1 PETRUS 2:5-6
1 PETRUS 2:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Julle is ook soos klippe wat lewe, julle moet bid dat God sy Gees sal gebruik om sy huis te bou met julle. Dan kan julle gewyde priesters wees om offers vir God te bring. Dit is Jesus Christus wat vir julle help om te offer soos die Gees wil hê, sodat God van hierdie offers sal hou. Want ons lees in die Ou Testament: Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, dit is 'n hoek-klip wat Ek gekies het en wat baie kosbaar is. Die mense wat in Hom glo, sal veilig wees.
1 PETRUS 2:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom staan dit ook in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore en kosbare hoeksteen, en die wat in Hom glo, sal nooit beskaam word nie.
1 PETRUS 2:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.”
1 PETRUS 2:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.”
1 PETRUS 2:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ook word julle, soos lewendige klippe, opgebou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat vir God welgevallig is deur Jesus Christus. Daarom is dit ook vervat in die Skrif: Kyk, Ek lê in Sion 'n uitverkore, kosbare hoeksteen, en hy wat in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.
1 PETRUS 2:5-6 Die Boodskap (DB)
Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.”
1 PETRUS 2:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is. Soos dit in die Skrif staan: “Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitgekies vir dié ereplek. Elkeen wat op Hom vertrou, sal nóóit verneder word nie.”