1 PETRUS 2:18-25

1 PETRUS 2:18-25 Bybel vir almal (ABA)

Julle wat slawe is wat in die huise moet werk, julle moet gehoorsaam wees aan julle eienaars en julle moet hulle altyd respekteer. Julle moenie gehoorsaam wees net aan die goeie en vriendelike eienaars nie, julle moet ook gehoorsaam wees aan die eienaars wat slegte dinge doen aan julle. Want God is baie goed vir julle as julle niks verkeerd gedoen het nie en julle kry baie swaar en julle is tevrede omdat julle dink aan wat God wil hê julle moet doen. Want as julle geduldig is wanneer mense julle slaan omdat julle sonde doen, dan sal die mense julle nie prys nie, dit is seker. Maar as julle geduldig is wanneer julle swaarkry omdat julle goeie dinge doen, dan sal God goed wees vir julle. God het vir julle gekies om goeie dinge te doen en om swaar te kry, want Christus het ook swaargekry vir julle. So het Hy vir julle 'n voorbeeld gegee sodat julle Hom kan volg. Hy het nie sonde gedoen nie, en Hy het niemand bedrieg nie. Toe mense vir Christus beledig het, het Hy nie ook vir hulle beledig nie. Toe mense vir Hom laat swaarkry het, het Hy nie gesê dat Hy ook vir hulle sal laat swaarkry nie. Hy het hulle gelos sodat God reg kan oordeel oor hulle. Toe Hy aan die kruis gehang het, het Hy die straf vir ons sondes gedra, sodat ons glad nie meer sondes sal doen nie, maar sodat ons kan lewe om te doen wat God wil hê. Hy het seergekry sodat julle gesond kan wees. Want julle was soos skape, julle elkeen het geloop waar hy wou loop, maar nou het julle teruggekom na Christus toe. Hy is die Herder, die Een wat vir julle sorg.

1 PETRUS 2:18-25 Die Boodskap (DB)

Julle wat vir ander werk, luister na hulle. Wees goeie werkers en behandel julle meerderes met respek. Dit word nie net van julle verwag as julle werkgewers goed is en julle help nie, maar ook as hulle julle sleg behandel, veral as hulle julle treiter omdat julle Christene is. Wat regtig saak maak, is dat julle liewer maar hierdie onbillike optrede van julle meerderes moet verdra sodat God nie in die gang van sake in die skande gesteek word nie. As julle onder straf deurloop omdat julle verbrou het, het julle dit mos verdien. As julle egter niks verkeerds gedoen het nie en nogtans gestraf word, lyk die prentjie anders. As julle nie dan self lelik begin optree nie, maar die onbillike optrede van julle werkgewer met goeie dade te bowe kom, doen julle iets waarop God trots sal wees. As Christene word daar van julle verwag om soos Jesus te leef. Hy het vir julle ’n voorbeeld gestel hoe julle moet leef. Leef soos Hy geleef het. Onthou dan, Hy het vir julle gely en nooit iets gedoen waarvan God nie gehou het nie. Wat Hy gesê het, kan julle maar altyd glo. Hy het mense wat lelike dinge vir Hom gesê het, nie terugbeledig nie. Toe hulle Hom seergemaak het, het Hy nie gesê dat Hy hulle gaan terugkry nie. Hy was tevrede om alles in God se hande te los. God sal daarvoor sorg dat wat moet gebeur, sal gebeur. Jesus het aan die kruis gesterf. Dit het Hy gedoen om die skuld uit die weg te ruim wat julle voor God opgegaar het deur al die verkeerde dinge wat julle gedoen het. Hy wil egter graag hê dat julle reg sal leef soos God van julle verwag en dat julle nie verkeerde dinge sal doen nie. Om dit so te stel: omdat Jesus vir julle gely het, hoef julle nie self vir julle sonde voor God te betaal nie. Nee, julle hoef slegs voluit vir God te leef. Julle was soos skape wat verdwaal het, maar nou het julle julle pad terug gekry tot by julle Skaapwagter. Hy sal julle goed oppas en mooi vir julle sorg.