1 PETRUS 5:5-14
1 PETRUS 5:5-14 Die Boodskap (DB)
Ek het ook iets besonders om vir die jonger mense te sê. Luister na die leiers in die gemeente. Julle moet mekaar help waar hulp nodig is sonder om te vra wat dit julle gaan kos. Moenie te veel van julleself dink nie, maar ken liewer julle plek. Daar staan mos geskryf: “God is nie aan die kant van mense wat te veel van hulleself dink nie; Hy is goed vir mense wat tevrede met hulleself is sonder om windmakerig te wees.” Plaas julle hele lewe in die hand van God, in totale afhanklikheid van Hom. Wanneer die tyd daar is, sal Hy julle ’n ereplek by Hom gee. Neem al die dinge waaroor julle julle bekommer of wat julle omkrap na God toe, want Hy self is die Een wat vir julle sorg. In die geestelike stryd moet julle op en wakker wees. Julle het ’n gevaarlike vyand, die duiwel. Hy loop rond soos ’n honger leeu wat iemand soek om te verskeur. As hy julle aanval, moet julle met julle geloof in die Here terugveg. Moenie toelaat dat hy julle geestelike fondamente skud nie. Laat dít vir julle ’n troos wees: daar is Christene oor die hele wêreld wat as Christene dieselfde dinge as julle ly omdat hulle dieselfde stryd as julle stry. Hierdie swaarkry as Christene sal nie meer so lank aanhou nie. Daarvoor sal God sorg. Dit is immers Hy wat soveel goeie geskenke vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Hy het Christus Jesus gestuur, deur wie God ons ook uitnooi om vir altyd sy eregaste te wees. Al ly julle nou ’n rukkie, sal God self vir julle julle ereplek by Hom gee. Hy sal vir julle al die krag gee wat julle nodig het, sodat niks en niemand dan meer iets aan julle sal kan doen nie. Hy kan dit doen, want al die krag behoort aan Hom, nou en vir altyd. Daaraan hoef niemand eens te twyfel nie. Silvanus het my gehelp om hierdie kort briefie aan julle te skryf. Hy is ’n mede-Christen op wie ’n mens kan staatmaak. My doel met die brief is om julle moed in te praat deur julle weereens aan alles te herinner wat ons God vir ons gee sonder dat ons dit verdien. Dit is ware genade. Gryp dit met albei hande vas en moet dit nooit los nie. Julle sustergemeente in Babilon (Rome) stuur groete, asook Markus, wat vir my soos ’n seun is. Vou mekaar toe in Christelike liefde. Mag God aan julle groot rustigheid en vrede hier diep in julle binneste gee, aan almal van julle wat Christene is.
1 PETRUS 5:5-14 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gepraat met die ouer mans en ek praat nou ook so met die jonger mans: Julle moet luister na die ouer mans, julle almal moet vir mekaar dien en julle moenie hoogmoedig wees nie, want: Wanneer mense dink dat hulle vir ander mense kan spot, dan spot God vir húlle. Wanneer mense weet dat hulle nie hulleself kan help nie, dan is God goed vir hulle. Julle moet julleself verneder voor God wat baie sterk is, dan sal Hý vir julle belangrik maak op die laaste dag. Julle moet alles waaroor julle bekommerd is, vir God sê, want Hy gee vir julle alles, Hy sorg vir julle. Julle moet goed dink wat julle doen en julle moet wakker wees. Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n leeu wat brul, hy soek iemand om op te vreet. Julle moet veg teen die duiwel, julle geloof moet baie vas wees. Julle moet weet dat daar mense in die hele wêreld is wat ook in Christus glo, soos julle, en hulle kry ook so swaar soos julle. Julle het al klaar 'n kort rukkie swaargekry, maar God is altyd baie goed. Hy het besluit dat julle wat aan Christus Jesus behoort, vir altyd by Hom moet wees, by Hom wat die Koning is. Dit is Hý wat vir julle sal gereedmaak, Hy sal julle help, Hy sal julle sterker maak, en Hy sal julle vas laat staan sodat julle nie sonde doen nie. God is baie sterk, vir altyd. Amen. Ek weet dat Silvanus 'n goeie vriend is, hy sal altyd doen wat hy belowe het. Hy het my gehelp om hierdie kort brief vir julle te skryf. Ek het geskryf om julle te bemoedig en te sê dat hierdie boodskap die waarheid is, die boodskap dat God baie goed is. Dit is hoekom julle moet aanhou glo. God het die gemeente in Babilon ook gekies soos Hy vir julle gekies het, en die gelowiges hier stuur groete vir julle. Markus, my seun, stuur ook groete vir julle. Julle moet mekaar groet met die soen wat wys dat julle almal lief is vir mekaar. Ek bid dat God vir julle almal wat aan Christus behoort, vrede sal gee.
1 PETRUS 5:5-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Net so moet julle, jongeres, aan die oueres onderdanig wees; en wees almal met ootmoed bekleed in onderdanigheid aan mekaar, want God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade. Verneder julle dan onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle bekommernis op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter en waaksaam, want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Hom moet julle teëstaan, standvastig in die geloof, omdat julle weet dat dieselfde lyding opgelê word aan julle broederskap wat in die wêreld is. EN mag die God van alle genade self, wat ons geroep het tot sy ewige heerlikheid in Christus Jesus, nadat ons 'n kort tyd gely het, julle volmaak, bevestig, versterk en grondves! Aan Hom die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen. Deur Silvánus, die getroue broeder, soos ek meen, het ek kortliks aan julle geskrywe om julle te vermaan en om te betuig dat dit die ware genade van God is waarin julle staan. Die mede-uitverkorene in Babilon en Markus, my seun, groet julle. Groet mekaar met 'n kus van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus Jesus is! Amen.
1 PETRUS 5:5-14 Afrikaans 1983 (AFR83)
En julle wat jonger is, moet aan die ouer mense onderdanig wees. Almal moet trouens teenoor mekaar nederig wees en mekaar help, want “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle daarom in nederigheid aan die kragtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die tyd wat Hy bestem het. Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle. Wees nugter, wees wakker! Julle vyand, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Bly standvastig in die geloof en staan hom teë. En moenie vergeet nie: dwarsdeur die wêreld moet julle medegelowiges dieselfde soort lyding verduur. God wat alle genade gee en wat julle geroep het om in Christus Jesus deel te hê aan sy ewige heerlikheid, sal julle, nadat julle 'n kort tydjie gely het, self weer oprig en julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. Silvanus, wat na my mening 'n getroue broer is, het vir my hierdie kort briefie aan julle op skrif gestel. Ek het geskrywe om julle te bemoedig en julle te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan hierin vas! Die gemeente in Babilon, 'n uitverkore gemeente net soos julle, asook Markus, my seun, stuur vir julle groete. Groet mekaar met 'n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus is!
1 PETRUS 5:5-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Net so moet julle wat jonk is, ondergeskik wees aan ouer mense. Beklee julle almal met nederigheid teenoor mekaar, want “God weerstaan hoogmoediges, maar aan nederiges gee Hy genade.” Daarom, verneder julle onder die kragtige hand van God, sodat Hy julle op die regte tyd kan verhoog, deur al julle bekommernis op Hom te werp; want Hy gee om vir julle. Wees nugter, wees waaksaam! Julle teenstander, die Duiwel, loop rond “soos 'n brullende leeu”, op soek na wie hy kan verslind. Hom moet julle teenstaan, standvastig in die geloof, in die wete dat julle medegelowiges oor die hele wêreld dieselfde soort lyding verduur. Maar al moes julle vir 'n kort tydjie ly, sal die God van alle genade, wat julle tot sy ewige heerlikheid in •Christus Jesus geroep het, julle herstel, bemagtig, versterk en stewig vestig. Aan Hom die krag tot in ewigheid. •Amen. Ek het deur Silvanus, na my oordeel 'n getroue broer, kortliks aan julle geskryf om julle te bemoedig, en julle nadruklik te verseker dat hierdie dinge die ware genade van God is. Staan vas daarin! Julle mede-uitverkorene in Babilon, en Markus, my seun, groet julle. Groet mekaar met 'n soen van liefde. Vrede vir julle almal wat in •Christus is!
1 PETRUS 5:5-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Net so moet julle, julle jongeres, aan die oudste onderdanig wees. Ja, wees almal onderdanig aan mekaar en bekleed met nederigheid, want God weerstaan die hoogmoediges en gee genade aan die nederiges. Verneder julle dan onder die magtige hand van God, sodat Hy julle kan verhoog op die regte tyd. Werp al julle sorge op Hom; want Hy sorg vir jou. Wees nugter, wees waaksaam; want julle teëstander, die duiwel, loop rond soos 'n brullende leeu en soek wie hy kan verslind. Wat standvastig in die geloof teëstaan, omdat hulle weet dat dieselfde beproewinge onder julle broeders wat in die wêreld is, gedoen word. Maar die God van alle genade, wat ons deur Christus Jesus tot sy ewige heerlikheid geroep het, nadat julle 'n tyd lank gely het, maak julle volmaak, bevestig, versterk, vestig julle. Aan Hom kom toe die heerlikheid en die heerskappy tot in alle ewigheid. Amen. Deur Silvanus, 'n getroue broer vir julle, soos ek dink, het ek kortliks geskryf, vermaan en getuig dat dit die ware genade van God is waarin julle staan. Die gemeente wat in Babel is, saam met julle uitverkies, groet julle; en so ook Marcus, my seun. Groet mekaar met 'n kus van liefde. Vrede vir julle almal wat in Christus Jesus is. Amen.
1 PETRUS 5:5-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En julle, jong manne, erken die gesag van die ouderlinge. Trouens, almal moet nederig in mekaar se diens staan, want: “God is téén dié wat te veel van hulleself dink, maar dié wat besef hoe afhanklik hulle van Hom is, aan húlle gee Hy sy genade.” Word daarom klein onder die kragtige hand van God; op sý tyd sal Hy julle groot maak. Gee al julle bekommernisse aan God oor, want Hy gee vir julle om. Wees versigtig! Pas op vir die duiwel se aanvalle. Hy is julle groot vyand. Hy loop rond soos ’n brullende leeu, op soek na iemand om te verslind. Hóm moet julle teenstaan deur standvastig in julle geloof te bly. Julle weet mos: Dwarsdeur die wêreld verduur lede van God se gesin dieselfde soort lyding. In sy genade het God julle geroep om in Christus deel te hê aan sy ewige heerlikheid. Nadat julle ’n kort tydjie swaargekry het, sal Hy julle self weer herstel; Hy sal julle moedig, sterk en standvastig maak. Aan Hom behoort die krag tot in ewigheid! Amen. Ek skryf hierdie kort briefie aan julle met Silvanus se hulp. Hy is ’n getroue broer. Die doel met my brief is om julle te bemoedig en te verseker dat die genade van God met julle is, ongeag wat met julle gebeur. Julle susterskerk hier in Rome stuur vir julle groete. Markus, my seun, stuur ook vir julle groete. Groet mekaar met ’n soen van Christelike liefde. Vrede vir julle almal wat aan Christus verbind is!