1 PETRUS 4:5-6
1 PETRUS 4:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Die heidene sal vir God moet antwoord oor wat hulle gedoen het, en God is gereed om die mense te oordeel wat nog lewe en ook die mense wat klaar gesterf het. Want dit is hoekom die mense wat klaar gesterf het, ook die goeie boodskap gehoor het terwyl hulle gelewe het. Mense het hulle hier op aarde ge-oordeel en doodgemaak, maar die Heilige Gees laat hulle lewe soos God wil hê.
1 PETRUS 4:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hulle sal rekenskap gee aan Hom wat gereed staan om die lewende en die dode te oordeel. Want daarom is ook aan die dode die evangelie verkondig, sodat hulle wel geoordeel kan word na die mens in die vlees, maar lewe na God in die gees.
1 PETRUS 4:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat klaar staan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Daarom is die evangelie immers ook verkondig aan dié wat nou dood is sodat, hoewel hulle as mense onder die oordeel was om na die liggaam te sterwe, hulle na die gees sou lewe soos God lewe.
1 PETRUS 4:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
hulle sal rekenskap moet gee aan Hom wat gereed staan om oor lewendes en dooies te oordeel. Dit is immers waarom die evangelie ook aan hulle wat reeds dood is, verkondig is, sodat, al sou hulle wel volgens menslike maatstaf na die liggaam geoordeel word, hulle volgens die maatstaf van God na die gees kan leef.
1 PETRUS 4:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wie sal rekenskap gee aan hom wat gereed is om die lewendes en die dooies te oordeel. Want daarom is die evangelie ook aan die dode verkondig, sodat hulle na die mense in die vlees geoordeel kan word, maar na God in die gees lewe.
1 PETRUS 4:5-6 Die Boodskap (DB)
Hierdie mense sal eendag voor God moet gaan staan. Hy sal besluit wat met hulle sal gebeur. Dit maak nie saak of iemand nog leef en of hy al dood is wanneer God kom oordeel nie, almal sal voor God moet staan. Dit is waarom die boodskap van Jesus se oorwinning ook gebring is aan die mense wat reeds dood is. Hulle het wel liggaamlik doodgegaan (wat eintlik ons almal se straf op die sonde is), maar hulle gees sal die lewe kry wat God vir hulle sal gee.
1 PETRUS 4:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle sal egter verantwoording moet doen aan Hom wat klaarstaan om oor die lewendes en die dooies te oordeel. Dis juis hoekom die Goeie Nuus aan die dooies verkondig is toe hulle nog gelewe het. Hulle kon toe besef dat hulle volgens God se geestelike maatstawwe kan lewe, hoewel hulle volgens aardse, menslike maatstawwe veroordeel was om die fisiese dood te sterf.