1 PETRUS 2:4-12

1 PETRUS 2:4-12 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet na Christus toe kom, Hy is soos 'n klip wat lewe. Die mense wou nie die klip gebruik om te bou nie, maar God het daardie klip gekies en dit was die belangrikste klip in die gebou. Julle is ook soos klippe wat lewe, julle moet bid dat God sy Gees sal gebruik om sy huis te bou met julle. Dan kan julle gewyde priesters wees om offers vir God te bring. Dit is Jesus Christus wat vir julle help om te offer soos die Gees wil hê, sodat God van hierdie offers sal hou. Want ons lees in die Ou Testament: Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, dit is 'n hoek-klip wat Ek gekies het en wat baie kosbaar is. Die mense wat in Hom glo, sal veilig wees. Daarom, julle wat in Jesus Christus glo, sal ook vir Hom baie kosbaar wees. Maar daar is mense wat nie in Hom glo nie. Vir hulle is dit waar wat in die Ou Testament geskryf is: Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die gebou geword. Daar is ook geskryf: Hy is 'n klip waarteen hulle stamp, 'n rots waaroor hulle val. Hulle val oor die rots omdat hulle nie geglo het wat God gesê het nie. Dit was God se plan dat dit met hulle moet gebeur. Maar julle is God se volk, God het vir julle gekies, julle is die priesters oor wie Hy regeer, julle is 'n gewyde volk, sy eie volk wat vir almal moet vertel van die groot dinge wat God gedoen het. Hy het vir julle geroep om uit die donker na Hom toe te kom, na Hom wat in die wonderlike lig is. Toe was julle nie 'n volk nie, maar nou is julle God se volk. Toe was God nie goed vir julle nie, maar nou is Hy goed vir julle. Liewe vriende, julle is soos mense wat vreemdelinge is en wat nie in hulle eie huise woon nie. Daarom vra ek mooi vir julle: Julle moenie die slegte dinge wil doen wat mense graag doen nie, want daardie slegte dinge verwoes 'n mens se lewe. Julle moet goeie dinge doen terwyl julle tussen die heidene lewe. Wanneer die heidene slegte dinge sê van julle, en hulle sê julle doen verkeerd, dan moet hulle kan sien dat julle goeie dinge doen. Dan sal hulle vir God prys op die dag wanneer Hy sal kom om almal te red wat glo.

1 PETRUS 2:4-12 Afrikaans 1983 (AFR83)

Kom na Hom toe, die lewende steen, wat deur die mense afgekeur is, maar deur God vir die ereplek uitverkies is. Laat julle as lewende stene opbou tot 'n geestelike huis, om 'n heilige priesterdom te wees en geestelike offers te bring wat deur Jesus Christus vir God welgevallig is. Daarom staan daar in die Skrif: “Kyk, Ek lê in Sion 'n hoekklip, uitverkies vir die ereplek. Wie in Hom glo, word nooit teleurgestel nie.” Julle wat glo, deel in hierdie eer, maar vir dié wat nie glo nie, geld die woorde: “Die klip wat deur die bouers afgekeur is, juis hy het die belangrikste klip in die gebou geword” en: “'n klip waaroor 'n mens struikel en 'n rots waarteen jy jou stamp.” Hulle struikel omdat hulle nie aan die woord gehoorsaam is nie. So het God dit ook vir hulle bestem. Julle, daarenteen, is 'n uitverkore volk, 'n koninklike priesterdom, 'n nasie wat vir God afgesonder is, die eiendomsvolk van God, die volk wat die verlossingsdade moet verkondig van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderbare lig. Julle was vroeër geen volk nie, maar nou is julle die volk van God. Julle het tóé geen barmhartigheid ontvang nie, maar nou het God aan julle barmhartigheid bewys. Geliefdes, in die wêreld is julle vreemdelinge en bywoners. Daarom dring ek by julle daarop aan om nie aan sinlike begeertes toe te gee nie. Dit verwoes net 'n mens se lewe. Gedra julle altyd goed onder die heidene sodat, al praat hulle kwaad van julle asof julle misdadigers is, hulle julle voorbeeldige lewe kan sien en God kan verheerlik op die dag van afrekening.

1 PETRUS 2:4-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Kom na Hom toe, die lewende klip, wat wel deur mense afgekeur is, maar voor God uitverkore, en vir Hom kosbaar is; en laat julle as lewende klippe opbou tot 'n geestelike huis, 'n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat, deur Jesus •Christus, vir God aanneemlik is. Daar staan immers in die Skrif: “Kyk, Ek sit in Sion 'n klip neer, 'n hoeksteen, uitverkore en kosbaar; maar wie in Hom glo, sal vir seker nie beskaamd staan nie.” Daarom is dit kosbaar vir julle wat glo, maar vir ongelowiges geld, “Juis die klip wat die bouers afgekeur het, het die hoeksteen geword, ” en “'n klip waaroor 'n mens kan struikel, ja, 'n rots wat jou kan laat val.” Hulle struikel, omdat hulle aan die woord ongehoorsaam is; hulle was daartoe bestem. Julle, egter, is “'n uitverkore geslag”, “'n koninklike priesterdom”, “'n heilige nasie”, “'n volk wat aan God behoort”, “sodat julle die deugde kan verkondig” van Hom wat julle uit die duisternis geroep het na sy wonderlike lig – julle wat eers nie 'n volk was nie, maar nou volk van God is; wat eers nie ontferming ontvang het nie, maar nou ontferming ontvang het. Geliefdes, ek dring daarop aan dat julle, as bywoners en vreemdelinge, julle weerhou van liggaamlike begeertes wat stryd voer teen die •siel. Gedra julle goed onder die heidene, sodat hulle, wanneer hulle julle beswadder, asof julle misdadigers is, God op die dag van besoeking kan verheerlik, omdat hulle julle goeie dade gesien het.

1 PETRUS 2:4-12 Die Boodskap (DB)

Kom na Jesus toe. Ek wil die voorbeeld gebruik van ’n huis wat gebou word. Jesus kan vergelyk word met ’n steen (behalwe dat Hy leef). Die mense wou Hom nie vir die bou van die huis gebruik nie. God het egter daardie Steen tussen al die ander uitgekies. God het geweet dat daardie Steen baie werd is en het Hom op die beste plek in die huis ingebou. Julle moet ook sulke goeie, lewende stene wees sodat God julle in die geestelike huis kan inbou. Dit is maar ’n ander manier om te sê dat julle mense moet wees wat die Here elke oomblik van julle lewe dien. So kan God sy hand deur julle na ander uitsteek en kan ander sy hand deur julle voel. Doen en gee vir die Here dit waarvan Hy hou, want Jesus maak dit vir julle moontlik. Ons lees in die Skrif dat God lank gelede al gesê het: “Kyk mooi, in Sion bou Ek ’n steen in. Ek self het die steen gekies en dit op die belangrikste plek in die hele gebou gesit. Iemand wat op dié steen vertrou, sal nooit daaroor jammer hoef te wees nie.” As jy op Jesus vertrou, deel jy in hierdie eer van Hom. Vir hulle wat hulle nie aan Hom steur nie, sê die Skrif: “Die steen wat die bouers nie wou hê nie, juis daardie steen het die belangrikste steen in die hele gebou geword.” En: “Hy is soos ’n klip waaroor ’n mens val en soos ’n rots waarteen jy vasloop en val.” Hulle struikel en val, omdat hulle hulle nie aan God se woorde steur nie. Dit kan ’n mens ook van hulle verwag. God het vooraf geweet en besluit dat dit so sou wees. Van julle is net die teenoorgestelde egter waar. God het julle in die besonder vir Hom gekies. Julle is die mense wat Hy aangestel het sodat die groot Koning, God, op ’n besondere manier en reg gedien kan word. God self het julle sy besondere mense gemaak. Julle behoort aan Hom en aan Hom alleen. Daarom moet julle die groot en goeie dinge wat Hy vir julle gedoen het, aan almal vertel. Uit die donker van julle sondes het Hy julle geroep om na die helder lig te kom waar Hy is. Voorheen was julle soos boemelaars met wie niemand iets te doen wou hê nie, maar nou is julle God se mense. Julle het voorheen nie geweet wat liefde en goedheid regtig beteken nie, maar julle het by God daardie liefde en goedheid leer ken. My liewe vriende, julle is slegs besoekers in hierdie wêreld. Eintlik kuier julle net ’n rukkie hier. Onthou dit, want daar is allerhande verkeerde dinge in die wêreld wat net wag om julle geestelike lewe heeltemal deurmekaar te krap. Oppas daarvoor. Moenie die verkeerde dinge die geringste kans in julle lewe gee nie. Tree daarom altyd reg op voor die mense wat nie aan Jesus behoort nie, al gaan hulle vreeslik te kere omdat julle kamma nie die dinge doen wat hulle verwag julle moet doen nie. Hulle sal die goeie dinge wat julle doen, nie kan miskyk nie. Wanneer God weer kom, sal hulle beslis nie anders kan nie as om te erken dat Hy die Een is wat groot en belangrik is.

1 PETRUS 2:4-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Julle het na Christus toe gekom, Hy wat die lewende hoekklip is van God se geestelike tempel. Die mense het Hom afgekeur as hoekklip, maar God het Hom vir dié ereplek uitgekies. Laat julle as lewende klippe inbou in God se geestelike tempel. Julle taak as tempel is om heilige priesters te wees wat geestelike offers bring. God aanvaar hierdie offers juis omdat Jesus Christus die hoekklip is. Soos dit in die Skrif staan: “Ek lê in Sion ’n hoekklip, uitgekies vir dié ereplek. Elkeen wat op Hom vertrou, sal nóóit verneder word nie.” Hierdie eer is dus bedoel vir julle wat glo. Vir dié wat egter nie glo nie, geld die volgende woorde: “Juis daardie klip wat deur die bouers afgekeur is, het die sluitklip van die gebou geword.” Die volgende Skrifdeel geld ook vir dié wat nie glo nie: “Hy is ’n klip waaroor mense struikel, ’n rots wat jou laat val.” Hulle struikel omdat hulle nie aan God se woord gehoorsaam is nie. Hulle was vir hierdie struikeling bestem. Dit geld egter nie vir julle nie, want God het júlle as sy volk gekies. Julle is ’n koninkryk wat uit priesters bestaan, ’n nasie wat heeltemal in God se diens staan, ’n volk wat heeltemal God s’n is. Dít het God bewerk sodat julle vir almal kan wys hoe goed Hy is. Dit is immers Hý wat julle uit die duisternis in sy wonderlike lig ingeroep het. “Vroeër was julle nie ’n volk nie; nou is julle egter die volk van God. Vroeër het God geen ontferming aan julle bewys nie; nou hét julle egter sy ontferming.” Geliefdes, omdat julle uitlanders en bywoners is, waarsku ek julle om nie aan julle natuurlike neigings toe te gee nie. Dit verwoes net ’n mens se lewe. Handhaaf ’n voorbeeldige leefstyl onder die nie-Christene, selfs al kla hulle julle aan van wangedrag. Hulle sal dan julle goeie gedrag sien en God die eer daarvoor gee wanneer Hy kom rekenskap vra.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid