daar was ook ’n groot aardbewing sodat almal nog banger geword het. Saul se wagte by Gibea in Benjamin het gesien dat die Filistynse magte in alle rigtings uitmekaarspat. “Maak seker wie van ons mense is nie hier nie,” beveel Saul. Hulle stel toe vas dat Jonatan en sy wapendraer nie daar was nie. Daarop sê Saul vir Agija: “Bring die skouerkleed hier!” Destyds het Agija die skouerkleed in Israel gedra. Terwyl Saul nog met die priester praat, het die geraas in die Filistynse kamp al harder geword. Daarom sê Saul vir Agija: “Laat staan maar!” Saul en sy 600 man het hulle na die gevegsfront gehaas. Die Filistyne was besig om mekaar dood te maak en daar was groot verwarring. Selfs die Hebreërs wat voorheen die Filistyne gesteun het, het oorgeloop na die Israeliete wat by Saul en Jonatan was. Toe die Israelitiese vegters wat in die heuwels weggekruip het, sien die Filistyne vlug, het hulle ook die vyand agtervolg. So het die HERE Israel daardie dag gered. Die agtervolging het voortgegaan tot anderkant Bet-Awen. Op dié dag is die manskappe van Israel totaal ooreis. Saul het op almal ’n eed gelê en gesê: “Vervloek is elkeen wat voor vanaand iets eet. Ek wil my op my vyande wreek.” Gevolglik het niemand daardie dag iets geëet nie. Hulle het ’n bos binnegegaan waar daar baie heuning was. Toe die manne in die bos kom, het dit gedrup van heuning, maar niemand het sy mond daaraan gesit nie weens die eed wat hulle opgelê is. Maar Jonatan was nie bewus daarvan dat sy pa ’n eed afgelê het nie. Hy steek toe die punt van sy stok in die heuning en eet daarvan. Daarna het hy sterker gevoel. Een van die manskappe het gesien wat hy doen en sê: “Jou pa het die manskappe ’n streng eed laat aflê dat elkeen wat vandag iets eet, vervloek sal wees. Dis hoekom almal moeg en flou voel.” “My pa het dit vir die hele land moeilik gemaak!” sê Jonatan. “So ’n bevel skep net probleme vir ons almal. Ek het nou sommer baie meer energie noudat ek hierdie bietjie heuning geëet het! As die manskappe toegelaat is om van die kos te eet wat die vyand agtergelaat het, sou ons baie meer van hulle doodgemaak het!” Hulle het die Filistyne die hele dag agtervolg en doodgemaak, van Mikmas af tot by Ajalon. Maar die manskappe het baie moeg geword. Teen die aand het hulle op die buit toegeslaan en skape, beeste en kalwers geslag en dit geëet sonder dat hulle eers die bloed laat uitloop het. Iemand sê toe vir Saul: “Kyk, die manskappe sondig teen die HERE deur vleis te eet wat nog bloederig is.” “Dit is baie verkeerd,” sê Saul. “Kry ’n groot klip en rol dit tot hier. Gaan sê dan vir die manskappe: ‘Bring elkeen sy slagding hierheen, grootvee of kleinvee, en slag hulle hier sodat die bloed kan uitloop. Moenie teen die HERE sondig deur die vleis te eet terwyl die bloed nog daarin is nie.’” Toe het die manskappe die diere gebring en daar geslag. Saul het daar ’n altaar vir die HERE gebou. Dit was die eerste keer dat hy dit gedoen het. Daarna sê Saul: “Laat ons die Filistyne die hele nag deur agtervolg en plunder, en elkeen van hulle van kant maak.” Sy manskappe antwoord hom: “Ons sal doen soos wat u goeddink.” Maar die priester sê: “Laat ons eers vir God vra.” Saul vra toe vir God: “Moet ons die Filistyne agtervolg? Sal U ons help om hulle te verslaan?” Maar God het nie geantwoord nie. Toe sê Saul vir die leiers: “Iets is verkeerd! Al die bevelvoerders moet hierheen kom. Ons moet vasstel watter sonde vandag gepleeg is. Ek lê ’n eed af by die Naam van die HERE wat Israel bevry het dat die skuldige sekerlik sal sterf, selfs as dit my eie seun Jonatan is!” Niemand het egter ’n woord geantwoord nie. Toe sê Saul vir al die Israeliete: “Ek en Jonatan sal hier eenkant staan, en julle daar anderkant.” Die bevelvoerders het ingestem. Saul het gebid: “O HERE, God van Israel, gee tog duidelikheid.” Jonatan en Saul is deur die lot aangewys, maar die manskappe was onskuldig. Saul sê toe: “Laat daar nou tussen my en my seun Jonatan geloot word.” Jonatan is aangewys. “Sê my wat het jy gedoen?” vra Saul vir Jonatan. “Ek het ’n bietjie heuning wat aan die punt van my stok was, geproe,” antwoord Jonatan. “Hier is ek! Ek is bereid om te sterf.” Saul sê vir hom: “Jy moet sekerlik sterf, Jonatan! Mag God met my afreken as jy nie doodgemaak word nie.” Maar die manskappe het tussenbeide gekom en vir Saul gesê: “Moet Jonatan, die een wat Israel vandag verlos het, sterf? Dit mag nie gebeur nie! So waar as die HERE leef, geen haar aan sy kop sal aangeraak word nie. God het hom gebruik om vandag hierdie groot verlossing te bewerk.” Op dié manier het die manskappe vir Jonatan in die bres getree sodat hy nie doodgemaak is nie. Saul het daarop die agtervolging van die Filistyne gestaak en die Filistyne het teruggegaan huis toe. Nadat Saul homself as koning gevestig het, het hy teen sy vyande aan alle kante geveg. Dit was Moab, Ammon, Edom, die konings van Soba en die Filistyne. Hy was oral suksesvol. Hy was baie dapper en het die Amalekiete verslaan. Hy het Israel bevry uit die houvas van hulle plunderaars. Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua. Sy oudste dogter was Merab en die jonger een was Mikal. Saul se vrou was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die bevelvoerder van die leër was Abner, seun van Ner, ’n oom van Saul. Saul se pa, Kis, en Abner se pa, Ner, was broers, seuns van Abiël. Tydens Saul se bewind was daar voortdurend oorlog tussen die Israeliete en die Filistyne. Wanneer Saul ’n dapper en sterk jong man sien, het hy hom in sy leër opgeneem.