1 SAMUEL 12:1-25

1 SAMUEL 12:1-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het geluister na alles wat julle vir my gevra het, en ek het 'n koning oor julle aangestel. Hier is dan nou die koning wat voor julle uit sal loop. Ek het oud en grys geword, maar my seuns is nog hier by julle. “Ek is die een wat van my jeug af tot vandag toe voor julle uit geloop het. Hier is ek – bring getuienis teen my in voor die HERE en voor sy gesalfde. Wie se bees het ek gevat? Wie se donkie het ek gevat? Wie het ek uitgebuit? Wie het ek mishandel? Uit wie se hand het ek 'n omkoopgeskenk aanvaar en so my oë gesluit? Ek sal dit aan julle teruggee.” Hulle het gesê: “U het ons nie uitgebuit nie en ons nie mishandel nie. U het nie uit enigiemand se hand iets gevat nie.” Hy sê toe vir hulle: “Die HERE is 'n getuie teen julle, en sy gesalfde is op hierdie dag 'n getuie, dat julle niks in my hand gevind het nie.” “Hy is getuie,” het hulle gesê. Toe sê Samuel vir die volk: “Die HERE is die Een wat Moses en Aäron aangewys het en julle voorouers uit Egipteland laat optrek het. Staan dan nou gereed, sodat ek voor die HERE met julle die saak kan uitmaak oor al die weldade van die HERE wat Hy aan julle en julle voorouers bewys het: Nadat Jakob in Egipte aangekom het, het julle voorouers na die HERE om hulp geroep. Die HERE het Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorouers uit Egipte laat wegtrek en hulle op hierdie plek laat woon. Hulle het egter die HERE hulle God vergeet, en Hy het hulle oorgelewer in die hand van Sisera, die bevelvoerder van die leër van Gasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gevoer het, het hulle na die HERE om hulp geroep en gesê, ‘Ons het gesondig, want ons het die HERE verlaat en die Baäls en Astartes gedien. Red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien.’ Die HERE het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en Samuel gestuur, en Hy het julle gered uit die hand van julle vyande aan alle kante, en julle het veilig gewoon. “Maar toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê, ‘Nee, maar 'n koning moet oor ons regeer!’ – en dit terwyl die HERE julle God julle koning is. Hier is dan nou die koning wat julle verkies het, waarvoor julle gevra het. “Kyk, die HERE het vir julle 'n koning gegee. As julle ontsag sal hê vir die HERE, Hom sal dien, na sy stem sal luister en nie teen die bevel van die HERE in opstand kom nie, en as julle, en ook die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God altyd sal volg – dan is dit goed. As julle egter nie na die stem van die HERE luister nie en in opstand kom teen die bevel van die HERE, sal die hand van die HERE teen julle en teen julle koning wees. “ Staan dan nou ook gereed en aanskou hierdie groot daad wat die HERE voor julle oë gaan verrig. Is dit nie die tyd van die koringoes nie? Ek sal die HERE aanroep, sodat Hy donderslae en reën beskik. Besef dan en sien in dat julle boosheid groot is – dit wat julle in die oë van die HERE gedoen het deur 'n koning vir julle te vra. ” Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het nog dieselfde dag donderslae en reën beskik. Die hele volk het groot ontsag gehad vir die HERE en vir Samuel. Die hele volk sê toe vir Samuel: “Bid tot die HERE u God ter wille van u dienaars, sodat ons nie sterf nie; want by al ons sondes het ons nog die kwaad bygevoeg om 'n koning vir ons te vra.” Samuel het vir die volk gesê: “Moenie bang wees nie! Julle het wel al hierdie kwaad gedoen, maar moet net nie van die HERE af wegdraai nie. Dien die HERE met julle hele hart. Julle mag nie wegdraai nie, ja, nie agter nietige afgode aan wat geen voordeel kan bied of kan red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk nie in die steek laat nie, ter wille van sy groot Naam. Die HERE het immers besluit om julle sy volk te maak. “Ook wat my betref – nooit sal ek teen die HERE sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle die goeie en reguit pad leer. Maar julle moet net vir die HERE ontsag hê en Hom in getrouheid dien met julle hele hart. Ja, let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. As julle egter aanhou verkeerd optree, sal julle self en ook julle koning weggevee word.”

1 SAMUEL 12:1-25 Bybel vir almal (ABA)

Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Kyk, ek het alles gedoen wat julle gevra het en ek het 'n koning gekies en aangestel om oor julle te regeer. Daarom is die koning nou hier en hy lei julle. Ek is oud, en my seuns is hier by julle. Dit is ek wat julle gelei het vandat ek jonk was tot nou toe. Hier is ek. Sê vir my wat ek verkeerd gedoen het, sê dit waar die Here en sy gesalfde dit kan hoor. Wie se bees of donkie het ek gevat? Aan wie het ek slegte dinge gedoen en vir wie het ek laat swaarkry? Van wie het ek omkoopgeld geneem sodat ek nie reg moet oordeel nie? Sê vir my, dan sal ek dit teruggee.” Die Israeliete het gesê: “Jy het nie slegte dinge aan ons gedoen nie, jy het ons nie laat swaarkry nie, jy het van niemand iets gevat nie.” Toe sê Samuel vir hulle: “Die Here en sy gesalfde koning is getuies. Julle kan my nie beskuldig nie, ek het niks verkeerd gedoen nie.” Hulle het gesê: “Dit is waar.” Daarna het Samuel vir die volk gesê: “Die Here het vir Moses en Aäron leiers gemaak en dit is Hy wat julle voorvaders uit die land Egipte gebring het. Kom staan nou hier sodat ek vir julle kan vertel hoe goed die Here was vir julle en julle voorvaders, die Here moet dit hoor. Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders tot die Here gebid en hulle het gevra dat Hy hulle moet help. Die Here het vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte gebring en hier laat woon. Maar julle voorvaders het hulle God die Here vergeet, en toe het die Here vir Sisera gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. Sisera was die hoof van die leër van Hasor. Die Here het ook die Filistyne en die koning van Moab gebring om oorlog te maak teen die Israeliete. Die Israeliete het tot die Here gebid en gevra dat Hy hulle moet help. Hulle het gesê: ‘Ons het sonde gedoen, want ons het weggegaan van die Here en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Maar U moet ons nou red van ons vyande, dan sal ons vir U dien.’ Die Here het toe vir Jerub-Baäl gestuur en vir Bedan en Jefta en Samuel, en Hy het julle gered van julle vyande rondom julle, sodat julle veilig kon woon. Maar toe julle sien koning Nagas van die Ammoniete wil oorlog maak teen julle, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning wees om oor ons te regeer.’ Maar julle Koning is julle God die Here. En nou, hier is die koning wat julle gekies en gevra het. En hier het die Here vir julle 'n koning gegee. Dit sal goed gaan met julle as julle die Here respekteer en dien en doen wat Hy wil hê, as julle nie opstandig is teen wat Hy vir julle sê nie, en as julle altyd julle God die Here volg, julle en julle koning wat oor julle regeer. Maar as julle nie doen wat die Here wil hê nie en as julle opstandig is teen wat Hy vir julle sê, dan sal Hy teen julle wees soos Hy teen julle voorvaders was. Maar nou moet julle hier kom staan sodat julle self kan sien watter groot ding die Here sal doen. Dit is nou die tyd om die koring af te sny, dit is nie reëntyd nie. Maar ek sal tot die Here bid, en Hy sal donderweer en reën stuur, sodat julle sal weet en sien dat julle 'n baie verkeerde ding gedoen het teen die Here toe julle gesê het julle wil 'n koning hê.” Samuel het tot die Here gebid, en die Here het daardie dag donderweer en reën gestuur. Die hele volk het baie bang geword vir die Here en vir Samuel. Al die mense het vir Samuel gesê: “Jy moet tot jou God die Here bid en vra dat ons nie sal sterf nie, want ons het baie sondes gedoen, en nou het ons ook nog hierdie verkeerde ding gedoen om 'n koning te vra.” Samuel het vir die volk gesê: “Julle moenie bekommerd wees nie. Julle het ál hierdie verkeerde dinge gedoen, maar julle moenie weggaan van die Here nie, julle moet Hom dien met julle hele hart. Julle moenie weggaan van Hom nie, want dan gaan julle na die afgode toe wat niks beteken nie en wat nie kan help en red nie. Want die Here sal nie sy volk los nie, Hy wil hê dat almal moet weet dat Hy die Groot God is. Ja, Hy het besluit dat julle sy volk moet wees. En ek, julle moenie dink dat ek sonde sal doen teen die Here nie, ek sal nie ophou om vir julle te bid nie, ek sal vir julle leer om reg te lewe. Maar dan moet julle die Here eer en julle moet Hom waarlik dien met julle hele hart, en julle moet onthou dat Hy groot dinge gedoen het vir julle. Maar as julle aanhou om verkeerde dinge te doen, dan sal die Here julle én julle koning wegvee.”

1 SAMUEL 12:1-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

TOE sê Samuel aan die hele Israel: Kyk, ek het na julle geluister in alles wat julle aan my gesê het, en 'n koning oor julle aangestel. En kyk nou, die koning sal voor julle uit wandel, en ek het oud en grys geword, en my seuns is hier by julle. En ek het voor julle uit gewandel van my jeug af tot vandag toe. Hier is ek; getuig teen my voor die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees ek geneem het, en wie se esel ek geneem het, en wie ek verdruk of hard behandel het; en uit wie se hand ek omkoopgeld aangeneem het om my oë daarmee toe te maak — dan sal ek dit aan julle teruggee. En hulle antwoord: U het ons nie verdruk of ons hard behandel nie en uit niemand se hand iets aangeneem nie. Daarop sê hy vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en getuie is sy gesalfde vandag, dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle roep: Hy is getuie. Verder het Samuel aan die volk gesê: Getuie is die HERE wat Moses en Aäron voortgebring en julle vaders uit Egipteland laat optrek het. Gaan staan dan nou, dat ek met julle gerig kan hou voor die aangesig van die HERE oor al die regverdige dade van die HERE wat Hy aan julle en julle vaders gedoen het. Nadat Jakob in Egipte gekom en julle vaders die HERE aangeroep het, het die HERE Moses en Aäron gestuur; en hulle het julle vaders uit Egipte gelei, en Hy het hulle op hierdie plek laat woon. Maar hulle het die HERE hul God vergeet; daarom het Hy hulle verkoop in die hand van Sísera, die leërowerste van Hasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab — wat teen hulle geveg het. Toe het hulle die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, want ons het die HERE verlaat en die Baäls en Astártes gedien; maar red ons nou uit die hand van ons vyande, dan sal ons U dien. En die HERE het Jerúbbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle uit die hand van jul vyande rondom gered, sodat julle veilig gewoon het. Maar toe julle sien dat Nahas, die koning van die kinders van Ammon, teen julle aankom, het julle aan my gesê: Nee, maar 'n koning moet oor ons regeer, terwyl die HERE julle God tog jul koning is. Hier is dan nou die koning wat julle uitgekies het, wat julle begeer het, en kyk, die HERE het 'n koning oor julle aangestel. As julle maar die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie wederstrewig is teen die mond van die HERE nie en julle self sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God maar volg! Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie en wederstrewig is teen die mond van die HERE, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders. Gaan dus staan, en kyk na hierdie groot saak wat die HERE voor julle oë gaan doen. Is dit nie koringoestyd vandag nie? Ek sal die HERE aanroep, dat Hy donderslae en reën gee: weet dan en sien dit in dat julle kwaad groot is wat julle in die oë van die HERE gedoen het deur 'n koning vir julle te begeer. Toe het Samuel die HERE aangeroep, en die HERE het donderslae en reën op dié dag gegee, sodat die hele volk baie bevrees geword het vir die HERE en vir Samuel. Daarom het die hele volk vir Samuel gesê: Bid tot die HERE u God vir u knegte, dat ons nie sterf nie, omdat ons by al ons sondes nog kwaad gedoen het deur 'n koning vir ons te begeer. Toe sê Samuel vir die volk: Wees nie bevrees nie. Julle het al hierdie kwaad gedoen; maar wyk nie van die HERE af nie, en dien die HERE met julle hele hart. En julle mag nie afwyk nie, want dan gaan julle agter nietige afgode aan wat nie kan help of red nie, omdat hulle nietighede is. Want die HERE sal sy volk ter wille van sy grote Naam nie verwerp nie, omdat dit die HERE behaag het om van julle vir Hom 'n volk te maak. Ook wat my betref, dit is ver van my dat ek teen die HERE sou sondig, dat ek sou ophou om vir julle te bid; maar ek sal julle in die goeie en regte weg onderrig. Vrees net die HERE en dien Hom getrou met julle hele hart; want kyk watter groot dinge Hy by julle gedoen het. Maar as julle ooit verkeerd handel, sal julle self sowel as julle koning omkom.

1 SAMUEL 12:1-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Samuel het vir die hele Israel gesê: “Kyk, ek het aan julle versoek toegegee; soos julle vir my gevra het, het ek 'n koning oor julle aangestel. Hier is die koning dan nou. Hy sal julle lei. Maar ek het oud en grys geword en my seuns is hier saam met julle. Ek het julle van my jeug af tot nou toe gelei. Lê dan nou getuienis teen my af in die teenwoordigheid van die Here en sy gesalfde. Van wie het ek 'n os gevat? Van wie het ek 'n donkie gevat? Wie het ek benadeel of wie het ek verdruk? Uit wie se hand het ek omkoopgeld aangeneem om 'n onreg oor te sien? Ek sal dit terugbetaal.” Toe antwoord hulle: “U het ons nie benadeel en ons ook nie verdruk nie. U het van niemand iets gevat nie.” Verder sê Samuel vir hulle: “Die Here is hier by julle getuie, en sy gesalfde is vandag ook getuie dat julle niks teen my gevind het nie.” En hulle sê: “Hy is getuie.” Samuel sê toe vir die volk: “Die Here deur wie Moses en Aäron gemaak is wat hulle was, en deur wie julle voorgeslag uit Egipte gebring is, is getuie. Kom staan nou hier dat ek julle voor die Here kan onderrig op grond van al die reddingsdade van die Here wat Hy vir julle en julle voorgeslag gedoen het. “Nadat Jakob in Egipte gekom het, het julle voorvaders na die Here geroep om hulp. Die Here het toe vir Moses en Aäron gestuur, en hulle het julle voorvaders uit Egipte uit gelei en in hierdie land laat woon. Maar julle voorvaders het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die leëraanvoerder van Hasor, en in die mag van die Filistyne en van die koning van Moab, wat almal teen julle voorvaders oorlog gemaak het. Hulle het na die Here geroep om hulp en het bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die Here verlaat en ons het die Baäls en die Astartes gedien. Red ons tog nou uit die mag van ons vyande, en ons sal U dien.’ Toe het die Here vir Jerubbaäl, Barak, Jefta en Samuel gestuur en julle bevry uit die mag van julle vyande rondom julle sodat julle rustig kon woon. Toe julle sien dat koning Nagas van die Ammoniete teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar moet 'n koning oor ons heers,’ hoewel die Here julle God tog julle koning is. “Hier is dan nou die koning vir wie julle verkies het, op wie julle aangedring het. Kyk, die Here het 'n koning oor julle aangestel. As julle eerbied aan die Here betoon, Hom dien en na sy stem luister en julle ook nie verset teen die bevel van die Here nie, julle sowel as die koning wat oor julle regeer, sal die Here julle God by julle wees. As julle nie na die stem van die Here luister nie en ongehoorsaam is aan die bevel van die Here, sal die Here teen julle wees, soos teen julle voorvaders. “Staan nog net 'n rukkie en let op hierdie groot ding wat die Here voor julle oë gaan doen. Hoewel dit nou nie reëntyd is nie, gaan ek die Here aanroep sodat Hy donderslae en 'n stortreën gee. Kyk daarna en besef dan dat julle in die oë van die Here 'n baie verkeerde ding gedoen het deur vir julle 'n koning te vra.” Samuel het die Here aangeroep, en die Here het op dieselfde dag donderslae en 'n stortreën gegee, en die hele volk het groot ontsag gekry vir die Here, en ook vir Samuel. Die hele volk het vir Samuel gesê: “Bid tot die Here u God vir ons sodat ons nie sterwe nie, want by al ons sondes het ons nog boonop 'n verkeerde ding gedoen deur vir ons 'n koning te vra.” Samuel sê toe vir die volk: “Moenie bang wees nie, julle het nou wel hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet nou net nie van die Here af wegdraai nie. Dien die Here met julle hele hart. Moenie agter afgode aan wegdraai nie. Hulle kan nie help of red nie, want hulle is niks. Ter wille van sy groot Naam sal die Here nie sy volk prysgee nie. Die Here het besluit om julle sy volk te maak. Ook ek sal nie teen die Here sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal julle aanhou onderrig in die goeie en reguit pad. Wees net gehoorsaam aan die Here en dien Hom opreg en met julle hele hart. Let op die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle opsetlik verkeerd doen, sal julle sowel as julle koning uitgewis word.”

1 SAMUEL 12:1-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Toe sê Samuel aan die hele Israel: Kyk, ek het na julle stem geluister in alles wat julle vir my gesê het, en ek het 'n koning oor julle aangestel. En nou, kyk, die koning loop voor julle uit, en ek is oud en gryshoofdig; en kyk, my seuns is by julle, en ek het voor julle gewandel van my kinderdae af tot vandag toe. Kyk, hier is ek: getuig teen my voor die aangesig van die HERE en voor sy gesalfde: wie se bees het ek geneem? of wie se esel het ek gevat? of wie het ek bedrieg? wie het ek verdruk? of uit wie se hand het ek enige omkoopgeld ontvang om my oë daarmee te verblind? en Ek sal dit vir jou herstel. En hulle het gesê: U het ons nie bedrieg of verdruk nie, en u het niks uit iemand se hand geneem nie. En hy sê vir hulle: Die HERE is getuie teen julle, en sy gesalfde is vandag getuie dat julle niks in my hand gevind het nie. En hulle antwoord: Hy is getuie. Toe sê Samuel aan die volk: Dit is die HERE wat Moses en Aäron bevorder het, en wat julle vaders uit Egipteland laat optrek het. Staan dan nou stil, dat ek met julle voor die aangesig van die HERE kan redeneer oor al die regverdige dade van die HERE wat Hy aan julle en aan julle vaders gedoen het. Toe Jakob in Egipte ingekom het, en julle vaders die HERE aangeroep het, het die HERE Moses en Aäron gestuur, wat julle vaders uit Egipte uitgelei het en hulle in hierdie plek laat woon het. En toe hulle die HERE hulle God vergeet het, het Hy hulle verkoop in die hand van Sísera, die leërowerste van Hasor, en in die hand van die Filistyne en in die hand van die koning van Moab, en hulle het teen hulle geveg. En hulle het die HERE aangeroep en gesê: Ons het gesondig, omdat ons die HERE verlaat het en die Baäls en Astartes gedien het; maar red ons nou uit die hand van ons vyande, en ons sal U dien. En die HERE het Jerubbaäl en Bedan en Jefta en Samuel gestuur en julle verlos uit die hand van julle vyande rondom, en julle het veilig gewoon. En toe julle sien dat Nahas, die koning van die kinders van Ammon, teen julle aankom, het julle vir my gesê: Nee; maar 'n koning sal oor ons regeer, toe die HERE jou God jou koning was. Kyk dan nou na die koning wat julle gekies het, en vir wie julle begeer het! en kyk, die HERE het 'n koning oor julle aangestel. As julle die HERE vrees en Hom dien en na sy stem luister en nie in opstand kom teen die bevel van die HERE nie, dan moet julle sowel as die koning wat oor julle regeer, die HERE julle God volg. Maar as julle nie na die stem van die HERE luister nie, maar teen die bevel van die HERE in opstand kom, dan sal die hand van die HERE teen julle wees soos teen julle vaders. Staan dan nou en aanskou hierdie groot ding wat die HERE voor julle oë sal doen. Is dit nie vandag koringoes nie? Ek sal die HERE aanroep, en Hy sal donderweer en reën gee; sodat julle kan sien en sien dat julle boosheid groot is wat julle gedoen het in die oë van die HERE deur vir julle 'n koning te vra. Toe het Samuel die HERE aangeroep; en die HERE het daardie dag donder en reën gestuur, en die hele volk was baie bang vir die HERE en vir Samuel. Toe sê die hele volk vir Samuel: Bid vir u dienaars tot die HERE u God, dat ons nie sterwe nie; want ons het hierdie onheil by al ons sondes bygevoeg om vir ons 'n koning te vra. Toe sê Samuel aan die volk: Wees nie bevrees nie, julle het al hierdie boosheid gedoen; En wyk julle nie af nie; want hulle is ydel. Want die HERE sal sy volk nie verlaat ter wille van sy grote Naam nie, omdat dit die HERE behaag het om julle sy volk te maak. En wat my betref, mag God verhoed dat ek teen die HERE sou sondig deur op te hou om vir julle te bid; maar ek sal julle die goeie en die regte weg leer. Vrees net die HERE en dien Hom in waarheid met julle hele hart; want let op watter groot dinge Hy aan julle gedoen het. Maar as julle nog steeds goddeloos handel, sal julle vernietig word, julle sowel as julle koning.

1 SAMUEL 12:1-25 Die Boodskap (DB)

Samuel het vir al die Israeliete gesê: “Ek het alles wat julle gevra het, gedoen en ’n koning oor julle aangestel. Nou kan die koning julle lei. Ek is ’n ou man en ek is grys; ja, my kinders is so oud soos julle. Ek self het julle gelei van my jong dae af tot vandag toe. Hier staan ek voor julle. Julle kan my nou by die Here en by sy gesalfde koning aankla as ek iets verkeerds gedoen het. Het ek ooit iemand se goed gevat of iemand mishandel? Het ek ooit omkoopgeld gevat en onreg toegelaat? As ek dit ooit gedoen het, sal ek daarvoor betaal.” “Nee,” antwoord hulle, “u het niemand gedwing om vir u iets te gee of iemand mishandel nie. U het by niemand iets gevat nie.” Samuel sê vir hulle: “Die Here is vandag getuie en sy gesalfde koning is ook getuie dat julle gesê het ek het niks onwettigs gedoen nie.” Hulle stem toe saam: “Die Here is getuie.” Daarna sê Samuel vir die volk: “Julle weet dit is die Here wat Moses en Aäron gegee het en julle voorouers uit Egipte laat trek het, nè? Wel, kom staan dan hier in die beskuldigdebank! Ek gaan nou téén julle vir die Here getuig, deur al die goeie dinge wat die Here vir julle en julle voorouers gedoen het, op te noem. Nadat Jakob Egipte toe getrek het, het julle voorouers na die Here geroep en gevra Hy moet hulle help. Hy het Moses en Aäron gestuur. Hulle het julle voorouers uit Egipte gelei en vir hulle hier ’n blyplek gegee. “Maar hulle het die Here hulle God vergeet. Hy het hulle oorgegee in die mag van Sisera, die generaal van die dorp Hasor. Die Here het hulle ook in die mag van die Filistyne en die koning van Moab oorgegee. Toe hulle teen julle voorouers oorlog gemaak het, het hulle na die Here geroep en bely: ‘Ons het gesondig, want ons het die rug vir U, Here, gedraai en die Baälgode en Astarte-godinne gedien. Red ons asseblief nou uit die mag van ons vyande. Ons sal U dien.’ “Die Here het Jerubbaäl, Bedan, Jefta en vir my, Samuel, gestuur en die Here het julle vrygemaak van die mag van julle vyande aan alle kante sodat julle rustig kon woon. Maar die oomblik toe julle sien dat Nagas, die koning van die Ammoniete, teen julle optrek, het julle vir my gesê: ‘Nee, daar móét nou ’n koning oor ons heers.’ En dit terwyl die Here julle God tog julle koning is! Wel, nou hét julle die koning wat julle wou gehad het! Julle het vir ’n koning gevra, en die Here hét vir julle ’n koning gegee! “As julle respek het vir die Here, Hom dien en na Hom luister en nie teen sy bevele in opstand is nie; as julle én die koning wat oor julle regeer, die Here volg, sal Hy julle God wees. Maar as julle nie na Hom luister nie en teen sy bevele in opstand is, sal die Here julle laat swaarkry soos Hy met julle voorouers gemaak het. “Maar wag, die saak is nog nie afgehandel nie! Kyk self watter groot wonder gaan die Here voor julle oë doen: dis mos tyd om die koring te oes. Ek gaan die Here vra om ’n donderstorm en ’n reënbui te laat kom, dan sal julle moet erken en insien dat julle ’n baie verkeerde ding teen die Here gedoen het toe julle vir julleself ’n koning gevra het.” Toe Samuel na die Here roep, het die Here daardie dag ’n donderstorm laat losbreek. Al die mense het groot respek gehad vir die Here en vir Samuel. Almal sê toe vir Samuel: “Pleit asseblief vir ons by die Here u God dat ons nie sterf nie; want by alles wat ons verkeerd gedoen het, het ons nog die verskriklike ding gedoen om ’n koning te vra.” Samuel het vir die mense gesê: “Moenie paniekerig raak nie. Julle het wel al hierdie verkeerde dinge gedoen, maar moet net nie die rug vir die Here draai nie. Dien Hom met hart en siel. Julle moet nooit hulp soek by daardie hopelose spul afgode nie. Hulle kan niks doen nie. Hulle kan nie help nie, want hulle ís niks. “Die Here sal, omdat Hy ’n goeie Naam het, nie sy mense in die steek laat nie. Ja, Hy het vas besluit dat julle sy volk sal wees. Wat my betref: daar bestaan nie ’n moontlikheid dat ek sal ophou om vir julle by die Here te pleit nie. As ek dit sou doen, sondig ek teen Hom. Ek sal ook nie ophou om vir julle die goeie, reguit pad te wys nie. Onthou, julle moet respek hê vir die Here. Julle het self gesien watter groot dinge Hy vir julle gedoen het. Daarom moet julle Hom getrou en met oorgawe dien. Maar as julle aanhou verkeerde dinge doen, is dit klaarpraat met julle én julle koning.”

1 SAMUEL 12:1-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Samuel het weer met die hele Israel gepraat en gesê: “Ek het gedoen wat julle gevra het en vir julle ’n koning gegee. Van nou af sal hierdie koning julle lei. Ek het oud en grys geword en my seuns is by julle. Ek het julle van jongs af tot nou toe gelei. Sê nou hier voor die HERE en sy gesalfde: By wie het ek ’n os of ’n donkie gevat? Het ek enigeen van julle ooit bedrieg? Vir wie het ek verdruk? Van wie het ek ooit omkoopgeld ontvang? Sê my, en ek sal wat ek ook al verkeerd gedoen het, vergoed.” “Nee!” antwoord hulle. “U het ons nooit op enige manier bedrieg of verdruk nie. U het ook nooit omkoopgeld aanvaar nie.” “Die HERE en sy gesalfde is my getuie dat ek niks verkeerds teen julle gedoen het nie,” sê Samuel. “Ja, Hy is getuie,” antwoord hulle. Verder sê Samuel: “Dit is die HERE wat Moses en Aäron aangestel het en ons voorouers uit Egipte gebring het. Staan nou hier voor die HERE terwyl ek julle herinner aan al die goeie dinge wat die HERE vir julle en julle voorvaders gedoen het. “Toe Jakob in Egipte tot die HERE geroep het, het Hy Moses en Aäron gestuur om hulle uit Egipte na hierdie land te bring. Maar die volk het spoedig die HERE hulle God vergeet. Daarom het Hy toegelaat dat Sisera, die bevelvoerder van Hasor se leër, die Filistyne en die koning van Moab julle onderwerp. “Toe het hulle weer tot die HERE geroep en bely: ‘Ons het gesondig deur weg te draai van die HERE af en die beelde van Baäl en Astarte te vereer. Maar red ons tog nou van ons vyande, en ons sal U dien.’ Daarop stuur die HERE vir Gideon, Barak, Jefta en Simson om julle te bevry sodat julle in veiligheid kon lewe. “Maar toe julle vir Nagas, koning van Ammon, bang was, het julle na my toe gekom en gesê julle wil ’n koning hê om oor julle te heers alhoewel die HERE julle God reeds julle koning was. Nou goed, hier is die koning wat julle gekies het. Kyk, julle het vir hom gevra, en die HERE het julle versoek toegestaan. “As julle nou die HERE dien, aanbid en na Hom luister; en as julle nie teen die HERE se voorskrifte in opstand kom nie; as julle en julle koning die HERE julle God navolg, dan sal alles met julle goed gaan. Maar as julle teen die bevele van die HERE in opstand kom en weier om Hom gehoorsaam te wees, dan sal die HERE teen julle draai soos destyds met julle voorouers. “Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die HERE gaan laat gebeur. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die HERE vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die HERE ’n koning te vra!” Toe roep Samuel die HERE aan en die HERE het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die HERE en vir Samuel. “Bid tog tot die HERE u God ter wille van ons, anders sal ons sterf!” smeek hulle vir Samuel. “Ons het nou nog toegevoeg tot ons sondes deur vir ’n koning te vra.” “Moenie bang wees nie,” stel Samuel hulle gerus. “Julle het gewis verkeerd gedoen, maar maak nou seker dat julle die HERE met volle toewyding aanbid en dat julle nie op enige wyse julle rug op Hom draai nie. Moenie weer die nuttelose beelde aanbid nie. Hulle kan julle nie help of verlos nie. Hulle is totaal nutteloos! Ter wille van sy grote Naam sal die HERE nie sy volk verlaat nie. Hy het julle ’n besondere volk vir Homself gemaak. “Wat my betref, ek sal sekerlik nie teen die HERE sondig deur op te hou om vir julle te bid nie. Ek sal ook voortgaan om julle te leer wat goed en reg is. Maar dien die HERE in opregtheid. Dink aan al die groot dinge wat Hy vir julle gedoen het. Maar as julle voortgaan om te sondig, sal julle en julle koning uitgewis word.”