1 SAMUEL 12:20-22
1 SAMUEL 12:20-22 Bybel vir almal (ABA)
Samuel het vir die volk gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie. Julle het ál hierdie verkeerde dinge gedoen, maar julle moenie weggaan van die Here nie, julle moet Hom dien met julle hele hart. Julle moenie weggaan van Hom nie, want dan gaan julle na die afgode toe wat niks beteken nie en wat nie kan help en red nie. Want die Here sal nie sy volk los nie, Hy wil hê dat almal moet weet dat Hy die Groot God is. Ja, Hy het besluit dat julle sy volk moet wees.
1 SAMUEL 12:20-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met julle hele hart. En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom 'n volk te maak.
1 SAMUEL 12:20-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Samuel sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks. Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak.
1 SAMUEL 12:20-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die HERE af wegdraai nie. Dien die HERE met julle hele hart. Julle mag nie wegdraai nie, ja, nie agter nietige afgode aan wat geen voordeel kan bied of kan red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk nie in die steek laat nie, ter wille van sy groot Naam. Die HERE het immers besluit om julle sy volk te maak.
1 SAMUEL 12:20-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Samuel aan die volk: Wees nie bevrees nie, julle het al hierdie boosheid gedoen; En wyk julle nie af nie; want hulle is ydel. Want die HERE sal sy volk nie verlaat ter wille van sy grote Naam nie, omdat dit die HERE behaag het om julle sy volk te maak.
1 SAMUEL 12:20-22 Die Boodskap (DB)
Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel. Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks. “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees.
1 SAMUEL 12:20-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die HERE met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos! Ter wille van sy grote Naam sal die HERE nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak.