1 PETRUS 3:18-20
1 PETRUS 3:18-20 Bybel vir almal (ABA)
Want Christus het ook net een maal swaargekry en gesterf om sondaars te red van hulle sondes. Hy was onskuldig, maar Hy het gesterf sodat mense wat sonde gedoen het, kan lewe. Hy het gesterf sodat Hy vir julle na God kan bring. Die mense het die mens Christus doodgemaak, maar die Gees van God het vir Christus weer laat lewe. En Christus het ook gegaan na die geeste in die doderyk en Hy het vir hulle die boodskap gebring dat Hy oorwin het. Dit is die geeste van die mense wat voorheen ongehoorsaam was. Dit was in die tyd toe Noag gelewe het, Noag wat die ark gebou het. God het toe geduldig gewag dat hierdie mense moet terugkom na Hom toe. God het net 'n paar mense gered. Die ark het op die water gedryf, só het God hulle gered. Daar was ag mense in die ark.
1 PETRUS 3:18-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, Hy die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring — Hy wat wel gedood is na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees; in wie Hy ook heengegaan en gepreek het vir die geeste in die gevangenis, wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is
1 PETRUS 3:18-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is. En so het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en daar sy oorwinning aangekondig. Dit is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy groot geduld met hulle aan die dag gelê het in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net 'n klein klompie in die ark, ag in getal, is deur die water gered.
1 PETRUS 3:18-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Immers, ook Christus het eens en vir altyd vir sondes gely, Hy, die Regverdige, ter wille van onregverdiges, sodat Hy julle na God kon bring. Hy is wel liggaamlik doodgemaak, maar deur die Gees is Hy lewend gemaak. Deur die Gees het Hy ook gegaan en dit vir die geeste in gevangenskap aangekondig. Daardie geeste was destyds ongehoorsaam, toe God in Noag se dae geduldig bly wag het, terwyl die ark gebou is. In die ark is net 'n paar mense, altesaam agt, deur die vloedwaters heen gered.
1 PETRUS 3:18-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want Christus het ook eenmaal vir die sondes gely, die Regverdige vir die onregverdiges, om ons tot God te bring, gedood na die vlees, maar lewend gemaak deur die Gees. Daardeur het hy ook gegaan en vir die geeste in die gevangenis gepreek; wat soms ongehoorsaam was, toe die lankmoedigheid van God eens gewag het in die dae van Noag, terwyl die ark 'n voorbereiding was, waarin min, dit is agt siele, deur water gered is.
1 PETRUS 3:18-20 Die Boodskap (DB)
Dit het met Jesus ook gebeur. Self het Hy niks verkeerds gedoen nie, maar Hy moes vir altyd vir ander se verkeerde optrede sterf. Die Een wat niks verkeerds gedoen het nie, moes so vir al die verkeerde dinge van ander betaal. So het Hy dit egter vir ons reggekry om by God uit te kom. Sy menslike liggaam is wel doodgemaak, maar die Gees het Hom lewendig gemaak. Deur die Gees is Hy na die geeste toe wat opgesluit is en wag vir die oordeel. Vir hulle het Hy gaan vertel dat Hy gewen het en leef. Weet julle wie is hierdie geeste? Dit is die mense wat lank terug in Noag se tyd geleef het. God was destyds darem baie geduldig met daardie mense. God het hulle ’n unieke kans gegee terwyl Noag sy skip gebou het. Tog wou hulle nie hoor nie. Hulle het maar aangehou om hulle nie aan God te steur nie. Uiteindelik, toe die reën begin uitsak, is daar net ’n handjie vol mense die skip in, agt in totaal. Hulle was toe die enigstes wat uit daardie groot vloed gered is.
1 PETRUS 3:18-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie. Ook Christus het só gely toe Hy eens en vir altyd vir ons sondes gesterf het. Hy het nooit enige sonde gedoen nie; tog het Hy vir sondaars gesterf om julle by God te laat tuiskom. Wat sy liggaam betref, het Hy gesterf, maar wat sy gees betref, is Hy lewend gemaak. Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig. Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.